Keurige, aangrypende collages deur Karin Miller, ’n briljante kunstenaar van Pretoria, trek dadelik aandag wanneer jy die luukse, 5-ster herehuis besoek by Holden Manz, die manjifieke boetiek-wynlandgoed geleë tussen die Franschhoek- en Stony Brook-riviere met ’n majestueuse uitsig op die Franschhoek-berge. Karin se besonderse kuns span die kroon op die treffende interieur en vier luukse kamers, en komplementeer die Kaap-Hollandse argitektuur.
“Ek hou van die speelse element in haar werk, hoe sy ernstige onderwerpe aanpak en ’n collage skep met beelde wat stof tot nadenke bied, met ’n duidelik herkenbare plaaslike aanslag van ’n hedendaagse Suid-Afrikaanse kunsvorm,” sê Migo Manz, mede-eienaar van Holden Manz. Sy Holden Manz Collection-kunsgalery in Hugenootstraat 30, Franschhoek, het ’n eksklusiewe kontrak met Karen om haar werke uit te stal.
Karin het tot dusver drie solo-uitstalling by die Holden Manz Collection gehad, getiteld African Venus, African Mandala en I wear my mask for warmth. Haar volgende uitstalling vind later vanjaar plaas.
“Die Mandalas is een van my gunstelinge, ’n tema wat Karin in haar laaste twee uitstallings bekend gestel het,” sê Migo.
Karin skram nie weg daarvan om sterk, kritiese opinies van politiek, huidige sake en geskiedenis in haar kuns uit te beeld nie. Verrassings duik ook waar ’n mens dit die minste sou verwag in haar werke op. Bekende persoonlikhede, soos Paul Kruger, koningin Elizabeth II en president Jacob Zuma, is van die “karakters” in party van haar skeppings.
Sy pak ook onderwerpe soos geslagkwessies, geloof en ras met visuele panache aan.
Met ’n visuele spel tussen prag en tragedie, ritme en onderbreking, is die twee hoof metafore wat in haar werk versinnebeeld word verbloeming en patroon. In sommige van haar werke kruip geheimsinnige vroue agter stukkies papier, blomme, vrugte of hande weg; ander werke is asemrowende kombinasies van collages met Suid-Afrikaanse beelde en helderkleurige fotografie deur die kunstenaar.
Met ’n sterk Suid-Afrikaanse karakter, is haar kunswerke ’n getroue weerspieëling van ons pragtige land se verlede en hede, en dit bied ’n verbeeldingryke vooruitsig van die toekoms.
Besoekers aan die Holden Manz-gastehuis sal beslis betower word deur Karin se interessante kuns wat die interieur verfraai. Skakel 021-8762738 of stuur e-pos na collette@holdenmanz.com vir besprekings by dié 5-ster plattelandse wegbreek.
Kunsliefhebbers en -versamelaars kan uitsien na Karin se volgende solo-uitstalling wat vir die tweede helfde van 2012 beplan word – ’n besliste moet-sien geleentheid.
Vir meer inligting oor Karin se kuns, besoek www.holdenmanzcollection.com of skakel die Holden Manz Collection by 021-8762738, of stuur e-pos na collette@holdenmanz.com.
Om Holden Manz te bereik, draai regs by die Huguenote Monument in Franschhoek en volg die padtekens vir twee kilometer.

