Ons is nie robbies nie

  • 0

Dit was al skemer toe Sonja die pienk papiertjie aan haar deur sien wapper. Sy is moeg, haar voete deurgetrap, seer van 10 ure se staan om mense te bedien by die restaurant en haar baba is moeilik en honger. “Kennisgewing van opskorting van basiese dienste,” lees die nota. Met die voordeur oopgesluit flik sy die skakelaar aan. 

“Agge nee, het hulle nou wragtag my donnerse krag gaan staan en afsit! Ek het dan met die housing office gereël om te betaal sodra my paycheque kom!” Sy klap die voordeur toe agter haar. Sy sit haar baba langs haar neer op die bank en haar gesig sak weg in haar hande.

“Wat het ek ooit verkeerd gedoen?” skree sy. “Dit voel of ek vassit in die gatkant van die lewe en kry net nie ’n break nie.” Trane verf swart strepe oor haar wange as sy opstaan kombuis toe. Sy wonder of daar nog ʼn stuk kers iewers is. Hoe gaan sy vanaand vir haar kind kos gee? Is dit nou maar soos dit is, dat die sondes van die vaders besoek word aan die derde en vierde geslag? Dat haar kind ook sal honger slaap net soos sy toe haar pa en ma al die geld opgesuip het en sy moes rondbedel of by maatjies gaan speel om iets te kry om te eet.

Sy voel meteens so alleen, so verlate, uitgespoeg deur die wêreld.  Sy snik sag en vee die trane met haar moue af.

Die voordeur klap meteens hard toe! Sy kon sweer sy het dit toegemaak toe sy ingekom het. Toe sy die kombuiskasdeur toemaak, sien sy dadelik die donker figuur in die portaal staan. ’n Gevoel van magtelose angs spoel oor haar soos ’n donker onweerswolk en sy voel hoe sy koud word.

“Wat soek jy hier? Loop!” skree sy. Haar stem klink hees en draderig dun. Hy blaf iets in haar rigting en rig ’n pistool op haar. Sy ruik sy drank-asem en sy bedompige stink sweetlyf tot waar sy staan.

“Nee! Vat enigiets, Vat alles. Los ons net uit,” smeek-huil sy. Sy retireer lomp die sitkamer in. Toe haar kuite die bank tref, tel sy haar baba op en vou haar styf in haar arms toe, amper asof sy haar weer binne-in haarself wil terugdruk.

“I want cellphone!” beveel hy.

“I don’t have one. I don’t have anything. I’m alone, I have nothing.”

Hy stamp haar agtertoe dat sy op die bank neerval. Vir ’n kort tyd ruk hy laaie oop en soek deur haar kaste maar kry niks wat hy wil hê nie. Vanaand is dit klaarpraat, vanaand maak hy haar vrek. Haar kop hardloop ’n duisend myl per uur in alle rigtings. Sy dink aan die koerantopskrifte, of hulle ooit iets sal skryf. Sy is tog ’n niemand, ’n niks. Sy sal maar net nog ’n statistiek wees. Sy is nie ryk of bekend nie. Nee, die wêreld en God het van Sonja Fortuin vergeet. Sy is ’n robbies soos haar ma altyd gesê het.

Dis toé dat hy die pistool in haar gesig druk en voor haar staan en dreigend grom: “You! Strip!” Sy voel hoe die laaste stukkie hoop uit haar lyf dreineer. 

“No, please! Please! My baby!”

Die hou teen haar kop het onverwags gekom, die gesuis in haar kop, die deurborende pyn. Eers was alles net swart, toe vêr-af gedagtes en stemme wat rondswem in haar kop. Stadig, asof sy van diep onder die water opkom, word sy bewus van die huilende baba en die rowwe hande wat besig is om haar bloes oop te skeur. Sy proe die metaalsmaak van bloed in haar mond en ruik weer die drank-asem en vuil sweet. 

Sy begin woes te skop en probeer wegkom, maar hy gryp haar aan haar jeans en slinger haar weer grond toe. Haar baba huil kliphard en toe sy omdraai, sien sy hom skreeuend op haar baba afstorm, pistool omhoog soos ’n hamer reg om die kind vir altyd stil te maak. 

Dit is toe dat iets hier binne-in haar gebeur. In een bomenslike oomblik gryp sy die strykyster met die opstaanslag en met elke krieseltjie krag in haar tenger liggaam slaan sy na hom. Die dowwe slag laat hom geluidloos op die vloer neersyg. Soos ʼn vasgekeerde luiperd bespring sy die beweginglose figuur, en haar houe reën oor en oor op hom neer. Sy is gatvol vir almal wat op haar trap, haar gesuipte pa wat hulle soos vrot velle weggegooi het toe sy 4 was, die muf wendyhuis waar sy moes grootword in vreemde mense se agterplaas, die oggende se honger skool toe stap met gekreukelde ou klere en ongekamde hare, die seuns wat haar onskuld agter die pawiljoen gesteel het toe sy 12 was en die baba waarmee sy die skool op 16 moes verlaat, die krot van ʼn woonstel waarin sy moet bly nadat haar ma en dié se nuwe boyfriend hulle soos sleg honde weggejaag het en haar baas wat haar nie op tyd betaal nie en die housing office wat haar krag sommer so afsny. 

Toe al die slaan uit haar lyf uit is, kyk sy af na die pap bloederige ding wat hier voor haar lê, die strykyster in haar hand en die helder rooi spatsels op haar losgeknoopte wit bloes en sy hoor haar baba verlangs huil.

Vandag klim Sonja Fortuin uit die lewe se gatkant uit en sy staan op vir haar en haar dogter. Sy laat nie meer op haar trap nie. Stadig staan sy op en laat die bebloede strykyster onseremonieël langs die lewelose liggaam val. Sy tel haar baba saggies in haar arms op.

“Ons Fortuins is nie robbies nie, ons laat nie op ons trap nie. Onthou dit, ons is nie robbies nie.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top