Ongrondwetlike vermoedens in wetgewing

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Die Wet op Dwelmmiddels en Dwelmsmokkeling, Wet 140 van 1992, is daarop gemik om die verspreiding van een van die groot verwoesters van ons tyd, dwelmmiddels, te beperk. Dié wet maak voorsiening vir swaar strawwe vir die besit van dwelmmiddels en nóg swaarder strawwe vir iemand wat daarmee handel dryf. Maar hierdie wet het ook bepalings wat bitter onregverdig kan wees; artikel 20 bepaal byvoorbeeld dat indien iemand vervolg word weens die besit van 'n dwelmmiddel en daar bewys word dat die dwelmmiddel "in die onmiddellike nabyheid" van die beskuldigde gevind is, word vermoed – totdat die beskuldigde die teendeel bewys – dat hy in besit van die dwelmmiddel gevind is. Die bewyslas word dus oorgeskuif op die beskuldigde wat sy onskuld moet bewys.

Hoe hierdie vermoede in die praktyk sou werk, blyk uit die saak wat ek vandeesweek bespreek. 'n Bejaarde Zoeloe-vrou is aangekla van die besit van dagga. Sy was die hoof van 'n kraal in die Elenge-gebied in die distrik Msinga in KwaZulu-Natal. Die polisie het in daardie omgewing 'n klopjag vir dagga uitgevoer en onder andere die betrokke kraal deurgesoek. Hulle het niks in die kraal self gevind nie, maar sowat 50 treë van die kraal se hek af het hulle op 'n hoeveelheid dagga afgekom wat op 'n mat oopgestrooi was. Langsaan was 'n blik met daggasaad. Hulle het toe die Zoeloe-vrou wat die hoof van die kraal was, nader geroep en haar om 'n verduideliking gevra. Sy het bevestig dat sy die kraalhoof is en dat die enigste ander bewoners van die kraal haar jonger suster en 'n paar kinders is. Die voetpaadjie waarlangs die dagga gevind is, is duidelik dikwels deur, onder meer, die inwoners van die kraal gebruik. Die bejaarde Zoeloe-vrou het ontken dat dit haar dagga is, maar is nogtans in hegtenis geneem en uiteindelik deur 'n landdros skuldig bevind op grond van 'n vermoede in die destydse Dwelmwet, wat omtrent woordeliks ooreengestem het met die artikel van die huidige wet wat ek hier bo uiteengesit het. Sy is, met ander woorde, skuldig bevind aan die besit van dagga omdat die dagga volgens die landdros "in die onmiddellike omgewing" van haar kraal gevind is en sy nie voldoende bewys kon lewer dat dit nié haar dagga was nie. Sy is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis.

Die saak het op 16 Julie 1974 op hersiening voor twee regters in Pietermaritzburg gedien. Die regters het beslis dat die vermoede wat in die betrokke wetsartikel geskep is, ingrypend van aard is en daarom beperkend uitgelê moet word. Die regters was van mening dat 50 treë buite die kraal beswaarlik onder die begrip "onmiddellike nabyheid" tuisgebring kon word. Maar selfs indien aanvaar sou word dat die plek waar die dagga gevind was, binne die betekenis van die wet as "onmiddellike nabyheid" sou kwalifiseer, was dit volgens die hof nog glad nie 'n uitgemaakte saak dat dit in die onmiddellike nabyheid van juis die beskuldigde was nie. Alhoewel daar geen ander krale naby was nie, was die getuienis dat daar ander inwoners in die beskuldigde se kraal was. Die dagga kon net sowel aan haar suster behoort het. Die hof was dus van mening dat hierdie vermoede nie teen die beskuldigde gebruik kon word nie en daarom is sy onskuldig bevind en ontslaan.1

Dit was in 1974. In 1996 het die Grondwetlike Hof ondersoek ingestel of hierdie soort vermoedens in die Wet op Dwelmmiddels en Dwelmsmokkeling in ooreenstemming is met die Grondwet – in die besonder, die grondwetlikheid van artikel 21(1)(a)(i) van die wet wat bepaal dat indien 'n beskuldigde in besit betrap is van meer as 115 g dagga, vermoed word – totdat die beskuldigde die teendeel bewys – dat hy handel in dagga gedryf het. Artikel 25(3)(c) van die Tussentydse Grondwet (wat op daardie tydstip in 1996 nog van krag was) het naamlik bepaal dat elke beskuldigde geag word onskuldig te wees totdat sy skuld bo redelike twyfel in 'n geregshof bewys is. (Dié reg word vervat in artikel 35(3)(h) van die huidige Grondwet.) Die vermoedens in die Wet op Dwelmmiddels en Dwelmsmokkeling – byvoorbeeld dié vervat in artikel 20, wat ek met betrekking tot die Zoeloevrou bespreek het – druis, volgens die Grondwetlike Hof, in teen daardie basiese grondwetlike reg dat 'n mens onskuldig geag word totdat jy skuldig bewys word. Die Grondwetlike Hof het beslis2 dat die vermoedens in die Dwelmwet die staat se bewyslas ligter maak en die bewyslas eintlik oorskuif na die beskuldigde toe. Dít druis in teen die basiese beginsels van die Grondwet en daarom het die hof beslis dat dié soort vermoedens ongrondwetlik is.

Dit is interessant dat, volgens Jutalaw – waartoe ek tans met die vriendelike komplimente van Juta toegang het – die betrokke gewraakte artikels in Wet 140 van 1992 nog nie gewysig is nie. Die Grondwetlike Hof kon in die 1996-uitspraak waarna ek verwys het, nie 'n rede vind waarom die wet in sy huidige vorm van krag moes bly totdat 'n verbetering daarop deur die parlement aangebring is nie. Dit bly dus ongrondwetlik, ondanks die feit dat dit nog "op die wetboek" staan.

1 Staat v Mweli 1974(4) 259 (N)

2  Staat v Bhulwana; Staat v Gwadiso 1996(1) SA 388 (CC)

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top