Onrus

  • 0

Foto: Canva

Onrus

Ek sit en tuur oor die strand
en kyk daar na Sandbaai se kant
menige bruin lywe ingesmeer
lê onder sonsambrele en keer
dat die son hul te erg verbrand.

Dis Onrus aan die einde van die jaar
waar kinders in die bruin water baljaar
met lywe vol sand en baie nat
en honde die water laat spat
en jonges bal slaan na mekaar.

Dis Onrus met sy blouvlagstrand
en sy mooie berge na die noordekant
en melkhoutbome oraloor
en die aalwyne wat bekoor
en soms lyk soos vlamme wat brand.

Mense van oraloor hou van die plek
baie het uit die noorde hiernatoe getrek
kunstenaars het hier gedy
hiernatoe gekom en lank gebly
dis asof Onrus die kuns in jou opwek.

Jan Rabie was hier in al sy glorie
ook sy vrou, hy’t haar genoem Jorie
sy was ’n skilder van mooi prente
wat vandag werd is baie sente
Haar lewe maak ’n mooi storie.

Uys Krige het ook hier gebly
skrywer van prosa en gedigte was hy
Die goue seun is vandag nie meer
maar van sy werke kan ons baie leer
hoe woorde so oor mekaar kan gly.

Ons almal soek ’n huisie by die see
maar Onrus kan ons baie meer gee
’n plek met ’n lekker atmosfeer
en ook iets wat ons almal begeer
is om hier lekker af te tree.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top