
Ingrid Jonker (foto: https://www.litnet.co.za/was-ingrid-jonker-n-slagoffer-van-die-rooi-skoene/)
Ontvlugting
(Ter nagedagtenis aan Ingrid Jonker)
voor haar venster staan sy
oorgelaat aan haar eie genade
soos ’n verdwaalde mier
op ’n suikerpot se deksel
arms gevou
kop omlaag
gesig sonder uitdrukking
haar binneste ’n oseaan
vol opgekropte seer
sy storm na buite
blindelings
soos ’n verlore siel
wat nêrens welkom is nie
die wind kerm in haar ore
beskermend vou die donkerte
sy arms om haar
die man op die maan
se glimlag het verdwyn
strak en emosieloos
gaap hy haar aan
’n knop vorm in sy keel
’n seevoël fluister haar naam
saggies dog hoorbaar
gewillig soos ’n slavin
drentel sy agter die stemmetjie aan
warm trane
gemeng met soutwater
bring ’n wrang smaak
in haar mond
tog voel sy vreedsaam
soos ’n kind
wat vry en sonder sorge
saam met haar maatjies baljaar
hardhandig gryp ’n brander
aan haar linkerarm
en sleep haar agter hom aan
die wye dieptes in
in ’n oogwink sink sy
weg
weg
weg
hier in die arms
van die see
by drieankerbaai
voel sy veilig
hier het sy berusting gevind


Kommentaar
Treffend!