Ons instellings is kragtig: Vier voorbeelde en ’n waarskuwing

  • 1

Sondagmiddag. Ons vriendegroep neem afskeid van ’n ou maat wat sy koers kry na Johannesburg se liggies, waarvandaan die VSA en Wall Street jong makelaars soos hy glo nog verder weg lok. In die groep is daar talle breine wat kriewelrig raak oor die buiteland se beloftes. ’n Sielkundige praat van Dublin; twee IT-fundi’s swymel oor Switserland.  Iemand, op advies van die Turkse vriend wat by my huur, wil haar onverwante graad na die wind gooi en ’n idilliese wynmakerslewe in Anatolië gaan vestig.

Ek, luistervink, bepaal my eerder by die swart potjie wat dikgat en jolig op die vuur borrel. Met my regsgraad is ek buitendien vasgevang in Suid-Afrika, tensy ek duisende rande leen en ’n oorbruggingskursus doen, of dieper die akademie in verdwaal.

Hoe “vasgevang” is ek regtig, en is dit in tred met ons regspolitieke werklikheid om te voel Suid-Afrika vang jou vas in ’n vallende vliegtuig? Is die deurlopende tema onder my Sondagmirrag-gaste – dat emigreer eintlik maar vlug in slakkepas is – ’n sinvolle reaksie? Niemand wil graag in ’n samelewing wees wat doelloos voort neuk terwyl ’n elite hulself aan die fiskus vergryp en deurlopend daarmee wegkom nie. Maar sedert ek my 2020-leesboek Why nations fail (2012) afgehandel het, sien ek talle patrone in Suid-Afrika se voortneukery wat my oortuig het dat my makelaarsvriend die potensiële emigrant, die Suid-Afrikaanse “mark” verkeerd lees.

Die premis agter die ontwikkelingsekonome Daron Acemoglu en James Robinson se 2012-topverkoper is dat inklusiewe politieke en ekonomiese instellings (institutions) die bepalende verskil tussen ryk en arm lande is. Deur gedetailleerde en breedvoerige ondersoeke van argeologiese data en ander geskiedkundige bronne redeneer die twee ekonome dat omgewingsfaktore en kultuur nog nooit deurslaggewend was vir ’n land se welstand nie. Hulle wys daarop dat arm lande onder ’n patroon van parasitiese of onttrekkende (extractive) instellings ly. Dit beteken dat ’n elitegroep, deur middel van die staat se politieke infrastruktuur, die samelewing vir eie gewin plunder. Hierdie parasitiese doenwyses word nie noodwendig deur revolusies en verkiesings uitgewis nie. Dikwels vervang een elite bloot ’n ander, en word die plundering onder nuwe bestuur voortgesit. In ryk lande is daar ’n opstelling van wigte en teenwigte wat dit vir maghebbers baie moeilik maak om te doen wat hulle wil. Die oppergesag van die reg, regverdige verkiesings en ’n desentralisering van mag binne ’n grondwetlike raamwerk onderskei ryk lande.

Al die ryk lande in Acemoglu en Robinson se navorsing het deur talle politieke prosesse en revolusies gegaan om hierdie inklusiewe politieke instellings teweeg te bring. In Engeland het koning William III tydens die “Glorieryke Revolusie” van 1688 die despotiese James II verdryf en die troon oorgeneem. James was deel van ’n faksie wat geglo het in die “goddelike gesag” van konings. Die breë koalisie wat William ondersteun het, het ’n era ingelui waar die magte van heersers van ’n stel inklusiewe politieke instellings sou afhang. Hierdie instellings het stemregte en seggenskap stelselmatig aan die groter samelewing bekendgestel, wat Engeland op ’n spoor van beste praktyke geplaas het. Sedertdien het Brittanje ’n ryk staat geword, grootliks omdat sosiale opheffing deur middel van inklusiewe politieke instellings moontlik geword het. Die VSA, Japan, Skandinawië, Costa Rica, die Bahamas, die EU, Kanada, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Korea het almal uiteenlopende natuurlike hulpbronne, landoppervlaktes en kulture. Hul gemene deler is egter kragtige politieke teenwigte, die betekenisvolle politieke agentskap van hul burgers, en daardeur groter sosiale mobiliteit om die wêreld van handel en entrepreneurskap te betree.

Wat van ons in Suid-Afrika?  Acemoglu en Robinson gebruik ons land as ’n voorbeeld van waar reekse konings, kolonies, republieke en die apartheidstaat verskillende mates van onttrekkende instellings opgerig het. Apartheid, aldus die skrywers, word oortuigend beskryf as ’n stelsel wat die koloniale metode van swartarbeidsreserwes as ’n parasietinstelling “vervolmaak” het. ’n Breë koalisie van anti-apartheidsaktiviste kon daarin slaag om die regime tot onderhandeling te oortuig. Acemoglu en Robinson se navorsing oor die land eindig daar.

Indien ons hul ontleding verder neem, kan die 1990’s se grondwetlik-demokratiese oorgang as die oprigting van inklusiewe politieke instellings beskou word. Grondwetlike vryhede en meganismes beoog ’n staat wat aan meer belanghebbers ’n groter stem met meer sekuriteite gee. Die nuwe politieke instellings beoog byvoorbeeld grondhervorming as ’n manier om aan meer mense toegang tot daardie hulpbron te gee. Die gelykheidsklousule gee die staat magte om voorheen benadeelde groepe se toegang tot die ekonomie te bevorder, en sosio-ekonomiese klousules help om gesondheidsorg, behuising en onderwys tot almal se voordeel te ontwikkel. As jy jou minder daaroor hoef te bekommer om ’n basiese dak oor jou kop en ’n mate van opleiding te verkry, kan jy op ’n produktiewe loopbaan en selfopheffing fokus.

Maar Acemoglu en Robinson wys daarop dat die ysterhand van oligargiese en onttrekkende instellings dikwels in gees voortbestaan. In hierdie opsig het die ANC daarin geslaag om talle inklusiewe politieke instellings in die Grondwet te omseil en af te takel. Só leef die oligargiese gees wat eeue reeds in talle vorme in suidelike Afrika heers, eenvoudig voort. SEB, wat ’n inklusiewe politieke instelling moes gewees het, word gebruik as meganisme om kaders te beloon en patronaatnetwerke op te rig. ’n Nuwe elite bou op die onttrekkende kultuur van ouer elites en steel hulpbronne op ’n verbysterende skaal. Grondhervorming misluk klaaglik weens parasitiese korrupsie. Ons ken die besonderhede.

Gelukkig is inklusiewe politieke instellings moeilik om te vernietig as dit eers hul loop neem. ’n Eerste onlangse voorbeeld is die stadige skoonmaakproses wat met ’n vervolgingsgolf begin spoed optel. Die “nuwe elite” word deur ’n herstelde NVG vasgevat, sonder aansien van persoon. Die pad is lank, maar daar is onontkenbare vordering.

’n Tweede geval is die howe se grendelstaatuitsprake wat magsbehepte amptenare en politici inkatrol, soos wat Lindiwe Zulu geleer het tydens haar poging om kospakkienoodleniging te sentraliseer. Ook die De Beer-saak is ’n voorbeeld van hoe inklusiewe politieke instellings die staat se COVID-regulasies gedissiplineer het. Die derde is die vreeslose ondersoekende joernalistiek wat weens vryheid van uitdrukking as inklusiewe politieke instelling aan burgers die vryheid gee om staatsparasitisme in die sonlig te gooi.

Die laaste scenario is seker die mees opspraakwekkende, naamlik Senekal en Brackenfell. In beide hierdie gevalle het Suid-Afrika se inklusiewe politieke instellings, soos kernrolspelers en leiers se respek vir die oppergesag van die reg, gekeer dat plofbare situasies totaal buite beheer raak. In lande soos Somalië veroorsaak ’n swak, oligargiese staat dat sentrale beheer verdwyn. Krygshere neem plaaslike gesag oor en doen wat hul wil, juis omdat daar nie meganismes bestaan om vrede te bewaar nie. Boonop weet elke krygsheer dat om die staat te probeer sentraliseer en beheer oor te neem, tot sy vernietiging sal lei as die ander teen hom saamspan. In Suid-Afrika kon leiers betyds help om die ergste heethoofdigheid af te skaal. Die polisie kon intree en die siedende EFF-betogers onder bedwang hou. Malema en sy kornuite is dalk grootbekke, maar sover kon hulle weens die werking van inklusiewe politieke instellings soos ’n beheerde vuur bedwing word.

Inklusiewe politieke instellings is nie ’n gegewe nie. Dit is nie ’n permanente versekering of onstuitbaar nie. Dit is meestal nie perfek nie. Dit is egter kragtig en moet proaktief deur burgers gekoester en uitgebou word, veral op kritieke oomblikke soos die bogenoemde gevalle. Die voorwaarde vir hul sukses is dat niemand sit en kla of met hul sterte in ’n krul landuit vlug nie. Dit vereis ’n aktiewe burgery wat aandring op hul aandeel in die regering van hul land.

Daarom is ek versigtig optimisties oor my land, en daarom gaan ek en my regsgraad net hier bly.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Johann Basson

    Kan enige Suid-Afrikaner my as mede Suid-Afrikaner asseblief inlig waarheen is die Suid-Afrikaanse nasie oppad?

    Ek sien geen gedokumenteerde Suid-Afrikaanse Nasievisie en meegaande gedokumennteerde opdateerde agiele Strategie om die doelwitte vervat in die Nasievisie te verwesenlik nie. En so donner ons as nasie voort na nugter wie weet waarheen. Maar die kriminele het hul visies in hierdie vakuum. Tragies.

    Welke persentasie Suid-Afrikaners weet waar hulle op die Maslow-hiërargie van behoeftes figureer? Welke persentasie weet welke genoegdoening self-aktualisering meebring?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top