Ons laaste probeer het misluk

  • 3

Foto: Canva

Ons laaste probeer het misluk

En dalk,
dalk moes hierdie huis ineenstort,
die balke kraak
en die mure stof word in ons hande,
sodat ons kon sien
ons moes nooit saam gebou het nie.

Want vanaand
laat ek dit val.
Ek stap uit terwyl die dak ingee,
terwyl die fondasie meegee
en die geraas van brekende bakstene
soos waarheid om ons neerstort.
Ek kies om nie saam met ruïnes begrawe te word nie.

Ek sal ’n nuwe kontrakteur vind,
iemand wat weet hoe om reg te bou,
wat fondasies grawe tot op vaste grond,
wat lojaliteit soos sement meng
en getrouheid soos staal in die mure inwerk.

Maar tussen die stof en die puin
staan iets wat nie geval het nie,
iets permanents,
ons somerseisoen.
Ons huis vergaan,
maar steeds moet ons kyk
na wat wel reg geskep is,
want na hierdie huis
sal daar geen terugkeer wees nie.
Geen trappe om te klim, geen gange om te volg.
Die mure het hul les geleer
en ek stap weg met die kennis:
Wat gebreek is, kan nie herstel word nie,
en ek keer nie om nie – nooit weer nie.

  • 3

Kommentaar

  • Thokozani Sidlabane

    As 'n medeleser, medeskrywer en iemand wat fyn luister na wat woorde probeer sê, eerder as net na wat hulle letterlik sê, het jou gedig my laat dink aan hoe baie mense probeer om huise aan die gang te hou wat lankal net op herinneringe en hoop staan.

    Die beeld van 'n huis wat inmekaar stort, voel nie soos 'n einde nie. Dit voel eerder soos daardie pynlike oomblik wanneer die waarheid harder praat as liefde alleen. Wat my die meeste bybly, is nie net die verlies nie, maar ook die moed om weg te stap voordat die pyn jou begrawe. In 'n tyd waarin mense dikwels bly uit vrees vir die onbekende, eerder as uit geloof in mekaar, herinner hierdie gedig ons daaraan dat sommige fondasies nie herstel kan word nie.

    Dalk is dit juis daardie eerlikheid wat so diep tref. Dankie vir woorde wat nie net gelees word nie. Hulle bly lank ná die laaste reël in 'n mens echo.

  • Catherine Jane

    Dis so moeilik vir mense om te laat gaan dat hulle eerder in daai gebrokenheid bly vir jare - en glo dis die regte ding, die Christelike ding. Al het Christus gekom om te genees, nie om die gebrokene verder te knak nie. Dit keer so baie vrouens om weg te loop van toksiese verhoudings, al is dit dalk ten koste van hul kinders se welstand. Of hulle weet nie wie om te kontak of waarheen om die gaan nie. En dan ook bly die skulgevoel van "dit was 'n mislukking" al is dit nie waar nie. Want mense van buite sien nie die wolf in skaapklere nie. Dis so braaf om te kan wegloop uit 'n toksiese omgewing en mensself iets positief te gun in die lewe - 'n nuwe begin.

  • Jacques Wessels

    Die gebruik van vele leestekens is besonders, want dit reflekteer die seer wat soos 'n gebou wat val en puin en pyn agterlaat. Dankie.
    Die gedig het nie die laaste reël van vanaf “ – nooit weer nie” nodig nie, om dit so uit te spel onderskat die leser se verstaan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top