Turkye is ’n unieke land wat tussen Europa, Asië en die Midde-Ooste lê, een waarin vele kulture en godsdienste se spore baie diep gegraveer lê. Die politieke onstabiliteit en onrus wat tans daar in swang is, is egter deel van die inherente politieke onsekerheid wat Turkye kenmerk sedert Mustafa Kemal Atatürk (1923–1938) Turkye in die modern wêreld ingelei het. Daar was reeds vier staatsgrepe van een of ander aard in die land. President Recep Tayyip Erdoğan, leier van die Party vir Geregtigheid en Ontwikkeling (AKP), is sedert 2003 aan bewind, eers as eerste minister (2003–2014) en daarna as uitvoerende president (2014 tot op hede). Sy termyn strek tot 2028 en sy ystergreep op politieke mag is al voorheen uitgedaag, maar hy het telkens die mag met hardhandige optrede behou. Turkye betaal ’n ekonomiese prys vir die politieke onsekerheid, met een van die mees onstabiele geldeenhede en baie hoë rentekoerse.
Die huidige onrus, wat sedert 20 Maart aan die gang is, strek veel verder as net die hoofstad, Istanboel. Na die inhegtenisneming van Erdoğan se sterkste politieke opponent, die burgemeester van Istanboel, Ekrem Imamoglu, het onrus in 55 van Turkye se 81 provinsies uitgebreek. Dit beslaan ongeveer twee derdes van Turkye. Imamoglu is, saam met minstens 100 ander mense, wat joernaliste, politici en besigheidslui insluit, gevange geneem. Die vermeende fokus is daarop om Imamoglu te verhoed om as presidentskandidaat van die Republikeinse Volksparty (CHP) te registreer. Die onluste word gesien as die ergste sedert die Gezi-protesaksies van 2013, wat ook hardhandig deur Erdoğan onderdruk is.
Die onrus in Turkye is baie betekenisvol as in ag geneem word dat Turkye ’n lid is van Navo, ’n belangrike speler in die konflik in Oekraïne, en boonop toegang tot die seestrate van die Bosporus en Dardanelle beheer. Dit gee aan Turkye ’n strategiese belang in die Middellandse See en die Swart See. Turkye het ook die tweede grootste weermag in Navo en is ’n belangrike verskaffer van wapens, ook aan Rusland. Turkye is verder ’n kritieke kruispunt vir gas en olie. Die Transanatoliese gaspyplyn (Tanap) en die TurkStream-pyplyn vervoer gas van die Kaspiese streek en Rusland na Europa en maak dus van Turkye ’n onontbeerlike energieroete vir globale energiemarkte.
Die verwagting is dat Erdoğan ook hierdie politieke onstuimigheid en landswye onrus hardhandig sal onderdruk, en hy behoort baie min politieke teenstand en druk uit Washington, DC, Brussel, Jerusalem of Moskou te ervaar.