
met die taal wat ek praat
brei ek truitjies
en bou ek blokkies
ek skets katedrale
en dreunsang motetjies
(die libretti verspottig en wrang )
ek kloof karkoertjies
en vlieg sonder vlerke
met woorde en sinne
dikteer ek lywige en spulse gedagtes
en moer hulle oor sorteertafels
ek maak my vry
maar ek bevind my ook skuldig
(’n verhoor of daarsonder)
soms gee ek mee
en laat die kaartehuis kantel
maar ek praat my weer vry
en laat kardoese vaar
op die gragte van my harsings


Kommentaar
So pragtig, ek wens ek het alles verstaan, maar wat ek het was baie mooi!
Uitmuntende werk. Indrukwekkend en kunsinnig gedink! Baie geluk.