Onverdiende genade

  • 12

Die malvas stort in malse kleure oor die klipmuur en raam die tuinbankie waarop hy steunend plaasneem. ’n Geitjie skarrel verskrik weg toe hy sy krukke langs hom staanmaak. Hy vou sy hande in sy skoot saam en kyk uit oor die vallei voor hom. Die eens fletsblou oë kan nie meer so ver sien nie, maar met sy geheue skort daar niks. Meerlust is sy geboortegrond. Soos ’n man die lyne van sy eie gesig ken, só ken hy elke hoek en kant van die plaas. Hy het daar tussen die priële sy eerste treë gegee. Nou, 96 jaar later, wil die ou bene nie meer nie. Die dood is deesdae ’n troue metgesel, gedurigdeur aan sy sy. Soms dink hy as hy vinnig sou kyk, sal hy hom daar sien staan. Hulle het mekaar immers voorheen al takserend in die oë gekyk. Die dag toe hy Mietjie kom haal het. Sy Mietjie ...

Die ou bekende pyn slaan hom soos ’n vuishou op die krop van sy maag. Hy krimp vooroor en bly met geboë skouers sit. Diegene wat te koop loop daarmee dat tyd wonde genees, weet nie waarvan hulle praat nie. Pyn is ’n lewende, bose ding wat met skerp slagtande vreet aan ’n mens se binnegoed. Dit steel jou asem en laat jou hart soos ’n verskrikte voëltjie teen die kou van jou ribbes fladder. Wat het NP Van Wyk Louw nou weer oor die bose geskryf? “Ek is jou wese/ se ondergrond/ en ek trap in jou spoor/ soos ’n goeie hond.” Dis inderdaad so. Hy wat Bernaas Sieberhagen is, kan getuig daarvan. Sestig jaar. Ses dekades. Dis hoe lank die ding nou al aan hom vreet. Dag na dag. Nag na nag. Sonder ophou. Dis asof die skoot steeds oor die werf dawer en die loom middagstilte wreed versteur.

Sy kop ruk op en hy voel-voel na sy krukke. Hulle het vanoggend kom sê dat Anna Horrelpoot op sterwe lê. Dat sy na hom vra. Hy weet nie waarom het hy gedink dat ou Anna al jare terug lang bome toe is nie. Wie sou kon raai dat sy, met haar potsierlike kort gestaltetjie en haar verskrompelde poliobeentjie, die dood tot nou toe sou fnuik? Maar dalk tart die dood haar ook, soos vir hom. Hy is immers klaar in die hel. Waarom sal die dood haas om hom te kom haal?

“Meneer Sieberhagen ...?”

Hy frons gesteurd na sy verpleegster, Bertha Uys. Die vroumens weet hy haat dit as sy oor hom kloek. Sy is nie sy oppasser of hoeder nie. Hy het tuin toe gekom omdat hy alleen wil wees. Hy sal haar roep indien hy haar hulp nodig het. Hy het haar gewaarsku. As sy lastig gaan wees soos haar voorgangers, moet sy ander werk loop soek. Hoe eerder hoe beter ook. Hy sal self regkom as dit moet.

“U het gevra dat ek die motor naderbring,” herinner Bertha hom in ’n saaklike stemtoon.

Die motor? Hy kyk verby haar na die splinternuwe silwer Benz wat in die son staan en blink. Geld. Daarvan het hy baie. Miljoene. Die aarde het destyds Mietjie se bloed dorstig opgedrink asof dit ’n offerande was. Die aarde het geneem en die aarde het gegee. Oes na oes na oes. Hy het hom kon omring met die duurste, die beste en die heel nuutste. Omdat hy kan. Nie omdat dit hom enige genot of tevredenheid besorg nie. Niks kan sy kind terugbring nie. Hy weet, want hy het tevergeefs met God én die duiwel probeer onderhandel.

Hy kom orent en leun vir ’n oomblik swaar op die krukke. Dit word al moeiliker om te loop. Hy het geen liggaamlike pyn nie. Die ou bene is net swak van ouderdom en onwillig om sy gewig te dra. Bertha weet beter as om hom te hulp te snel. Sy hou slegs die motor se deur vir hom oop en neem die krukke by hom toe hy in die passasiersitplek inskuif. Hulle lê die kort rit na die ry werkershuisies op die buurplaas in stilte af.

Anna Horrelpoot lê op haar kooi in die skemer vertrek. Hy stoot die deur agter hom toe sodat hulle alleen kan wees. Daar word goed na haar gekyk, sien hy, al is sy net ’n bondeltjie bene in haar ligpienk flennienagkabaai. Die beddegoed is silwerskoon en daar is ’n kraffie met vars water op die bedkassie. Hy kyk verby die Bybel na die wit koevert met sy naam op.

“Dis djou se brief, dja.”

Hy skrik toe Anna skielik krakerig praat. Hy dog sy slaap. Hy moet soek vir haar skrefiesogies tussen die plooie deur. Sy is ’n handvol jare ouer as hy. Maklik al anderkant ’n honderd.

“Wat gaan aan, Anna?” Sy stem sweepslag harder as wat hy bedoel het. Hy sien die klein liggaampie ruk. Sy waai met haar hand in die lug voor haar asof sy hom wil keer om nader te kom.

“Die brief sê als. Vat hom en loep lees hom.”

Hy tel die brief op en beskou die fyn, vrouehandskrif fronsend van naderby. Hy het nie sy leesbril by hom nie en druk die brief in sy baadjiesak. Dis seker Anna se testament. Dokumentasie en so wat sy wil hê hy vir haar moet bewaar. Dié mense vertrou nie maklik ’n prokureur nie. Dink mos regsgeleerdes is skelm omdat hulle die wet ken en jakkalsdraaie om mens kan hardloop.

“Dis van djou se agterkleinkind af.”

“My ...” Sy bene wil nie meer nie. Hy sak op die stoel langs die bed neer. Een kruk beland op die vloer. Anna se mense het gesê sy is sterwend. Hy verbeel hom selfs hy kan die dood aan haar ruik, al klink en lyk sy vir hom by haar volle positiewe. Maar dalk het sy koors en yl sy. Sy kind, sy enigste, is dood. Hy het haar doodgeskiet een godsverlate Sondagmiddag. Anna was daar. Sy het tevergeefs probeer om die bloederige pappery wat eens Mietjie se brein was, in haar oopgerukte skedel te hou. Sy het saam met hom ten hemele geskreeu om hulp.

“Mathilda ...” Anna kreun. Sy haal nou moeilik asem en haar bors dein op en af. Haar vingers woel die nagrok se boonste knopie los. Haar onderlyf beweeg rusteloos onder die beddegoed. Dis duidelik dat sy seer het en ongemaklik is. “Mathilda was ... was swanger toe jy haar ... weggejaag het.”

Nee! Die wêreld duisel om hom. Haar woorde eggo in sy ore maar hy verstaan dit nie. Hoe kan die lewe twee keer vir een man tot stilstand kom?! Oor dit wat hy gedoen het. Hy leun vorentoe. Kry Anna se hand beet. Klou daaraan vas terwyl die ontsetting van daardie dag oor hom spoel.

’n Beweging in die verte trek sy aandag. Die verdomde bobbejane baljaar weer tussen die pampoene. Hulle stroop en verniel en vreet alles op. Vreksels! Hulle skrik nie eens vir die voëlverskrikker wat hy gemaak het nie. Vrydag moet hy weer met leë hande mark toe. Moet hy skuld maak om kos op die tafel te sit vir sy vrou en kind. Mathilda lê hoeka weer met ’n asynlappie oor die kop in ’n donker kamer. Kla haar kop is seer. Hy weet egter dat sy treur omdat sy haar lewe moet slyt op hierdie vervloekte plaas. Sy wil stad toe. Hy vrek eerder van hongerte as wat hy in ’n gat in die grond klim agter goud aan. Meerlust is sy grond. As sy geluk net wil draai ...!

Hy druk die geweer teen sy skouer vas. Mik na die donker figuurtjie daar in die pampoenland. Vandag roei hy al wat bobbejaan is uit. Hy het nou genoeg gehad. Hy trek die sneller en voel die ou bekende skop van die geweer teen sy skouer. Die skoot klap oorverdowend hard en skeur die stilte van die middag oop. Hy wéét dis ’n kopskoot. Bobbejaan se kind val net daar en bly roerloos lê. Op slag dood.

Asof in stadige aksie sien hy Anna Horrelpoot van die kraal se kant af pampoenland toe hardloop. Hy hoor haar skree en skree en skree. Lélik skree. Gilskree. Dat sy nou so tekere gaan oor ’n verdekselse bobbejaan ... Dan slaan die skrikbesef hom grond toe. Anna se gille word sy gille. Nee! Nee! Nee! Hy verloor beheer oor sy blaas. Hy sukkel om regop te kom. Dis asof die aarde hom pootjie. Terughou. Maar dan is hy op en hy hardloop. Hy hardloop al weet hy dat hy asseblief tog liewe Heer nooit ooit ooit dit wil sien wat daar op hom wag nie. Dit wás toe ’n kopskoot. Die netjiesste skoot wat hy nóg in sy lewe afgevuur het. Die koeël is tussen Mietjie se wenkbroue deur. Sy kind het na hom gekyk toe hy die geweer op haar mik en die sneller trek. Sy het die dood sien aankom. Sy het gewéét haar pappa skiet haar dood. Langs haar het ’n botteltjie vol pampoengoggas gelê.

Toe Mathilda bleekgeskrik en huilend naderstrompel, het hy haar met sy dooie kind in sy arms weggejaag. Haar letterlik soos ’n hond van die plaas afgeskop. Verdelg. Dit was háár skuld! Mietjie het ná ete langs haar mamma op die bed gaan lê en ’n uiltjie geknip. As Mathilda nie so behep was met haarself nie, sou sy gehoor het dat haar kind wakker word. Sou sy na haar gekyk het soos ’n ma veronderstel is om na haar enigste te kyk. Maar nee, sy het lusteloos op die bed bly lê en verlang na die vleispotte van Egipte. Tevrede met niks wat hy haar kon bied nie. Altyd op loer na die vetterige spyse op die tafel van ’n ander.

Hy het eers jare later gehoor dat Mathilda kort nadat die egskeiding afgehandel is, dood is. Raakgery in die strate van Johannesburg. Hy kon nie omgee nie. Vir hom was sy toe reeds lankal dood. Hy weet nie eens waar lê sy begrawe nie.

Dit voel of die brief ’n gat deur sy baadjiesak brand. Hy weet nie wat daarin staan nie. Hy weet ook nie wie dit geskryf het nie. Hy weet net dis onbetwisbaar dáár, ’n realiteit. Dalk ’n aanklag. Miskien ’n kwytskelding. Eerder ’n skuldbelydenis. Hoe sal hy weet as hy nie die brief oopmaak en lees nie? Maar hoe maak mens ná sestig jaar ’n geslote deur oop? Dit was nog nooit nodig vir hom om die sleutel in die slot te draai nie, want die nagmerries kruip vanself onderdeur die deur en ry hom bloots. Aand na aand. Sal die woorde wat in die brief geskrywe staan, die kole van die hel waarin hy verkeer nóg hetiger stook? Is die woorde dolke waarmee hy verder gekasty gaan word? Of durf hy hoop dat ... Maar nee, Bernaas Sieberhagen is nie ’n man vir hoop nie. Hy sal die brief lees en klaarkry.

Later, nadat Bertha haar na haar private kwartiere onttrek het vir die nag, vroetel hy die brief onder sy kopkussing uit.

Liewe Oupagroot

Ek hoop dat ek u so mag noem. Sien, ek is u 20-jarige agterkleindogter. Ek het goeie rede om te vermoed dat u moontlik nie bewus is van my bestaan nie. Ek het ook maar onlangs van u gehoor. Maar laat ek verduidelik.

Grootouma Mathilda is as hoogswanger vrou ernstig beseer toe sy deur ’n motor raakgery is. Die dokters kon nie haar lewe red nie, maar wel dié van haar baba. My ouma, Marthie, het haar eerste lewensjaar in ’n kinderhuis deurgebring en is later aangeneem deur ’n kinderlose paartjie. Sy was die paartjie se enigste kind en hulle het haar nooit vertel dat sy ’n aangenome kind is nie.

Ouma Marthie het gelukkige kinderjare gehad en het geen gebrek gely nie. Sy is later met ’n predikant getroud en hulle het ’n dogtertjie, my ma, Rina, gehad. Toe ouma Marthie se aangenome moeder oorlede is, het sy onder meer ’n trommeltjie vol briewe, dokumente en foto’s vir my ma, Rina, nagelaat met die instruksie dat sy dit eers mag kry wanneer ouma Marthie nie meer leef nie.

Ouma Marthie en oupa Johannes is onlangs saam ter ruste gelê, soos dit hulle wens was. Hulle het in Italië getoer toe die toerbus se remme op ’n bergpas onklaar geraak het. U het dalk van die ongeluk in die koerante gelees. Na afloop van die begrafnis het die prokureur die trommeltjie wat Mamma geërf het, laat aflewer. Binne-in was die besonderhede van ouma Marthie se aanneming en ook die naam van haar biologiese moeder. Om ’n lang storie kort te maak – dit was nie moeilik om uit te vind dat u tot kort voor die ongeluk nog grootouma Mathilda se wettige eggenoot was nie. Dit was werklik ’n verrassing om te verneem dat u nog lewe.

Ek weet nie hoe dit gekom het dat grootouma Mathilda alleen as geskeide vrou in Johannesburg opgeëindig het nie. Ek verstaan ook nie waarom ouma Marthie in ’n weeshuis beland het nie. Daar is soveel onbeantwoorde vrae. Wat ek wel weet, is dat alles ten goede uitgewerk het. Ouma Marthie het ’n mooi en goeie lewe gehad. Ek en Mamma ook.

So, Oupa, ek wil jou graag ontmoet. Indien jy ja sê, sal dit net gedurende vakansietyd moet wees. Ek studeer aan ’n landbouskool. My familie wonder soms hardop waarom ek, ’n gebore en getoë stadsjapie, wil boer. Ek weet nou dis in my gene, want my oupagroot is ’n boer.

Vriendelike groete

U agterkleindogter

Mariet

Ns. O ja, voor ek vergeet ... Dis nie net ek nie. Mamma en Pa Piet het almal verras met ’n laatlammetjie so vier jaar gelede. Haar naam is Mieke.

Hy, Bernaas Sieberhagen, het ’n kleindogter en twéé agterkleinkinders. Die besef dawer deur hom, Hy het sy vrou, sy swanger vrou, weggeskop. Haar nie eens toegelaat om haar dooie kind vas te hou of by haar begrafnis te wees nie. Hy was kwáád vir haar. Sy moes na Mietjie gekyk het, gesorg het dat sy kind veilig is. Dit was al wat hy van haar verwag het. Maar hy het geweet dat sy meer verwag het. Die plaas het haar vasgedruk. Sy wou méér wees as net ma vir Mietjie en vrou vir hom. Die knellende armoede en algehele hopeloosheid van destyds se droogte het haar gees geknak. Syne ook seker maar. Daardie vloekdag toe hy die bobbejaan wou vrekskiet, het hy eintlik na hulle omstandighede geskiet. Hy was opgesukkel. Opgeprobeer. Ontman. En Mietjie, sy dierbaarste dogtertjie, die lig van sy lewe, het die prys betaal. Nou, na sestig jaar se hel, ses dekades se ontsetting en selfverwyt, kom gee die lewe vir hom bloed van sy bloed terug. ’n Nageslag.

Hy hou sy oumenshande voor hom uit. Hierdie hande het sy kind doodgemaak. Hierdie hande het ook geplant, gesaai, geoes en bymekaargemaak. Dis vol bloed, ja. Die skandvlek is permanent. Op sy siel ook. Maar hy het sy lewe lank hierdie hande in die grond gesteek en gewerk. Hy het elke dag betaal. Boete gedoen. Sukses nagejaag om aan homself te wys hy is nie nét sleg nie. Hy is méér as net kindermoordenaar. Of dis wat hy soms vir homself vertel. Dis wat hy soms in sy diepste enigheid hoop. Dat daar vir hom ’n druppeltjie genade sal wees iewers, want God weet hy het niks vir homself nie. Hy is al só lank ’n bloeiende klip.

Hy kyk na die datum op die brief. Dis al ’n jaar terug geskryf. Mariet moet dink hy wil haar nie ken nie. Hoe sê ’n sterwende man in die dorre woestyn nee vir ’n slukkie koel water?! Hy trek die foon nader. Dis tyd dat sy prokureur die astronomiese bedrae wat hy hom betaal, begin verdien. Hy moet sy nageslag opspoor en vir hulle laat weet hulle moet onverwyld plaas toe kom. Hy wil hulle met sy eie oë sien. Seker maak dat hulle rêrig bestaan.

***

Hy staan fier en regop op sy krukke gestut toe die blou gesinsmotor in die rylaan opry en ’n paar treë van hom af stilhou. Die agterste deur gaan oop. Dan sien hy haar. Mariet. Dit moet Mariet wees. Sy dra ’n John Deere-keps op haar blonde krullebol. Haar oë is hemelsblou soos Mathilda s’n toe sy voor hom staan en hom takserend beskou, een boer tot ’n ander. Hy staan weerloos voor Mathilda se oë. Meteens lig die sluiers en die kind se oë lag in syne op. Dit voel of die son opkom en hy in warm helder ligstrale gebaai word.

“Hallo, Oupagroot.”

“Dag, kind,” rammel dit grof uit sy bors uit.

Sy ruik na veldblomme toe sy hom op die nek beetkry en hom druk of sy hom al jare lank ken. Dit voel of sy bors gaan ontplof.

“Ek wil ôk hallo sê.”

Hy kyk af na die kleintjie wat by hulle kom staan het. Sy bene swik onder hom en hy gaan staan op sy knieë. Hy kyk na Mietjie. Dis háár dierbare gesiggie, haar ongeskonde gesiggie sonder die koeëlgat tussen die ogies, wat nuuskierig na hom kyk. Daar is sproetjies oor haar fyn wipneusie en haar wangetjies is rosig gesond. Haar haartjies is in twee bokstertjies gevleg en hang oor haar skouertjies.

“Hierdie snip se naam is Mieke,” lag Mariet. “Toe, sê hallo vir oupagroot.”

“Hallo, Oupaghoot,” na-aap die kleinding. Sy hou haar toe handjie na hom toe uit. “Joune.”

Hy draai die vuisie om in sy groot hande. Sy maak haar vingertjies oop. Die son blink op die pampoengoggatjie se swart en oranje doppie. En Bernaas Sieberhagen huil die trane wat hy sestig jaar gelede moes gehuil het. Op sy knieë met sy agterkleindogters voor hom. “O God, vergewe my ...”

Mariet en Mieke slaan hulle arms om hom. Dan kom sy kleindogter, Rina, en haar man Piet by. Hulle trek laer om hom. Bernaas Sieberhagen baai in onverdiende genade.

  • 12

Kommentaar

  • Skitterend geskryf. Ek sit hier met trane in my oë.
    Ja dit gaan oor elkeen se pad waarop jy nie kan terugloop nie.
    Hierdie skrywer het 'n besondere talent.

    • Louise Viljoen
      Louise Viljoen

      Sjoe, Jan, baie dankie vir jou positiewe opmerking! Ek waardeer dit verskriklik baie. Dit spoor my aan om nog 'n kortverhaal te probeer skryf. Dankie!

      • Hallo Louise. Ja ek skryf nou en dan 'n gediggie en weet wat positiewe kommentaar vir 'n mens beteken. Ek is nie 'n kortverhaalskrywer nie, maar kan goeie werk waardeer. Hoe se die mense vir Thuli, "You go girl".

  • Louise Viljoen
    Louise Viljoen

    Jeanette, baie dankie dat jy my storie gelees en geniet het. Ek waardeer jou kommentaar.

  • Louise Viljoen
    Louise Viljoen

    Clari, vreeslik baie dankie vir jou positiewe terugvoer. Dit beteken geweldig baie vir my as skrywer. Dankie dat jy my storie gelees het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top