Die Departement van Basiese Onderwys sal voortaan sy Funza Lushaka-beurse slegs toeken aan studente wat in 'n inheemse Afrikataal vir die grondslagfase kan klasgee. Anne-Marie Beukes, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), 'n organisasie wat hul bemoei met meertaligheidskwessies, reageer.

Die Funza Lushaka-beursprogram van die Departement van Basiese Onderwys (DBO) is ’n prysenswaardige inisiatief wat in 2007 geloods is en ten doel het om jong Suid-Afrikaners aan te moedig om tot die onderwysberoep toe te tree. Heeltemal tereg ag die departement dit as ’n nasionale prioriteit om ’n goedopgeleide korps jong onderwysers die wêreld in te stuur. Dit is ongelukkig ’n bekende feit dat vandag se jongmense die onderwysberoep nie so hoog ag as wat in die verlede die geval was nie. Ek ervaar dit self jaar na jaar in my eie klasse dat studente sommer pront sê hulle stel glad nie in die onderwys belang nie.
Dié besondere beursprogram verdien om goed ondersteun te word deur ons jongmense; dit bied unieke geleenthede om hulle vir ’n loopbaan in die onderwys te bekwaam. In ’n land wat ryklik geseën is met ’n verskeidenheid kulture en landstale is dit verblydend dat daar groot klem gelê word op ons histories benadeelde inheemse tale. Dit is van kardinale belang dat daar onderwysers opgelei word wat bereid is om in hierdie tale onderrig te gee. Dit sluit ook netjies aan by die departement se taalprojek, Die Inkrementele Implementering van Afrikatale in alle Suid-Afrikaanse skole, wat ten doel het om die onderrig van Afrikatale van 2016 af inkrementeel in meer as 3 500 skole waar hierdie tale tans nie onderrig word nie, in te voer. Só gee ons gehoor aan die gees van die taalklousule in die Grondwet en skep ons geleenthede dat ons inheemse tale die ruimte opneem wat die jong sprekers van hierdie tale toekom.
Volgens onlangse mediaberigte het die DBO besluit dat slegs onderwysstudente wat bestem is om in die grondslagfase (graad 1 tot 3) in Afrikatale klas te gee of sprekers van hierdie tale is, vir die beursprogram in aanmerking kan kom. Afrikaans- en Engelssprekende studente word dus van hierdie befondsingsgeleentheid uitgesluit. Benewens die bepaling in die Grondwet dat daar nie teen iemand gediskrimineer kan word op grond van onder meer taal nie, is dit gewoon kortsigtig dat hierdie geleenthede nie aan alle onderwysstudente in die grondslagfase beskikbaar gestel word nie. Daar is geen twyfel dat daar groot behoefte aan gehalte-onderwys in hierdie en ander fases is nie, ook deur medium van Afrikaans en Engels. Indien Suid-Afrika dit sy erns maak om ’n toekoms te skep waar meertaligheid oor ’n breë spektrum ondersteun word, kan sulke besluite wat sekere taalsprekers geleenthede ontneem, nie ondersteun word nie. Dit raak in die besonder belowende Afrikaansonderwysstudente uit die histories benadeelde deel van die Afrikaanse taalgemeenskap negatief – ten onregte.
Die ATR doen ’n ernstige beroep op die DBO om hierdie ongelukkige besluit te herroep sodat ook Afrikaanssprekende onderwysstudente voortaan vir die beursprogram in aanmerking kan kom. Na berig word, is 13 972 beurse vanjaar toegeken. Uit so ’n groot toekenning kon daar ongetwyfeld ook beurse aan Afrikaanse studente toegeken gewees het.
Dit wil voorkom asof die DBO inkonsekwent is wat sy hantering van Afrikaans in die onderwys betref. In die geval van Die Inkrementele Implementering van Afrikatale in alle Suid-Afrikaanse Skole-projek word Afrikaans byvoorbeeld wel beskou as ’n Afrikataal, alhoewel op ’n betreklik kleiner skaal: slegs in sewe skole versprei oor twee provinsies. In die geval van so ’n kardinale terrein van die basiese onderwys, naamlik die grondslagfase, figureer Afrikaans egter hoegenaamd nie. Die hele poel in hierdie fase moet bevoordeel word in die beste belang van goeie basiese onderwys in ’n land waar ons ’n nypende tekort aan goedopgeleide leerkragte ervaar. En, moet daar bygevoeg word, as ons dit ons erns wil maak om ons meertalige erfenis te bewaar en te versterk.
Lees Michael le Cordeur se reaksie hierop.
Lees Christo van der Rheede se reaksie hierop.
Kommentaar
Dit is bedroewend dat die voorsitster van die Afrikaanse Taalraad begaan is oor histories benadeelde inheemse tale, histories benadeelde Afrikaanssprekendes en oor meertaligheid, met geen woord van veroordeling van die blatante diskriminasie wat teen blanke Afrikaanssprekendes en Afrikaans deur die ANC-regering gepleeg word nie.