Ongekende ellende deur Chris Schoeman: ’n studie oor lyding en die impak daarvan

  • 1
...............
Ongekende ellende laat jou nie koud nie. Dit laat jou dink. En soos met jou gevolgtrekkings, wil jy die boek hou. Om te onthou.
...............

Boekomslag: Protea Boekhuis

Ongekende ellende – rampe wat Suid-Afrika geruk het
Chris Schoeman
Protea Boekhuis
SKU: 9781485314042

In die boek Ongekende ellende: rampe wat Suid-Afrika geruk het (2022) skryf Chris Schoeman nóg ’n boek oor rampe wat hulle merk op ons land gelaat het. Dis 171 bladsye lank en die prys is R275.

In 2021 het ’n vorige boek ook by Protea verskyn, naamlik Nêrens veilig – twee eeue van Suid-Afrikaanse rampe. Daardie boek het gehandel oor van die grootste rampe wat ons nasie al ervaar het, terwyl daar in Ongekende ellende meer op half-vergete katastrofes gefokus word. Soos op die agterblad gestel word, vertel hy “aan die hand van deeglike navorsing hoe gewone mense buitengewone teëspoed beleef het”.

Hiervolgens verwag die voornemende leser dus ooggetuieverslae en eersterangse verslae of bronverwysings – primêre bronne, eerder as hervertellings vanaf reeds gepubliseerde bronne. Die bibliografie (daar is ook hoofstukeindnotas agterin) bevat inderdaad argivale bronne, sowel as koerantberigte (soos verwag kan word) en dies meer, wat hierdie leser bevredig: daar is duidelik omvattend nagevors. Aanhalings van ooggetuies word ook gebruik, wat evokatief en insiggewend is.

..............
In hierdie nuwe boek word van 15 dramatiese gevalle vertel, en ’n mens wonder onmiddellik: watter gevalle is hier gekies, of watter rampe waarvan jy persoonlik weet, is weggelaat? Ek het nie die genoemde Nêrens veilig gelees nie, wat my laat wonder het – is die Westdene-busramp hierin? Watter van die vele trein- en seerampe is gekies? Sinkgate en ander mynrampe? Aardbewings – is die Tulbagh-ramp hierin, of was dit in die vorige boek?
.................

In hierdie nuwe boek word van 15 dramatiese gevalle vertel, en ’n mens wonder onmiddellik: watter gevalle is hier gekies, of watter rampe waarvan jy persoonlik weet, is weggelaat? Ek het nie die genoemde Nêrens veilig gelees nie, wat my laat wonder het – is die Westdene-busramp hierin? Watter van die vele trein- en seerampe is gekies? Sinkgate en ander mynrampe? Aardbewings – is die Tulbagh-ramp hierin, of was dit in die vorige boek?

En so bekyk jy dan die inhoudsopgawe. Daar is een baie ou seeramp, oor De Gouden Buys wat in 1693 gesink het. Dit is ’n verhaal van verskriklike ontbering en uithouvermoë, soos etlike ander wat al hier voorgekom het, insluitend die onbeantwoorde vrae oor die inhoud van die gestrande skip. Hierdie ramp is wel een van dié wat deeglik opgeteken is en dus as voorbeeld van ander dien, van die uitdagings wat ons voorsate daagliks moes oorkom.

Die pokke-epidemie aan die Kaap, die een van 1713, dus die eerste een want daar was nog, is gekies. Dan Sleigh se nuutste boek Retoervloot, Kaapstad en die VOC in 1713 handel ook hieroor, maar Chris Schoeman se verwysing daarna kan dalk as inleiding gebruik word, sou die leser meer daarvan wil weet en oorweeg om Sleigh se boek (R350, Tafelberg) te koop. In 1949 het daar nog ’n laaste pokke-uitbraak voorgekom. Bowenal moet onthou word dat die vroegste epidemies die bruin bevolking van die land in ’n dwangbuis geplaas het wat steeds gevoel word – die pokke het so baie van hulle inheemse voorsate uitgewis dat hulle eers onlangs ’n demografiese gesagsposisie begin inneem het, maar steeds maatskaplik en ekonomies onder hulle potensiaal verkeer.

Dan volg die Groot Brand van 1869, die verskrikking en die omvang, die lyding en die skade was haas onbeskryflik. Schoeman begin so: “Die verwoestende Suid-Kaapse brande van Junie 2017 is nog vars in die meeste mense se geheue.” Hy beskryf dié onlangse tragedie en die skade, en beweeg dan na die een van 1869; in die Suid-Kaap, Klein-Karoo en Oos-Kaap onderskeidelik. Vreemde gevalle, soos olifante wat in die see gaan skuil het, asook die nagevolge soos vir die houtkappers “vir wie die brand eintlik die begin van die einde was,” is uitgelig. Ander skrywers soos Dalene Matthee sou hierdie milieu en gebeure verder omskryf.

Die Victoria-Wes-vloed, wat onmiddellik met dié van Laingsburg in 1981 vergelyk sal word, en Oos-Kaapse oorstromings (1905) word ook bespreek. ’n Vrou wat die vloed beleef het, skryf: “Oh, we are is such distress. We have had an awful flood and we were nearly killed. Oh! You don’t know the misery. The dead carts are going backwards and forwards.”

Die runderpes (1896–1898) is ’n ramp wat plattelanders eerder sal onthou, maar een met verreikende gevolge. Vandag, sowat drie generasies later, word talle Suid-Afrikaners se sosio-ekonomiese posisie steeds daardeur beïnvloed – soos ook die geval is met sommige van die ander rampe wat bespreek word. Die beskrywings van die ramp is gedetailleerd en skokkend: “Hulle staan met hul rug gebuig en bulk. Hul mis is pikswart, en hulle drink gellings water. Agt dae later is daar van die oorspronklike 540 osse net twee oor.” Oor die omvang word onder andere berig: “In die Transkei is ongeveer 90% van die vee – wat die ware welvaart van die mens verteenwoordig – uitgewis.” Die verskillende bevolkingsgroepe het mekaar vir die verspreiding van die epidemie verdink, verstedeliking en misdaad het toegeneem en derduisende is in armoede gedompel.

Die Malmesbury-tornado en Oos-Kaapse oorstromings van 1905 volg en die leser roep outomaties onlangse gebeure as verwysingspunt op, vergelykenderwys – soos die skrywer dikwels ook doen, deur soortgelyke rampe in ander lande en tye te noem. Hier is dit weer eens verstommend hoe sommige se tyd eenvoudig dáár was, en ander onverklaarbaar ontkom het. (Op die webtuiste The Heritage Portal kan nog meer oor die herinnering van die tornado gesien word.)

Die treinongeluk wat hier gekies is, is die Blaauwkrantz-ongeluk van 1911, waarvan ek geheel onbewus was. Noem jy Blaauwkrantz, het die massamoorde op die Voortrekkers (1838) natuurlik by my opgekom, soos sekerlik die geval met die meeste lesers sal wees. Bloukrans is egter in KwaZulu-Natal en die Blaauwkrantzbrug-ongeluk was in die Oos-Kaap, tussen Grahamstad en Port Alfred. Hierdie tragedie is een van die skrikwekkendste en verbysterendste gebeurtenisse in die boek. Hoe het twee mense byvoorbeeld uitgeval en op hulle voete geland? Soos met die ander rampe waar talle omgekom het, is die angs en onvermoë van ooggetuies om die ongeluk af te weer, of slagoffers te help, treffend uitgebeeld. Ook kry die leser algaande die gevoel dat sulke rampe dikwels gepaard gaan met verskillende bydraende faktore: óf menslike foute óf natuurelemente óf albei saam veroorsaak dikwels daardie “perfekte storm”-verskynsel.

Schoeman vertel ook van die Groot Depressie (1929–1933) en die Groot Droogte (1933), wat bydraende faktore tot die sogenaamde armblankevraagstuk was en gelei het tot grootskaalse verstedeliking, met verdere ellende. Dit mag die leser laat wonder waarom juis hierdie wydverspreide rampe tussen (geografies) meer spesifieke teëspoede, maar hy of sy sal seker nou al agtergekom het dat daar ’n chronologiese volgorde is.

Die omvang en verskrikking van die droogte en die ellende van mens en dier is ná al die jare erg genoeg om hierdie leser se oë te laat brand.

Die vliegongeluk wat die skrywer gekies het, is die De Havilland Comet-ramp van 1954, want daar was Suid-Afrikaners aan boord. Die eerste Comet-ongeluk het in 1952 plaasgevind, maar niemand is dood nie. Op 3 Maart 1953 volg die “eerste noodlottige passasierstralerramp” en almal aan boord het omgekom. Die Comet was uiteindelik betrokke in 26 rompverlies-ongelukke en 13 noodlottige neerstortings. Hier, soos met ander gevalle waar baie geld betrokke was, skyn dit dat daar nie al te gretig vinger gewys is nie. Selfs ná ’n paar noodlottige ongelukke het ondersoekverslae aansienlik verskil oor wie verantwoordelik was.

Die Henley-on-Klip-skoolbusramp van 1970 is die gekose busramp vir hierdie boek, hoewel ook na die een by Leandra, Mpumalanga (1952) verwys word. Wanneer kinders sterf, is die meeste mense altyd meer emosioneel betrokke, en in hierdie geval is dit nie anders nie. Ook die heldhaftige optrede van die matriekseun Johan le Roux raak ’n mens aan die hart – hoewel helaas, die skrywer noem dat daar strate na hom in Meyerton en Alberton vernoem is, maar hoeveel mense wat daagliks daar ry, weet nog wie hy was?   

Dan volg twee sokkerrampe, een in Orkney (1991) en een in Ellispark (2001). Alles wat daar verkeerd geloop het, is eintlik skandelik. Weer eens ’n aaklige sameloop van omstandighede. Korrupsie, soos verwag, was een van die faktore, maar ook swak beplanning. Schoeman noem ook oorsese sokkerrampe, waarvan die een in Lima, Peru in 1964 die grootste was – meer as 800 mense is dood of beseer.

Die laaste ramp in die boek is die Merriespruit-ramp (Virginia, 1994). Die verskrikking van die moddervloed word uitvoerig en grafies beskryf. Hierdie “tikkende tydbom” en die menslike element is aangrypend. Soos geskryf oor die tweejarige Liske Pretorius: “Net haar skoentjies het uitgesteek.” In die hofsaak daarna is vir die eerste keer van satellietfoto’s in ’n hof gebruik. Ook is nuwe beheermaatreëls, soos die Code of practice on mine residue deposits, opgestel. En Schoeman benadruk dit dat voor dié ramp daar ’n “ongeskrewe verstandhouding was dat kritiek op groot en gerespekteerde openbare maatskappye nie geduld [is] nie”.

Die foto op die voorblad is van die skade wat die 1905-sikloon aan Malmesbury se hoofstraat aangerig het. Hoewel dit die inhoud van die boek verklaar, is dit nie juis die soort visueel-treffende omslag wat deesdae mode geword het nie. Dog, wanneer jy daarna kyk, na die ruïnes en rommel, en die lyftaal van die mense wat in groepies rondstaan, asook die klaarblyklike ouderdom van die afbeelding, is dit myns insiens heel paslik. Daar is amper ’n understatement aan die gewelddadigheid van die situasie wat ook tekenend is van die daaropvolgende teksinhoud.

Opsommenderwys: Ongekende ellende laat jou nie koud nie. Dit laat jou dink. En soos met jou gevolgtrekkings, wil jy die boek hou. Om te onthou. Jy maak vir hom plek op jou oorvol rak.

  • François Verster is die uittredende maatskappy-argivaris van Naspers.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top