Onderhoudend: Dirk van der Merwe

  • 0


Christo Lombaard stel vrae aan Dirk van der Merwe oor sy artikel in LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe): Eenheid as matriks van die spiritualiteit van die Evangelie volgens Johannes.


 

Om oor eietydse spiritualiteit te skryf, is al moeilik genoeg. Is dit hoegenaamd metodologies moontlik om antieke spiritualiteit, soos byvoorbeeld verwoord in ’n Nuwe-Testamentiese teks, te beskryf?

Die moderne leser (ondersoeker) kan nooit regtig daarop aanspraak maak dat hy/sy presies die antieke spiritualiteit van ’n teks bepaal het nie. Nie een van ons was daar nie. Tog kan ons deur behoorlike historiese, taalkundige (literêre) en teologiese ondersoeke en met die leiding van die Gees van God (sien 1 Kor 2) redelik naby die moontlike spiritualiteite van daardie tyd kom of dit aflei.

Sou dit moontlik wees om ’n antieke spiritualiteit, soos byvoorbeeld verwoord in ’n Nuwe-Testamentiese teks, bloot te lê, sal dit waarde hê om dit gewoon as ’n antieke gegewe te probeer verwoord? (’n Vraag dus oor deskriptiewe of historiese spiritualiteitstudie.)

Hierdie vraag sluit nou aan by die eerste vraag.  Dit kan verwoord word en het waarde deurdat bepaal kan word watter beleefde geestelike ervaringe (spiritualiteite) daardie skrywers en lesers van die bonatuurlike moontlik ervaar het. Argeologiese bevinding en eeue se navorsing maak dit moontlik. Die potensiële spiritualiteite wat in ’n teks ingebed lê, word nie net deur die inhoud van ’n teks gekonstitueer nie, wel ook deur die lees en oordenking van die teks.

Sou dit moontlik wees om ’n antieke spiritualiteit, soos byvoorbeeld verwoord in ’n Nuwe-Testamentiese teks, bloot te lê, sal dit hoegenaamd moontlik wees om eietydse waarde daaruit te probeer put?  (’n Vraag dus oor dialogiese of hermeneutiese spiritualiteitstudie.)

Ja, dit kan van veel waarde wees. In die bybelse teks is daar skopiese waarhede (dws waarhede wat altyd, te alle omstandighede waar is), asook periferiese waarhede wat kultuurgebonde is (hierdie waarhede is relatief en gebonde tot die tyd waarin dit geskryf is). Die periferiese waarhede hoef nie noodwendig negeer te word nie. Die beginsels wat daarin vervat en ingebed is, kan van toepassing op vandag gemaak word. Verder het woorde pluriforme waarde (sien Ricoeur, Schneiders en Gadamer). Daarom is die Bybelse teks ook vir die hedendaagse gelowige van groot waarde.

Om eietydse waarde uit die Nuwe Testament te put, is vir die oorgrote meerderheid Christene ’n sine qua non in hulle geloofsbelewenis. Kan sulke lesers egter die Nuwe Testament hoegenaamd as krities-evaluerend jeens hulle (geloofs)lewens aanwend?

Dit is nie ’n kwessie van “kan” nie, eerder van “moet”. Bostaande antwoorde verifieer die “moet”.

Is dit vir niegodsdienstig-ingestelde mense moontlik om eietydse waarde uit die Nuwe Testament te put vir hulle lewens? (’n Vraag dus oor ateïstiese spiritualiteite.)

Vir seker, “ja”. Hulle sal net nie dieselfde vlak of intensiteit van spiritualiteit uit die lees van die Bybel kan put as die gelowige nie. In die Bybel word die wonderlikste etiese waarhede en riglyne vir dienooreenkomstige optredes aan lesers gebied.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top