Ons leef in Suid-Afrika asof ons nie ’n verlede het nie

  • 7

Die lewe in die nuwe Suid-Afrika 

Ek luister elke Sondagaand Kommentaar op RSG. Dan ignoreer ek die telefoon terwyl politieke kenners hul menings oor die week se jongste politieke verwikkelinge gee. So word Afrikaanssprekendes weekliks op hoogte gebring met die jongste stand van die nasie. Die fokus van die program is die hier en die nou – dis te kort om ook nog aan te dui in watter mate die verlede die hede steeds beïnvloed.

’n Mens moet ’n onwrikbare optimis wees om te midde van die politieke koersloosheid, selfverryking en skaamtelose korrupsie steeds die visie van ’n beter Suid-Afrika te behou. ’n Mens kry eerder die indruk dat gewone mense soos magtelose drenkelinge aan wal staan en toekyk hoedat ons reënboognasie se skip doelloos dobber sonder ’n kaptein of bemanning in sig.

Asof ons politieke rigtingloosheid nie genoeg is nie, doem daar ook nog ’n onverkwiklike debat in die media op waar gewone mense as’t ware gedwing word om te kies tussen die knie buig in solidariteit met die Black Lives Matter-beweging en die lewens van wit weerlose mense wat op plase vermoor word (asof swart mense nie ook weerlose mense is wat vermoor word nie).

Ons was eens ’n reënboognasie

Wat het van ons reënboognasie geword? Wat het geword van daardie euforie ná die eerste demokratiese verkiesing toe ons vir die eerste keer as ’n nasie met groot verwagting in kronkelende toue langs ons landgenote in die informele nedersettings, op plase en in dorpe gestaan het? Ons demokrasie het uiteindelik aangebreek. Almal se lewens sou nou saak maak. Min het ons besef dat die reënboognasie ’n hersenskim sou bly as ons nie voortdurend daaraan sou werk nie.

Ek kan nie anders as om met nostalgie aan die ANC van 1994 te dink nie. Dis so jammer dat vandag se jongmense nie die voorreg gehad het om ooit daardie eenheidsgevoel te beleef nie. Een van die maniere waarop die party ná die 1994-verkiesing inklusiwiteit wou verseker, was om ’n regering van nasionale eenheid (Government of National Unity, of GNU) te vorm. Alle partye wat ’n minimum van 10% steun in die verkiesing behaal het, is genooi om deel van hierdie regering te vorm. Van 27 April 1994 tot 3 Februarie 1997 is soldate en burgerlikes wat mekaar kort tevore nog as “die vyand” beskou het, betreklik vreedsaam deur die GNU verenig. In die proses het die GNU ’n groot bydrae tot versoening in ons nuwe demokrasie gelewer. Die ondenkbare en onvoorstelbare het voor ons oë gebeur. En eers vandag besef ons dat ons dit nie genoeg waardeer het nie.

Die tyd van kentering en soeke na die waarheid

Dit was die einste GNU wat die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) in 1995, onder leiding van aartsbiskop Desmond Tutu, ingestel het. Op Sondagaand 21 April 1996 het ons sprakeloos gesit en kyk na die eerste episode van Max du Preez se Truth Commission Special Report. In hierdie program sou hy sou vir die volgende twee jaar, tot 29 Maart 1998, elke Sondagaand verslag doen oor die vorige week se WVK-verhore. Al hierdie episodes kan vandag nog gesien word deur jongmense wat nie in daardie tyd geleef het nie. En deur getuies van apartheid wat die moeite wil doen om te onthou: http://sabctrc.saha.org.za/episodes.htm.

Soos wat ek nou getrou Sondagaande Kommentaar luister, het ek twee jaar lank Sondagaande ontredderd geluister hoe landgenote onder die dekmantel van “wet en orde” gely het. Ek was vir twee jaar lank in rou gedompel oor ons eie mense se sinlose lewensverlies en emosionele aftakeling, net omdat hulle met die “verkeerde” velkleur gebore is. Dit was vir die getuies van apartheid ’n tyd van kentering, ’n tyd van stilte en luister, ’n tyd van diepe berou oor wat die minderheid met die hulp van onwettige wette aan die meerderheid se menswaardigheid gedoen het.

Ek onthou toe ek die eerste keer as klein dogtertjie agtergekom het daar is verskillende reëls en wette vir verskillende mense in ons land. Ek en my ma het in die tou in die poskantoor gestaan. Ons tou was kort en die een van die ooms na wie ek opgekyk het, was lank. Ek vra haar toe hoekom hulle in ’n aparte ry staan. Sy antwoord toe sonder verduideliking: “Dis die wette van die land.”

Niks kon my egter voorberei op die verreikende en onmenslike gevolge van mensgemaakte wette op die slagoffers van apartheid nie. Hul naasbestaandes het vir twee jaar lank hul smart uitgestort in WVK-verhore oor die land heen. Dit was gewone mense wat gedwing was om soms hul ontroerende en diep persoonlike lewensverhale te vertel in die teenwoordigheid van die oortreders wat hulle familielede gemartel en vermoor het. Soms was dit ’n desperate poging om antwoorde oor hul naasbestaandes se oorskot te vind. Dit was ouers soos ons s’n, wat sonder hul kinders moes lewe, en kinders soos ons s’n, wat sonder hul ouers moes lewe. Hul “misdaad” was dikwels dat hulle dit gewaag het om teen ’n stelsel op te staan wat alreeds in 1966 deur die Verenigde Nasies as “misdaad teen die mensdom” verklaar is.

Die oortreders het op hul beurt die grusame besonderhede verskaf van hoe slagoffers ontvoer, vermink, opgeblaas en doodgemartel is. ’n Mens het dikwels die verweer gehoor: “Ons het net ons werk gedoen” of “Ons het net bevele uitgevoer” of “Ons het net die landswette toegepas.” Die politieke stelsel het uiteindelik almal se menswaardigheid aangetas. Die WVK-verhore het ons laat besef dat ons in verskillende werklikhede geleef het, elkeen met ons eie perspektief op die waarheid, in een land, asof dit eintlik verskillende lande was.

Terug in die Suid-Afrika wat nuut moes word

Net nadat die nasionale inperking op 26 Maart 2020 in Suid-Afrika begin het, het ’n TV-joernalis Alexandra besoek. Sy wou van ’n klomp jongmense op straat weet waarom hulle sonder maskers buite hul huise was, waarop een van hulle haar geantwoord het: “Ons is al so gewoond daaraan dat mense elke week in Alexandra sterf. Dis nie vir ons iets ongewoon nie. Ons is dus nie bang vir Korona nie.”

Op 10 April 2020 het Collins Khosa in Alexandra gesterf aan die hand van weermaglede wat hom en sy swaer daarvan beskuldig dat hulle die inperkingsregulasies oortree het. Sy dood het by my gespook en my herinner aan Andries Tatane se dood in 2011, en die Marikana-slagting in 2012. Polisiebrutaliteit is tydens apartheid met die Sharpeville-slagting en die Soweto-opstande geassosieer. In die nuwe demokrasie het ons ’n grondwet wat alle lewens moet beskerm. Ek het gewonder waarom daar geen massabetogings of -proteste was nie. Was dit net omdat daar ’n nasionale inperking was? Sou die reaksie anders gewees het as die weermaglede wit was? Maak swart lewens nie saak wanneer die onderdrukkers ook swart is nie? Wat het ons met die reënboognasie bereik as ons net een magsmisbruikende elite met ’n ander een vervang het?

Op 25 Mei 2020 het dit ’n polisieman in Minneapolis, Minnesota agt minute en 46 sekondes geneem om met sy knie ’n einde aan die lewe van sy 46-jarige landgenoot te maak. George Floyd sou meer as 20 keer benoud vir die wetstoepasser skree dat hy nie kan asemhaal nie. Sy dood het tot ongekende proteste in verskeie wêrelddele gelei, ten spyte van nasionale inperkings. En skielik het Black Lives Matter ook in Suid-Afrika begin saak maak.

Twee maande later, op 26 Julie 2020, is Danie Brand (83), sy vrou, Breggie (73) en hul dogter, Elzabie (54) in Hartswater vermoor. Die moord het die gemeenskap tot stilstand geruk.

Die sinlose moord (asof enige moord ooit sinvol is) het my onwillekeurig aan my 81-jarige ma laat dink wat in September 2019 aan natuurlike oorsake oorlede is. Ek het daaraan gedink hoedat ons hele lewe om haar bestaan gedraai het. Hoedat elke gesinslid se verjaardagviering, elke Kersfees en Paasfees, elke Springbok-rugbywedstryd, elke gradeplegtigheid gereël is om haar as oudste familielid te akkommodeer. Hoe baie respek ons kinders vir haar gehad het. Hoe baie ons vir haar gelag het. Hoe ons haar vergeetagtigheid in die laaste maande aspris misgekyk het. En hoedat sy met waardigheid kon sterf.

Ek het my probeer voorstel hoe erg dit moet wees as jou suster of bejaarde ouers in hul laaste ure nie vrede nie, maar vrees, ondraaglike pyn en marteling moes verduur. Soos Collins Khosa en Andries Tatane, het hierdie slagoffers van ’n plaasaanval net nog ’n misdaadstatistiek geword wat op ’n Sondagaand in Kommentaar bespreek sou kon word. Misdaadstatistiek wat wetenskaplik kwantifiseerbaar is, in teenstelling met die onmeetbare leed van naasbestaandes, wat ’n ander perspektief op die werklikheid, ’n ander soeke na die waarheid vereis.

Dit het my onkant gevang dat die WVK-verhore weer by my kom spook het toe mediaberigte my laat voel het gewone mense moes nou kies tussen Black Lives Matter en weerlose mense wat op plase vermoor word. Ek het nie verwag dat die oënskynlik uiteenlopende ervarings van lyding wat my gemoedsrus so versteur het, mekaar diep binne-in my menswees sou ontmoet nie.

Ek het gewonder of daar iets is aan die pyn wat die naasbestaandes van vermoordes vandag ervaar wat ons meer empatie sou kon gee vir die naasbestaandes van vermoordes wat apartheid oorleef het, wie se gemeenskappe steeds onder polisiebrutaliteit, moord en misdaad ly. Hoe sou ons menswees nie baat nie as ons ons met mekaar se pyn en lyding vereenselwig en as ons mekaar met deernis en welwillendheid omvou, eerder as om met die “‘ons’ en ‘hulle’”-manier van dink van voor 1994 te volhard.

In ons rouprosesse, ons soeke na die waarheid en na die ideale politieke bedeling, kan mense in magsposisies, met ideologiese verskille en eng stamdenke dit regkry om ons gewone mense weer van voor af van mekaar te vervreem. In sulke tye probeer ek vashou aan die gedagte dat ons apartheid saam oorwin het deur honderde, moeisame gesprekke wat dikwels deur randfigure en stroomop rebelle in die samelewing geïnisieer is. Ek probeer ook daaraan vashou dat mense wat onder apartheid gely het, uiteindelik bomenslike grootmoedigheid en vergewensgesindheid aan die dag gelê het om onuitspreeklike menseregtevergrype te vergewe en oortreders steeds met menswaardigheid te behandel.

’n Laaste eerbetoon aan die slagoffers

Daarom sal ek my knie in stilte buig in solidariteit met die Black Lives Matter-beweging wat ervaar dat swart mense se lewens nie saak maak nie. Ek sal my knie in stilte buig vir elke slagoffer van apartheid wie se oorskot nooit gevind is nie, vir elkeen wat nooit ’n waardige begrafnis kon hê nie, vir elke kind wat sonder ’n pa moes grootword, vir elke ouer wat sonder ’n kind moes voortleef, vir kollegas wat vandag suksesvol voorkom, maar steeds aan hulleself twyfel weens die vernedering van ’n aparte ingang, ’n aparte skool, ’n aparte woongebied, ’n aparte kerk, ’n aparte begraafplaas en die “verkeerde” velkleur.

Ek sal my knie in stilte buig vir Frances Baard, Lilian Ngoyi, Fatima Meer, Helen Joseph, Sophie Williams-De Bruyn, Brigalia Bam, Rica Hodgson en Amina Cachalia, wat vir ons vryheid gestry het lank voordat wit mense feminisme ontdek het.

Vir Albert Luthuli, Nelson Mandela, Walter Sisulu, Govan Mbeki, Raymond Mahlaba, Ahmed Kathrada, Lionel Bernstein, James Kantor, Dennis Goldberg, Elias Motsoaledi, Andrew Mlangeni en Robert Sobukwe, wat vir so lank sonder hul families moes leef sodat ons vry kan wees.

En vir imam Abdullah Haroun (45), Ahmed Timol (29), Hector Pieterson (12), Hastings Ndlovu (15), Ruth First (57), Jonathan Claasen (21), Shaun Magmoed (16), Michael Miranda (11), Matthew Goniwe (38), Fort Calata (28), Sparrow Mkhonto (33), Sicelo Mhlauli (36), Ashley Kriel (20) en soveel ander wat tydens apartheid met hul lewens betaal het sodat ons kan vry wees.

Maar ek sal ook opstaan vir diegene wat ná 1994 nog nie vry is nie omdat hul lewens in ons nuwe demokrasie steeds nie saak maak nie. Weerlose mense wat op plase vermoor word. En mense soos Courtney Pieters (3), Inge Lotz (22), Andries Tatane (33), Ernesto Nhamuave (35), Mgcineni Noki (30) en die Marikana-mynwerkers, Mido Macia (28), Hannah Cornelius (21), Tashwell Nel (1), Nathalia Pienaar (6), Uyinene Mrwetyana (19), Reagan Gertse (7), Tazne van Wyk (8), Collins Khosa (40), Kirvan Fortuin (28), Mogamat Johnson (31) en Zhario Johnson (2), Altecia Kortjie (27) en Raynecia Kortjie (7), Tshegofatso Pule (28), die Brands van Hartswater en Asitandile Zozo (20), om maar net enkele slagoffers te noem.

Ons gedeelde verlede en ons opregte liefde vir hierdie land maak ons lotsverbonde. As ons hier op die suidpunt van Afrika in vrede saam wil voortbestaan, moet ons vir mekaar se wel en wee verantwoordelikheid aanvaar, moet ons bereid wees om vir mekaar se veiligheid op te staan of die knie in solidariteit met mekaar se lot te buig. As ons die droom van die reënboognasie wil laat herleef, moet ons leer om die wêreld deur die ander se oë sien, en deur die ander se vel te ervaar.

Omdat ek steeds in daardie droom glo, sal ek nie toelaat dat enige drukgroep of ideologie of politieke party of koerant of taal ’n wig tussen my en my landgenote indryf nie. Ek sal aanhou luister na ons jeug se bevraagtekening van die 1994-bedeling wat nie vir hul families ’n beter lewe of vryheid gebring het nie. En ek sal aanhou luister na die randfigure van die samelewing: die rebelle, dissidente en uitgeworpenes wat altyd onwelkom op die rand van hul onderskeie stamme, kultuur-, taal- en godsdiensgroepe talm. Miskien is dit op die rand van die samelewing, in daardie niemandsland, waar daar nog plek is vir wedersydse omarming, deernis en ruimte vir luister en leer.

  • 7

Kommentaar

  • Miskien moet ons nie so behep wees met wat in Amerika gebeur of wat op Kommentaar elke keer deur dieselfde “kenners”, wat om PK redes gekies is, te luister nie, maar ook te lees waarvoor BLM staan (terloops, daar is ’n goeie artikel daaroor gister op Maroela Media gepubliseer) of Anthea Jeffrey se Truth about the Truth Commission te lees. Miskien moet ons ook konsentreer op dit wat op grondvlak gebeur en waar die goeie en die reg seëvier tussen gewone mense.

  • Amanda le Roux
    Amanda le Roux

    Dankie Anita. Dit is nodig dat iemand dit sê soos jy dit hier sê. En ek soek geen MAAR's nie. Ons moet so daaroor dink sonder om PK te blameer en bloot na die feite te luister en deernis vir mekaar te hê. Elkeen het 'n storie en ons is dit aan mekaar verskuldig om sonder vooroordele na mekaar se stories te luister. Jou skrywe getuig van volledigheid en dis duidelik dat jy jou navorsing gedoen het. Weer eens dankie.

  • Avatar
    Henning Janse van Vuuren

    Ons en hulle, hulle eet die tjips en ons kry die skille. Só iets, was dit Koos? Dalk verbeel ek my, maar ek glo hier glip weer 'n onsie in.

    "Hoe sou ons menswees nie baat nie as ons ons met mekaar se pyn en lyding vereenselwig en as ons mekaar met deernis en welwillendheid omvou, eerder as om met die “‘ons’ en ‘hulle’”-manier van dink van voor 1994 te volhard."

    "Ek sal my knie in stilte buig vir Frances Baard, Lilian Ngoyi, Fatima Meer, Helen Joseph, Sophie Williams-De Bruyn, Brigalia Bam, Rica Hodgson en Amina Cachalia, wat vir ons vryheid gestry het lank voordat wit mense feminisme ontdek het."

  • Avatar
    Henning Janse van Vuuren

    Nee-nee, Louis, jy probeer my ʼn bol rol. Van ‘ons’ weet ek alles af. Jy moet die korrekte formule gebruik: S = ut + ½ x 2. Ons almal is S. Die skrywer se formule: ♀= ut + ½ x 2.

    Sien jy 'n Louis, Ben of Henning daar in par. 2?

  • Dankie Anita.....weldeurdag en baie volledig.
    Ons treur saam met jou oor elke geweldadige sterfte in hierdie land. Ongelukkig het die reënboog-konsep vir baie net 'n droom gebly omdat baie gesprekke en besluite wat moes plaasvind, nooit gebeur het nie.
    Dalk het Pous Franciskus die oplossing:
    "Living for others is a rule of nature.
    We are all born to help each other.
    No matter how difficult it is....
    Life is good when you are happy; but much better when others are happy because of you".

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top