Groot rivier! Draai om!
Stroom terug na die berge
Moenie die laagland, die stede vertrou nie
Hier regeer bose magte
Hier word elke boog reguit gesnoei
Die wind is oker en verstikkend
Die tarief oorheers alles
En die velde is groen van gif
Draai om! Neem my saam!
Ek speel trekklavier
Ek kan die kaart lees
Ons gaan tot bo die boomgrens
Ek bou ’n hut
Ons luister na die stilte
Ons prys die lug
En snags tel ons die satelliete
Geen tyd om te verloor nie
Viva! Voorwaarts kameraad!
Ons vergeet die vaandels
die groot woorde, die getrompetter
daar is geen gister meer nie
Ons dink nie aan wins of verlies nie
Die toekoms kom later
* Geskryf deur K Michel; vertaal deur Danie Marais

