So 'n ruk terug maak ek die Uno se enjinkap oop waar hy onder sy afdak staan. Watter skok kry ek toe nie!
In die agterste twee hoeke van die enjinkompartement lê hope slakdoppe. Ondertoe lê daar ook stukkies, veral op die ratkas. Dadelik gaan my gedagtes na die slang waarvan ek al gelees het wat slakke vreet.
Ek is toe dadelik op die telefoon na 'n slangkenner. "Nee,” sê hy. “Daai slang vreet net een slak op 'n slag, daar waar hy hom gekry het, hy dra dit nie na 'n ander plek toe nie. Dis buitendien 'n vreedsame slang, hy byt nie eintlik nie.”
Nou weet ek nie verder nie. Ek maak maar so goed as moontlik skoon met 'n verfkwassie en sukkel om al die stukkies uit die moeilike plekke te kry. Intussen vlieg my gedagtes rond en bont na wat dit moontlik kan wees. Ek skryf daaroor aan my familie, wat ook maar nie weet wat dit is nie. Een stel voor dis dalk 'n nagapie of 'n krimpvarkie, maar hier is nie sulke diere by ons nie.
Ek takel toe weer die foon en praat met 'n man van die Soölogie-departement by die universiteit. Hy stel voor dit kan 'n geitjie of skeertandmuis wees. Die geitjie se feses het glo 'n wit kol aan die een kant. Nee, die paar drolletjies wat ek daar gekry het, het nie 'n wit kol nie. Dit lyk eerder na muisdrolletjies en dit bekommer my, netnou begin hy die drade vreet.
Ek sprinkel eers peper op 'n paar plekke, dit hou glo muise weg, later sit ek muisgif uit. Die volgende dag is daar nie aan die gif geraak nie en ek haal dit liewer uit, want ek voel te sleg om 'n diertjie so te vermoor. Ek hou toe maar gereeld die situasie dop en dit lyk darem of die aktiwiteite verminder. Die slakke op die werf is buitendien almal opgevreet, ons het 'n slakplaag gehad en nou sien jy nie meer 'n enkele slak nie. Maar toe ek 'n groot dooie sprinkaan uit die hond se waterbak haal en dit op die plaveisel neergooi, sien ek die volgende dag die sprinkaan is weg en sy vlerke en pote lê in die enjinkompartement.
Op die oomblik is dit stil, niks gaan meer daar aan nie, miskien omdat dit winter is, dalk hiberneer die dier. Hier is soms ook uile op die werf, miskien het hulle die diertjie gevang en vermoor.
Ek moet nou maar wag vir die somer en dan die situasie nougeset dophou.
Groete,
Varkspek


Kommentaar
Klein grys muishond?
Na ses weke weg van huis had ek ook orals slakdoppe. Blyk toe muishond en ma wat in solder ingetrek het ...
Hul laat swarterige strepie-drolletjies agter ...