Onderhoudend: Ria Smit gesels met Cara Kleynhans

  • 0


Ria Smit stel vrae aan Cara Kleynhans oor haar artikel in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe): Die Suid-Afrikaanse konsertpianis Steven DeGroote, die 1977 Van Cliburn Internasionale Klavierkompetisie en die Koue Oorlog.



Cara, ek wil begin met ’n “tegniese” vraag oor die navorsingsmetode wat jy gebruik in jou artikel in LitNet Akademies oor Steven DeGroote en ook vantevore in artikels oor die Chinese pianis Lang Lang. Daar word gewoonlik van ’n akademiese artikel verwag om duidelik te maak watter navorsingsmetode gebruik is. Die “lewensgeskiedenistegniek” (life history methodology), soos wat deur Babbie en Mouton uiteengesit word in hulle boek The Practice of Social Research, bied interessante moontlikhede aan musiekwetenskaplikes; tog vind ’n mens dat min van hulle daarvan gebruik maak. Kan jy my meer van hierdie navorsingsmetode vertel en wat die voordele daarvan is in musiekwetenskap en in die geesteswetenskappe in die algemeen?

In my vorige artikels oor Lang Lang (Die Chinese virtuoos-pianis Lang Lang en sy model Vladimir Horowitz, die “Laaste Romantikus”; Die pianis as vertoonkunstenaar: Die Chinese virtuoos-pianis Lang Lang se populêre sukses) het ek wel van die lewensgeskiedenistegniek gebruik gemaak. In my onlangse artikel oor Steven DeGroote se deelname aan die Van Cliburn-kompetisie val die navorsingsontwerp eerder in die veld van historiese ontleding. Daar is vele boeke geskryf oor elk van hierdie navorsingsbenaderings en om jou vraag behoorlik te beantwoord sal te lank neem. Ek gaan daarom slegs verwys na die voordele wat my laat besluit het om elk van hierdie metodes te gebruik, of nie.

Met die gebruik van die lewensgeskiedenistegniek fokus die navorser meer op persoonlike insette deur die persoon (of persone) wat bestudeer word. ’n Groot deel van die versamelde data bestaan uit onderhoude met die persoon, briewe geskryf deur hierdie persoon, en ook outobiografieë. Die uitgangspunt is om ’n dieper insig in die studieonderwerp se subjektiewe ervaring van sy of haar sosiale en historiese omgewing te verkry. Verder word die spanning wat gewoonlik tussen die persoon se verwagtinge en sieninge teenoor dié van ander rolspelers in sy sosiale en historiese omgewing ontstaan, verken. Hierteenoor kan historiese ontleding fokus op die beskrywing van een of meer historiese gebeurtenisse of historiese figure, met of sonder die gebruik van ’n chronologiese tydlyn as basis vir die studie. Die klem is gewoonlik op die identifisering van oorsake en gevolge van historiese gebeure op sigself of in ’n persoon se lewe. Die oorsaak van konflik kan weer eens gesetel wees in die studieonderwerp, een of meer rolspelers in sy sosiale/historiese situasie of selfs sosiale gebruike en/of historiese gebeure. Die verskil tussen historiese ontleding en die lewensgeskiedenistegniek is eenvoudig, maar fundamenteel: historiese ontleding fokus nie op die subjektiewe werklikheid van enige individu nie, maar eerder op die verkryging van ’n objektiewe blik op historiese aangeleenthede.

Aangesien ek nie toegang gehad het tot dieselfde aantal onderhoude met DeGroote as waartoe ek in my studie oor Lang Lang gehad het nie, het ek eerder besluit om van historiese ontleding in my onlangse studie gebruik te maak. Die data wat ek versamel het, het dikwels verwysings na Lavan Cliburn se Koue Oorlog-oorwinning en ook na die daaropvolgende Van Cliburn-deelnemers se nasionaliteite bevat. Ek het gevolglik besluit om die Koue Oorlog as konteks vir hierdie studie te gebruik.

Daar is min artikels in Afrikaans wat die lewensloop en -geskiedenis van pianiste diepgaande bestudeer op die manier waarop jy dit doen. Wat motiveer jou om hierdie soort studie te doen: wat is vir jou interessant daaromtrent en wat voel jy kan jy en ons almal daardeur leer?

Ek het reeds op die ouderdom van nege geweet dat ek my lewe in musiek wou maak. Ek het my voorgraadse en nagraadse studies met klavieruitvoering as die hoofkomponent daarvan voltooi. Ek het steeds ’n daaglikse oefenprogram en tree dikwels op. Gevolglik is daar vir my niks meer interessant en bevredigend as om oor bekende pianiste te lees en na hul opnames te luister nie. Ek kyk graag video-opnames van klavieroptredes en hou die pianiste baie fyn dop vir wenke oor elk se besondere klaviertegniek. Ek is verder baie lief vir die wonderlike en uitgebreide klavierrepertorium tot ons beskikking en het ’n ellelange wenslysie van die werke wat ek nog wil aanleer. Dit was onvermydelik dat ek op die ou einde oor pianiste sou skryf.

Die saadjie vir my studie oor Steven DeGroote is geplant tydens ’n repertoriumstudielesing wat ek as ’n derdejaar-BMus-student bygewoon het. Die dosent het ’n CD van Schubert se Impromptus vertolk deur Steven DeGroote vir ons voor te speel. Ek was gefassineer deur die gehalte van sy spel en ek was verbaas deur die feit dat ek nog nie voorheen van hierdie Suid-Afrikaanse pianis gehoor het nie. Ek het die min inligting wat ek oor DeGroote kon bekom, gelees en besluit dat ek graag navorsing oor hom sou wou doen.

Ek het al jare lank ’n kopie van Harold C Schonberg se The Great Pianists, waarin hy die ontstaan en verloop van die Westerse kunsmusiek se klaviertradisie van Mozart se tyd tot onlangs beskryf. Die grootste gedeelte van die boek is egter gewy aan die Romantiek. Verder word daar slegs in die laaste hoofstuk vlugtig verwys na moderne pianiste soos Vladimir Ashkenazy, Maurizio Pollini en ander. Ek het kort voor my doktorsgraad weer deur Schonberg se boek geblaai en skielik gewonder oor waar ons pianiste vandag inpas in hierdie tradisie. Aangesien Lang Lang algemeen as die toekoms van klassieke musiek bestempel word, het ek gevoel dat om Lang Lang as ’n moontlike postmoderne pianis van naderby te beskou ’n interessante studie sou wees.

’n Fassinerende aspek van die artikels wat jy skryf, is dat jy van soveel verskillende tipes bronne gebruik maak om jou inligting te bekom. Benewens boeke, akademiese tydskrifartikels en koerantartikels maak jy ruim gebruik van resensies, onderhoude, dokumentêre programme, argiefmateriaal en persoonlike korrespondensie. Jy het selfs Steven DeGroote se persoonlike plakboek onder oë gehad om baie van bogenoemde inligting te bekom. Kan jy iets meer vertel omtrent jou proses van data-insameling?

Ek is verras dat jy beïndruk is met die uiteenlopendheid van die bronne wat ek gebruik – gewoonlik moet ek die oorsprong van my data baie deeglik regverdig. Ek kry my bronne by die gewone plekke: databasisse, argiewe, boeke, koerante, ens. Ek spandeer wel baie tyd aan die versameling van data.

Die interessante gegewens rondom die ontstaan van die Van Cliburn-kompetisie en al die drama agter die skerms tydens die 1977-kompetisie, met vermoedens van persoonlike vooroordeel by van die beoordelaars (ten spyte van die enorme paneel), klink omtrent na opwindende stof vir ’n spanningsverhaal! Die persoonlike wedywering tussen groot musiekdosente/-meesters is natuurlik ’n bekende verskynsel onder musici, maar Zemliansky bring homself om die lewe – was dit omdat hy verneder is as Toradze se dosent? Die Russiese owerheid skryf byvoorbeeld voor die tyd aan Toradze (deelnemer) voor om sy verhouding met Petrov (beoordelaar) te verbeter om sy kanse om die kompetisie te wen, te verbeter. Dis duidelik dat die Russe die klavierkompetisie ook as “wapen” in die Koue Oorlog gebruik. Dra jy enige kennis daarvan dat daar vandag nog ook dié soort dramatiese geskarrel agter die skerms plaasvind by internasionale musiekkompetisies?

Daar is geen manier om te bepaal wat werklik die oorsaak van Zemliansky se dood was nie. Dit is beslis nie die enigste geval waar iemand kort na so ’n ondervraging deur die Russiese owerhede oorlede is nie: Alexander Toradze se vader het onder soortgelyke omstandighede gesterf nadat Toradze ook in Amerika asiel ontvang het (sy vader was egter die slagoffer van ’n hartaanval).

Om te sê dat politiek nooit ’n rol in kompetisies speel nie is naïef, maar om te sê dat politiek altyd teenwoordig is, kan weer eens nie geregverdig word nie. Ek dink dat die uitermatige teenwoordigheid daarvan in die Van Cliburn-kompetisies deur die jare heen die gevolg is van ’n unieke historiese gebeurtenis, naamlik dat Lavan Cliburn daarin kon slaag om die eerste Tsjaikofski-kompetisie in Rusland te wen gedurende die hoogtepunt van die Koue Oorlog.

In jou artikel bespreek jy die siening van sommige resensente dat Steven DeGroote slegs as kompromis aangewys is, omdat die beoordelaars nie tot ’n vergelyk kon kom oor die Russiese deelnemer Toradze nie. Sommige resensente het die aantygings as wanvoorstellings afgemaak en daar was dus selfs na die tyd baie drama rondom DeGroote se oorwinning. Die feit dat hy ’n Suid-Afrikaner was, het ook veroorsaak dat hy op die Verenigde Nasies se swartlys geplaas is omdat hy in Suid-Afrika opgetree het. Al die politiek en negatiewe publikasie sou dus ’n demper kon geplaas het op sy loopbaan en op sy persoonlike positiewe ingesteldheid. Maar jy kom tot die gevolgtrekking dat dit nie gebeur het nie. Kan jy bietjie meer daaroor uitwei?

Ek dink dat jy my slot dalk te vinnig gelees het. Ek het nie tot die gevolgtrekking gekom dat DeGroote se Suid-Afrikanerskap in die apartheidsera geen invloed op sy loopbaan gehad het nie. Ek het tot die slotsom gekom dat Koue Oorlog-agendas nie ’n invloed op sy Van Cliburn-oorwinning gehad het nie.

Ek het slegs terloops aan die einde van my skryfstuk voorvalle genoem waar DeGroote in die jare ná sy Van Cliburn-oorwinning geleenthede ontneem was vanweë sy Suid-Afrikanerskap en dat dit “onmoontlik [is] om te bepaal in watter mate hierdie negatiwiteit teenoor Suid-Afrika en sy burgers in die buiteland as gevolg van die apartheidsera ’n invloed op die ontwikkeling van DeGroote se loopbaan gehad het”.

Hoe kan die invloed van sodanige politiek gemeet word? Hoe sal ons weet of DeGroote se aantal konserte skielik van 50 tot 150 per jaar sou vermeerder het as hy nie in die apartheidsera geleef het nie? Ek het wel vir sy konsertagentskap (wat vandag nog bestaan) geskryf om toegang tot die korrespondensie aangaande sy loopbaan te verkry; alles is egter al jare gelede vernietig. Daar is dus geen wyse waarop die invloed van sy Suid-Afrikanerskap op die ontwikkeling van sy loopbaan bepaal kan word nie.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top