Dit is nou sestig jaar nadat Jane Goodall tydens veldwerk gesien het mense is nie die enigste lewende wesens wat gereedskap gebruik nie. Wat daarna gevolg het, is dekades se deurbrake oor die lewe van ons naaste familielede en ander diere wat wys hulle is alles buiten die onnosel outomate wat nie eens pyn voel nie, soos René Descartes en ander geglo het.
Die jong Jane Goodall het hom dopgehou in Oktober 1960, diep in die woude van Gombe in Tanzanië. Die mannetjie wat sy David Greybeard gedoop het. Hy het gehurk voor ’n termietnes gesit, lang grasse daarin gedruk, dit uitgetrek, in sy mond gedruk en die proses herhaal.
Nadat die trop weg is, het sy gaan kyk wat presies hy gedoen het en dit self probeer.
’n Paar dae later het sy gesien die sjimpansees gaan haal dun takke, stroop die blare af en dan gaan hulle na die termietneste toe. Goodall het nóg iets besef: Dié groot primate gebruik nie net gereedskap nie, hulle pas dit nog aan ook.
Sy het dadelik ’n telegram aan Louis Leaky gestuur, wat haar na Gombe gestuur het. Die antwoord van hom was: “Nou moet ons gereedskap herdefinieer, die mens herdefinieer of sjimpansees as mense aanvaar.”
Dit as egter nie al wat Goodall gesien het nie. Die sjimpansees gebruik verskillende tipes gereedskap. Hulle maak neste om saans in te slaap; maak hulself skoon; gooi klippe as hulle nie van iets hou nie en soek spesifieke klippe uit om neute te kraak of vrugte oop te breek. Hulle jag ander kleiner diere vir vleis. Hulle maak oorlog op ander troppe. Soms gebruik hulle spiese om in boomstompe na prooi te soek. Omdat hulle nie kan swem nie, een van die min dierspesies wat nie kan nie, loop hulle met stokke, soek-soek deur die water.
Dan is daar ’n wye reeks klanke en vokalisasies wat gebruik word om mee te kommunikeer, asook gesigsuitdrukkings. Net soos mense het hulle ook verskillende persoonlikhede en nie almal is ewe slim nie ─ navorsing het gewys genetika speel ’n baie groot rol by wie intelligent is en wie nie.
Die kleintjies leer alles by ander, veral hulle ma’s – van wie hulle vir sowat agt jaar lank afhanklik is ─ deur dop te hou wat hulle doen. En, hulle is emosioneel. Hulle word kwaad, bly, speel, en rou wanneer ’n vriend, ma of kleintjie doodgaan. Dit en ’n magdom ander wonderlikhede is alles regstreeks waargeneem.
Daar is intussen ook gesien dat ’n sjimpansee wie se ma nog in sy tienderjare (tien tot vyftien jaar) leef, se kanse om te oorleef aansienlik groter is as dié wat hul ma’s verloor voor hulle tieners is.
Anne Pusey, ’n evolusionêre antropoloog aan Duke-universiteit, het geskryf sy was in die sewentigerjare by Gombe en ’n twintigjarige mannetjie, Figan, het sy hand seergemaak tydens ’n geveg met ’n ander een. “Hy het skreeuend na sy ma gehardloop.” En vir die res van die week langs haar geloop tot hy beter was.
Wat ’n intense ouersorgband.
Ou vriende wanneer jy ouer is
Wanneer sjimpansees oud word, het hulle eerder ’n kleiner groepie van getroue vriende, as om met almal in die bondel te speel. Net soos mense ─ jy is nie meer lus vir spanning en konflik nie.
’n Span kenners aan die Havardse Departement van Menslike Evolusionêre Biologie het onlangs werk in die vakjoernaal Science gepubliseer wat oor elf jaar en 78 000 uur se observasies tussen sjimpansees in die Kibale Nastionale Park in Uganda gesterk het. Dit is die eerste bewyse van diere wat selektief kies met wie hulle wil sosialiseer wanneer hulle ouer word. Daar is net na mannetjies gekyk omdat hulle meer sosiaal is.
Die sjimpansees spandeer meer tyd saam met die individue wat hulle jare lank al mee vriende is. Vir hulle is ’n groot deel van sosialiseer om te sit en mekaar op te knap (grooming) en te versorg. Wanneer daar konflik tussen die jonger sjimpansees was, loop hulle eerder weg, hulle soek vrede.
Al is sjimpansees slim, verstaan hulle nie hulle gaan uiteindelik doodgaan nie. Maar hulle verhoudings word meer positief soos hulle ouer word. As die verhouding eensydig is en die een sjimpansee byvoorbeeld veertig jaar oud is, gee hy nie soveel terug nie. Hy het eerder drie of vier beste vriende.

Sjimpansees het hulle ma’s nodig vir lank. Net soos mense. Hier is Gremlin met haar seuns Grendel en Gizmo. Foto: Joel Bray, Arizona State University
Wel, ons en die groot primate (die sjimpansee, gorilla, bonobo en oerang-oetang) deel ’n gemeenskaplike voorsaat wat sowat sewe miljoen jaar gelede geleef het. Daarna het ons van mekaar geskei en ons het afsonderlik ontwikkel. Die opmerking “hoekom is hier nog ape?” is dus ’n doelbewuste, ongeligte mening oor evolusie. En dan is daar, natuurlik, ook die verskil tussen, in Afrikaans, ’n bobbejaan (baboon), ’n aap (monkey) en ’n groot primaat (great ape). Bobbejane en ape het, onder meer, sterte, die groot primate nie, en is nie deel van ons regstreekse stamboom nie.
Dit was Goodall wat ons geleer het dat sjimpansees verstommende intelligente diere is. Kognitiewe wesens wat altruïsties is en dit het uiteindelik daartoe gelei dat mense heeltemal anders na diere begin kyk het.
In die jare wat kom, dalk nou reeds, gaan die mens sy kop in skaamte laat sak oor wat ons ook oor die kognisie, leefwêreld en ervarings van baie ander diere gaan uitvind.

Ouer sjimpansees, soos die een genaamd Tofu, hou nou vriendskappe met ’n paar individue. Foto: Ronan Donovan
Mense probeer om wilde diere “mak te maak” en vir hulle eie vermaak aan te hou, of om geld uit hulle te maak. Sogenaamde “parke” waar almal na die diere in hokke of kampe kan kom kyk en aan hulle vat. ’n Tier en ’n leeu, wat waarskynlik ’n geblikte dier is wie se kop jy wil vryf, is nie ’n troeteldier nie. Moenie huil as hy jou byt nie.
Alle diere het ’n ryk interne lewe, hulle ervaar verskeie emosies en hulle is bewus. Hulle onthou. Hulle hou van speel, het empatie, liefde, woede en kan verleë raak. Diere kommunikeer en kan trauma beleef.
Wreedheid en tirannie jeens diere floreer nie omdat die volwasse oortreders bloot oningelig is nie. Kinders wat dit doen, sien dit by volwassenes. Jy weet, diep binne jouself wanneer jy iets wreed doen, dit is verkeerd. Jy gee net nie om nie.

Stout, ’n ouer mannetjie (links) versorg Big Brown, ’n ander mannetjie met wie hy al lank vriende is. Foto: Ronan Donovan
Moraliteit en etiese optrede is iets wat jy binne-in jouself ontdek en leer. Jy besluit om op so ’n inwaartse reis te gaan. Daar is nie grense nie – almal van ons kan die regte ding doen.
Hoe gouer die mens ontslae raak van die opvatting dat hy boaan die leer as die “kroon van die skepping” geplaas is, hoe beter. En hoe gouer gelowe ook hul uitkyk dat net die mens spesiaal is laat vaar, hoe beter. Ons kan nie sonder respek vir die hele ekosisteem lewe nie.
Ander lewe, en ook dié van kosbare lewe van sjimpansees, hang daarvan af.
Bronne:
- Rosati, A.G. et al. 2020. “Social selectivity in aging wild chimpanzees,”. Science. https://science.sciencemag.org/cgi/doi/10.1126/science.aaz9129
- Stanton, M.A. et al. 2020. “Consequences of Maternal Loss Before and After Weaning in Male and Female Wild Chimpanzees”. Behavioral Ecology and Sociobiology, https://link.springer.com/article/10.1007/s00265-020-2804-7


Kommentaar
Baie insiggewend, dankie.