Onthou Herman van den Berg

  • 0

Naómi Morgan, vertaler van die veelbekroonde Oskar en die Pienk Tannie, sê: "Ma’s met kinders wat soms siek word moet dit hê, dis ’n mantra."

Die lied waarna sy verwys, is Herman van den Berg se "Hulle sal jou kom haal". In sommige teaters is hierdie stuk musiek voor die aanvang van dié toneelstuk, wat handel oor ’n sterwende kind, gespeel.

Dié lied is ook ’n snit op Herman van den Berg se jongste CD, Onthou.

Naomi Meyer het Herman van den Berg oor sy musiekloopbaan uitgevra.

Herman, jy debuteer reeds in 1999 – en jou sesde CD, Onthou, is onlangs uitgereik. Vertel vir enige van ons lesers wat nog nie van jou gehoor het nie, in ’n sin wie jy is.

Ek maak musiek waarin ek kan glo, oor goed naby hart my vir mense wat rêrig na musiek luister. 

Verstaan ek reg – sing, toonset en musiekmaak is nie jou daaglikse werk nie? Jy is ingenieur. Hoe beïnvloed jou musiek jou werk (en andersom)?

Ek is drie dae van die week ’n ingenieur en sewe dae van die week musikant. Die ingenieurswese meng soms in met die musiek, maar tog is daar belangrike vaardighede, soos rekenaarvaardighede, wat nuttig te pas kom in ’n musiekateljee. Die twee wêrelde is baie verskillend en dit is dikwels moeilik om die balans te vind of om van een denkmode oor te gaan na die ander. Die grootste uitdaging vir my is altyd om van ’n berekende wêreld oor te stap na ’n emotiewe wêreld en ek moet myself dikwels doelbewus losmaak van die ingenieursdenkmode.

Ek het die eerste keer jou musiek gehoor toe ek en my gesin ’n paar jaar oorsee gewoon het ("Pelle in exile"). Dis een van die temas waaroor jy skryf, en staan ook op jou webwerf: Suid-Afrikaners wat oorsee gaan bly. Hoe so?

Ek skryf meesal uit persoonlike ervaring en het, soos die meeste Suid-Afrikaners, heelwat vriende wat met blink oë oorsee gaan werk het en met dowwe oë teruggekeer het. Party keer terug, party nie, maar met die gaan maak dit nie die gemis minder nie. Een van my vriende het, terwyl hy in Frankryk was, gevra ek moet asseblief vir die "pelle in exile" ’n song skryf.

Toe kom jou eerste CD, waar jy Jacques Brel sing (uit die Frans vertaal deur Naómi Morgan). Ná Brel in Afrikaans kom toe ook Brel: Laat my by jou bly. Vertel vir ons lesers van hierdie projek, asseblief.

Die Brel-projek het ontstaan toe twee professore aan die Universiteit van die Vrystaat my vra om vir ’n produksie van hulle vertalings te sing. Bernard Odendaal en Naómi Morgan was al jare besig om Brel se chansons in Afrikaans te vertaal. Naómi (professor in Frans) het die direkte vertalings behartig en dan het Bernard (professor in Afrikaans en Nederlands, en ’n digter) die digterlike verwerkings gedoen. Wat my aangegryp het, was die gehalte van die vertalings, en aangesien ek al jare ’n groot waardering vir Brel se musiek het, was ek natuurlik heeltemal vasgevang. Die projek het uiteindelik uitgeloop op die maak van 2 CD’s en verskeie vertonings in Suid Afrika, België en Nederland. Ek het baie uit die projek geleer, veral oor die skryf van musiek en lirieke. Brel was ’n meester om ’n tema, lirieke en musiek saam te laat werk. Die gevoel wat hy kon skep, het geresoneer met my motto oor musiek: "Music is emotion in motion." My gunstelinge is veral sy stadiger melankoliese musiek, soos "Om ’n vriend te sien huil", "Jojo" en "My kinderdae".

Ek weet jy sing graag van die gedigte van Bernard Odendaal – nog ’n Bloemfonteiner – soos jy pas ook genoem het. Maar jy woon in Johannesburg – wat is die Bloemfontein-konneksie?

Dit spruit maar grootliks uit die Brel-projek! Ek moes dikwels Bloemfontein toe terwyl ons aan die projek gewerk het en daar het ’n wonderlike vennootskap en vriendskap tussen my, Bernard en Naómi ontwikkel. Toonsettings is iets wat ek baie graag doen, en Bernard was oor die afgelope paar jaar ook nou betrokke by my musiek, waar hy sedert die album Dit is wat dit is heelwat gehelp het om aan lirieke te skaaf.  Ek het maar ’n sagte plekkie vir die Bloemfonteiners.

a) Hierdie jaar, by die Woordfees, was jy betrokke by installasiekuns ... Wag ’n bietjie, vertel eers wat beteken “installasiekuns”?

Dit is om ’n fisiese ruimte te omskep in ’n ervaring. Hierdie produksie is nie streng installasiekuns nie, maar tog is dit meer as net ’n dokumentêre uitstalling.

b) Alexa Strachan se produksie Tussen hemel en aarde was bedoel vir intieme gehore, waar mense kan lê en luister na jou toonsettings van onder andere Carina Stander en TT Cloete se gedigte.

Dit is nie die eerste keer dat ek die kans kry om saam met Carina Stander, Pieter Lombaard en Alexa Strachan te werk nie, maar wel die eerste keer dat ek meer in diepte met TT Cloete as digter te doen gekry het. Dit was ’n samewerkingsprojek met toonsettings en "kunsfilmsnitte" om emosies uit te beeld of ’n spesifieke atmosfeer te skep. Die musiek vir die produksie het vir my maklik gekom (dis nie altyd die geval nie), omdat beide TT en Carina Stander se gedigte self baie atmosfeer het en maklik musiek ontlok het. Chris van Niekerk het die voorlesings van die gedigte uitstekend behartig.

Gepraat van Carina Stander: een van haar gedigte is getoonset op jou jongste CD, Onthou. Soos ook gedigte van Antjie Krog en Marlene van Niekerk. Lees jy ’n gedig en dan kom die musiek net vir jou vanself?

Ja, partykeer makliker as ander kere. Soms is die musiek sommer met die eerste probeerslag reeds daar, soos in die geval met Carina se gedig op Onthou. Ander kere, soos met “Die beiteltjie” van NP Van Wyk Louw, en “Hoe vêr is eendag” van Antjie Krog, was dit ure se werk en heelwat weergawes.

Vertel vir ons van die omslag van Onthou.

My beste herinneringe is dikwels verweef met water, en vandaar die konsep vir die omslag. Dit voel vir my asof goeie herinneringe soos ’n beeld onder die water is – jy kan die algehele vorm herken en onthou, maar die besonderhede is effens verwronge. Dikwels is so ’n beeld ook mooier as wat die werklikheid is of was. Ek het op ’n vroeër geleentheid al Marittie de Villiers se onderwater skilderye gesien en baie van die styl gehou.

Herinneringe is die tema van hierdie CD van jou. En vaderskap! Hoe sluit hierdie twee temas vir jou by mekaar aan?

Wel, vir enige ou wat kinders het, is herinneringe en kinders heeltemal verweef. Daar is soveel klein uitsonderlike oomblikke, partykeer letterlik ’n paar sekondes, wat genoeg stof vir ’n liriek kan verskaf. Ek het nogal ’n ruk gewroeg oor waaroor ek behoort te skryf (my vorige album se tema was nietigheid), en eendag net besluit om terug te keer na ervaringe wat meer persoonlik is. 

Jou CD het ’n baie goeie resensie in Beeld gekry. So ’n resensie moet gaaf wees om te lees, of hoe? En tog kies jy doelbewus daartéén om kommersieel te raak. Hoekom?

Dit is altyd ’n pluimpie om ’n goeie resensie te kry, maar dit is nie hoekom ek musiek maak nie. Ek het al slegte resensies ook gekry, maar het nie as gevolg daarvan opgehou musiek maak nie. Ek hou van ’n kritiese resensie (soos in Europa baie meer die norm is). Wanneer ’n ware musiekkundige die moeite doen om met groot aandag na jou werk te luister en met oorleg en eerlikheid ’n opinie lewer, is daar altyd iets uit te leer. In ’n groot mate maak ek die soort musiek wat ek graag self na sal wil luister, en ek doen dit op die manier wat vir my reg voel. Ek kan my nie te veel laat lei (of wil nie te veel ly) deur dit wat op hierdie stadium populêr is nie. Ook nie deur die manier waarop dit benader word nie. Ek wil graag tydlose musiek maak en mens kan dit nie altyd vereenselwig met wat op ’n spesifieke stadium populêr is nie.

Word kwaliteitmusiek noodwendig uitgesluit as kommersiële doef-doef in die prentjie kom?

Ja. Ongelukkig is daar net sóveel lugtyd op radio en TV en ruimte in die pers, en as daar ’n ooraanbod van kommersiëlie musiek is, ly kwaliteit daaronder. Een ding wat positief is, is dat verkoopsplatforms soos iTunes ’n groot positiewe impak het op die sukses van minder-hoofstroom-kunstenaars.

Waar kan lesers binnekort na jou gaan luister?

Ek het so pas ’n reeks konserte klaargemaak om die album bekend te stel, dus is daar eers weer later die jaar konserte. Ek is op die oomblik besig met ’n nuwe projek (miskien later meer daaroor – wil nog nie te veel sê nie). Die beste sal wees om in te teken op my nuusbrief waardeur ek die konserte bekendstel:

http://www.hermanvdb.co.za/nuus.

Waar kan lesers jou CD’s koop?

Die CD is beskikbaar van my webwerf af: http://www.hermanvdb.co.za/musiek, en is ook beskikbaar op iTunes en ander digitale platforms.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top