Onderhoudend: Roela Hattingh

  • 0


Chris van der Merwe stel vrae aan Roela Hattingh oor haar en Henning Pieterse se artikel in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe): Bokskiet, bokspring en bokjol: skuld- en vergifnisrituele in 30 nagte in Amsterdam (Etienne van Heerden).



Vrae na aanleiding van Hattingh en Pieterse se artikel: “Bokskiet, bokspring en bokjol: skuld- en vergifnisrituele in 30 nagte in Amsterdam (Etienne van Heerden)”

Dankie aan Chris van der Merwe vir die aandagtige lees van ons artikel en die besonder uitdagende vrae.

Julle het uitgebreide navorsing gedoen oor kultuurfilosowe en teoloë se beskouings oor skuld, vergifnis en rituele. Wat is julle siening van die idee dat die letterkunde outonoom is en dat die estetiese element die fokus van literatuurstudie behoort te wees? Wat dink julle van die moontlikheid van interdissiplinêre navorsing oor die letterkunde?

Die formalistiese idee dat letterkunde outonoom is, maak my uiters ongemaklik. ’n Letterkundige werk is eerder ’n interteks en kan nie verabsoluteer word nie. Dit is ’n konstruk, ’n verteenwoordiging van ’n sosiale realiteit in ’n taal wat op sigself ontwikkel het om mag uit te oefen. 30 nagte in Amsterdam is hoeka ’n “storie” wat wys hoe taal gebruik kan word om te onderdruk en te bevry. Net soos die raamwerk wat ek gebruik om die teks te lees en verstaan, ’n konstruk is, is my lesing van die teks ook gekonstrueer en word dit beïnvloed deur onder andere my “wit bevoorregting”.

My antwoord op die tweede gedeelte van die vraag is ’n teenvraag: Hoe kan navorsing oor letterkunde nié interdissiplinêr van aard wees nie?

Julle het ’n treffende aanhaling van Minow in julle artikel ingesluit: “Works of fiction emerge as imaginative spaces that introduce irony and ambivalence as much as judgement and catharsis; artistic works convey the limits of expression but also open up unrealised possibilities.” Wil julle uitbrei oor die verbinding van ambivalensie en katarsis in fiksietekste? Is die katarsis alleen van toepassing op die karakters in ’n roman, of is dit ook relevant vir die leser (en die skrywer)?

Indien die teks en die lees daarvan jou toelaat om “jouself te verloor” – dis natuurlik nie so maklik nie, omdat die postmodernisme en post-postmodernisme jou die heeltyd terugruk na die werklikheid dat dit ’n teks is, geskep deur ’n skrywer, in ’n spesifieke konteks en spesifieke taal – kan daar ’n vorm van katarsis vir lesers wees. My ondervinding as skrywer is dat daar wel ’n vorm van katarsis is wanneer ek fiksie skryf, heel waarskynlik omdat die omgang met die narratiewe alternatiewe moontlikhede skep. Die prosesse is deurentyd ambivalent.

Julle skryf dat vergifnis alleen in die private sfeer kan geskied, en tog maak julle ook melding van die aanwesigheid van kollektiewe skuld. Hoe sien julle die verband tussen private en kollektiewe skuld, en die bevryding van beide vorme van skuld deur vergifnis?

Die fokus van die artikel was hoe vergifnis as tema in ’n fiktiewe, kreatiewe werk manifesteer deur die gebruik van ritueel. Ek wil nie in die slaggat trap om vergifnis binne die werklikheid buite kreatiewe werk te bespreek nie, maar uit my eie ervaring sou ek saamstem met Hannah Arendt dat kollektiewe skuld nooit vergewe kan word nie. Vergifnis werk net in die private sfeer. Nogtans is daar ’n verbinding tussen private vergifnis en kollektiewe skuld, omdat die persoonlike tog ook altyd polities is.

Julle noem dat Zan/Xan se seksuele omgang met die studente as ’n vergifnisritueel beskou kan word; aan die ander kant neem Henk aan seksuele aktiwiteite deel (met ’n Chinese meisie en ’n prostituut in Amsterdam) wat geen bevryding bring nie. Wanneer werk seksuele omgang in die roman bevrydend, en wanneer nie?

Daar is werklikwaar nie slegs een antwoord op hierdie vraag nie, omdat die gedagte van binêre opposisies juis in en deur die roman uitgevee word. Dis nooit nét skuld of nét vergifnis nie. Die twee konstrukte/prosesse is in elk geval nie teenoorgesteldes van mekaar nie.

Die seksuele omgang wat Zan/Xan met die polisieman het (hoofstuk 44), toon hierdie meervlakkigheid duidelik aan. Dit is beide bindend en bevrydend. “Dis ’n arrestasie, hy slaan haar in die boeie van haar eie hartstog. Dis iets wat sy lankal gevrees het, om deur die polisie gegryp te word, maar nou dat sy dit waarmaak hier op die krakende bed in die kamertjie wat stink na soet vlieëgif en klapperhaar, is dit ’n tuiskoms in die arms van die suikerbossies” (264). “Die volgende môre, douvoordag laat sy geld op die bedtafeltjie onder ’n wasbak agter, te veel note; ’n afkoopbedrag aan die dorp, ’n boete wat betaal is” (365).

In die slot van die artikel noem julle dat die metodes wat Henk gebruik om sy skuld te verdring, as skuldrituele gesien kan word. Kan daar van rituele gepraat word wanneer Henk sy skuldgevoelens onderdruk? Word ’n ritueel nie juis gekenmerk deur die openbaarmaking van dit wat verdring was nie?

Daar is verskillende soorte en vlakke (en lesings) van rituele. Henk se “ritualistiese oopmaak van die beursies” (210) in sy hotelkamer gee “’n glimp op ’n lewe” (210). Dit dui op sy aard om te liasseer, te dokumenteer en te organiseer. Nie alle rituele word dus gekenmerk deur die openbaarmaking van dit wat verdring was nie.

Ek sou graag Chris van der Merwe se antwoorde op sy eie vrae wou hoor.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top