Vir Stemme, LitNet se dialoogprojek saam met die Suidoosterfees, NATi en die ATKV, is tien dramaturge genader om kort dialoë te skryf. Twintig akteurs is gevra om daarin te speel en tien regisseurs het elkeen ’n stuk afgerond.
In Rachelle Greeff se dialoog Onthuts vertolk Susanne Beyers en Desiré Gardner die rolle. Kanya Viljoen was in die regisseurstoel.
Onthuts
Rachelle Greeff
KARAKTERS
MA RINA: Tagtigs
DOGTER REBECCA: Vyftigs
RUIMTE
Byvoorbeeld die beknopte klein wagkamer by ’n radioterapie-praktyk. Ma en Dogter was reeds by Ontvangs in die groot wagkamer. Hierna is Ma na een van die aantrekhokkies, waar sy in die standaard- blou hospitaaljurk wat agter vasknoop, verklee. Sy en Dogter wag nou direk buite die vertrek waar die mammogram gedoen sal word. Hierin is hoogstens drie sitplekke, klein tafel met gebruiklike tydskrifte, mediese pamflette, water. Sy haal haar oorbelle, ringe en polshorlosie af en gee vir Dogter om te hou.
AGTERGROND
Oorlede Pa was ’n gesaghebbende en gerespekteerde figuur in die gemeenskap. Maar by die huis het sy onbeheerste woede-uitbarstings en stilstuipes sy gesin (vrou, dogter en jonger seun) geknou. Dié trauma van Rebecca is van tyd tot tyd in terapie aangespreek. Dis nou grotendeels verwerk. Tog wil sy wéér (vir oulaas, belowe sy haarself) hoor hoekom Ma Pa daarmee laat wegkom het. Die band tussen Rebecca en haar ma is verwikkeld, maar heg. Ma steeds vlymskerp.
DOGTER: Maar het jy hom ooit teëgegaan?
MA: Nee.
DOGTER: Al het jy gesién hoe dit ons knou? Ek en Boetie.
MA: Genoeg, Bekka.
DOGTER: En jy ook. Tippy-toe, tippy-toe. Al drie van ons. Nie dat dit al die tantrums en stilstuipes gekeer het nie.
MA: Skaars die plek.
DOGTER: Dalk as jy net een keer sy dreigemente uitgedaag het. Hy was after all net ’n oordonderende … skrikwekkende … swakkeling.
MA: Toe hy oud en terminaal was, ja.
DOGTER: Toemaar. Kom ons los dit.
MA: Maar jy verwyt my steeds.
DOGTER: Nee wat. Ek sien mos nou self: Een ouer kan die kinders maklik buffer teen die ander een.
MA: Moet ek my bekommer?
DOGTER: Nope. Kleinighede―
MA: Moet ek bid?
DOGTER: Moenie ophou bid nie. Maar die kinders is, tot nou, oukei. Ek sien steeds my shrink, wyse ou man.
MA: Ek moet …
DOGTER: ’n Draaitjie loop?
MA: Iets. Sê.
DOGTER: Hulle gaan jou nou roep. Kan dit nie wag nie?
MA: Ge-oeps―
DOGTER: Ma naar?
MA: Toe ek dit die eerste keer sien.
DOGTER: Wat?
MA: Die artikel. In (beduie na tydskrifte). Dáároor. Dit was in die Sarie.
DOGTER: Waarvan praat jy, Ma?
MA: Moenie kyk nie, Rita. ? Rebecca? Bekka? Blaai verby. Maar dit suig my oë uit my kop. Ek probeer die ding weg van my smyt. Dit plak aan my hande. Vás. Dan steek ek dit onder die matras ...
DOGTER: Porno? Come on …
MA: Wat noem julle dit?
DOGTER: ―Wat?
MA: Die nulletjies-en-kruisies-teken, Rebecca. Die “jý ook”-enetjie. Ek meen, ék ...
DOGTER: Mamma!?
MA: Elke laaste Saterdag van die maand is Pappa en Mamma dorp toe. Dan laai hulle my by ant Nellie af. Wanneer hulle my weer kom kry, eet almal eers saam. Dan terug plaas toe.
DOGTER: Mamma se ant Nellie-suster? En oom Tertius? Hý?
MA: Die seuns.
DOGTER: Meervoud? Meer as een? Waar’s die oom en tannie dan?
MA: Iewers. Groot erf. Groot huis. Meer fout. Ek was gedurig by die leivoor verby die boord. Ek het altyd my rokkie ingesteek, om droog te bly. Tot: “Mamma sê jy moet eerder jou klere uittrek, Rientjie. Só gaan dit in elk geval nat word.”
DOGTER: Hoe oud was―?
MA: Die jaar voor skool. Hulle in die hoërskool. As hulle my nou wys, die speletjie, sal ek volgende jaar die slimste in die klas wees. “Wil jy nie eerste staan nie, Rientjie?”
DOGTER: Waar’s hulle nou? Ons moet―
MA: Dood. Albei. Lank.
DOGTER: Liewe Here.
MA: Jy’t my verkwalik toe ek nie in Welgelegen wou bly nie. Wéér die ou ma wat nie haar “mind kan opmaak” nie.
DOGTER: Ek’t―
MA: Een se tweede vrou trek toe daar in. “Kom, Rina, jy’t ’n slag met mense.” “Toe, wat’s dit nou met jou?” Wat sal sy van my dink?! Wíl, maar mág ek nie vra nie.
DOGTER: Van Má dink?!
MA: Hulle het uitgepraat, almal vertel, vir al wat ek weet?
DOGTER: Het jy vir Ouma vertel?
MA: Sy sou my velle aftrek.
DOGTER: Lolla?
MA: (Gebaar vir nee.)
DOGTER: Pa?
MA: (Ditto.)
DOGTER: Dominee Dreyer?
MA: Niemand. Net my Vader.
DOGTER: Oupa?
MA: My hemelse Vader. En Hy het my lankal vergewe. Dit getuig ek vandag.
DOGTER: Jóú vergewe! Hoor jy wat jy sê?
MA: Ek’s nie doof.
DOGTER: ’n Vyfjarige meisietjie skuldig aan haar eie molestering? Nee. Ons móét jou … PTS-berading. Ek sal reël. Dit sit steeds in elke sel van jou arme, arme lyf, Mamma. Dit gebeur oor en oor.
MA: Elke laaste Saterdag.
MA: Asseblíéf, Mamsie, dis nie iets vir alleen dra nie. ’n Terapeut―
MA: God is my terapeut, Rebecca, “wyse ou man”.
***
Stemme is supported by the National Arts Council.
Stemme is ’n Nuwe Skryfwerk-projek van LitNet en word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust.
Al die monoloë is op hierdie blad beskikbaar: