Ons hou begrafnis

  • 2

Foto: Canva.com

Ouma Kleynhans is in Julie 1973 oorlede en oupa Pieter het swaar gekry onder die alleenheid. Dit was ook nie ’n honderd jaar nie, toe hoor ons hy is met ’n ene Annette getroud, ’n veel jonger hupse weduwee met ’n geskiedenis. Dié het hy raakgelees in die Landbouweekblad se Hoekie vir Eensames, synde dit daardie jare die enigste ordentlike manier was om ’n hubare weduwee te bekom. Of dit nou ’n drukfoutjie was of bloot ’n geval van misrepresentasie, die uiteinde was dat die reseppie nie baie suksesvol was nie. So is sy ’n paar maande later vort – met ’n skeibrief, sy vakansiehuis in Gonubie, en vermoedelik ook ’n stewige tjekkie in die handsak – reg vir slagoffer nommer drie. 

So het oupa Pieter ’n dure les geleer – maar aan eensaamheid is daar nie ’n prys te koppel nie, en toe ons ons oë uitvee, was daar weereens ’n troue in die vooruitsig. Dié keer met ’n tant Marie – ’n weduwee wat alreeds twee mans oorleef het en kans gesien het vir nommer drie. Maar, anders as die vorige mevroue Kleynhans, was hierdie ’n formidabele tante wat nooit haar eie kinders gehad het nie en wie se een vorige man, oorle Van Rhyn, iewers in Duitswes ’n geldjie met diamante gemaak het en so gesorg het dat tant Marie ’n gemaklike oudag kan beleef. Korterig van gestalte, effe mollig, pêrels om die nek, vingers swaar van die ringe, en elke môre stewig in haar korset ingeryg om die figuur in toom te hou.

So dan en wan het Ma en Pa kans gesien dat ons by hulle gaan kuier, by hulle massiewe woonstel in Heimershof, Pretoria. Die okkasie het geroep vir ordentlike beplanning, want daar het jy nie sommer net vir ’n koffietjie opgedaag nie. Jy was aan’t huis van tant Marie. Breek die groot dag eventueel aan, word almal die leviete van goeie gedrag voorgelees, en behoorlik geïnspekteer net ingeval daar ’n taai handjie sy opwagting iewers gemaak het. Dit word dan ook herhaal voor hulle deurklokkie gelui word, die spanning aanvoelbaar. So is die porselein dan uitgehaal en tee en koekies is bedien. En, maaind you, net één koekie per persoon pryk op die bordjie. Jy durf nie seconds vra nie, want as Ma jou nie tot vloerhoogte ingekyk het nie, het tant Marie dit gedoen. Soms beide gelyktydig. Vir ten minste ’n uur word die kinders kiertsregop sitgemaak op haar kiertsregop sitkamerbanke. Hulle praat net wanneer hulle mee gepraat word. Suinig, suinig en weereens suinig.

Getrou aan haar tradisie, oorleef sy ook oupa Pieter, erf weer alles, kollekteer sy maandelikse weermagpensioen en woon vir ’n paar jaar alleen in die woonstel, waarna sy ’n kleiner woonstel in ’n ouetehuis koop. Toe dié plek bankrot speel en sy haar woonstel verloor, moes sy noodgedwonge weer haar tjekboek uithaal en ’n plek in ’n ander deel van die stad aanskaf. Maar, rumatiek, oumensskete en dies meer haal haar in en sy slyt haar laaste dae in die siekeboeg van die ouetehuis waar haar trots agterweë bly. Die nurse bed-was haar en die familiebesoeke verminder dramaties – buiten tant Annatjie wat verbete deurdruk en weekliks op en af jaag om die wasgoedjies te doen en haar geldsakies te hanteer. Waarskynlik geïnspireer deur die vae belofte van erfporsies en dies meer.

Toe kry ons die nuus – ouma Marie is oorlede en ons moet almal begrafnis toe. Niemand is besonder lus om te gaan nie want sy was maar ’n moeilike entjie mens, nie besonder geliefd nie. Maar, plig is plig en reëlings word dus getref. Ma en Pa woon op Sasolburg en ek woon in Pretoria waar ouma Marie begrawe word – dus het ek nie veel van ’n verskoning om nie te gaan nie. Buitendien moet ons Ma-hulle langs die pad of iewers op ’n punt kry, want ons familie het ’n geskiedenis van dééglik verdwaal, ongeag waarheen ons op pad is – iets wat hewiglik ontken word, maar wat ’n feit is soos ’n koei.

Die begrafnisreëlings is om praktiese redes aangepas en so word die teraardebestelling eers om tienuur gedoen, gevolg deur die gedenkdiens in die vierkant van die ouetehuis – waarskynlik om te sorg dat die verversings ooreenstem met die middagete van die inwoners. Soos ek gesê het, om praktiese redes.

Half-sewe die oggend beplan Ma-hulle om uit Sasolburg te ry. Dit gee dan so twee ure se ry en ’n uur se goeie verdwaal, dan behoort hulle betyds by die begraafplaas te wees. Suster Lydia ry sommer saam en kan ook met die aanwysings help en so aan. Hulle word gevolg deur my jonger suster Sandra, haar man Pieter en die twee kinders in hulle motor, want Pieter het ’n heilige vrees vir bestuur in die stad en hy sal nie alleen die plek vind nie. Dit was dan ook die vroeë dae voor selfone, dus moet die tydsberekenings vir oproepe via telefoonhokkies mooi beplan word.

Lydia het laat weet hulle sal so half-tien voor die ouetehuis in die kar wag, dan kan hulle agter my aanry tot by die begraafplaas, en agterna dan weer terug vir die diens. Pretoria se eenrigtingstrate is vir Pa ’n doolhof, synde hy in Sasolburg woon waar daar toentertyd nog nie eens ’n robot was nie. Dit klink heeltemal werkbaar, en so wag ek al slaggereed vanaf nege-uur, net vir die wis en die onwis. Maar al wat aankom, is Pa se kar. Die tyd stap aan. Ek bel tevergeefs, want die telefoon lui en lui en niemand tel op nie, dus moet hulle al iewers oppad wees. Net so skuins voor tien besluit ek, nou sal ek moet ry anders gaan ek dit nie maak nie. Hulle het waarskynlik laat weggekom en besluit om eerder direk na die begraafplaas te ry. Hopelik sal ek hulle daar kry.

Ek jaag met flitsende noodligte oor oranje-rooi robotte en stop in ’n stofwolk by die begraafplaas. So met die uitstruikel kan ek sommer sien daar is weinig mense om die graf en die enigste lid van ons gesin is my broer Michael. Ek glip so half ongesiens van agter nader en is net betyds om te sien: woeps, daar verdwyn ouma Marie se kis in die graf in. Dammit, nou het ek die hele diens gemis, en van Ma en Pa en my suster is daar geen teken te bespeur nie.

Nee, sê Michael, hy weet nie waar hulle is nie, maar hy sal gou gaan soek. Dalk is hulle laat en het besluit om maar by die ouetehuis te wag, dan ry ons solank terug daarheen. Daar aangekom, geen ma, geen pa, geen suster. Almal het spoorloos verdwyn. Na ’n blitsberaad sê Michael hy sal gaan soek, ek moet agterbly net indien hy hulle mis. 

So sit al die oues van dae uitgevat en slaggereed vir die okkasie wat sekerlik die hoogtepunt van die maand is. Hier en daar ooms en tantes met wie ons nie te gereeld kontak het nie en van wie ons dus g’n duit gaan erf nie. Die horlosie stap aan, almal sit heel stemmig. Maar, daar is geen teken van Ma-hulle nie. Twaalfuur breek aan en die predikant staan ongeduldig agter die tuisgemaakte preekstoel. Die tante agter die klavier begin noodgedwonge die intreenommertjie herhaal en herhaal, elke keer met minder entoesiasme. Maar, nog geen taal of tyding van die famile nie. Die diens kan nie voortgaan alvorens Ma-hulle daar is nie. So raak die tante agter die klavier se vingers moeg. Sy hou op speel, sit ’n rukkie en wag en sluip so ongesiens uit, met haar handsakkie oor die arm.

Die kongregasie begin nou erg verveeld raak en vermoed daar skort iets met die reëlings. Ten einde die tyd te verwyl, begin die oues van dae onderlangs klets en hier en daar word solank ’n breiwerkie uit ’n handsak opgediep. Die aantal leë stoele word geleidelik meer en die groepies begin al hoe harder lag en gesels. Waarskynlik as gevolg van die grade van doofheid en straks met behulp van ’n versterkingkie in die binnesak. Dit klink later sommer heel jolig. So sneuwel die eetgoedjies en drinkgoedjies ook, want die gewag maak ’n mens mos vreeslik dors.

Skuins voor een daag Ma, Pa en die res van hulle entourage uiteindelik windverwaaid daar op en moet noodgedwonge van voor af verby die preekstoel paradeer, ten aanskoue van die dapper agtergeblewenes. Van die vroeëre gewyde atmosfeer is daar absoluut niks meer oor nie en dit lyk veel eerder na die jaarlikse geriatric convention. Die ander familie kuier land en sand, en die paar oorblywende bejaardes sit en skinder kliphard en ruil siektetoestande uit. Meer as die helfte is reeds vort na hulle kamers vir ’n middagslapie. Die predikant, wat lankal beheer oor die okkasie verloor het, is nie met die gelaatkommery beïndruk nie. Hy rammel die diens af, sonder die pianis of ’n greintjie gewydheid. Tussendeur bespeur ek nie ’n enkele traantjie nie.

Na die tyd toe ons met ’n koffie en sigaretjie eenkant staan en oor die petalje giggel, sê Ma: “Nee, Pa dink mos hy weet waar om te ry. Jy ken vir Pa, hy weier om te glo hy is verkeerd. Dit is net hý wat dit regkry om sy stiefskoonma se begrafnis mis te ry.”

Hulle het iewers ’n afrit gemis en op die Witbank-pad beland, maar darem uiteindelik ’n afdraai gekry en toe gesukkel om weer in die stad uit te kom.

“Maar, toemaar,” sê Ma, “ons is immers nou hier. Dit is nou maar jammer ons het die begrafnis gemis, maar toemaar wat, dit is darem nou regtig ook nie doodsake nie”.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Jacques Maré

    Maar wie’t ouma Marie se goed toe geëerf, meneer?
    Nee man, mens wil mos nou weet, jong... 🤔

  • Collin Greger
    Collin Greger

    Hi Jaques
    Sy het seker gedink sy betaal ’n deposito op die hiernamaals want ’n sekte iewers in die stad het die meeste ingepalm, gevolg deur die tante wat na haar wasgoedjies omgesien het. Laasgenoemde het ook haar tjekboekie vertroetel in die laaste jare, so... Ek het darem 3 stoele gekry as troosprys.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top