Onderhoudend: Wentzel Coetzer

  • 0


Dawid Kuyler stel vrae aan Wentzel Coetzer oor sy artikel in LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe): Verwonde en verwarde adolessente – enkele pastorale merkers.


Wie is die adolessente van wie jy skryf? Binne ons Suid Afrikaanse konteks, waar die meerderheid adolessente swart is en uit ’n grootliks ander konteks as die betreklik klein getal wit adolessente kom, moet kennis geneem word van belangrike navorsing soos First steps to healing the South African Family: March 2011. Lucy Holborn & Gail Eddy: South African Institute of Race Relations. 

Dit sou goed gewees het om inleidend met een of twee sinne dit spesifiek te vermeld het dat die fokus in die artikel gerig is op adolessente wat wesenlik binne ’n eerstewêreldkonteks grootgeword het. Wat die Suid-Afrikaanse konteks betref, sou ek sê dat talle aspekte van hierdie artikel ook van toepassing sal wees op adolessente wat grootword binne die sogenaamde al groter wordende middelklas, wat verskillende bevolkingsgroepe insluit (indien ’n mens hier maar net sou dink aan byvoorbeeld die invloed van die digitale era met al sy slaggate wat ’n invloed het op elke jongmens wat deesdae ’n selfoon in die hand het).

Ek gee toe dat daar beslis kennis geneem kan word van bovermelde artikel plus nog ’n groot aantal ander artikels wat veral gefokus is op die groot getal adolessente wat vanuit ander kontekste kom. My vertrekpunt was egter om die vyf vermelde perspektiewe/invalshoeke aan die orde te stel en lesers en navorsers daarvan bewus te maak. Indien ander literatuur dus nie op een of ander wyse ondersteunend tot hierdie basiese vertrekpunt (hierdie vyf basiese perspektiewe) sou wees nie, dan sou dit moeilik wees om dit alles te akkommodeer.

Ek vind die bronne hier effens verouderd, en sterk Amerikaans?

Van die 87 bronne is 53 binne die afgelope 10–12 jaar, as in ag geneem word dat die artikel reeds teen die einde van 2013 ingedien is. Dan was ek uiteraard verplig om byvoorbeeld met betrekking tot die historiese ontwikkeling van ’n benadering soos sogenaamde innerlike genesing sekere historiese bronne aan te dui, waarvan sommige in die sewentigerjare verskyn het. Indien al hierdie bronne se konteks dus ook in berekening gebring word, dan is daar nie ’n te groot wanbalans ten opsigte van die artikel se bronnelys as geheel nie.

Die stelling dat die bronne “sterk Amerikaans” is, is te vaag en veralgemenend om op te reageer. Dit sou makliker wees om te reageer op spesifieke aspekte, soos wat byvoorbeeld in die ander vrae uitgelig word. Hierdie stelling mag verkeerdelik die indruk skep dat enige aantal Amerikaanse bronne om een of ander rede per se onaanvaarbaar is. Die Amerikaanse akademiese milieu is ook te gevarieerd is om deesdae so ’n veralgemenende stelling te maak.

Dink jy mens sou die volgende bronne sinvol hierby kon betrek?

  • Ruben Safari, 2004: Counseling the traumatised adolescents of the Burundian war: A pastoral study. (MA, NWU).
  • Mary Eastham, 2007: Healing the Wounded Adolescent.
  • Christina Landman, 2007: Doing narrative counseling in the context of township spiritualities. (DTh, Unisa).

Wat die eerste bron betref, die M-verhandeling van Ruben Safari, stem ek 100% met jou saam, aangesien ek sy studieleier was. Ons het baie gesprekke gehad oor die situasie in Boeroendi en sy passie rondom hulpverlening aan die emosioneel verwonde jongmense van sy land en hoe om hulle te help en te begelei. As jy sou let op die praktyk-teoretiese hoofstuk van sy verhandeling en jy vergelyk dit met die inhoud van die artikel waaroor hierdie bespreking gaan, dan sal jy talle ooreenkomste sien. Die finale riglyne en gevolgtrekkings wat hy uiteindelik in sy verhandeling formuleer (en veral waar dit gaan oor die gebedsessie as deel van die begeleiding van emosioneel verwonde jongmense), is in ’n sekere sin ’n kompakte weergawe van ’n proses van innerlike genesing.

Wat betref die tweede bron waarna jy verwys, naamlik dié van Mary Eastham, stem ek ook 100% met jou saam. Ek vind dit ’n uiters sinvolle artikel met heelwat stof wat verrykend en aanvullend tot hierdie artikel sou kon gewees het.

Wat die derde bron betref, naamlik die proefskrif van Christina Landman, wil ek enersyds sê dat sy ’n skerp denker is en iemand wat tot dusver besondere bydraes gemaak het – daarom is hierdie bron inderdaad ook waardevol. Andersyds wil ek egter sê dat my motief met die skryf van hierdie artikel juis was om die fokus te probeer plaas op vyf spesifieke perspektiewe wat meer aandag binne die pastoraat sou kon ontvang. Christina maak gebruik van die sogenaamde narratiewe benadering en my uitgangspunt was dat ek met hierdie artikel nie maar net nog ’n bydrae vanuit hierdie invalshoek wou lewer nie, aangesien daar reeds die afgelope aantal jare baie pertinent in artikels en verhandelinge en proefskrifte hierop gefokus is en die akademiese gemeenskap hierdie benadering grootliks reeds implementeer.

Vir wie is die artikel geskryf? Is dit vir die professionele berader of dalk die lekeberader? 

Eerstens is dit gerig op die professionele berader. ’n Aantal aspekte word aan die orde gestel wat vir die lekeberader ’n klompie opleeswerk gaan verg ten einde die volle konteks van seker begrippe en frases te begryp. Tweedens sou ek egter byvoeg dat die artikel nie in sy geheel ontoeganklik behoort te wees vir die lekeberader wat moontlik al ’n klompie praktiese ervaring het asook ’n paar basiese beradingskursusse gedoen het nie.

Jy maak gebruik van ’n eklektiese benadering/model, maar dit is baie vaag. In die uitgebreide voetnoot poog jy om te verduidelik wat jy daarmee bedoel. Dink jy dat die gebruik van ’n gevallestudie jou model beter sou geïllustreer het?

Ek meen dat ek volledig genoeg gemotiveer het aan die hand van bronverwysings wat presies bedoel word met ’n “eklektiese benadering”. In die aangehaalde bronne is daar uiteraard heelwat meer stof wat bygehaal sou kon word, maar dan sou die argumentasie en bewysvoering weer te oordadig en lomp geraak het.

Wat betref die noodsaaklikheid van ’n gevallestudie kan ek meld dat een van die aanvanklike keurders van die artikel in sy kommentaar ook verwys het na die moontlike behoefte aan enkele gevallestudies. Na aanleiding hiervan het ek dit in die hersiene weergawe wat ingedien is, ingesluit. Die redakteur het toe egter heel aan die einde voorgestel dat dit weer geskrap word, aangesien die punt wat ek probeer tuisbring het, volgens hom reeds duidelik genoeg was.

Ek het heelwat teologiese vrae oor “innerlike genesing” en die gebedsbenadering wat jy noem. My grootste vraag is of dit wetenskaplik is. Ek dink daar word onkrities uitgegaan van die standpunt dat huidige probleme in die lewe teruggevoer kan word tot een of meer negatiewe ervarings in die kinderjare en dat ons die vermoë het om dit in ons gedagtes op te roep. Die mens is net te ’n komplekse wese om gereduseer te kan word tot een negatiewe ervaring. Aan die ander kant is dit algemeen bekend dat ons geheue nie altyd betroubaar is nie en dat dit nie so eenvoudig is om iets uit die onderbewuste op te roep nie.

Indien akademiese navorsing in terme van akademiese artikels in erkende akademiese tydskrifte (binne die velde van byvoorbeeld die teologie en die psigologie), asook verhandelings en proefskrifte die afgelope aantal jare by erkende universiteite as maatstaf sou dien, dan slaag hierdie tema beslis die toets.

Sedert die vroeë tagtigerjare, toe ek onder andere geïnteresseerd begin raak het in temas soos hierdie, het ek spesifiek begin uitkyk vir akademiese artikels, verhandelinge en proefskrifte wat hiermee verband hou. Sedert daardie stadium het die stroom van publikasies rondom hierdie tema stelselmatig toegeneem. Daarmee word nie geïmpliseer dat al hierdie publikasies bloot ’n stempel geplaas het op die aanvanklike meer populêr-teologiese en dikwels meer oppervlakkige uitgangspunte van die oorspronklike verteenwoordigers van hierdie benadering nie. Daar het egter gaandeweg ’n meer akademiese verdieping, groei en besinning plaasgevind wat gelei het tot meer verfyning, helderder formulering en meer akademiese fundering vanuit die teologie sowel as die psigologie met betrekking tot verskeie van die basiese vertrekpunte. Indien daar deesdae byvoorbeeld ’n rekenaarsoektog gedoen sou word deur middel van ’n paar van die belangrikste databasisse wat die veld van die teologie sowel as die psigologie dek met frases soos inner healing of prayer healing,dan is die resultate redelik oorweldigend.

Ten opsigte van die proefskrifte van Crous en Botha wat in die lys hier onder vermeld word, was ek die eksterne eksaminator. Beide het gefokus op die area van “theophostic prayer”, wat beskryf sou kon word as ’n latere vertakking vanuit die aanvanklike basis van innerlike genesing. Wat bydraes soos hierdie van waarde maak met betrekking tot die tema van innerlike genesing, is die feit dat daar in beide gevalle onder andere ’n baie grondige evaluering gegee word van die tema van innerlike genesing. Crous se proefskrif, wat onder leiding van Dirk Kotze gedoen is, sou ek beskryf as veral ’n besondere bydrae, aangesien dit ook vanuit die narratiewe benadering begrond is (die proefskrif van Thiessen sluit in ’n groot mate ook hierby aan).

Ten opsigte van die artikels in die lys hier onder dateer sommige uit die tagtigerjare, toe die debat rondom innerlike genesing reeds voluit aan die gang was, terwyl andere meer onlangs is.

Soos reeds vermeld, dien die lys hier onder slegs maar as voorbeeld van enkele artikels en verhandelinge en proefskrifte, terwyl daar ’n groot aantal verdere verwysings op die onderskeie databasisse beskikbaar is.

Proefskrifte en verhandelinge

Botha, JU. 2008. Theophostic Prayer Ministry (TPM): ’n Prakties-teologiese beoordeling. PhD, NWU, Potchefstroom.

Campbell-Lane, Y. 2003. Inner change: a Pastoral-theological study. PhD, NWU, Potchefstroom.

Crous, JJ. 2009. The Theophostic Prayer Ministry (TPM): an exploration of its practices and healing possibilities. DTh, Universiteit van Suid-Afrika.

Du Plessis, AL. 2007. Die rol van gebed by die proses van innerlike genesing – ’n Pastorale studie. PhD, NWU, Potchefstroom.

Ferreira, AM. 2014. ’n Pastorale ondersoek na die inrigting van geestelike en emosionele herstel in kontemporêre modelle vir innerlike genesing. Potchefstroom, NWU. PhD – word in
November 2014 ingedien.

Thiessen, WJ. 2003. Praying in a new reality: a social constructionist perspective on inner healing prayer. DPhil, Universiteit van Suid-Afrika.
 

Artikels

Campbell-Lane, Y en GA Lotter. 2005. Biblical counselling regarding inner change. Koers, 70(1):99–123.

Cerny, PE. 1986. A psychological evaluation of inner healers. Dissertation Abstracts International, 47(5-B):2153.

Cheng, MC. 2001. Integrating inner-healing into missions education. Mission Studies, 18(2):126–45.

Garzon, F en L Burkett. 2002. Healing of memories: models, research, future directions. Journal of Psychology and Christianity, 21(1):42–9.

Harrison, SM. 1987. Inner healing and secular psychotherapy: methodological similarities. Dissertation Abstracts International, 48(4-A):943.

Jones, EL. 1998. A study of traditional prayer, inner healing prayer and psychological well-being among evangelical Christians. Dissertation Abstracts International: Section B: The Sciences and Engineering, 59(4-B):1854.

Jones, IF. 2007. Inner healing and therapeutic prayer: the parameters and power of prayer in counseling. Christian Counseling Today, 15(2):25–7.

La Torre, M.A. 2004. Integrated perspectives. Prayer in psychotherapy: an important consideration. Perspectives in Psychiatric Care, 40(1):38-40.

Schwartz, JM. 1982. A phenomenological study of inner healing in the charismatic renewal from an object relations perspective. Dissertation Abstracts International, 43(4-A):1094.

Thiessen, WJ. 2006. Inviting God into our stories: a social constructionist description of inner healing prayer. Practical Theology in South Africa, 21(3):207–23.

Wase, HG. 1985. A model for spiritual and emotional healing combining redecision in transactional analysis and inner healing in the Charismatic movement. Dissertation Abstracts International, 45(11-A):3376.

Williamson, M. 1998. From inner healing to the healing of America. Christian Research Journal, 21(2):27–31, 46–7.

In die bovermelde proefskrifte, verhandelinge en artikels is daar ’n verskeidenheid standpunte en debattering. Die belangrike punt is egter dat daar op akademiese gebied ’n groot mate van besinning en evaluering begin plaasvind het wat uiteraard ’n positiewe effek tot gevolg gehad het. Navolgers van hierdie benadering is gevolglik gaandeweg al meer gedwing om onhoudbare standpunte prys te gee of te herbesin en in sommige gevalle te herformuleer.

  • Oor die stelling: “[D]aar word onkrities uitgegaan van die standpunt dat huidige probleme in die lewe teruggevoer kan word tot een of meer negatiewe ervarings in die kinderjare ...”

Hierdie definisie van innerlike genesing is veels te oppervlakkig en simplisties om werklik reg te laat geskied aan die akademiese verdieping en verbreding wat daar die afgelope aantal jare plaasgevind het met betrekking tot hierdie tema. Dit sou eerder dui op ’n aanhaling uit een van die heel vroegste populêr godsdienstige publikasies in die laat sewentigerjare.

  • “Die mens is net te ’n komplekse wese om gereduseer te kan word tot een negatiewe ervaring.”

Met ’n stelling soos hierdie word volkome saamgestem. Dit sluit dan ook aan by die basiese vertrekpunt van die artikel as geheel (waaroor hierdie bespreking gaan), waar ’n eklektiese benadering beklemtoon word. Juis omdat die mens so ’n komplekse wese is, is daar nie slegs een pastorale metode/benadering waardeur alle probleme hanteer kan word nie. Die benadering van  innerlike genesingword gevolglik as een van vyf perspektiewe voorgehou wat die begeleier/terapeut in gedagte kan hou afhangende die situasie – en dan word hierdie vyf perspektiewe ook weer nie verabsoluterend voorgehou nie.

  • “Aan die ander kant is dit algemeen bekend dat ons geheue nie altyd betroubaar is nie en dat dit nie so eenvoudig is om iets uit die onderbewuste op te roep nie.”

 Ek stem weer eens volkome saam, en diegene wat hulself ingewerk het op die akademiese agtergrond van ’n tema soos innerlike genesingasook aanverwante terreine sou hulself ook op hoogte moes bring van al die moontlike slaggate op ’n roete soos hierdie (soos onder andere beklemtoon in die literatuur met betrekking tot die hele debat rondom die sogenaamde false memory syndrome, ens). Omdat daar slaggate is wat vermy moet word, is die implikasie egter nie dat dit wat wel bruikbaar is, nie benut kan word nie.

Ten opsigte van bovermelde stelling (naamlik dat dit nie so eenvoudig is om iets uit die onderbewuste op te roep nie) sou ek ook wil byvoeg dat die akademiese groei en ontwikkeling wat plaasgevind het met betrekking tot ’n tema soos innerlike genesinguiteindelik tot gevolg het dat dit inderdaad gaan om ’n veel meer ingrypende en omvattende benadering as bloot die herroeping van herinneringe vanuit die onderbewuste. Laasgenoemde klink weer eens na ’n simplistiese definiëring vanuit die vroeë sewentigerjare, en vir diegene wat ingewerk is op hierdie tema, sou so ’n bewoording nie meer aanvaarbaar wees as ’n geldige beskrywing en samevatting van die kern van hierdie benadering nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top