![]() |
|
Die volgende artikel het onlangs in die Geesteswetenskappe-afdeling van LitNet Akademies verskyn: Ontgroeningspraktyke in uitgesoekte Vrystaatse hoërskole en skoolkoshuise: ’n verkennende studie Hierdie artikel lewer verslag oor ’n verkennende tweefase-ondersoek oor ontgroeningspraktyke en -beleide by uitgesoekte Vrystaatse hoërskole en skoolkoshuise. Leon Wessels deel sy gedagtes oor die debat. |
Ontgroening: noodsaaklike euwel?
Die artikel deur die vier akademici van die Universiteit van die Vrystaat oor ontgroeningspraktyke in Vrystaatse hoërskole verdien lof. Hulle vat raak met hul bevindings en aanbevelings. Die skrywers se akademiese nuuskierigheid oor hierdie onderwerp strek hulle tot eer.
![]() |
Leon Wessels
|
![]() |
Kader Asmal
|
In 2001 het die Menseregtekommissie (MRK) op versoek van Kader Asmal (toe minister van onderwys) ondersoek gedoen na die aard en omvang van ontgroeningspraktyke by opvoedkundige instellings. Asmal was geskok oor al die klagtes wat hy oor ontgroening by hierdie instellings ontvang het. Dit het hom ontstel dat grondwetlike waardes en menseregte ses jaar na demokrasie nog nie deel van die verwelkomingskultuur by hierdie instellings was nie. Die tragiese dood van ’n student tydens een van hierdie gek tradisies was die laaste strooi wat die Asmal-kameel se rug gebreek het.
Die verslag het bevind dat daar nooit enige grond kan bestaan om enigiemand se intrinsieke menswaardigheid aan te tas nie en dat ’n nuweling nooit geldige toestemming kan gee vir enige ontgroeningspraktyk nie. Die magsverhouding tussen senior en nuweling en die onkunde van presies waartoe so ’n nuweling instem, maak geldige toestemming ontmoontlik.
Die artikel toon nou aan dat ontgroening ten spyte van die verslag en die regsmaatreëls wat daaruit voortgespruit het, steeds springlewendig is. Ses jaar na demokrasie was Asmal ontsteld. Twintig jaar na demokrasie, dertien jaar na die verslag, toon die artikel aan dat die MRK se gewaarwordinge nie uit die duim gesuig was nie. Inteendeel, na deeglike navorsing word dit nou in akademiese taal bevestig. Die ou waarheid geld weer: party gevegte moet jy oor en oor veg voordat jy wen.
Wanneer sal Suid-Afrika (en veral Afrikaanssprekendes) hul oë oopmaak en erken dat ongewenste ontgroeningspraktyke algemeen voorkom en dat dit (soos die artikel met reg aantoon) in diens staan van “groepsolidariteit” en “oorheersing”? Anders gestel: ontgroeningspraktyke leer die nuweling om te buig voor die altaar van die groep en te verval in ’n magskultuur waar die bokant op die rangleer van mag die bevele gee en die onderkant knievalle doen sonder om te dink. Jy mag nie dink nie, want die base het klaar namens die klase gedink. Soos ’n senior akademikus destyds smalend vir die MRK vertel het: “Op elke werf is daar immers ’n groot hond. Almal moet die les leer. Jy moet jou plek ken.” En so word grondwetlike beginsels, asook die owerheid se beleidsdokumente, eenkant toe gevee as onbenullige lastighede.
Daar is ’n hardkoppigheid om te erken dat ons in ’n nuwe wêreld – wat die regsraamwerk sowel as die diversiteit van ons skole aanbetref – leef waar ons afskeid moet neem van ou boelieagtige tradisies.
Enkele waarnemings
Dis lafhartig om te argumenteer – soos sommige akademici al probeer het – dat al die voorskrifte vir “vriendelike verwelkoming” voldoende is en “swak bestuurders” die proses laat misluk. In die artikel word tereg daarop gewys dat daar inderdaad swakkelinge is wat vir leerders sê: “Hou net ’n bietjie uit” met die hoop dat alles sal goed verloop, maar dat dit ’n diepgesetelde probleem is. Die artikel toon verder aan dat mense in verantwoordelike posisies onkundig is oor wat om hulle gebeur; sommiges kan nie eers ’n behoorlike onderskeid tref tussen oriëntasie en inisiasie nie. Leerders weet nie of daar ’n verwelkomingsbeleid by hul skool is nie. Vir sommiges beteken dit “hulle mag nie te veel op jou pik nie” of “hulle mag jou nie seermaak nie”.
Intussen het die verslag al aangetoon dat mense in gesagsposisies – skoolbeheerrade – nie sal skroom om anderpad te kyk bloot om die goeie naam van die skool te beskerm nie. In hierdie opsig is die “beeldpoetsers” van skole net so skuldig soos die “swak bestuurders”.
Die vrees vir ekskommunikasie en om deur die groep verwerp te word is groter as die moed om weerstand teen onaanvaarbare ontgroeningspraktyke te bied. Hierdie groepsdruk lei soms ook tot wraak. “Ek byt vanjaar vas, maar binnekort is ek die ‘groot hond’ en dan gaan ek hulle baie seer byt.”
Die verslag en die artikel toon aan dat magsvergrype tydens ontgroening ’n wêreldwye verskynsel is en geen eksklusiewe Afrikaner tradisie (heilige koei) waaraan nie gevat mag word nie. ’n Dik rëelboek vol “moets” en “moenies” is nie die antwoord nie en mag dalk al hierdie onhebbelikhede ondergronds dryf. Die kultuur wat die grondslag van dit alles is, moet verander word. Dit vra leierskap – oortuiging en oorreding – en die volle deelname van alle rolspelers.
Hierdie artikel kan nie die einde van die debat wees nie.
- Dit sal interessant wees om meer te weet van wat die toesighouers – beheerliggame, skoolhoofde, begeleidende onderwysers en senior leerders – se begrip is van die regsraamwerk waarbinne verwelkomingspraktyke moet plaasvind. Wat word gedoen om hulle vir hierdie belangrike taak voor te berei? Watse materiaal – anders as die koue regsvoorskrifte – is beskikbaar om die erns van die taak te verduidelik?
- Wat word gedoen om diegene – ouers, leerders, onderwysers – te beskerm wat teen die stroom wil swem en hulle teen sinnelose ontgroeningspraktyke verset?
- Die aanbevelings in die artikel vervat – deeglike monitering deur die Departement van Onderwys, beter kommunikasie oor wat aanvaarbare praktyke is en wat nie, wat die straf is vir minagting van die voorskrifte – is nuttig, maar die navorsers blaas teen die stormwind indien die owerheid nie ernstig is omtrent die toepassing van hulle eie voorskrifte nie. Daar is ’n plek vir die streng toepassing van hierdie voorskrifte, maar die kultuur kan verander word slegs indien die owerhede daarin slaag om alle rolspelers se samewerking te wen. Groter erns moet gemaak word om weg te staan van hierdie hiërargiese magskultuur en die grondwetlike waardes aan te hang en te bevorder.
- Al hierdie pogings sal misluk indien die regsraamwerk nie gepopulariseer word nie. Regsgeleerdes durf nie die enigste bewakers van die grondwetlike waardes wees nie. Grondwetlike waardes en hoe om iemand met menswaardigheid te hanteer is Jan-en-Sannie Allemens se verantwoordelikheid. Die verwelkoming van nuwelinge bied ideale geleentheid om hulle bloot te stel aan die wêreld van die grondwetlike ideale. Die argument wat een van die gespreksgenote in die artikel aangevoer het, dat leerders die dinge nie sal verstaan nie, is bog. Dit is niks anders as intellektuele luiheid om die konsepte nie prikkelend aan nuwelinge oor te dra nie.
- Akademici en bestuurders verbonde aan tersiêre instellings belas met verwelkoming van eerstejaarstudente sal ernstig moet kennis neem van dit wat by skole gebeur. Die kultuur van afknou en boelie word in die skole gevestig en sal baie moeilik verander wanneer hierdie leerders na die volgende stap in hul lewe aanbeweeg.
- Die media word blameer omdat hulle die euwels van ontgroening blootlê. Interessant dat die artikel op mediaberigte steun omdat daar ’n skaarste aan akademiese publikasies is. Dit bewys net weer: koerantberigte is die eerste poging om die geskiedenis vas te lê.