Ons Dame, die ewige diva

  • 2

Terwyl ek onlangs saam met ’n groep Suid-Afrikaners deur die suide van Frankryk toer, begin ons gids geesdriftig vertel van die Notre Dame in Marseille wat ons net eenvoudig móét besoek. “Maar is die Notre Dame dan nie in Parys nie?” wil een van die Suid-Afrikaners verward weet.

Toe tref dit my weer: Vir die meeste mense in my geboorteland, soos vir die meeste nie-Franssprekendes wêreldwyd, bestaan daar eintlik net één Notre Dame – en dis daardie katedraal in Parys wat op 15 April byna afgebrand het.

Notre Dame beteken bloot “Ons Dame” – Franse Katolieke se troetelnaam vir Moeder Maria – en daarom is daar verskeie Notre Dame-kerke in Frankryk, asook in ander lande, soos die VSA, Kanada, Kambodja, Viëtnam en Algerië.

En tog. Die internasionale skokgolwe wat deur die onlangse brand veroorsaak is, die oorweldigende reaksie op sosiale media, die voorspelbare foto's wat elke Jan Rap en sy maat op Facebook gepos het van die keer toe hy ook by die Notre Dame was, die feit dat ’n miljard dollar vir die restourasie van die katedraal binne ’n week deur groot Franse maatskappye en onbekende mense oral op aarde geskenk is – dit alles bewys dat die Notre Dame van Parys waarlik “Ons Dame” geword het. Vir almal wat haar al besoek het en vir baie wat nog nooit naby haar was nie.

Op Marseille se stasie: advertensies kan landwyd gesien word om geld in te samel vir die restourasie van die katedraal. Die woorde “Parce que c’est Notre Dame” beteken “Omdat dit Ons Dame is”.

Maar Frankryk sal nie Frankryk wees as daar skielik eenstemmigheid geheers het oor hoe al hierdie geld bestee moet word nie. Baie Franse glo dat president Emmanuel Macron die brand op ’n slinkse manier benut om die aandag af te lei van die Geel Baadjie-protes wat al maande lank in die land woed en groot verwoesting in stede gesaai het. Die President het dadelik belowe dat die katedraal binne vyf jaar herbou sal word – dus vóór die Olimpiese Spele wat in 2024 in Parys gehou word – en boonop “mooier as ooit” sal wees. Dis ’n belofte wat bloot die wydverspreide mening bevestig dat die regering in die hoofstad nie in voeling is met “gewone mense” se ekonomiese swaarkry in die res van die land nie.

Selfs in my eie huis redeneer ons driftig oor Ons Dame. My sosialistiese wederhelf glo dat die stygende aantal dakloses in Parys ’n veel groter probleem is as ’n monument wat ’n stuk van sy dak verloor het. Ek stem saam dat minstens ’n deel van die miljoene wat ingesamel word, op beter maniere benut kan word. Maar omdat ek ’n skrywer is, glo ek onwrikbaar dat die mensdom méér as net brood en ’n bed nodig het. Kuns en kultuur is wat ons aardse bestaan ophef en omskep in iets groter as ’n alledaagse gejaag na wind. ’n Eeue oue argitektoniese kunswerk soos die Notre Dame behoort beskerm en bewaar te word.

Nee wat, sê die tienerdogter in die huis, laat die Notre Dame maar inmekaarval. Ek stik in my koffie en staar verskrik na haar. Laat ons eerder al daardie geld en al ons energie gebruik om te red wat daar nog te redde is van ons planeet, verduidelik sy. Wat help dit ons beskerm monumente terwyl ons die aarde verwoes? Klimaatverandering en stygende oseane en die uitwissing van spesies en al die ander ekologiese rampe van die 21ste eeu klink vir haar soos véél dringender probleme as ’n katedraal wat ’n toring verloor het.

En soos so dikwels wanneer ek na haar geslag van millenniërs luister, het ek geen verweer nie. Ek kan maar net prewel, “Ja, maar ...” Ja, dis waar dat ons almal sal moet saamspan om ons planeet van ondergang te red – maar kan ons nie intussen ook ’n monumentjie of twee probeer red nie? Veral ’n monument soos Notre Dame, roep die skrywer in my uit, want haar verstommende gewildheid is hoofsaaklik aan ’n skrywer te danke.

Toe Victor Hugo in 1831 Notre Dame de Paris gepubliseer het, was die gebou self die ster in die storie. (Eers toe dit in Engels vertaal is, het die boggelrug in die titel verskyn.) Hugo het Quasimodo en Esmeralda en Frollo en Gringoire en al die ander karakters geskep omdat hy sy lesers bewus wou maak van die luisterryke geskiedenis van die katedraal.

Hy het sy Gotiese tranetrekker in 1482 laat afspeel, en lang beskrywings vol argitektoniese besonderhede ingelas (daardie stukke wat ongeduldige moderne lesers gewoonlik oorslaan omdat dit die stroom van die storie stuit), want in Hugo se leeftyd was die Notre Dame reeds in ’n taamlik betreurenswaardige toestand. Eeue van verwaarlosing en roekelose plundering gedurende die Franse Revolusie het Ons Dame se toiingrige onderrok laat uithang.

Gelukkig was Hugo ’n skrywer wat gewéét het hoe om die publiek op te sweep (dink maar aan die internasionale trefkrag van Les Misérables wat 30 jaar ná The Hunchback of Notre Dame verskyn het), en die wegholsukses van sy storie het inderdaad tot ’n grootskaalse restourasieprojek van die katedraal gelei. Dis hoeka in hierdie tydperk, tussen 1840 en 1870, dat die argitek Viollet-le-Duc die kenmerkende Gotiese toring ontwerp het wat pas in die brand vernietig is.

Intussen het Hugo se invloed verder versprei, deur dosyne rolprente, operas, musiekblyspele, TV-reekse, toneelstukke, ballette en selfs videospeletjies wat op die storie van Quasimodo en Esmeralda gebaseer is. Die eerste opera, La Esmeralda, is skaars vyf jaar ná die verskyning van die boek deur Louis Bertin gekomponeer. (Hoewel Hugo self die libretto geskryf het, was die musikale produksie helaas nie naastenby so suksesvol soos die boek nie.)

Minstens vyf stilfilms is tussen 1905 en 1923 oor die boggelrug van Notre Dame vervaardig, en toe Hollywood-sterre eers op die silwerskerm begin práát, was daar geen keer meer aan die Notre Dame-geesdrif nie. Verskeie rolprente met die titel The Hunchback of Notre Dame is in die afgelope eeu uitgereik, waaronder een in 1939 met Charles Laughton en Maureen O'Hara in die rolle van Quasimodo en Esmeralda, en nog ’n beroemde weergawe in 1956 met Anthony Quinn as die boggelrug en die wulpse Gina Lollobrigida as die dansende sigeunerin.

En dan was daar natuurlik Walt Disney se animasiefliek in 1996, wat die meeste van ons seker die beste onthou, die rolprent wat Quasimodo se groteske dog hartroerende voorkoms in die mensdom se gesamentlike verbeelding afgeëts het. My seun was vier jaar oud toe ons die fliek die eerste keer gekyk het (die eerste van vele kere) en hy was dadelik gek oor die grillerige gargoyles hoog teen die mure van die katedraal. Toe ons later in dieselfde jaar in Parys beland, het hy my gesoebat om saam met hom tot op die dak van die Notre Dame te klim sodat hy nader kennis kon maak met die manjifieke drakekopspuiers.

Ek was voorheen altyd te lui om al daardie trappe te klim. Maar dié dag het ek deur Daniel se verwonderde kinderoë na die klipmonsters gekyk – en tot vandag toe vermoed ek dat my kind se uiteindelike keuse om ’n argitek te word, net daar op die dak van die Notre Dame begin het. Danksy Victor Hugo en Walt Disney, moet ek seker byvoeg.

Die stertjie van die storie is dat Daniel sommer so ’n mik-en-druk-kiekie van my geneem het, met die Eiffeltoring in die verte en die res van Parys onder ons uitgestrek, wat ’n paar jaar later as amptelike outeursfoto vir my jeugboek Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom gebruik is. Ek het nooit vir iemand gesê dat die fotograaf net vier jaar oud was nie. En dit bly my mooiste herinnering van al die kere wat ek Ons Dame van Parys besoek het.

Outeursfoto vir ’n jeugboek. Geneem op die dak van die Notre Dame in 1996.

Daar gaan waarskynlik nog verwoed gestry word, in Frankryk en in die res van die wêreld voordat die “nuwe” Notre Dame haar verskyning maak. Maar ek is seker sy gaan gelief bly, met of sonder daardie middelste toring, selfs al word die toring ook op ’n skokkend moderne manier herskep. Sy is die soort diva, soos Gloria Gaynor in haar bekendste liedjie sing, wat altyd sal oorleef.

  • 2

Kommentaar

  • Adelene Posthumus

    My gevoel is dis skenkings wat die restourasie gaan finansier. Sover ek weet nie belastingbetalers se geld nie. Niks word weggevat uit iemand se mond of beursie nie. Elke ou kan doen met sy eie geld wat hy wil en die groot maatskappye wat geld skenk gee ook vir liefdadigheid. Miskien het ek nie al die informasie nie - dan vra ek om verskoning. Notre Dame Parys is net werklik SO spesiaal!

  • Anne-Marie Mischke

    Marita van der Vyver skryf hierdie artikel met die soort hart wat ons alte maklik in hierdie twede dekade van die derde millennium oor die hoof sien tot ons nadeel. Laat ons nie die kind van die gees saam met die badwater van die nodige uitgooi nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top