Anathe Shand het in April die Zabazala-teatertoekenning vir beste aktrise ontvang vir haar rol in Vrou-alleen. Hieronder gesels Christine Truter en Anathe Shand saam-saam met Naomi Meyer oor die toneelstuk wat hulle ook saam-saam tot stand gebring het.
Vrou-alleen is ’n vertaling van die Italiaanse stuk uit 1977: Una donna (tutta) sola deur Dario Fo en Franca Rame. Waarom het hierdie stuk jou aandag getrek en is daar besluit om dit te vertaal en op te voer?
Die stuk se fyn humor en satire was oor dekades heen 'n treffer gewees, maar soos Anathe tereg sê, “Opvoerings van die Engelse vertaling het nog altyd gevoel dit kom van ver af. Daar's iets missing. Maar met die Afrikaans voel dit, dit is hier. Jy kan relate. Jy ken daai mens.”
Vertel asseblief vir ons waaroor die storie handel – en verskil die kern van die verhaal van die oorspronklike toneelstuk s’n?
Mari-Lu Williams word toegesluit in haar flat. Maar sy kla nie. Sy't alles wat sy nodig het. Haar man Stevie gee haar alles. 'n Double-door fridge, 'n Russell Hobbs slow cooker en selfs so nou en dan 'n taai klap. Haar lewensverhaal klink vir haar nuwe buurvrou baie rooskleurig, totdat Mari-Lu se secret admirer, 'n moneylender en haar lastige swaer die een na die ander hulle verskyning maak. Die chaos bereik 'n klimaks wanneer haar ex-lover boonop met 'n gebuigde spyker probeer inbreek.
Ons het so na as moontlik aan die kern van die oorspronklike probeer bly: die satire, die chaos, die wanhoop en die humor. Daar is wel vrypostig omgegaan met die plasing en party van die metafore. Mari-Lu Williams van Wellington sou byvoorbeeld nog nooit van 'n smörgåsbord gehoor het, of haar voete in 'n Katolieke kerk gesit het nie, maar sy weet vir seker van Meatrite en Metrorail.
Vuil wasgoed, vuil doeke en vuil gedagtes. Klink my die vrou wil wegkom van waar sy is. Kán sy? Behóórt sy?
Sy is so vas soos 'n sardientjie in 'n blikkie. En ja, vlug wil sy vir seker, maar sy's nie net toegesluit agter die Trellidor nie, sy's vasgevang deur 'n spul beheerbedonnerde mans en haar eie aangeleerde onvermoë. Haar enigste ontvlugting bly haar musiek, haar sin vir humor en haar fantasieë. Daarsonder raak sy “sommer lus en druk [haar] kop in die stove”.
Of sy kan ontsnap, weet ek self nie. Teen die einde van die stuk word sy tog gekonfronteer met onmoontlike opsies ...
Onlangs is PG du Plessis se Siener in die Suburbs na ’n ruimte op die Kaapse Vlakte vertaal/verplaas. Vrou-alleen is wel in Bolands vertaal – wat die vertaling in Suid-Afrikaanse konteks in ’n ander ruimte plaas as wanneer dit in algemene Afrikaans vertaal is. Waarom was dit julle keuse?
Nes die oorspronklike hoofkarakter is Meri-Lu Williams nie op haar bek geval nie. Sy is passievol, luid, uitgesproke, sarkasties, sad en snaaks. En sy het daarop aangedring om te praat soos sy praat ...
Hoe het dit gewerk om die stuk in Bolands te vertaal – en uit ’n taaloogpunt: Hoe word Bolands onderskei van Kaaps, byvoorbeeld, en is dit nódig om onderskeid te tref?
Christine het die Engelse teks, A Woman Alone, vertaal na Standaardafrikaans, waarna Anathe dit weer omgesit het in iets wat beter sou pas in die mond van Meri-Lu Williams. Soms het dinge wat goed op papier gewerk het, nie helemaal reg op die oor geval nie. Die skaafproses is toe voortgesit met improvisering tydens die repetisies.
Die oorspronklike Una donna sola is deur ’n man geskryf. Het hy dit reggekry om hom in die vel van sy vroulike hoofkarakter te verplaas?
Omdat die wêreld so bekend is met die Nobelpryswenner, dramaturg en aktivis Dario Fo, word die rol van sy vrou, Franca Rame, in die teatergeselskap wat hulle saam gestig het en die vertonings wat sy geskep het, dikwels misgekyk.

Fo se Britse vertaler word in 'n huldeblyk aan Rame in die New York Times van 30 Mei 2013 as volg aangehaal:
“[T]heir collaboration was so close, and so seamless, that in most cases even pieces credited exclusively to one or the other – including Mr Fo’s masterworks ’Mistero Buffo’ (’Comic Mystery’), ’Accidental Death of an Anarchist’ and ’We Won’t Pay! We Won’t Pay!’, along with many of Ms Rame’s feminist plays – bear the stamp of both.”
Met haar afsterwe publiseer die New York Times hierdie wonderlike, omvattende huldeblyk.

Vertel ons lesers ’n bietjie van jou en ook van Anathe Shand se onderskeie agtergronde?

Anathe Shand is 'n boorling van Wellington. Na haar studies by die Universiteit van Kaapstad werk sy met vooraanstaande regisseurs en koreograwe soos Lara Bye, Mark Hoeben, Ina Bruce en Sandra Temmingh. In 2013 vertolk sy ook die rol van Krotoa in die gelyknamige Penguin-film. Naas haar toekenning vir Beste Aktrise by die Baxter se 2015 Zabalazafees was die hoogtepunt van haar loopbaan toe sy met Forest Whitaker en Orlando Bloom op stel was vir die verfilming van City of Violence (Zulu).
Kan jy dalk vir ons lesers vertel van Zabalaza 2015 en wat die toekenningsgeleentheid vir Vrou-alleen ingehou het?
Die Baxter bied sedert 2010 jaarliks die Zabalaza-teaterfees aan om 'n platform te gee vir opkomende kunstenaars – skrywers, akteurs, regisseurs, dansers. Vanjaar was daar meer as 50 verskillende vertonings met 400 kunstenaars uit 30 verskillende dele van die land! Die fees was nie net 'n geleentheid om ons eie werk die lig te laat sien nie, maar ook 'n geleentheid om te sien wat elders in die land aan die gang is.
Die meelewing en opgewondenheid van die gehoor tydens die toekenningsaand was aansteeklik. Dit was 'n enorme verrassing en 'n groot eer toe Anathe aangewys is as Beste Aktrise. Hier is sy besig om te vier saam met Faniswa Yisa.
Wanneer kan mense weer na Vrou-alleen gaan kyk, en waar?
Ons volgende paar vertonings is by Die Bôrdienghuis by die Breytenbach Sentrum in Wellington
Donderdag 30 April 19:30 Voorskou
Donderdag 21 Mei 19:30 R80
Donderdag 11 Junie 19:30 R80
Kyk gerus op ons Facebook-blad vir inligting oor vertonings.

