Ons trek Vrydag

  • 7

Foto: Canva.com

Nadat ek vir ’n jaar ’n bejaarde “egpaar” gratis in die huis laat woon het, met dien verstande dat ons ’n maand wedersydse kennis van ontruiming moet gee indien die situasie dit vereis, kry ek Maandagoggend die oproep.

Ek is jammer, sê Mevrou. Ek dink die garage se muur gaan op ons bakkie val en ons het ander blyplek gekry. Ons trek Vrydag. My bloeddruk styg onmiddellik, maar sy staan vas, hulle trek. Goed dan, sê ek, ek sal sorg dat ek Vrydag daar is om die sleutels te kry. Dit verg ’n nege-uur-lange rit vanaf Mafikeng en ek het niemand om na die twee hondjies te kyk nie, dus moet hulle saam. Ek neem noodgedwonge die Vrydag af.

Donderdagoggend bel ek haar om te bevestig, net voor ek Vrydagoggend in die pad val – ja, hulle trek definitief Vrydag. Ek laai voorrade in vir die naweek, beddegoed, hondekos ensovoorts, aangesien ek die naweek sal moet oorbly en sommer gaan skoonmaak terwyl ek nou daar is.

Vrydagmiddag laat kom ek in Steynsburg aan. Ek is moeg, die honde is geïrriteerd en ek het koffie nodig. Stop voor die deur, Mevrou maak die deur oop en lig my ewe kalm in, sy dink sy sal maar so deur die loop van die volgende week trek. Ek is moerig. Nee, Mevrou, jy het dan gisteraand nog bevestig julle trek vandag. Ek het 860 km ver gery omdat jy my vyf dae kennis gegee het en hier is ek, wat nou? Nee, sy weet nie. Ja, ek weet.

Julle trek môreoggend en ek sal help as dit moet. Met ’n stywe lippie sê sy dit pas hulle nie eintlik nie, maar hulle sal seker dan maar moet pak. Ek sê ja, julle sal maar moet.

Dit laat my met ’n lastige probleem, dié van slaapplek soek met twee klein maltesies. Op en af, en uiteindelik sê die eienares van die plaaslike gastehuis ek kan hulle maar bring. Dankie tog.

Saterdagoggend laat kom ek weer by die huis aan, hoogs gefrustreerd. Mevrou is intussen halfpad getrek, en ek hang rond om haar eerstens aan te jaag en tweedens om hulle te irriteer tot hogere spoed. Nie een van die twee werk eintlik nie, maar teen Saterdagaand laat is die twee vort met hulle karige besittings. En, kom ek later agter, sommer ook met van my sinkplate, ysters, gordyne, ensovoorts.

Dis toe wat ek vir die eerste keer die badkamer behoorlik onder oënskou neem. ’n Paar maande vantevore bel Mevrou my – kan ek nie maar die stort waarvoor hulle gevra het bokant die bad laat insit nie, hulle sukkel om in en uit die bad te kom. Sy het mense wat dit kan doen en het ’n kwotasie van R2 500 gekry. Ek sê ja, solank dit ordentlik gedoen word, ek soek nie afskeepwerk nie.

Nee, belowe Mevrou plegtig, dit is ’n behoorlike stort en die mense is baie betroubaar. Hmmm …  ek betaal die geld in haar rekening oor en ’n paar dae later bel sy my – die mense wat die stort ingesit het, het die wasbak gebreek. Hoe gaan ek nou maak? Ek sê nee, julle moet nou plan maak, maar ek gaan nie vir die wasbak betaal nie. Ek kan sommer die ysblokkies in haar stem hoor klingel – ons sal seker dan uit ons bitterklein pensioen ’n ander wasbak moet koop. Ek sê ja, julle sal seker maar moet, want ek gaan nie.

Nog ’n paar dae later bel ek – werk die stort? Ja, beaam Mevrou, dit lyk pragtig en dit werk – en hulle het toe ’n nuwe wasbak gaan koop. Beide van ons blyk min of meer tevrede te wees.

Totdat ek Saterdagaand die stort van naderby bekyk. Saamgeflans van tweedehandse PVC-pype, koppelings, stortkop ouer as Metusalem, toegekalk en die hele kontrepsie lek boonop soos ’n snotneus. Aan die buitekant van die huis is die pype teen die buitemuur met hake vasgespyker en hang soos telefoondrade tussen Wolmaransstad en Makwassie. Die Econo-wasbak is weliswaar nuut, maar vrot geïnstalleer en die gaping tussen die wasbak en die muur is groot genoeg om ’n opgeskote labrador deur te jaag. Ek het ’n pil nodig om die beroerte af te weer. Die hele kontrepsie kon nie meer as ’n honderd of drie gekos het nie, en die res van die geld het Mevrou seer sekerlik gebruik om haar karige pensioentjie mee aan te vul.

Bedaar, bedaar. Dit is nou gedane sake, en jy kan nie nou meer iets daaraan doen nie. Die bad word ontsmet, en ek stook my boilertjie tot die kole rooi trek. Omrede die krag afgesit is, steek ek kerse op en die atmosfeer is heerlik rustig en ontspanne.

En terwyl ek rustig in die bad lê, met ’n koffie en sigaretjie, laat die druppende lekkende konneksies dit kompleet voel of ek reg binne-in die Kangogrotte is.

  • 7

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top