LitNet Akademies-resensie-essay: Onse vaders deur Karin Brynard: ’n nuwe aangesig vir betrokke literatuur

  • 2

Onse vaders
Karin Brynard
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798158237

Koop Onse vaders van Kalahari.net

1

JC Kannemeyer verwys in sy Die Afrikaanse literatuur 1652-2004 na die “gespletenheid tussen hoop en wanhoop oor die nuwe Suid-Afrika, die twee gesigte wat die land aan sy inwoners toon, ’n land waarin daar naas die nuwe vryheid daagliks spreke is van moord en geweld en plase wat vervalle murasies word.”

’n Mens sou sekerlik kon verwag het dat ’n bevolkingsgroep wat eens die maghebber was, ná die verlies van mag onmiddelik ’n mate van verbittering en foutvinderigheid sou toon. Dit is eweneens denkbaar dat diegene wat in die jare sewentig en tagtig van die vorige eeu voorspraak gemaak het vir ’n literatuur wat betrokke is by die sosiaal-politieke vraagstukke van die tyd, mettertyd weer sou begin om die ideale van destyds toepaslik te maak op die letterkunde van vandag. In watter mate weerspieël Afrikaanse publikasies die knellings van die eerste dekade van die 21ste eeu?

Baie goed, sou mens vinnig kon antwoord.

Deeglike nabetragting lei mens egter na ’n veel meer genuanseerde antwoord, een wat ek in die jare vyftig wil gaan haal.

2

In die nadraai van die 1948-oorwinning van die Nasionale Party het daar ’n opwelling van Afrikaanse kultuur op talle terreine gekom, van politiek tot wetenskap tot ekonomie. In vandag se taal sou mens dit Afrikaanse ekonomiese bemagtiging kon noem – in essensie die verwesenliking van die ideale en doelstellings wat uitgespreek is tydens die Eerste Ekonomiese Volkskongres van 1939. Teen die vroeë sestigs kon selfs gepraat word van “’n nasionale daad van selfredding” (’n Volk staan op: Die Ekonomiese Volkskongres en Daarna, saamgestel deur EP du Plessis, 1964). Dit is wat magshebbing meebring.

Ongelukkig is dit ook so dat dit reeds in die vroeë vyftigs duidelik was dat waar Afrikaans goeie digters opgelewer het, soos NP Van Wyk Louw, DJ Opperman en Elisabeth Eybers, dit maar sleg gegaan het op die terrein van die prosa. Die skrywers het nie opgestaan nie.

By die Afrikaanse Pers-Boekhandel het skrywers soos Dirk Richard, Willem van den Berg en HS van Blerk gefokus gebly op niepolitieke temas. Die Nasionale Boekhandel het ’n leemte geïdentifiseer en die WA Hofmeyr-prys in 1953 ingestel om skrywers aan te moedig en nuwe skrywers te lok. Publikasies deur PJ Schoeman en WA de Klerk het by hulle die toon aangegee, maar weens kortsigtige publikasiebesluite is FA Venter se Die swart pelgrim (1951) en Elise Muller se Die vrou in die skuit (1956) afgekeur.

Die rede vir die afkeur van die Venter-roman was volgens George Minnaar, hoof van die uitgewery, die feit dat die verkoopsafdeling van Nasionale Boekhandel hom daarop gewys het dat “die naturelleprobleem nie in alle dele van die land so nugter gesien word as in sommige dele nie” (Boekewêreld, redakteur WD Beukes). Die ouer gesig van politieke korrektheid.

Die uitgewery het wel kans gesien om te begin met ’n reeks vertalings van meer literêre werke uit ’n verskeidenheid Europese tale vir sy Juweelnovelles-reeks, en die volk se leeslus geles met boeke deur Karl Kielblock, Kas van den Bergh en Sangiro. Asook talle herdrukke van die werke van Hendrik Brand (SH Skaife), wat ’n variasie op die tema van Lesley Charteris se Saint-boeke geskep het, en vertalings van die werk van Agatha Christie.

Mens kan nie anders as om die ontstaan van die Sestiger-beweging te sien as ’n reaksie op die beklemmende, bedompige intellektuele sfeer wat in die jare vyftig geheers het nie. Dit is dan ook amper noodwendig dat een van die vroegste aankondigers van die beweging van Sestig, André P Brink – wat naas Breyten Breytenbach die meeste deurgeloop het by die Afrikaner-establishment van die Verwoerd- en Vorster-regimes – die groot aankondiger word van politieke betrokkenheid in die Afrikaanse letterkunde met Kennis van die aand (1973).

Hierna het die jare tagtig die dekade van politieke betrokkenheid geword – een van die opwindendste dekades in terme van nuwe name, vernuwing en verbreding van tematiek wat die Afrikaanse letterkunde nog geken het.

Die jare negentig het ’n geleidelike depolitisering van die prosa gesien, en dit is voortgesit in die eerste dekade ná die eeuwending. Mens sou kwalik die groot prosa-hoogtepunte – Griet skryf ’n sprokie, Eilande, Agaat, Triomf, Ek stamel ek sterwe, Op soek na Mannetjies Mentz, Hierdie lewe, Uur van die engel, Abjater wat so lag, Nag van die clowns – as polities betrokke werk kon beskryf.

Die getye in die Afrikaanse letterkunde is ten nouste gekoppel aan dít wat binne die groter sosiale opset met die Afrikaner gebeur. Dit is ’n wesentlike vraag of mens nog hoegenaamd van die Afrikaner as groep kan praat. Daar is nie meer leiersfigure nie, en dié wat daar is, kom hoofsaaklik uit die landbou-geledere en vakbondwêreld. Waar is Arie Paulus nou? Die verlies van mag lei in die breë tot marginalisering binne ’n breë gemeenskap wat sig volgens politici in ’n krisis bevind. Dinge het in Suid-Afrika nou ontwikkel tot die punt waar regspleging en polisiëring baie sterk onder die vergrootglas kom. Dit is daarom geen verrassing nie dat drie van die Afrikaanse outeurs wat op die oomblik die sterkste aanspraak maak op internasionale aansien, skrywers van speurverhale is nie: Deon Meyer, Chris Karsten en Karin Brynard.

3
Die element wat Meyer, Karsten en Brynard gemeen het, is die wyse waarop hul uitgangspunt die ervaring van Afrikaanssprekende speurders binne die konteks van die Suid-Afrikaanse Polisiediens is.

Meyer het reeds sy internasionale deurbraak as skrywer gemaak, en dit gedoen danksy die wyse waarop hy sy lesers betrek het by die lewens van Suid-Afrikaners uit verskillende en uiteenlopende omgewings. Hy maak van verskeie karakters gebruik wat besig is met hul lewens, en op hierdie manier word die romans ook ’n kartering van die Suid-Afrikaanse aktualiteit.

Karsten se romans is verstommend heg gebou as “procedurals”, met groot aandag aan besonderhede en forensiese juistheid. Maar die mense wat sy romans bevolk, is verteenwoordigend van gewone Suid-Afrikaners uit alle sfere. Hier is nie openlike betrokkenheid nie (met die uitsondering van Seisoen van sonde), en die problematiek wat opgelos moet word lê ook eerder op die gewoon menslike vlak van raaisel opklaar en boosdoener opspoor. Dit klink eenvoudig, maar Karsten se kuns lê in die ingewikkeldheid wat hy blootlê. Deel van daardie ingewikkeldheid is ’n samelewing wat besig is om te verander, ’n diepgesetelde verandering wat gekoppel is aan die verskuiwing van sosiale en kultuurgrense wat voorheen wettelik afgedwing is.

Koop Plaasmoord by Kalahari.com

Karin Brynard het met Plaasmoord reeds gewys dat sy die speurverhaal op ’n ander manier benader. Sy het ’n unieke blik gegee op die problematiek van ons land.

 

Maar hoewel Plaasmoord ’n besonderse ervaring was, het niks my kon voorberei op die verrassing wat Onse vaders bring nie.

Dit is die beste betrokke roman in Afrikaans sedert John Miles se Kroniek uit die doofpot (1991).

4

Onse vaders se vertrekpunt is dít wat geword het van die patriargie in Suid-Afrika. Brynard kyk doelbewus by die swaargewig-patriarge van die politiek verby. Van direkte belang is die verskillende wyses waarop mans hulle aanpas by die veranderende samelewing in die twee S-plekke naas die grootstad: Soweto en Stellenbosch.

Twee bekendes uit Plaasmoord, Beeslaar en Ghaap, is weer op die toneel – maar hierdie keer is Beeslaar op Stellenbosch, waar hy tydens sy verloftyd die begrafnis van ’n goeie vriend bygewoon het. Ghaap is in Johannesburg, waar hy nou ondervinding opdoen in die moeilike gemeente van Soweto, die ene ambisie.

Beeslaar word deur die familie van ’n vermoorde Stellenbosse vrou versoek om in te gryp in die moordondersoek, maar hy val eerder in by die ondersoek van kapt Vuyokazi Quebeka. Die versoek aan Beeslaar word ingegee deur die uitgesproke opvatting van die Stellenbosse rykes dat die swart vrou nie skrander genoeg is om die saak te lei nie. Hulle gebruik die ondersoek na die moord van Inge Lotz as verskoning, maar Beeslaar is in geen bui om prosedures te ignoreer nie.

Dit is Quebeka self wat hom dan betrek, en op dié manier begin ons dan Stellenbosch deur die neutrale oë van Beeslaar sien.

Ghaap is op sy beurt vasgevang in die haglikste van omstandighede. Kort ná sy motor gesteel is, help hy ’n groep trekkies (“trackers”) om te soek na ’n swanger vrou en haar seuntjie wat gekaap is. Hierdie vrou het bande met Beeslaar, en Brynard se vindingryke hantering van die verwisseling van fokus sorg dat haar ontvoering die spanningslyn in die roman voed, verleng, rem, versnel en so meer – terwyl Beeslaar se ondersoek ’n speurtog in ’n ander rigting ontwikkel. ’n Ondersoek na die grein van die moderne Afrikaner.

5

Daar is vele vaders.

Vir Beeslaar en Quebeka was dit Balthazar “Blikkies” van Blerk, nou ontslape, maar dwarsdeur die roman ’n sanerende binne-stem by Beeslaar en Quebeka. Vir Ghaap is dit Beeslaar, asook die twee treurniete aan wie hy in Soweto rapporteer. Vir Gerda, die ontvoerde vrou, is dit die sinistere The Fatha, die diaboliese vaderfiguur van die roman se skadusy. Dan is daar ook Malan du Toit, eggenoot van die vermoorde vrou – en een van die mense wat amper kwalifiseer vir die etiket “Italian Renaissance Prince” (sien Anton Harber se Gorilla in the Room) –die dorp se finansiële adelstand.

Dit is onmoontlik om met só ’n ryke gegewe nie nou en dan ’n dik stuk ironie te bemerk nie. Beeslaar is, onwetend, ’n afwesige vader. Malan du Toit en The Fatha is die twee sye van die dieselfde patriargale ramp: gewetenlose figure wat in hul hebsugtigheid geen morele kode eerbiedig nie. En hulle besmet almal rondom hulle. Rea du Toit, Malan se ma, verkry simboliese dimensies namate sy al hoe meer die stereotipe van die oerrassistiese Afrikaner-ma bevestig.

Die morele kern van die roman sentreer eerder in Beeslaar en Ghaap. Op ’n wonderlike manier kry Brynard dit reg om ’n amper stereofoniese effek te handhaaf soos sy tussen Beeslaar en Ghaap spring. En in die middel, daar waar alles bymekaarkom, in die leser se gewaarwording, is daar geen manier om te ontsnap aan die skerp ontleding wat Brynard gee van gewone mense wat probeer koers hou terwyl soveel dinge rondom hulle ineenstort of reeds tot murasie verval het nie.

Dit raak later só dat mens selfs in verbygaande beskrywings dinge raaksien wat jy kan herlei na koerantberigte oor toenemende misdadigheid. Vgl byvoorbeeld die matrone (115) in ’n ouetehuis wat skielik besef sy gaan niks gesteel kry uit ’n sekere woonstel nie.

Van sulke waarnemings duik daar oneindig baie op, en uiteindelik sê dit veral een ding: agter die blinkheid lê suiwer bedrog. Soos enige goeie betrokke skrywer vermy Brynard dit om te impliseer dat almal op Stellenbosch so is. Dit punt is net dat almal na aan die aksie besmet is, terwyl die goeie siele op die dorp net kan toekyk en kopskud.

Soos ’n mens dan in die ontknoping van die ontvoering-verhaallyn sien, geld dit ook vir Soweto. Die held is ’n kind wat absoluut niks meer kan verloor nie.

Vergelyk jy die Beeslaar-dele met die gesprekke wat Ghaap en die trekkies voer, asook Ghaap se wedervaring van Soweto, kry jy weer ’n ander beeld van ons land, van mense wat geleer het hoe om die misdaadgolf te surf sonder om ingesuig te word in die neerslag. Hulle en die Stellenbossers het in hierdie opsig baie gemeen – en dit is juis hierin dat mens die neerslag van Brynard se betrokke aanslag in volle glorie sien.

6

Uiteindelik is daar net een toets om te bepaal in watter mate Onse vaders die grense vir die Afrikaanse betrokke roman versit. Dit is naamlik om terug te gaan na Kennis van die aand en ’n Droë wit seisoen, selfs Donderdag of Woensdag, en te kyk hoe Brynard se geregsdienaars verskil van hul voorgangers by André P Brink en John Miles.

Die belangrikste kenmerk van die rol van die geregsdienaars by Brink en Miles is dat hulle amptenare is wat ’n spesifieke politieke bestel probeer handhaaf terwyl die land onder beleg is van buite. Die oorlog aan die grens moet verhinder word om na die oorlog in ons midde oor te spoel.

By Brynard is die taak nie meer om skanse na buite te vorm nie. Die geregsdienaars se taak is om wetstoepassing staande te hou binne ’n operasionele omgewing waar alles in duie stort. Quebeka se relaas oor die pad wat haar loopbaan gevolg het, vorm een deel van die legkaart; Ghaap se gesprekke met enersyds sy werkskollegas en andersyds sy trekkie-kennisse is ’n ander deel. Die op- en aanmerkings oor die Lotz-saak (interessant genoeg nooit by die naam genoem nie) is van kritieke belang by die verstaan van die politieke dilemma wat Brynard probeer skets.

Daar is ’n vraag wat Brynard met hierdie roman probeer beantwoord: Wat het geword van die Suid-Afrikaanse Polisiediens? Dis nie die soort vraag wat Brink of Miles sou kon vra nie.

7

Onse vaders is sosiale kommentaar op sy heel vernuftigste. Daar lê baie rype emosies oor Stellenbossiana in die roman opgesluit. Aan die een kant is daar pragtige beskrywings van die rykdom en welvaart van dié dorp, wat deur sommige van sy teenswoordige inwoners as Die Groen Hel beskryf word. Aan die ander kant is daar die dikwelse verwysings, sonder om enige name te noem, na die Inge Lotz-moordsaak en die wyse waarop dorpenaars voel hulle is deur die speurders in die steek gelaat. Male sonder tal sien Brynard iets skitterends raak (soos die waarneem van die Stellenbosse vroulike drawwers), maar dit is wanneer kapt Quebeka met Beeslaar gesels dat jy snap daar is ’n baie groter gesprek aan die gang, subtiel, skerp.

Ghaap se wedervaringe in Soweto lewer weer ’n ander vonds op: die ontwikkeling van spreektale in Suid-Afrika, en die manier waarop ’n groter kultuurgroep reeds besig is om sy beslag te kry. Dit moes baie ure se navorsing gekos het om al die dialoog-dele netjies en juis te kry.

Dit bring uiteraard ’n groot bydrae tot die deeglik-omlynde karakterisering dwarsdeur die roman, en wys hoeveel hierdie skrywer sedert haar debuut gegroei het. Dit verg baie vernuf om al die kontraswerkings te orkestreer, en veral wanneer jy politieke betrokkenheid met grootdorpse realisme versoen.

En deur so ’n nuwe aangesig aan betrokke literatuur te gee, vermag Brynard baie om die gespletenheid tussen hoop en wanhoop te besweer.

8

Uit die hoek van jou oog begin jy algaande iets sien. Aanvanklik is jy nie seker wat dit is nie. Maar teen die laaste bladsy, wanneer jy besef dat daar ’n derde roman oor Beeslaar op pad kan wees, begin dit meer sigbaar word.

Karin Brynard het met Plaasmoord getoon hoe bedag mens daarop moet wees om nie alle misdaad na politieke oorwegings te herlei nie. In Onse vaders sien ’n mens hoe die morele verval van ’n land ook teruggevoer kan word na individue – en hoe die verlossing daarvan ook op individuele vlak geskied. Baie mense werk aan ’n oplossing, maar die finale swaai, terug na die goeie, na die eerbare lewe, begin by die enkeling.

9

Kyk ’n mens na die ontwikkeling van Afrikaanse speur- en ontspanningslektuur sedert die jare vyftig, is dit opvallend dat waar daar in die jare vyftig en sestig ’n soektog was na nuwe skrywers wat mense na Afrikaanse publikasies kon lok, die nood nou nie meer heeltemal akuut is nie. In ’n stadium moes Afrikaanse uitgewers ’n skrywer “invoer” om hulle te help om ’n groot sprong vorentoe te gee van die werk van Doc Immelman en Kas van den Bergh af. Sy naam was Heinz Konsalik.

Vandag word sulke grootskaalse vertalings uiters selde aangepak, en voer Afrikaans eerder skryfwerk uit. Deon Meyer se betreklik klein oeuvre is vir my binne die Afrikaanse konteks reeds baie belangriker as dié van Konsalik. As uitvoerproduk is hy lank reeds in Frans, Engels en Duits ’n skrywer wat met eietaal-skrywers in daardie tale kan meeding.

By Karin Brynard moet mens ook die groter perspektief in ag neem. Waar skrywers in die jare vyftig moes sukkel om betrokke skryfwerk gepubliseer te kry (FA Venter), en hulle in die jare sewentig openbare standpunte daaroor moes stel nadat hulle vanuit owerheidsweë daaroor vervolg is, het die verlies van mag deur die Afrikaner daartoe gelei dat die betrokke roman in sy hedendaagse vorm veel skerper en genuanseerde kritiek op die algemene lewensvlak kan uitspreek sonder om noodwendig die aandag te trek van die liggaam wat deesdae die taak van die ou Publikasieraad op hom neem.

Karin Brynard is in Onse vaders veel skerper met haar implisiete en eksplisiete kritiek op die huidige bestel as wat haar enigste plaaslike Engelse eweknie as krimi-skrywer, Mike Nicol, is. Nicol is veel meer “sigbaar”, en sy romans is daarom sterker ingestel op verwikkeling. Brynard het die luukse om in ’n polities gemarginaliseerde taal veel meer aandag aan karakterisering te gee. Sy is daarom nie, soos Nicol, aangewese op papkamerade nie, en die tekstuur van haar skryfwerk dring daarom sterker deur tot die kern van die daaglikse lewe waar ou rassisme en nuwe naasteliefde skouers skuur.

Noodwendig sal Brynard se werk meer verliteratuurd voorkom. Wat my betref, is dit nie noodwendig ’n slegte stand van sake nie.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Melanie Grobler

    Uitstekende resensie deur Kerneels Breytenbach. Baie dankie vir die gehalte van jou werk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top