Ons is almal eilande (na aanleiding van die dood van Nelson Mandela)

  • 2

Een

 

’n Ou agt-millimeter-film wys ’n klein seuntjie, kaalvoet en in ’n kort broek wat met ’n .22 langs ’n Toyota Corona staan. Op die neus van die motor staan ’n glas melk.

Die kameraman (wat nie deur die kyker gesien kan word nie) vra: “Waarom die geweer?”

Die seuntjie antwoord: “Daar is orals terroriste langs die pad. My pa sê ons moet onsself kan beskerm as ons in ’n lokval ingelei word.”

Kameraman: “Was daar al lokvalle tussen De Doorns en Kaapstad?”

Seuntjie, frons: “Nee, maar die totale aanslag word elke dag erger.”

Seuntjie neem groot sluk melk en sit die glas weer op die motor.

Seuntjie glimlag. “Dis nog warm uit die koei uit. Melk maak my sterk. As die swartes gaan aanval, sal ek reg wees.”

Twee

Weer ’n grinterige filmbeeld, maar die kamera word anders hanteer as in die vorige insetsel. Die beeld word vanaf ’n lae perspektief af geskiet, wat die ronde man bo die kamera nog ronder laat lyk.

Ronde man: “Vanaand vier ons fees! God het gesorg vir die Afrikaner. Vriende, met Ronald Reagan aan bewind in die VSA en Margaret Thatcher onstuitbaar in Engeland, is PW Botha se hand gesterk. Kom ons sluit ons oë.

'Hemelse Vader, vanaand loof ons U dat U die Amerikaners se harte versag het. Ons loof U dat U die Afrikaner weer van ’n bondgenoot voorsien het in die Wit Huis. Ons sal U Naam eer deur die onbekeerde nasies van U te vertel. Amen.'

Kom vriende, maak oop die proppe. Vanaand drink ons op ’n vriend van die Afrikaner.”

Die film toon borrelwyn wat in plat glase, nie fluite nie, gegooi word. Die seuntjie kry ook ’n glas met ’n baie klein bietjie in en die kameraman, met ’n diep stem, moedig hom aan om dit te drink. Die seun proe, ril, en proe weer. Dié keer gooi hy die paar druppels vasberade in sy keel af en gril verskriklik soos dit afgaan.

Die kameraman lag en sê: “Mooi so, boeta.”

Drie

’n Video, hierdie keer, die resolusie is laag. Die kamera is op ’n tafeltjie staangemaak en die rand daarvan is sigbaar aan die onderpunt van die skerm. ’n Skraal man in ’n kerkpak sit ongemaklik regop ’n en blaas aan iets in ’n koppie. Die seun uit die vorige tonele staan in sy kerkpak en lyk baie onseker van homself.

Van agter die kamera kom ’n stem: “Reg, ons neem op. Kerneels, lyk vriendelik.”

’n Swaar man verskyn en skud die ander een se hand.

Die swaar man praat: “Hier, vriende, word vandag geskiedenis gemaak. Kerneels Titus is die hoof van die bruin mense se afvaardiging van die Verhoudingskomitee. Hier sien ons vandag hoe bruin en wit saam tee drink uit gewone koppies. Die bruin mense het ver gevorder onder ons leiding en is beskaafd genoeg om dit te kan doen. Kom ons skud hand, Kerneels.”

Die skraal man kom stadig orent, versit die koppie na sy linkerhand en hou die regterhand uit. “Dankie, Meneer,” sê hy.

Vier

Nog ’n video. Die kamera word nie goed vasgehou nie en die beeld skuif rond, maar die seun op die beeld, nou effens ouer as in die vorige insetsels, staan doodstil op aandag. Sy oë is ferm op die toekoms gerig. Hy is geklee in die bruin uniform van die Voortrekkerbeweging.

Kameraman (dieselfde stem as in die eerste inset, maar nou dieper): “Hoekom staan jy so lank op aandag? Julle is mos nou klaar?”

Seun, met oë wat steeds staar: “Ek oefen.”

Kameraman: “Waarvoor?”

Seun: “Vir die army.”

Kameraman: “Hoekom?”

Seun: “Ek gaan eendag army toe en dan gaan ek ook terroriste skiet. Ek oefen. As ek daar opdaag, wil ek dissipline hê.”

Kameraman: “Ek het vir jou koffie gebring. Jou ma sê jy het nou lank genoeg geoefen. Jy moet ander klere gaan aantrek vir ete.”

Die seun huiwer ’n oomblik, dan sê hy: “O, oukei.” Daarmee stamp hy sy voet hard na die rusposisie, waarna hy ontspan.

Die kameraman gee ’n blikbeker koffie aan en lag toe die warm metaal die seun se hande brand.

Vyf

Weer ’n video. Die tegniek, of gebrek daaraan, stem ooreen met die vorige greep. Die seun is op Tafelberg langs ’n groot verkyker wat amper so hoog is soos hy. Die mannetjie is geklee in ’n effens te netjiese kortbroek, lang kouse, toerygskoene en ’n hemp met ’n kraag.

Kameraman, met dieselfde stem as die vorige inset: “Met hierdie verkykers kan jy enige plek kyk, maar nie op daardie eiland nie.”

Seun: “Hoekom nie?”

Kameraman: “Want dis waar terroriste aangehou word. Gevaarlike terroriste, soos die gespuis wat vir die ANC werk.”

Seun frons: “So naby? Is hulle regtig so naby ons? Lieg jy nie?”

Kameraman lag: “Ontspan. Niemand kon nog ooit hiernatoe swem nie. As jy jou voete in daardie water om die eiland sit, kook dit van die haaie.”

Seun, tuur na die eiland: “Ek dink nog steeds dis vrek naby.”

Ses

Dié keer is die kamera stil. Dit is ’n hoëdefinisievideo.

’n Middeljarige man stap na ’n bed. Onder die duvet is ’n vorm. Die man sit ’n koppie rooibostee langs die bed neer en skud aan die bondel.

’n Mooi, sestienjarige meisie se gesig verskyn.

“Wat?”

“Ek moet gaan, maar ek wil gou sê Mandela is dood. Gisteraand.”

“Shame.”

“Is dit al wat jy wil sê?”

Haar gesig is donker teen die wit lakens.

“Hoe laat is dit?”

“Tyd vir my om te ry.”

Stilte. Dan sê die man. “Ek het gehoop jy gaan iets nice sê. Ek wou dit opneem.” Hy wys na die kamera.

Die meisie gil en duik weg onder die kombers. “Vat wag daai ding! Is jy mal? Ek het nog nie eens gestort nie.”

Die man sit ’n oomblik stil langs die vorm onder die duvet. Dan sê hy: “Vyf-en-twintig jaar gelede sou dit nog onwettig wees vir jou om so in my huis te bly.”

Van onder die duvet kom dit. “Oukei, maar ek is sestien en dis ’n demokratiese land, so ek sê vat weg die kamera.”

Sewe

Kopkiekie.

Ná die onderonsie met sy pleegdogter loop die man na sy seun se kamer.

Hy neem die knapie se hand. Die vel is die kleur van ’n warm sjokoladedrankie, so anders as sy eie.

“Ek moet gaan, skattebol.”

Hy druk die seun se hand. Die knaap kreun en trek sy hand terug.

“Nelson Mandela is laasnag oorlede,” sê die man.

Dié keer gaan die seun se oë oop. Die nuus sink in. Die outjie neem weer sy pa se hand. “Het jy hom ooit geken?”

“Nee,” sê die man. “Ek het hom nooit ontmoet nie.”

Die seun gee sy pa se hand ’n drukkie en sê: “Ek is lief vir jou, Pappa, maar ek wil regtig nog slaap. Dis vakansie.”

Agt

Woordkiekie.

Die middeljarige man het sy toespraak herskryf ná hy gehoor het die oubaas is dood. Hy druk die nuwe toespraak.

Die titel is gegaps by Johny Clegg: “Siyofika nini la' siyakhona?” Wanneer sal ons eendag die bestemming bereik? Het Clegg daardie jare gevra.

Weer lees die man deur die laaste twee reëls. Hy wil hulle foutloos kan voordra sonder om na die papier te kyk. Dan maak hy sy oë toe en besef hulle is reeds in sy kop, hy moet net na Johny Clegg luister:

We are all islands, till comes the day 
We cross the burning water.

 

 


Sign up for LitNet’s free weekly newsletter. | Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief.


  • 2

Kommentaar

  • Martiens Fourie

    Puik, Izak! Ek verstaan die idee dat ons nog te veel op ons eie eilande leef. En tog: No man is an Iland...(Joan Baez)??

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top