My (onuitgesaaide) "Monitor"-verslag uit Rhodesië – winter, 1978

  • 5

Die onverwagte bewindsverandering in Zimbabwe op 21 November 2017, toe ’n erg bejaarde Robert Mugabe uit die kussings gelig is, het my herinner aan twee besoeke wat ek in die laat 1970’s aan dié land – toe nog Rhodesië – gebring het. Dit was gedurende my jare by die SAUK.

Dit het my ook herinner aan ’n verslag wat ek bitter vroeg een oggend in die winter van 1978 geskryf het op die plaas van Hermanus Vorster in die Burma-vallei op die grens tussen Zimbabwe en Mosambiek.   Dit was tydens die "bosoorlog" tussen die magte van Ian Smith se Rhodesiese regering en die "terroriste"-insypelaars van Joshua Nkomo en Robert Mugabe. 

Na ’n slapelose nag (die stuk of vyf werfhonde het gedurig geblaf en ’n mens was ’n mortieraanval op die woonhuis enige oomblik te wagte) het ek die verslag daardie oggend in gewone skrif op blokkiespapier, geskeur uit ’n oefeningboek, geskryf.  Daarna, vóór 06:00, het ek ’n langafstand-oproep na die SAUK in Johannesburg bespreek en die verslag telefonies (as ’n stemverslag, dus) vir Cobus Robinson - die aanbieder van "Monitor" – deurgestuur.  Cobus het agterna vir my gesê die verslag was ongelukkig nie bruikbaar nie, omdat die telefoonverbinding uit die Vallei te swak was. Nietemin: ek het die teks al die jare bewaar.  Die volle weergawe volg hieronder. 

Ek moet egter eers vertel hoe ek in Rhodesië beland het. 

My broer, Lion, was NG-predikant op Umtali (nou Mutare) aan die Rhodesiese oosgrens. Só het die hoofstraat van daardie mooi dorp destyds gelyk:

Dit was Lion se eerste gemeente.  Die kerkgebou het maar soos enige tipiese Suid-Afrikaanse NG-kerkgebou gelyk.

Lion was so drie, vier jaar lank daar en uit sy huwelik met Christien is hul drie kinders – Petro, Attie en Fritz – gebore. Hulle het ’n beroep na Boksburg-Oos aanvaar en hy is nie toegelaat om hul gesinsmotor – ’n Volkswagen-ambulans wat as ’n kombi omgebou is – uit die land te neem nie. 

Ek en my pa, Attie, het gevolglik met twee motors na Rhodesië gereis om Lion en sy gesin na Suid-Afrika terug te bring.  Hul huisraad sou met ’n vervoerwa RSA toe gebring word.

Pa het met sy Peugeot 504 "Automatique" gery en ek met ons liggroen 1973-Volkswagen 412-sedan, hier afgeneem te Heidelberg circa 1976. Langs die motor staan my liefling-oupa, Charles Alfred Gustafson (1889 – 1979).  Ons het toe nog in Port Elizabeth gewoon – vandaar die CB-registrasie. 

Dis hoe ek oupa Gus onthou: altyd – selfs langs die viswaters – geklee in ’n langbroek met kruisbande, langmouhemp met ’n das en, wanneer hy buite was, sy hoed. 

Die reis na Umtali het twee dae geduur.  Die eerste dag is ons sonder insident oor die grens by Beitbrug en daardie aand het ons op, meen ek, Fort Victoria (soos dit toe bekend was) geslaap. Sedert 1982 heet dié dorp Masvingo. Die volgende dag is ons via Salisbury (nou Harare) Umtali toe.  Die teerpaaie was deurgaans puik.

Omdat dit gedurende die oorlog was, moes ons van ongeveer Fort Victoria af tot – as ek reg onthou – naby Salisbury in "konvooi" ry.  Dit het behels dat groepe private motors militêr begelei is: daar was ’n bakkie voor so ’n konvooi met gewapende soldate agterop, met ’n soortgelyke bakkie wat die agterhoede gedek het. Dié maatreëls was nodig aangesien privaat motors dikwels deur "terroriste" aangeval is en daar heelparty ongevalle was.

Pa se Peugeot is net-net op die agtergrond sigbaar – agter die gesette ou met die swart langbroek net links van die middel van die foto.  My groen Volkswagen

412 staan kort agter die Peugeot. Toe dié foto geneem is, het die bevelvoerder van die konvooi aan ons instruksies gegee – veral wat ons moes doen as daar ’n terroriste-aanval sou wees …

Nog iets: tydens ons beoogde besoek aan Rhodesië was ek al so ’n paar maande lank terug (uit PE) by die SAUK in Johannesburg, waar ek die destydse Afrikaanse Radiodiens se Organiseerder: Jeug- en Tydskrifprogramme was.  Die Hoof van die diens, Morkel van Tonder, het gehou van my voorstel om tydens die besoek ’n hoorbeeld oor die Afrikaners van Rhodesië saam te stel.  Ek moes dus ’n Nagra-opnemer met gepaardgaande toerusting  – oorfone, magnetiese bande, batterye ens – saamneem.  Ek het talle onderhoude met uiteenlopende mense gevoer – soos met dié dame, kort na ’n kerkdiens:

Om opnames vir die beoogde program te mag maak, moes ek as joernalis by die Rhodesiese owerheid geakkrediteer word.  Die SAUK het die nodige reëlings getref en my akkreditasie het gepaard gegaan met ’n uitnodiging van die Rhodesiese Inligtings-/Toerismediens dat ek (én ’n metgesel!) op hul onkoste vir ’n naweek na die Victoriaval kon vlieg. Pa was nogal gretig om as my gas saam te gaan.

Ek herinner my dat ek en Pa laat op ’n Donderdagmiddag op Umtali aangekom het.  Die Vrydagoggend, aan ontbyttafel, het die pastorie se telefoon gelui.  Lion het gaan antwoord en toe teruggekom en gesê: "Los als.  Daar was ’n plaasaanval gisteraand by een van ons gemeentelede. Kom ons ry dadelik daarheen."  Ek vertel meer daaroor in my – helaas onuitgesaaide – verslag aan “Monitor”.

Die naweek by die Victoriaval was regtig iets besonders.  Ek en Pa is vroegoggend uit Salisbury met ’n Viscount (met registrasie VP-YNI) van die Rhodesiese lugdiens na die Val. (Ek vertel nou-nou meer ivm dié registrasie.)

Hier is ’n foto van ons vliegtuig.  Let op die Citroën DS op die laaiblad – ek herinner my dat ’n klompie van hulle indertyd in Rhodesië gemonteer is. Die Rhodesiërs het ook die kanniedood Peugeot 404 vervaardig.

Op die foto hieronder kyk Pa Attie uit deur die Viscount se ruim kajuitvenster na die Rhodesiese winterlandskap. Ek dink dit was die eerste keer in sy lewe dat hy gevlieg het. Doer agter sit ’n ou met – na wat vir my lyk – ’n sigaret in die mond.  Ja, om te rook is toe nog op vliegtuie geduld ...

Die Viscount het vier kragtige turbo-aangedrewe Rolls Royce-enjins gehad. Op ’n lughawe se laaiblad het dit ’n kenmerkende skril fluitgeluid gemaak.

Ek is selfs vir ’n rukkie in die Viscount se stuurkajuit toegelaat en het dié foto geneem. Jy sal aanstons agterkom wat die rede vir al dié Viscount-inligting is.

Ons is op die lughawe ingewag en het per bus – met militêre begeleiding – na die Victoria Falls Hotel gereis.

By die hotel aangekom is ons deur die legendariese portier, Odwell, met tientalle wapentjies op sy uniform, verwelkom.

Ons het ’n lekker kamer met ’n mooi uitsig gehad, soos blyk uit die foto hieronder.

Die bekende boogbrug op die agtergrond van die foto was die "neutrale" plek vir die "brugberaad" in 1975 tussen die Suid-Afrikaanse premier, John Vorster, en die president van Zambië, Kenneth Kaunda. Die beraad het plaasgevind in die sitkamerwa van die Suid-Afrikaanse "Wit Trein", die amptelike trein van die Suid-Afrikaanse staatshoof.  (Ek meen dié wa staan nou by die Spoorwegmuseum op George).

Die spierwit wa is presies in die middel van die brug geparkeer – "wydsbeen", dus, oor die Zambezirivier wat die grens is tussen Zimbabwe (Rhodesië) en Zambië.

Volgens Hermann Giliomee (Die laaste Afrikanerleiers Kaapstad: Tafelberg, 2012, p 120 ev) was Vorster se oogmerk met die beraad om ’n skikking tussen Smith en die vernaamste swart Rhodesiese leiers te help bewerkstellig. "Dit het misluk", skryf Giliomee, "maar Vorster het aan status gewen, soos ’n foto van ’n jong Zambiër getuig het. 'Vorster becomes great today,' het die bewoording gelui."

Die Victoriaval was binne stapafstand van die hotel. Pa en ek het dié Afrika-skouspel terdeë geniet, ten spyte daarvan dat ons sopnat "gereën" het: 

Later het ons ’n paar Rand bymekaar geskraap en  ’n privaat vliegtuig gehuur om die val ook uit die lug te beskou.  Dit was ietwat van ’n teleurstelling, want die vlieënier was bang om te naby aan die Val – wat op die grens tussen die huidige Zimbabwe en Zambië is – te vlieg, uit vrees vir ’n vuurpylaanval uit Zambië (wat blykbaar vantevore wel gebeur het).

Ons het net-net betyds geland: ons was naamlik albei bitter naby aan katte skiet, want die klein vliegtuigie het vreeslik tydens die vlug "gestamp".

Kort nadat ons terug was in die Republiek – en wel op 3 September 1978 – is die eerste van twee Viscounts (met registrasie VP-WAS) van Air Rhodesië deur ZIPRA-terroriste (Nkomo se Zimbabwe People's Republican Army) met ’n grond-tot-lug-missiel afgeskiet.  Vlug RH825 het van die lughawe by Kariba opgestyg met 52 passasiers en vier bemanningslede aan boord.  Omtrent vyf minute later is dit deur die missiel getref waarna dit ’n noodlanding uitgevoer het.  Agt en dertig insittendes (insluitend die vlugbemanning) het omgekom. Daar was dus 18 oorlewendes.

Oor wat daarná gebeur het, lees ons in "Wikipedia":

"After briefly settling the others, one of the passengers, Dr C MacLaren, led four others –young newlyweds Robert and Shannon Hargreaves, Mrs Sharon Coles, and her four-year-old daughter Tracey – off in the direction of a nearby village in the search of water. The other 13 remained close to the wreckage. Meanwhile, nine guerrillas (sic!) made their way towards the crash site, and reached it at about 17:45. Three of the 13 survivors remaining at the crash site hid on seeing figures approaching: Rhodesian Army reservist Anthony Hill, 39, took cover in the bush surrounding the crash site, while businessman Hans Hansen and his wife Diana did the same. This left 10 passengers in full view near the wreckage, of whom six were women (including two girls, aged 11 and four).

“The guerrillas, who were armed with AK-47 assault rifles, presented themselves to the 10 passengers as friendly, saying they would summon help and bring water.  They spoke in English, both to the survivors and amongst themselves. They told the passengers to congregate around a point a few metres from the wreckage; when the survivors said that some of them were too badly injured to walk, the insurgents told the able-bodied men to carry the others. The passengers were assembled into an area of about 10 square metres. Standing roughly 15 metres away, the cadres now raised their weapons. "You have taken our land," one of them said. "Please don't shoot us!" one of the passengers cried, just before they were killed by a sustained burst of automatic gunfire".

’n Tweede Viscount (met registrasie VP-YND), en bekend as "Vlug RH827", is op 12 Februarie 1979 op dieselfde roete afgeskiet.  Nie een van die 59 passasiers en bemanning het die ramp oorleef nie.  

As ek die registrasie-letters van die onderskeie vliegtuie met mekaar vergelyk, is dit – na al die jare – nogal ietwat van ’n verligting dat "ons" Viscount nie een van die twee was wat neergeskiet is nie!

Aan die einde van ons besoek is ons met Lion en sy gesin terug na Suid-Afrika, wéér in konvooi. Fritz – latere SA bergfietskampioen – was toe nog in doeke.  Ons het die laaste aand in Rhodesië oorgeslaap in ’n motel naby die Zimbabwe-ruïnes, ook ’n onvergeetlike ervaring. Hier stap oupa Attie met een van die klein Pienaartjies – ek dink dis die oudste, Petro.

Na my eerste besoek aan Rhodesië in die winter van 1978 het ek ’n uur lange hoorbeeld oor die Afrikaners van Rhodesië saamgestel wat later daardie jaar oor die Afrikaanse Radiodiens uitgesaai is.  Ek wonder of die program nog in die SAUK se klankargief bestaan ...

In April 1979 is ek weer - toe per vliegtuig van die SAL – na Salisbury om ’n onderhoud met die Rhodesiese premier, Ian Smith, te voer met die oog op ’n program oor daardie hardekwas-politikus wat die Britse regering – eintlik, die ganse wêreld – vir so lank met betreklike sukses uitgedaag het.  Die onderhoud het op 4 April 1979 in Smith se verrassend-beskeie kantoor in Salisbury plaasgevind. Ek het vooraf van Smith se privaat sekretaris ’n stel vrae ontvang en ek is meegedeel dat die premier net dáárdie vrae sou beantwoord.

Dit het my nogal voor ’n dilemma geplaas: dis mos nie hoe ’n joernalis te werk behoort te gaan nie!  Ek was egter reeds op die SAUK se koste in Salisbury en moes my hardekwasgeit maar in my sak steek en Smith gaan ontmoet.  Daaroor was ek nog nooit spyt nie.

Een van die premier se personeellede het ’n foto van die geleentheid geneem en Smith het my boek oor hom vir my geteken.  Die foto teen die muur agter Smith is van John Wrathall, die laaste president van Ian Smith se rebelle-republiek. Wrathall het op 31 Augustus 1978 aan ’n hartaanval gesterf en sy pos is nie daarna permanent gevul nie.  Nogtans het sy foto nog op 4 April 1979 teen die maer, amper tengerige, Ian Smith se kantoormuur gepryk ...

Ian (Douglas) Smith self had ’n "sterk", "indrukwekkende", "mooi" handskrif – soos uit die inskripsie in my boek blyk:

Omdat die onderhoud met Smith in Engels was, het ek – ter wille van ’n "Afrikaanse hoek" - ook onderhoude met twee van sy kabinetslede, Rowan Cronje en Pieter van der Byl gevoer.  Laasgenoemde had die indrukwekkende name Pieter Kenyon Fleming-Voltelyn van der Byl.

My herinnering is dat onse Pieter maar taamlik met Afrikaans gesukkel het.  Hy was verder flambojant en uitsoekerig: ’n paar maande na ons onderhoud is hy op 56-jarige ouderdom die eerste keer getroud, en wel met Prinses Charlotte Maria Benedikte Eleonore Adelheid van Liechtenstein.  Sy was 30 jaar jonger as hy …

Die Smith-onderhoud is op Maandag 11 Junie 1979 om 19.35 uitgesaai –  ek wonder of dit nog in die SAUK se klankargief bestaan – en het geskied in dié sonderlinge "rebel" se swanesang as regeringsleier. Reeds toe het hy, in ’n oorgangstadium na meerderheidsregering, die mag met Biskop Abel Muzorewa (as nominale "mede-premier") gedeel. Hy het hom totaal misreken met Muzorewa deurdat hy lg se steun onder die swart bevolking van Rhodesië totaal oorskat het. Die jaar na my onderhoud met Smith (1980) het die einde van blanke minderheidsregering in Rhodesië ingelui: Robert Mugabe se ZANU-PF het aan bewind gekom en die land het Zimbabwe geword. 

Aan die einde van Smith se lewe (hy is op 20 November 2007 in Kaapstad oorlede), en met Robert Mugabe op sy waansinnigste self aan bewind in Zimbabwe, het ’n joernalis opgemerk: "Smith is die één mens wat oplaas sy verset teen ’n swart bewind kon regverdig met: 'I told you so'" (verwysende na sy lakoniese uitsprake tydens die gebeurtenisvolle Lancaster-beraad in Brittanje, wat die einde van sy bewind ingelui het).

Teks van my (onuitgesaaide) verslag aan "Monitor" uit die Burma-vallei, winter van 1978  

(Ek vul dit aan met foto's uit my ruim versameling oor daardie besoek.)

 "Vir die besoeker aan Rhodesië – en, veral, soos ons, aan die oostelike gebiede van hierdie mooi land – is dit onmoontlik om nie van minuut tot minuut bewus te wees van die uitmergelende terroriste-oorlog wat hierdie land reeds sedert 1972 teister nie.  Jy kom dit agter uit die vrae wat jy by die doeane-kantoor met jou binnekoms moet beantwoord; jy voel die spanning aan as jy daarna by die konvooi op pad na Bulawayo (sic) moet aansluit; jy sien dit aan die bewegings van militêre voertuie (merendeels voertuie wat teen landmyne beskerm is)."

"En in haas elke gesprek met enige Rhodesiër – die haarkapper, hotelpersoneel, kontroleur van brandstofrantsoenering, boere, predikante, of wie ook al – kom die heersende oorlogsituasie telkens ter sprake.  Sedert my aankoms in Rhodesië verlede Donderdagaand het ek al self ’n slag of twee van naderby kennis gemaak met die leed wat die oorlog veroorsaak.

“Vrydagoggend het ek met Danie en Hannalie Slabbert op hul plaas Constantia naby Inyazura gesels, pas nadat hul die vorige aand deur terroriste aangeval is. Vyf mortierbomme het hulle elegante plaaswoning net-net gemis. 

“Sondagoggend was ek in die kerk toe hul tweeling-seuntjies van drie maande gedoop is – twee babas wat twee nagte vantevore deur hul moeder in die badkamer van hul huis bewaak is, terwyl mortiere en die koeëls uit Russiese AKG's (sic!) op hul gereën het."

Danie en Hannalie Slabbert met hul tweeling op hul doopdag by my broer, Lion.

Op die foto hieronder besigtig Lion en Danie die geweerskade aan sy huis. Soos ek in die "Monitor"-verslag vertel, was daar ook ’n mortieraanval op die plaasopstal. My herinnering is dat daar agter die huis ’n stoor vir plaasimplemente was en dat vyf mortiere (wat klaarblyklik vir die huis bestem was) skadeloos óór die huis se dak getrek het en op die grond tussen die huis en stoor ontplof het. Ek onthou ook dat die Slabberts, soos trouens omtrent alle boere, as ’n voorsorgmaatreël sandsakke voor hul huis se vensters en deure gepak het.  Dit het in die besondere aanval op die Slabberts se huis die nodige vrugte afgewerp.

"Saterdagoggend het ek ’n lang onderhoud gevoer met oom Coen Bezuidenhout van die Odzi-distrik, wat reeds ’n hewige terroriste-aanslag op hul plaaswoning oorleef het.  Oom Coen is feitlik ’n legendariese figuur hier in die oostelike gebiede van Rhodesië en die mense sê hy stuit vir g’n duiwel nie. In 1947, byvoorbeeld, het hy sy regtervoet verloor in ’n skermutseling met ’n luiperd, en vandag moet hy met ’n kunsbeen oor die weg kom.  Ná ons onderhoud het ek ’n foto van oom Coen by sy dieselbakkie geneem."

"Gisteroggend het hy met dieselfde bakkie ’n landmyn digby sy plaashuis afgetrap. Sy vrou en kleinseun wat saam met hom in die kajuit was, het ongedeerd daarvan afgekom. Oom Coen self is met veelvuldige beserings in die hospitaal op Umtali opgeneem.  ’n Swart plaaswerker wat agter op die bakkie was, het die lewe gelaat.

“Die uitputtingseffek van die oorlog is duidelik merkbaar onder die groot aantal boere wat reeds uit sekere distrikte padgegee het en hul spogplase net so agtergelaat het. ’n Vooraanstaande sakeman van Umtali het gister aan my gesê dat daar op dié pragtige dorp digby die Mosambiekse grens reeds meer as 500 huise in die mark is.  Blankes verlaat die gebied byna daagliks omdat hul geen hoop meer het op ’n toekoms in dié land wat voorheen net gegéé en gegéé het nie.  Onder blankes is daar ’n algemene, diepgewortelde wantroue in die skikking wat bereik is tussen Mnr Smith en die drie swart nasionalistiese leiers.  Blankes glo net eenvoudig dat dit nie sal werk nie.

“’n Lofwaardige uitsondering is sommige boere – veral in die baie gevaarlike Burma-vallei waar ons vannag (skaars ’n kilometer van die Mosambiekse grens af) geslaap het.  Dié mense – soos trouens baie ander boere – het ’n leeftyd lank gebou aan hul spogplase (meestal piesangplase) en hulle besef dat daar feitlik nêrens elders vir hulle ’n heenkome is nie."

"Daarom is die stuk of 16 blanke gesinne in hierdie vallei daarop ingestel om self, sover as moontlik, te sorg vir hul eie verdediging. Elke plaas(huis) is deeglik met omheinings en granaatbomme gefortifiseer (sic!) en ’n deeglik uitgewerkte plan bestaan wat almal sal betrek by ’n reddingspoging indien een aangeval word." 

’n Boer – tot die tande toe gewapen ...

’n Ma en haar twee kinders op ’n plaas in die Umtali-distrik by ’n tuisgemaakte "bom" wat elektronies uit die woonhuis afgevuur kon word.  Die wit buis (van asbes, as ek reg onthou) was met skrapnel gevul en sou tydens ’n terroriste-aanval op die plaasgeboue groot skade aan die terroriste kon aanrig.  Let op die skerms agter die bom - bestem om die woonhuis op die agtergrond teen die skrapnel te beskerm.

"Dié mense gee jou hoop vir Rhodesië se toekoms en jy hoop onwillekeurig dat daar weer ’n dag sal kom dat die imposante Leopard Rock Hotel hierbo teen die kop (dws agter die plaas waar ons dié nag tuisgegaan het) – ’n hotel wat eens konings, prinse, presidente en eerste ministers geherberg het – weer vol sal wees van vrolike, opgeruimde gaste.  Gistermiddag, met middagete, was ons die enigste gaste – hoewel daar op amper elke tafel in die ruim eetsaal ’n vaas met pragtige miniatuur orgideë was."

"Dit is Gustaf Pienaar in die Burma-vallei naby Umtali, en daarmee terug na ‘Monitor’ in Johannesburg."  (Egter nooit uitgesaai nie!)

Ek was ietwat bewoë toe ek op die aand van 21 November 2017 op TV die jillende, juigende skare gesien het wat in Harare se strate feesgevier oor die einde van die katastrofiese Mugabe-bewind.  Dit het my laat dink aan soortgelyke tonele met die val van die Berlynse Muur in 1989. Dalk het iets soortgelyk aan daardie muur op 21 November 2017 in Suider-Afrika getuimel. Tyd sal leer.

  • 5

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Baie dankie vir hierdie wonderlike herinneringe aan 'n vervloë tyd. Dit is die soort teks wat deesdae selde gepubliseer word. Diegene wat nie die "bevrydingstryd" in Rhodesië en Suid-Afrika eerstehands beleef het nie, het weens propaganda en politieke byderwetsheid bitter min begrip van wat werklik gebeur het. In baie gevalle was diegene wat deesdae "vryheidsvegters" genoem word in murg en been terroriste.

  • Avatar
    Salomé Malherbe

    Afrika is so ’n vreemde duistere reus wat blindelings deur die eeue strompel. Haar kinders voortdurend aan die baklei arm en in hongersnood vervalle. Wat sal dit tog vat om ’n verandering van gees teweeg te bring? Christenskap is so ’n gematigde lewensfilosofie so anders as Kommunisme en Islam. Wanneer gaan die kinders van Afrika leer om net dankbaar te wees vir die goeie wat so hard probeer om hul lewens op te hef en eerder dit te kies?

  • Avatar
    Hans Richardt

    Dalk weer na Cobus Robinson luister terwyl hy Green Leader van John Edmond op Monitor gespeel het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top