Ons definisies perk ons in: oor Afrikanerskap, identiteit en politieke lojaliteit

  • 2

...
Om elke individu volledig te reduseer tot die vaandel waaronder hy of sy val, is intellektueel lui.
...

So belangrik soos identiteit is, net so onbelangrik kan dit raak. Die “Nie in my naam nie”-beweging van ’n groep progressiewe Afrikaners het juis ontstaan omdat sommige konserwatiewe Afrikaners gepoog het om totale eienaarskap van die term Afrikaner toe te eien, onder meer deur die narratief te dryf dat Afrikaners doelbewus om rasredes uitgemoor word.

Was dit nie vir die stryd oor die definisie van Afrikaner nie, sou die “Nie in my naam nie”-beweging waarskynlik nooit ontstaan het nie. Dit klink voor die hand liggend, maar klein waarhede het dikwels groot gevolge.

Identiteit kan verbindend wees. Om ’n groen trui te dra, soos die Springbokke, is betekenisvol. Per slot van rekening het net een span met een identiteit die Wêreldbeker gewen. Geen opinie, binne of buite daardie span, kan die feit verander nie: Die Springbokke is wêreldkampioene. Soos een man het hulle vir Rassie ingeval. Wanneer almal een is, werk identiteit eenvoudig.

Die probleem ontstaan wanneer identiteit verhard en uitsluit. Die idee dat plaasmoorde sekere groepe uitsonder, of dalk as bewys van ’n volksmoord teen wit Afrikaners beskou moet word, het posgevat in sekere konserwatiewe kringe en is deur sommige organisasies en aktiviste verder versterk. Dit is egter nodig om ’n belangrike onderskeid te tref: Hoe grusaam en betreurenswaardig plaasmoorde ook al is, dui dit nie vanself op ’n staatsbeleid of gekoördineerde veldtog om Afrikaners as groep uit te roei nie.

Daar is sonder twyfel misdade in Suid-Afrika wat deur rassisme gemotiveer word. Ons land het sy rasseverlede nie afgeskud nie. Maar net so bestaan daar gevalle waar wit mense swart mense om rassistiese redes vermoor. Tog gebruik niemand dáárdie voorbeelde om ’n volksmoordnarratief teen swart mense te konstrueer nie. Selfs statisties hou die volksmoordargument nie stand nie: Op enkele dae van algemene geweld word meer mense vermoor as in jare se plaasaanvalle saamgetel.

Wat sommige konserwatiewe Afrikaners die meeste ontstel, is nie die aantal progressiewe Afrikaners nie, maar juis hul bestaan. ’n Klein groep ontneem hulle skynbaar die morele alleenreg om namens “die Afrikaner” te praat. Hoe kan ’n skynbare minderheid die emosionele sekerheid van ’n meerderheid so ondermyn?

Vir sommige konserwatiewe Afrikaners word die progressiewe Afrikaner ’n “kankergewas” binne die Afrikaner-gemeenskap – ’n interne vyand wat die liggaam verswak. Vir die progressiewe Afrikaner verteenwoordig sekere standpunte van die konserwatiewe Afrikaner weer ’n groot bedreiging vir ’n demokratiese Suid-Afrika. Die gevolg is ’n konfrontasie waar elke groep die ander onophoudelik dophou, maar selde werklik hoor.

Ons is dus nou in ’n Afrikaner-konfrontasie, en niemand durf waag om sy oë van die ander te haal nie. Intussen het die krieketseisoen al vir die res van die wêreld begin – om nog ’n bietjie krag uit die kolonialistiese sportmetafoor te wurg.

Die ironie word duideliker wanneer ons kyk na hoe terme soos landsverraaier oor die tyd herdefinieer is. In 1992 is voorstanders van hervorming as landsverraaiers uitgekryt. Vandag beskik Afrikaners steeds oor ’n disproporsioneel groot deel van grond en welvaart. Tog word sommige wat demokratiese beginsels vooropstel, nou as “volksverraaiers” gebrandmerk, terwyl daar soms groter lojaliteit betoon word aan simboliese tuistes of buitelandse bondgenote as aan Suid-Afrika self.

Dit maak die hardnekkige beroep op simboliek soos “Die Stem” ironies. Die woorde “ons vir jou, Suid-Afrika” klink hol wanneer politieke lojaliteit selektief toegepas word.

Die konserwatiewe Afrikaners en die progressiewe Afrikaners staan weerskante van ’n groot kloof en skree in die ooptes na mekaar. Dis juis hier waar die kranse antwoord gee. Elke groep aan elke kant hoor net die boodskap in die eggo wat hy kies om uit die lawaai te hoor – die een wat hy self uitskree.

Die kernprobleem lê egter nie net by twee kampe nie. Geen groep is homogeen nie. Daar is radikales en gematigdes aan alle kante. Mense kan tegelyk liberaal en konserwatief wees, afhangend van die konteks. Iemand kan apartheid se skade erken, maar tog skepties wees oor hedendaagse beleidsvoorstelle vir herverdeling. Sulke posisies maak mense nie noodwendig kwaadwillig nie, net kompleks.

Nie alle liberales is kommuniste nie. Nie alle konserwatiewes is rassiste nie. Daar is konserwatiewe Afrikaners met meer betekenisvolle verhoudings oor kleurgrense heen as sommige progressiewe Afrikaners wat hulself as vooruitstrewend beskou. Definisies verberg dikwels meer as wat dit openbaar.

Wanneer ons mense eers as etikette sien, verloor ons maklik hul menslikheid. Ironies genoeg wys alledaagse ontmoetings dit die duidelikste: Hoe minder ons van iemand se politieke identiteit weet, hoe groter is die kans op hoflikheid en wedersydse respek.

Suid-Afrika – soos groot dele van die res van die wêreld – worstel tans met swak leierskap. Tog bestaan gemeenskappe nie net uit hul leiers nie. Binne organisasies, bewegings en selfs politieke partye is daar mense wat goeie werk doen, maar nie met alles saamstem wat namens hulle gesê word nie. Om elke individu volledig te reduseer tot die vaandel waaronder hy of sy val, is intellektueel lui.

’n Definisie is uiteindelik net ’n baadjie wat jy kan aan- of uittrek, soos dit jou pas, of as dit jou nie pas nie. Identiteit is meer as die klere wat ons dra. As ons dit onthou, kan ons mekaar weer in die oë kyk, al dra ons verskillende baadjies.

My hoop vir Suid-Afrika is dat ons, ten spyte van verskille, almal lojaal sal bly aan dieselfde demokratiese span. Regerings kan uitgestem word. Leiers kan vervang word. Maar die land self behoort nie verruil te word wanneer ons ontevrede raak nie.

Ons pad vorentoe loop deur gesprek, nie die soort wat die rug laat styf trek en die vuiste laat bal nie, maar die soort wat spanning verminder en ruimte skep vir verandering. As ons bereid is om ons definisies by die huis te los, kan ons mekaar dalk weer eers as mense ontmoet.

Sou iemand my dan definieer as ’n liberaal, sal ek dit met trots aanvaar, want ek glo in regte vir almal. Maar ek sal hulle herinner ek is ook ’n konserwatiewe mens, want ek glo in die behoud van die goeie. Ek oorskry dus die grense van beide definisies. Noem my dan maar ’n Konserwatiewe Liberalis. 

Lees ook:

Afrikaner

  • 2

Kommentaar

  • Hanno Visagie

    Riku Latti, Lees gerus die volgende verbandhoudende artikel deur dr Dirk Hermann en neem dit ter harte asb. - "Dit is wie en wat Solidariteit is, so hou nou op twak praat" - https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/dit-is-wie-en-wat-solidariteit-is-so-hou-nou-op-twak-praat/ . Ook die volgende insiggewende artikel van Flip Buys asb - "Dit is nou nasionalisme teen globalisme in die Weste" - https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/dit-is-nou-nasionalisme-teen-globalisme-in-die-weste/ . Ook die volgende artikel deur Louise Mabille - "Is die progressiewe oomblik verby?" - https://www.ontlaer.co.za/p/is-die-progressiewe-oomblik-verby?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top