Onderhoudend: Susan Smith

  • 2


LitNet Akademies stel vrae aan Susan Smith oor haar artikel in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe): Ekokritiek en die nuwe materialisme: ’n Ondersoek na die nuwe materialisme in enkele gedigte van Johann Lodewyk Marais uit die bundel In die bloute (2012).



In die jou onlangse LitNet Akademies-artikel skryf jy onder andere dat daar die afgelope tyd wêreldwyd groot belangstelling heers oor die nuwe materialisme en die objekgeoriënteerde ontologie. Kan jy kortliks sê waaroor hierdie teorieë gaan?

Die nuwe materialisme en objekgeoriënteerde ontologie (Object Oriented Ontology, of OOO) kan gesamentlik gesien word as verteenwoordigend van ’n opwindende nuwe terrein van ondersoek wat as gevolg van die multidissiplinêre aard daarvan oor ’n breë spektrum van dissiplines en navorsingsterreine ’n rol speel, onder andere dan ook die literatuur, waar dit heelwat gemeen het met die ekokritiek. Beide teorieë plaas materie (as objek) sentraal.

Die nuwe materialisme fokus op materie, wat tradisioneel gesien word as ’n fisiese substansie wat gewig het en ruimte beslaan. Binne die teoretiese raamwerk van die nuwe materialisme word materie egter gesien as ’n meervlakkige konsep: dit is die materialiteit van beide die menslike liggaam en die natuurlike wêreld. Die ekokritikus Serenella Iovino (2012:135) sê materie is die substansie van alle dinge en materiële formasies – menslike en niemenslike liggame, lewende en nielewende dinge – is onderskeibaar van die gees, die intellek en die bewussyn. Daar word van die veronderstelling uitgegaan dat die wêreld en alles wat daarin is, aktief en dinamies tot mekaar bydra en mekaar onderling beïnvloed.

Waar die nuwe materialisme veral op die vitaliteit en aktiewe, deelnemende krag van materie fokus, wil die OOO van onder andere die ekofilosoof Timothy Morton die klem lê op die ommekeer van bepaalde rolle en posisies, spesifiek die rolle van subjek en objek. Hierdeur verkry die objek ’n sentrale posisie en word die stel van die mens se bestaan bó die van niemenslike objekte verwerp. Dit staan antroposentrisme teen en wil objekte sien as onafhanklik van menslike persepsie, onbegrens deur menslike toekenning van betekenis. OOO neem ’n baie spesifieke standpunt in ten opsigte van die natuur en die gelykheid van objekverhoudings.

Dit is natuurlik opwindend om betrokke te raak by ’n literatuurteoretiese beweging wat so onlangs soos 2010 tot stand gekom het – dit beteken dat ons op literatuurteoretiese terrein in voeling is met wêreldwye tendense. Wat nog belangriker is, is dat die klem, sover my navorsing strek, internasionaal grootliks op teoretisering val en betreklik min teksontleding tot op hede plaasgevind het, ’n aspek waaraan ek in my navorsing probeer aandag skenk.

Hoekom is die nuwe materialisme belangrik vir letterkunde en in die besonder vir die ekokritiek en ekopoësie?

Daar bestaan wêreldwyd ’n toenemende sensitiwiteit vir die omgewing, aangevuur deur waarskuwings oor die mens se invloed op ons planeet en sy hulpbronne en die reeds onomkeerbare vlakke van aardverwarming. Die nuwe materialisme ondersteun ’n siening van die werklikheid wat minder antroposentries en meer ekosentries is, waardeur die niemenslike dinge van die wêreld wat ons omring, op die voorgrond gestel word.

Die probleem bestaan egter, volgens Morton, dat die mens die natuursien as iets “buite” die mens, verwyderd van die mens en sy daaglikse lewe. As ons die natuur beskou as ’n plek waarheen ons ontsnap iewers ver van hier, waarheen ons gaan om te ontspan en wat ons bewonder weens die skoonheid daarvan, vind ’n verromantisering van die natuur plaas, wat tot afstandelikheid en objektivering lei. Geen emotiewe band, kontinuïteit van plek of kollektiewe identiteitskepping met die natuur word tot stand gebring nie. Morton wys op die teendeel: ons leef bínnedie objek; ons is déél van die objek; ons ísdie objek. “Ecology is profoundly about coexistence. Existence is always coexistence. No man is an island,” sê Morton (2010:4).

Die nuwe materialisme en OOO as teoretiese raamwerke beïnvloed die wyse waarop ons die omringende werklikheid ervaar, wat uiteindelik weerspieël word in die wyse waarop ons na literêre tekste kyk, maar veral ook hoe literêre tekste tot stand kom en wat hulle wil oordra. Morton sê dat ekomimesis bo alles ’n praktyk van jukstaponering is (Morton 2007:143).

In jou artikel maak jy melding van “die materiële draai”. Wat word daarmee bedoel? Kan taal en materialiteit (en taal en natuur) dan gesien word as teenoorgesteldes van mekaar?

Die afgelope aantal dekades het wêreldwyd ’n bloeitydperk meegebring vir kultuur- en literatuurteorieë wat gefokus het op die linguistiese wese van alle dinge – derhalwe die term linguistic turn. Toonaangewende teoretici van die postmodernisme, die poststrukturalisme en die dekonstruktivisme, soos Derrida, Lacan, Foucault en Kristeva, se sieninge lei tot ’n skeiding tussen teorie en materie en tussen liggaam en denke deur die vooropstelling van diskursiewe en linguistiese fundamentalisme waardeur alles – mens, werklikheid en teks – vertekstualiseer word. Derrida sê immers: alle is teks, in die sin dat alles na iets anders verwys. In teenstelling met die linguistiese draai word daar tans gepraat vandie materiële draai,waardeur abstrakte vertekstualisering aangevul en selfs vervang word met ’n herontdekking en herontginning van die materialiteit van die omringende werklikheid en van literêre teorieë.

Die ekokritiek wil graag daarop aandring dat aandag gegee moet word nie net aan die wyse waarop dinge betekenis vir ons het nie, maar veral ook aan hoe die res van die niemenslike wêreld om ons bestaan, ongeag ons en ons menslike taal, ongeag ons sisteme van betekenisvorming en betekenistoekenning.

Die materiële draai verteenwoordig ’n swaai in die teoretiese pendulum, wat hopelik tot ’n groter balans in literatuurteorie en kritiek en tot nuwe perspektiewe sal lei.

Ongelukkig het die linguistiese draai juis die siening van ’n binêre opposisie versterk.

Gary Snyder (A Place in Space, 1995:173) sê byvoorbeeld:

Language has been popularly described […] as that by which humans bring order to the “chaos of the world”. In this view, human intelligence flowers through the supposedly unique faculty of language, and with it imposes a net of categories to an untidy universe.

Die natuur, as “wild” en “chaoties” en “onvoorspelbaar”, is ’n konsep wat steeds mense se denke kleur. Hiervolgens word daar aangeneem dat hoe meer objektief en rasioneel die taal is, hoe akkurater is hierdie ordeningsaksie waaraan die wêreld volgens hierdie siening onderwerp behoort te word. Die wêreld, wat inherent volgens sy eie dikwels onpeilbare en ondeurgrondelike reëls (wat inderdaad chaoties voorkom) georden is, is egter so kompleks en oneindig op beide mikro- en makroskale dat dit altyd onvoorspelbaar bly. Ons denke oor die natuur behoort nie beperk te word tot strategieë wat op verskillende wêreldsienings gebaseer is nie. Die middelgrond moet gevind word, die teenstelling tussen natuur en kultuur moet deur die fokus op materialiteit opgehef word: dit is volgens Diana Relke in die sogenaamde “overlap zone” (Relke 1999:322), waar die sfeer van die organiese en die sfeer van die simboliese oorvleuel, waar digters beweeg.

Watter rol kan poësie speel? Het letterkunde hoegenaamd ’n rol te speel?

Hierdie vraag herinner my aan die titel van John Felstiner se boek, Can poetry save the earth? Daarin maak hy die volgende stelling: “Along with everything else they deal in – memory, desire, joy, fear – poems live on the sensory shock of things” (Felstiner 2009:20).

Die boom, die klip, die wolk is materiële objekte wat ons wéér laat kyk, wat ons núút laat kyk. Gedigte laat ons stop, kyk, luister, voel. Die taal van gedigte, in hul bondigheid en digtheid en selfreferensialiteit, dwing ons om aandag te gee aan die ewig-bewegende atmosfeer en plek om ons.

Miskien kan die gedig nie die planeet red nie, maar as dit die hart en die verstand van elke mens wat dit lees, aanraak, is dit ’n eerste tree. Om mense en hul denke om te keer en in beweging te bring, maak reeds die verskil: dit het die potensiaal om die begin van ’n groen revolusie wees.

Jou ontleding van gedigte in die bundel In die bloute van Johann Lodewyk Marais benader die gedigte vanuit ’n nuwe perspektief. In watter mate kan daar gesê word dat die digter of die leser die “stem” van die niemateriële ding word, en is dit ’n wetenskaplik geoorloofde praktyk?

’n Belangrike vraag wat ’n mens jou behoort af te vra, is op watter gronde menslike eienskappe aan niemenslike en nielewende materie toegeken kan word. Die geskiedenis wys dat digters reeds sedert die vroegste tye die poëtiese vryheid gebruik het om die funksies van subjek en objek om te ruil. Teen die agtergrond van die onlangse klem op omgewingsgerigte wetenskappe en die hernude beklemtoning in literatuurteorie van die verwantskap tussen poeisis (om te maak), en ekopoeisis (om ’n huis te maak) (Skinner 2001:5), word alle materie, menslik en niemenslik, gesien as onvoltooid en in ’n durende verhouding met mekaar; aan die verander. Hierdie verhouding werk op allerlei vlakke, wat die grense van taal om die verhouding uit te druk, insluit.

Alreeds in 1973 skryf Peter Tompkins en Christopher Bird in hul opspraakwekkende werk The Secret Life of Plants dat daar wetenskaplike bewyse is dat plante voelende, ervarende wesens is, ten spyte daarvan dat hulle nie oor senustelsels beskik nie (1973:4). Dit is ’n werk wat wel wetenskaplik wyd bevraagteken is, maar sedertdien kultuurstatus bereik het. Onlangs het woudekoloog Suzanne Simard (Pollen 2013) van die Universiteit van Brits-Columbia wêreldwyd opslae gemaak met haar navorsing wat onteenseglik dui op die kommunikasiesisteme van bome en die wyse waarop ’n moederboom op intelligente wyse na die jonger bome omsien. Die groeiende belangstelling in die moontlike ooreenkomste tussen neuro- en fitobiologie word ondersoek, byvoorbeeld dat plante in staat is tot herkenning, kommunikasie, informasieprosesse, leer en herinnering. Daar is dus ’n nuwe bewussyn vir opkomende ontologieë wat die dinamiese, sintuiglike en buite-die-objek-aksies van nielewende en niemenslike dinge ondersoek, belewenisse en waarnemings wat weerklank vind in die literatuur.

Jy is besig om op sistematiese wyse die landskap van die ekokritiek, en veral ekopoësie, in die Afrikaanse letterkunde te verken. Het jou navorsing en die publikasie daarvan ’n bepaalde invloed op die rigting wat ingeslaan word met literatuurteorie en kritiek in Afrikaans? Hoe sien jy jou rol as navorser?

In ’n vorige gesprek met Elzette Steenkamp hier op SeminaarKamer is reeds daarvan melding gemaak dat ek lid is van ’n klein (my kursivering) groepie “groen” Suid-Afrikaanse akademici wat hul op omgewingskritiek toespits. Ek wil graag glo dat nie net akademici nie, maar ook, en veral, digters en skrywers self algaande besig is om onder die besef te kom van die belangrikheid en noodsaak van ’n vernuwende manier van kyk na die omringende werklikheid, en daarmee saam die letterkunde.

Die literêre huis het baie wonings, soos LitNet self sê. Daar is die hoofvertrekke met imposante meublement en asemrowende dekor, maar die kombuis en spens en selfs die besemkas moet ook daar wees. Elke skrywer- en digterstem het ’n plek wat nét hy of sy kan vul. Ons literêre woning is ook ’n geduldige tuiskomplek vir wyd uiteenlopende sienswyses, teorieë en werkswyses – wat uiters verrykend is. So glo ek dat die ekokritiek ’n blyplek onder hierdie dak het, dat dit sal groei en heelwat vernuwing sal bring. Die tekens van hierdie vernuwing lees ek in die nuwe bundels wat onlangs die lig gesien het, soos Hennie Nortjé se In die skadu’s van soveel bome, die debuut van Adriaan Coetzee, Gordel, waarin nuwe digters hulself besig hou met ’n blik op die omgewing, of die wye belangstelling wat die gedigkompetisie vir plekgedigte op Versindaba nou onlangs geniet het.

Ons letterkunde het egter nog áltyd met en oor die omgewing en wat daarin is, gepraat – Leipoldt, Eugène Marais, Boerneef, Cussons, Van Wyk Louw, Opperman, TT Cloete, Stockenström, Krog, Breytenbach – om maar enkeles te noem. Daar is ’n ongelooflik ryk skat wat op ontginning wag. Johann Lodewyk Marais is waarskynlik die naam wat met ’n deurlopende ekotema verbind word, terwyl die werk van onlangse digters, soos Martjie Bosman en René Bohnen, om maar twee te noem, hierby aansluiting vind. Daar is nog soveel wat ondersoek kan word, byvoorbeeld die landskap en arbeiders/arbeid; die transliggaamlikheid van plek; liggaamlike herinneringe van landskap en plek; die rol van wetenskap in die nuwe materiële benadering tot die poësie en prosa; posthumanisme en die veranderde blik op die mens; materialiteit en kultuurpraktyke.

Oor die invloed van my navorsing en my rol in dié verband is ek huiwerig om my uit te laat. Die tyd sal leer of hierdie insette gelees is, of daaroor nagedink is, of aspekte daarvan hul pad na gedigte gevind het, of dit rigtinggewend of selfs rigtingveranderend sal wees in die groter prentjie van die Afrikaanse literêre kritiek en of ekokritiek en ekopoësie dalk uiteindelik ’n ruim voorkamer in die literêre woning sal beklee.

 


Bibliografie

Bennet, J. 2010. Vibrant Matter. A political ecology of things. Londen: Duke University Press.

Felstiner, J. 2009. Can poetry save the earth? A field guide to nature poems. Yale: Yale University Press.

Iovino, S. 2012. Steps to a material ecocriticism. The recent literature about the “new materialism” and its implications for ecocritical theory. Ecozon@, 3(1):134–45.

Morton, T. 2007. Ecology without Nature. Cambridge: Harvard University Press.

—. 2010. The Ecological Thought. Cambridge: Harvard University Press.

Relke, D. 1999. Greenwor(l)ds. Calgary: University of Calgary Press.

Snyder, G. 1995. A Place in Space. Berkeley: Counterpoint.

  • 2

Kommentaar

  • Johann de Lange

    Felstiner se boek is 'n wonderlike leeservaring. Dit is permanent op my bedkassie. Op YouTube het ek onlangs 'n hele reeks boeiende dokumentêre programme oor die gedrag van plante gekyk. Darwin het destyds al opgemerk dat groei nie die enigste aktiwiteit is van plante nie. 

  • Dankie vir die positiewe kommentaar, Johann. Ek stem saam oor Felstiner. Ek hou van sy idee dat die digter die omringende wêreld  opnuut benoem/van naam te voorsien en daardeur as't ware deelneem aan die eerste skeppingsaksie en die daaropvolgende benoemingsaksie van Adam. Om vir 'n oomblik te begryp, te noem, terselfdertyd onbegrip toe te gee. Dit bly steeds die rol van die digter.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top