Ons laaste probeer het misluk

  • 0

Foto: Canva

Ons laaste probeer het misluk

En dalk,
dalk moes hierdie huis ineenstort,
die balke kraak
en die mure stof word in ons hande,
sodat ons kon sien
ons moes nooit saam gebou het nie.

Want vanaand
laat ek dit val.
Ek stap uit terwyl die dak ingee,
terwyl die fondasie meegee
en die geraas van brekende bakstene
soos waarheid om ons neerstort.
Ek kies om nie saam met ruïnes begrawe te word nie.

Ek sal ’n nuwe kontrakteur vind,
iemand wat weet hoe om reg te bou,
wat fondasies grawe tot op vaste grond,
wat lojaliteit soos sement meng
en getrouheid soos staal in die mure inwerk.

Maar tussen die stof en die puin
staan iets wat nie geval het nie,
iets permanents,
ons somerseisoen.
Ons huis vergaan,
maar steeds moet ons kyk
na wat wel reg geskep is,
want na hierdie huis
sal daar geen terugkeer wees nie.
Geen trappe om te klim, geen gange om te volg.
Die mure het hul les geleer
en ek stap weg met die kennis:
Wat gebreek is, kan nie herstel word nie,
en ek keer nie om nie – nooit weer nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top