Onderhoud: Siende blind deur Chanette Paul

  • 0

Siende Blind
Chanette Paul
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780799361346
Prys: R215.00
 

Klik hier en koop Siende Blind nou van Kalahari.net!

Carla van der Spuy vra vir Chanette Paul uit oor Chanette se jongste spanningsroman Siende blind.

Jy het al 38 boeke geskryf en is dus besonder produktief. Jou boeke is ook baie dik. Jy is ’n bekroonde skrywer wat al die Perskor-prys vir beste romantiese fiksie vir jou debuutroman ontvang het en is al verskeie kere benoem vir die ATKV-Prosaprys en Woordveertjies. Jo & Sue is as Lapa se Lekkerlit-boek van 2012 aangewys. Hoe maak jy die sprong van liefdesromans na spanningsromans en ’n boek soos Siende Blind wat sommer ’n hele klompie moorde insluit?

Moord en liefde het eintlik baie gemeen. Albei het ’n sterk emosionele onderbou.

Ek het aanvanklik hoofsaaklik liefdesverhale geskryf, maar my groot leesvoorkeur was nog altyd spanning. In 2007 het ek besluit om die sprong te waag en Springgety geskryf. Dit was ’n enorme en baie moeilike leerkurwe, maar ek het dit geniet om steeds ontspanningsfiksie te skryf, maar tog met heelwat meer vlees aan die been.

Springgety is opgevolg deur vier boeke wat die Gys Niemand-reeks geword het. Ek het nie bedoel om ’n reeks te skryf nie, nie eens om ’n speurder as deurlopende karakter te hê nie, maar Gys Niemand het my stories gekaap.

Dryfhout, die laaste in die reeks, wou ek egter wegbreek. Van Gys af en ook bietjie van lyke af. Moord is harde werk.

Om blaaskans te vat, wou ek teruggaan na dieselfde soort liefdesverhale wat ek voorheen geskryf het, maar ek kon dit nie regkry nie. Die Maanschijnbaai-tweeluik was die gevolg.

Die tweeluik het my kop op ’n verskeidenheid maniere oopgemaak en daarna was ek weer gereed vir moorde. Ek wou net nie weer ’n speurder hê wat telkens in my sop beland nie. Ek wou ook hê Labirint moet ’n enkelstaande boek wees. Reekse is lekker, maar lewer hulle eie probleme op.

Sommer uit die staanspoor het ek agtergekom ek skryf nou anders. Daar was nie tyd om te besluit of dit ’n goeie of ’n slegte ding was nie. Ek het net vier maande gehad om die manuskrip klaar te maak.

Die Maanschijnbaai-tweeluik het my op ’n manier ryper gemaak vir die misdaadgenre, besef ek nou. In die Gyse se geval was dit ’n kwessie van “fools rush in”. Ek was ook nog baie sterk onder die invloed van die liefdesgenres. Met Maanschijnbaai het ek weg beweeg van romanseagtigheid en kon dit toe nog tot ’n groter mate doen in Labirint en nou Siende blind. Die liefde speel nog ’n rol, maar die aanslag is meer realisties en volwasse. My hoofkarakters is ook ouer en minder vlekkeloos.

Word jy ook gefassineer deur die psige van ’n misdadiger, en hoekom is mense so lief vir misdaadboeke?

Die psige van die moordenaar boei my geweldig. Veral wanneer dit nie net iemand is wat vir ’n selfoon of motor moor nie. Ook nie iemand wat moor omdat hy op tik of ander dwelms is nie.

Ek word gefassineer deur die moordenaar wat ‘n beredeneerde moord pleeg. Ek wil weet wat daardie verskil is tussen hom en ’n ander persoon wat aan net soveel redes kan dink om te moor, en dalk net so ‘n moeilike agtergrond het, maar dit nie doen nie. Waar lê daardie fyn skeidslyn? Want ons dra almal boosheid in ons rond, maar daar is ’n membraan wat mense soos ek en jy keer, terwyl ander daardie membraan skeur.

Daar is baie redes waarom misdaadfiksie so gewild is. Een daarvan is dat ons wil verstaan waarom mense moor.

Misdaadfiksie lê tipies sowel die boosheid as die goedheid in die mens bloot. Ook die vermenging van wat goed en boos is.

Goeie misdaadfiksie bevat nie net goodies en baddies nie, maar goodies met tekortkominge en baddies met goeie eienskappe. In sulke boeke bring die skrywer balans.

Maar ek dink die belangrikste aspek van misdaadfiksie is dat dit troos. Dit laat die leser geborge voel terwyl hy lees, want hy weet heimlik die storie gaan eindig met die goeie wat oor die bose oorwin.

As leser klim jy willens en wetens op die roller coaster. Weet jou maag gaan draai en jy gaan ’n paar angswekkende oomblikke beleef. Maar jy weet ook die roller coaster gaan weer tot stilstand kom. Jy sal kan afklim. Veilig wees.

Jy vertel in die voorwoord van die boek dat jy in jou navorsing op interessanthede afgekom het, soos byvoorbeeld die blivet, en dat dit ’n ideale motief is om in die boek te gebruik. Dalk kon die woord ook ’n titel vir die boek gewees het, maar aan die ander kant impliseer “siende blind” dat die boosheid reg voor ons is, maar dat ons dit dikwels nie raaksien nie. Vandaar dalk die titel?

Blivet is ’n te volksvreemde woord vir ’n titel in hierdie genre. Aanvanklik was die titel Duiwelsvurk, die Afrikaanse vertaling wat vir blivet aangegee word. My uitgewer was heeltemal tevrede daarmee en ek het dink dis baie toepaslik. Terwyl ek nog geskryf het, verskyn daar toe ’n boek met die titel Duiwelsklip. Kort voor ek my manuskrip klaar het, verskyn daar nog ’n boek. Die titel? Duiwelsasem. Toe weet ek: dit gaan nie werk nie. Ek moes vinnig dink, want die manuskrip was al in die drukgang van publikasie.

Terwyl ek speel met idees rondom oëverblindery, kom die titel Siende blind toe by my op. Ek het dadelik geweet dis eintlik ’n baie beter titel en pas soveel lekkerder by my storie. Want dis presies wat die blivet aan die oog doen: die optiese illusie verblind jou terwyl jy dink jy kan sien.

Jy vertel dat jy heeltyd gevoel het asof jy na ’n optiese illusie kyk en nie altyd geweet het waarheen die storie jou neem nie. Jy sê ook die blivet het eers werklik vir jou tande gewys toe jy in die laaste weergawe van die manuskrip besluit het om ’n redelik onbelangrike verandering aan te bring. Met verreikende gevolge. Toe kos dit heelwat fyntrap en hoofbrekens om orde te vind in die chaos wat jy onbepland gevind het. Ek moet sê ek het ook almal behalwe die uiteindelike moordenaar van boosheid verdink en Izak de Vries het ook vir my gesê hy het teen die einde van die boek ook gewonder hoe jy uit dié een gaan kom. En wraggies, op die ou einde is alles nommerpas!

Ek het gedurende die skryf van die boek voortdurend gevoel ek tas in die duister rond. Dit was asof die storie voor my gelê het, maar agter ’n waas. Amper soos mens voel as jy swak sig het en nie jou bril op het nie.

Dis moeilik om te verduidelik hoe die skryfproses werk, en boonop verskil dit van skrywer tot skrywer. Ek beplan nie stories voor ek skryf nie – die beplanning kom so algaande en nooit meer as net ’n paar hoofstukke vooruit nie. Dis ’n moeilike manier om te skryf, maar dis ongelukkig hoe dit vir my werk.

Met Siende blind was dit ook so, maar net veel erger. Miskien juis omdat ek dié keer vooraf probeer beplan het omdat ek min tyd gehad het. Ek dink my muse wou my wys wat sy van my jammerlike poging tot beplanning dink.

Die ergste was egter toe ek, ná ek die keurverslag gekry het, besluit het om twee karakters te laat saamsmelt. Min het ek geweet dat dit die hele weefwerk van die storie sou affekteer. Later kon ek nie meer kophou nie – onder meer oor wie wat op watter tydstip geweet het of nie. Dit was ’n hele gemors.

Ek moes letterlik die hele manuskrip met ‘n fyn kam deurgaan en dele herskryf. Wat natuurlik telkens weer torring aan die weefdrade. Gelukkig het ek ’n vriendin wat aan dieselfde boekklub as ek behoort en ’n baie fyn leser is. Toe ek uiteindelik gevoel het ek het darem die weerspannige kat uiteindelik in die sak, het sy die manuskrip vir my gelees. Eers toe sy vir my sê dit lyk alles vir haar reg en logies, kon ek die finale weergawe met ’n geruster hart stuur.

Jy beskryf die blivet voor in die boek as ’n soort duiwelsvurk wat nie ontsyfer kan word nie, ’n optiese illusie en ’n onmoontlike voorwerp. Dit kom voor asof dit drie silindriese tande aan die een kant het wat dan op misterieuse wyse in twee reghoekige tande aan die ander einde omskep word. Nou ja, hier is ’n hele paar duiwelse karakters in die boek wat tog so bedrieglik skadeloos voorgekom het. Wat ’n ontnugtering! Kan die mens sy donker kant goed kamoefleer?

Ons dra maar almal maskers in verskillende omstandighede. Soms flous jy mense, soms nie. Ek dink egter die ware bose mens kan sy masker meer suksesvol en vir langer voorhou. Dis deel van sy boosheid om die illusie te skep dat hy vertrouenswaardig is, anders sou hy lankal uitgevang gewees het.

Ek het al ’n paar mense vir jare baie goed geken – of ten minste so gedink – en agterna eers agtergekom hoe hulle koppe eintlik werk. Hoe ek mislei is. En ja, ek is redelik goedgelowig, maar daar skort heelwat minder met my mensekennis as met Cara s’n. Cara word so geïsoleerd groot dat sy feitlik geen mensekennis het nie. Dit maak van haar natuurlik ’n maklike slagoffer en baie makliker om te bluf as gewone mense.

Voor in die boek haal jy vir John Donne aan met die woorde: “She knew treachery,/Rapine, deceit, and lust and ills enow/ To be a woman.” Dis wraggies jou hoofkarakter. Sy is ’n rat voor die oë gedraai wat die liefde, getrouheid en die bose kant van mense betref. (Ek is mal oor die woord sletbesmet wat die skrywer gebruik in die getroude man se avonture met die slet wat “soos ’n virus in sy bloed is”.) Moes sy nie maar meer na haar intuïsie geluister het nie, of het hierdie verhoogakteurs haar dan so verblind? ’n Navorser sê in ’n stadium vir haar: “Ek ruik vrot vis. En ek het al geleer mens waag nie kanse nie. Veral as my intuïsie se antenna aan die vibreer raak. Ek vertrou dikwels daarop. Soms maak ek my naam krater, soms red dit my.” Moet ons meer na ons intuïsie luister?

Toe ek die aanhaling raak lees, het ek net geweet dis van Cara wat Donne hier praat! Dis eintlik baie eienaardig hoe aanhalings mens vind, selfs nog voor jy weet hoe toepaslik dit vir jou storie is. Raaiselspieël, die boek wat ek pas klaar geskryf het, is nog ’n voorbeeld. Presies die regte aanhaling het in my skoot beland nog voor ek begin skryf het, en nou eers sien ek hoe presies reg dit is. Cara sou inderdaad veel beter daaraan toe gewees het as sy haar intuïsie vertrou het. Ek glo vas in intuïsie. Tog is dit moeilik om iets so onverklaarbaar, so newelagtig soos ’n gevoelentheid te vertrou as jy dit opweeg teen wat jy voor jou sien en wat jou verstand jou probeer wysmaak. In Raaiselspieël gaan dit juis oor intuïsie – eintlik oor die oortreffende trap daarvan, naamlik heldersiendheid.

In ’n stadium sê die agent vir die skrywer in die boek: “Dan praat ons sommer oor jou genreskuif na bloed en derms en moorde op eksmans.” In Siende blind is daar nie juis sprake van bloed en derms nie. Daar is moorde, maar dit raak nie gross en grafies nie. Dit gaan meer oor die mystery en hoe alles uiteindelik inmekaar steek. Met ander woorde, die dinkwerk en slinksheid agter die storie. En dit is omtrent net so angswekkend as om te lees presies hoe wreed ’n geweldsmisdadiger is en hoe hy sy slagoffers vermink. Want nou word jy vir die gek gehou oor wie jy as leser vertrou en nie vertrou nie. Jy voel soos die geval met die hoofkarakter is, ’n absolute sot om te dink die goeie ou was ’n fake. Is dit die rede hoekom jy nie grafies raak nie? Daar is misdaadskrywers wat vir jou patologiese verslae oor die stadiums van lyke se ontbinding gee!

Misdade gaan oor bloed en derms en daarom sal misdaadfiksie ook. Dis onlosmaaklik deel daarvan. Hoe mens dit aanbied, is egter ’n ander saak. Ek verstaan nie geweld nie, ek probeer dit uitpluis. Maar daar is nie veel uit te pluis aan sinnelose geweld nie. Dis veral emosionele geweld wat uitloop op fisieke geweld wat my boei. Interpersoonlike verraad pleks van lukrake keelafsny.

Miskien is ek net te veel van ’n sissie, maar ek verkies spanning wat in die subteks opbou. Dis vir my spannender as jaagtogte of die een gruwelsituasie op die ander. Nie dat ek nie aksiebelaaide spanningsroman geniet nie, maar my skryfvoorkeur lê by die subtieler spanning. Vir my lê daar sterker spanning in die idee dat jou buurman, of vriendin, of selfs jou geliefde jou uit die weg wil ruim as dat ’n sindikaat of ’n onbekende reeksmoordenaar dit wil doen. Veral omdat dit met enigeen kan gebeur – soos ons gereeld in die koerant sien. Dis die mense met wie ons elke dag in aanraking kom. Reeksmoordenaars, nié.

Vir my lê die spanning in die bedreiging van die oorlewende eerder as in die grusaamheid van die slagoffer se moord. ’n Minder gruweldadige aanslag beteken egter nie dat mens nie ’n hele klomp lyke in die proses op die lyf kan loop nie.

Alhoewel goed heeltyd moet gebeur, is my boeke karakter- en emosioneel gedrewe. Ek dink dis my signature, terwyl die meeste spanningsromans in Afrikaans die afgelope tyd eerder gaan om die harder soort misdaad, die slim speurder, die afgryslikhede van ons werklikheid in Suid-Afrika.

Die lekkerte is natuurlik dat elke skrywer sy eie soort spanningselemente benut. Dit skep verskeidenheid.

Ek het ook nogal hieroor geglimlag: “Die laaste ding waarvoor sy lus is, is om Kaapstad toe te karring en na ’n spul selfvoldane en boonop bloeddorstige skrywers te gaan luister.” Is dit hoe jy misdaadskrywers sien? En hoekom is lesers so bloeddorstig? Gee die skrywers nie maar vir die lesers waarvoor hulle vra nie?

Ek ken ’n hele paar misdaadfiksie skrywers, en glo my, hulle is ver van selfvoldaan of bloeddorstig. Nes Kevin. Elke voël sing maar soos hy gebek is. Sommige skrywers geniet die bloeddorstige sy van misdaadfiksie en doen dit besonder goed. Dis gewoonlik ook hulle leesvoorkeur. Dit hang ook van die storie self af. Sommiges leen hulle tot meer grafiese tonele as ander.

Lesers en wat hulle van die skrywer verwag, is baie belangrik. Lesers se smake verskil egter, nes skrywers se skryfstyle. Hulle leer hulle skrywers ken en het hulle voorkeure.

Ek voel ek moet sorg dat my lesers by my kry wat hulle van my verwag. Ek sal nie eerlik teenoor myself of my lesers wees as ek probeer om tendense te volg of ander soort lesers probeer tevrede stel nie.

Jy het baie gaan naslaan. Op bl 103 skryf jy: “Sy het intussen op die internet uitgevind dat die spesifieke medikasie wat Karel drink om op te hou rook se farmaseutiese naam Varenicline is, en heel bo aan die lys van die ‘Top Ten legal Drugs Linked to Violence’ is. Die moontlikheid dat die gebruik daarvan tot geweld of woedebuie lei, is 18 keer hoër as in die geval van vergelykbare medikasie. Volgens statistiek is dit egter wel die suksesvolste manier om op te hou rook. In nog ’n artikel word daarop gewys dat die medikasie wat geassosieer word met aggressiewe optrede, dikwels ’n rol speel by massamoorde. Ek haal aan: “Dis asof sy Laura se rokerstem in haar kop hoor praat; Way to go. Stop smoking, start killing.” Dus ons moet nou maar ligloop vir eksrokers? (Tong in die kies.)

Ek dink mense wat probeer ophou rook, is maar ’n beduiwelde lotjie met of sonder medikasie!

Dis wonderlik wat mens alles raakloop terwyl jy navorsing doen. Dikwels stuur dit die storie sommer in ’n gans ander rigting. Wat die rookmedikasie betref: ek het dit opgespoor terwyl ek gesoek het na maniere om een van die karakters van kant te maak.

Dis die probleem van moordstories skryf. ’n Mens moet telkens aan ander maniere dink om jou slagoffers uit die weg te ruim. Met die hedendaagse vooruitgang op forensiese gebied, sowel as tegnologie wat die hele wêreld op sy kop gekeer het, raak dit al moeiliker vir ’n skrywer om ’n moord te pleeg – by wyse van spreke – op só ’n wyse dat die moordenaar dalk daarmee kan wegkom. Jy as skrywer moet ook kan “wegkom” met die moord – ek bedoel dit moet vir die leser geloofwaardig wees. DNS en selfone is byvoorbeeld ’n skrywer se doodskoot – pun intended.
As skrywer is jy moordenaar én die een wat die moord moet kan oplos en logies verklaar. En dan moet jy nog jou hoofkarakter uit die kloue van die moordenaar probeer red ook. Ek kry soms die gevoel regte moordenaars het dit veel makliker!

Dan skryf jy oor die sogenaamde “date-rape” dwelmmiddel. Dis nogal vreesasaanjaend dat so iets so maklik bekombaar kan wees. Ook interessante info is dat sommige kossoorte en sekere medikasie nie goed saamwerk nie. Hoe op aarde het jy hierdie inligting gekry? Mens sal nooit weer op dieselfde manier na ’n eksroker, en ’n hele paar ander dinge kyk nie!

Weer eens is dit goed wat in navorsing opduik. Die internet is ’n wonderbaarlike plek en met die regte soekfrases kom jy op ongelooflike goed af. Sommiges help jou oneindig baie met die storie, ander kelder summier iets wat jy gedink het dalk kan werk. Party slaan jou stom.

Ek wil nie te veel sê oor die dwelmmiddel nie, aangesien ek dalk te veel sal verklap, maar dit was werklik vir my skrikwekkend. Ek het onthou ek het so iets êrens gelees en toe ek dieper op die saak ingaan, was dit ’n openbaring om te sien watse bose goed bekombaar is en hoe maklik dit is om dit te verkry. Ek noem in die boek baie spesifiek nie die handelsnaam van die baie algemene produk nie. Mens het geen beheer oor wie jou boeke lees nie en ek wil regtig vir niemand planne gee nie!

Jou karakter is bang om verder te lees aan ’n man op wie sy verlief is se boek, want sy weet hoeveel boeke van skrywers verklap. Kán mens baie van ’n skrywer se voorkeure en dinge waarvan hy nie hou nie en persoonlikheid aflei uit wat hy skryf? Jou hoofkarakter is nogal lief vir ’n glas wyn (hoera!), maar sy vertrou ook mense te maklik. Dalk nie sinies genoeg nie?

Dis ontstellend hoe kwesbaar die skrywer voor die fyn leser staan. In my manuskripontwikkeling het ek agtergekom hoe duidelik die mens agter die storie deurskemer. Dit het weinig te doen met outobiografiese gegewens; dit is die lewensingesteldheid wat so duidelik spreek. Veral in rou stories wat nog nie deur die meul van redigering en dies meer is nie. In sommige gevalle kan ek sien die skrywer is sagmoedig en deernisvol, in ander kan ek sien dis ’n harde kalant hierdie, maar sy etiek sit op die regte plek. Sommiges verklap versugtinge wat mens aan die huil wil sit. En dan is daar dié wat my regtig laat skrik.

Ek dink Cara verklap heelwat van my, alhoewel ons in die meeste opsigte baie van mekaar verskil. Een van die trekke wat ons deel, benewens die liefde vir wyn, is inderdaad dat ek ook mense te maklik vertrou. Ek is al baie beter – daar kom darem ’n bietjie wysheid met die ouderdom saam – maar dit is so dat ek, soos Cara, makliker raaksien wat goed is in ’n mens as wat dalk boos kan wees.

Jy klink ook soos ’n rekenaarfundi met hierdie diefstal van intellektuele eiendom en die agterbakse komplotte en manuskripte en storiemateriaal wat onverklaarbaar verdwyn. Die hele DoxBox verdwyn in die niet en die hoofkarakter se skrywersidentiteit word gesteel. Hieroor moes jy seker ook heelwat gaan naslaan, of weet jy maar net baie van rekenaars af?

O genade nee, ek is dom met rekenaars. Soos Cara, kom ek uiteraard baie goed reg met my woordverwerkingsprogram, maar die res is maar vir my duister. DoxBox is gebaseer op ’n baie nuttige program wat ek self gebruik. Ek wou nie in die hof beland nie en het die naam verander. Maar ek moes tog baie seker gaan maak of Cara se dokumente werklik kon verdwyn – en dit kon. Dieselfde geld Facebook. Ek moes gaan seker maak of mens ondanks sekuriteitsmaatreëls op ’n ander persoon se Facebook inbox kon ingaan – en ja, jy kan as jy weet hoe.

Iets waarvan daar baie min in die boek beland het, is ure se navorsing oor kuberkrakers. My mond het oopgehang. Daar is ’n hele hiërargie van krakers. Dit was egter nie nodig om veel daarvan in die boek te laat blyk nie. Ek moes egter wel seker maak dat iemand wat meer daarvan weet as wat goed is vir my, die krakerbedrywighede geloofwaardig sou vind.

Die sosiale media was ook ’n tameletjie. Eintlik nog meer, omdat daar soveel mense is wat dit gebruik en my dus makliker kan betrap as ek ’n fout maak. Ek is wel al ’n geruime tyd ’n Facebook-gebruiker en ek het ’n blog en dies meer, maar ek moes baie seker gaan maak oor baie dinge, selfs daarrondom. Veral Twitter is nou nog vir my ’n doolhof. Soos die Engelse sê, “I don’t get it.” Wat ek ook nie “get” nie, is die geweldige venyn, veral in kommentare onder aan artikels en dies meer op die web. Dis asof mense van agter skuilname elke druppel gif die heelal in spoeg.

Dis die ding van internet. Jy kan jou voordoen as die wonderlikste mens op twee bene – dit doen jy gewoonlik onder jou eie naam. Of jy kan agter ’n skuilnaam ontaard in die monster wat jy diep in jou hart is. En dan praat mens nog nie eens oor die gelieg en bedrieg op allerhande ander vlakke nie.

Jy was onlangs baie kwaad op FB toe mense van jou boeke gesteel het. Mens kan jou wraggies nie kwalik neem nie, want niemand maak ’n killing uit skryf nie en dis in elk geval vreeslik skelm. Wat sou jy graag met hulle wou aanvang? En kan ek vir jou Mike Bolhuis se besonderhede gee? (Hy breek glo bene. Ons is deesdae amper huisvriende.)

Die gewelddadigste wat ek word, is om ’n deur toe te smyt. En een keer het ek ’n glas stukkend gegooi. Baie spyt gehad. Dit was ’n mooi glas. Dis nie te sê ek word nie kwaad nie, en ja, ek was baie kwaad. Maar nie kwaad genoeg om van Mike Bollhuis se dienste gebruik te maak nie.

Ek wil net hê mense moet bedag wees daarop dat daardie boeke wat hulle gratis of goedkoop aflaai, vernietigend is vir ’n skrywer. Veral een wat in Afrikaans skryf. Ons het rééds die agterspeen beet. Ons skryf in ’n taal met betreklik min moedertaalsprekers, en boonop is daar nie ’n sterk leeskultuur hier gevestig nie. Boeke is duur omdat die oplae so klein is, daarom koop mense tweedehandse boeke waarop die skrywer nie ‘n sent maak nie. Ons leen onder mekaar uit, waarop die skrywer nie ’n sent maak nie. Ons neem boeke by biblioteke uit, waarop die skrywer nie ’n sent maak behalwe by die oorspronklike aankoop daarvan nie. In die meeste ontwikkelde lande kry die skrywer ’n klein, gesubsidieerde bedrag elke keer as ’n boek in ’n biblioteek uitgeneem word. Baie soos die tantieme wat betaal word elke keer as ’n musieksnit op die radio, in eetplekke en dies meer gespeel word. In Suid-Afrika nié.

Ek neem lesers nie kwalik dat hulle boeke op die goedkoopste moontlike manier bekom nie, maar as iemand met die slim plan vorendag kom om boonop my e-boeke te kaap en dit vir eie gewin, trek ek die streep.

As so iets sou eskaleer, sal skrywers desnoods moet ophou skryf en hulle verdienste elders moet kry. Die meeste van ons het alreeds júis ’n ander werk wat die pot aan die kook moet hou. Daar is uitsonderings soos skrywers wie se werk vertaal word en geld maak uit hulle oorsese verkope, en daar is die gelukkiges wat mans of vrouens het wat hulle onderhou. Maar die meeste van ons kan nie voltyds skryf nie, omdat ons nie op tantieme alleen kan oorleef nie.

Hierdie soort diefstal sal mens seker nooit heeltemal kan keer nie, maar deur my sterk daarteen uit te spreek, weet almal waar hulle met my staan. Die betrokkenes gaan vervolg word deur die uitgewery in samewerking met SAFACT, wat hulle toespits op die bekamping van roofkopiëring.
Ek hoop dit skrik dié af wat dieselfde truuk wou gebruik.

Jy skryf ook in Siende blind van die skrywer wat meen dat hy net sowel op datum kan kom met Twitter en Facebook. Hy kan nie onthou wanneer hy laas op sosiale media ingeskakel het nie en hy weet uit ondervinding deesdae is dié so deel van ’n skrywer se werksomskrywing soos skryf. Dink jy ook die sosiale media is NB vir ’n skrywer? Jy het ’n groot FB-following en dan jou webtuiste en blog. Jy het lojale lesers en jy is altyd hoflik met hulle.

Ek gebruik FB onbeskroomd om my lesers in te lig oor my skryfdinge en boeke. Dis nie vir my ’n platform op persoonlike vlak nie. Dieselfde geld my blog.

Die sosiale media is inderdaad deesdae geweldig belangrik vir skrywers. Dit gun jou die geleentheid om met die gebruiker van jou eindproduk te kommunikeer en ook soms om raak te lees wat minder lojale lesers regtig van jou werk dink! Daaruit leer mens baie.

Ek behoort ook aan ’n groep, die Lekkerlees Boekrak. Dis een van die lekkerste groepe waar ek nie net as skrywer nie, maar veral as ywerige leser kan deelneem aan gesprekke oor boeke. So ontdek ’n mens wonderlike skrywers en boeke.

FB help ook dat mens nie heeltemal so eensaam voel terwyl jy skryf nie. Dikwels net mooi wanneer ek moedeloos voel oor my storie, kry ek ’n boodskap dat iemand ’n boek van my geniet het. Dit kikker mens sommer op.

E-pos is natuurlik ook ’n lekker manier om met lesers te kommunikeer, al word dit al as verouderd beskou. My e-pos-adres verskyn agter op my boeke en ek kry die wonderlikste terugvoer daardeur. Ek stuur ook ’n maandelikse nuusbrief aan lesers wat daarop inteken. Die reaksie is wonderlik. Soms as ek bietjie laat is, kry ek sommer gou ’n paar e-posse wat vra waar draai die nuusbrief dan nou so lank.

My lesers se lojaliteit is fenomenaal. Daar was al ’n paar keer iemand wat nie my boeke ken nie, of dalk iets skuins gesê het daaroor, en dan vat hierdie klompie fans daai mens vas soos ’n boelterriër hulle nie kan nadoen nie.

Jy noem in jou boek dat die skrywer Kevin in ’n stadium besef wat hy aan sy agent Laura gehad het. Sy het hom geleer om dieper in die hoofkarakters se psige in te delf, nie om van hulle skarminkels te maak nie. Maar die heldin in jou storie is ook maar net ’n mens van vlees en bloed. Sy het sommer twee one-night stands en sy kry hangovers. Ook is sy ’n suksesvolle skrywer, ouer, was in ’n stadium 10 kg oorgewig – glad nie volmaak nie. Lesers identifiseer dus beter met iemand wat ook maar soms droogmaak, en nie noodwendig ’n supermodel is nie?

In die Gys Niemand-reeks was my vroulike hoofkarakters nog redelik sterk geskoei op die heldinne in romantiese fiksie. Met die Calitze van die Maanschijnbaai-tweeluik het ek egter losgebreek van beeldskone vroue wat min verkeerd doen.

My hoofkarakters word ook ouer namate ek ouer word. Ek kan nie meer ’n twintigjarige realisties uitbeeld nie, tensy sy baie uitsonderlik is, soos Jeannie Calitz.

Ek kan ook om die dood nie meer self verlief raak op ’n man van selfs vroeg in die dertig nie. My jonger lesers moet my maar vergewe, maar die manlike hoofkarakters moet minstens in hulle veertigs wees voor hulle my aanstaan. En as ek nie op hom kan verlief raak nie, kan my vroulike hoofkarakter ook nie.

Ouer karakters kan uiteraard nie meer lyk soos hulle op twintig gelyk het nie. Hulle kan ook nie meer so naïef en onskuldig wees nie. Omdat my vroulike karakters passievolle mense is, sal hulle ook noodwendig daardeur gelei word en nie altyd ewe smetloos kan wees of optree nie. Mense begaan foute en hoe ouer jy is, hoe meer foute kom daar op jou kerfstok.

Ek hou van die droë humor wat deurslaan. Een van die karakters sê: “As dit van my afgehang het , het ek die vreksel morsdood geskiet, maar ek wil waaragtig nie in die tronk beland nie. Ek verstaan hulle hou nie Southern Comfort aan nie.” Dink jy baie mense weerhou hulle van misdaad omdat die tjoekie hul vlerkies sover dit aardse plesiere betref gaan knip?

Ek sal graag wil glo dis meer as vrees vir ’n lewe in die tronk wat mense van misdaad weerhou. Dat mense nie van nature wil moor of geweld pleeg nie. En as hulle dan werklik tot ’n verskriklike woede opgewerk word, steeds kies om nie uiting daaraan te gee nie, omdat hulle weet dis verkeerd – nie uit vrees vir straf nie.

Elke voorafbeplande misdaad word so gepleeg dat die moordenaar se skuld nie bewys kan word nie. Min is suksesvol, maar dit keer hulle nie om die misdaad te pleeg nie. Dit dui op ’n basiese disrespek en minagting vir die lewe of welsyn van ’n ander.

Vrees vir tronkstraf maak die beredeneerde moordenaars net nog slimmer; dit skrik hulle nie af nie, omdat hulle glo hulle kan die wet ontduik en speurders ore aansit. As jy werklik wil moor, sal jy.

Die hoofkarakter dink aan haar testament en die gierige man wat meen hy gaan die loot kry. Sy dink: “Gelukkig sal sy dan nie meer daar wees nie. Dis die voordeel van ‘n testament. Jy kan erfgename en nie-erfgename die hel in maak sonder dat jy hul toorn in die gesig hoef te staar.” Geld, en baie daarvan, speel natuurlik ’n NB rol in die moordenaars se moordlustigheid in jou boek. Kan geld van mense monsters maak?

Nee en ja.

Geld sal nie van ’n “goeie” mens ’n monster maak nie. Geld kan mense in die versoeking stel, maar die onderskeid tussen reg en verkeerd sal gewoonlik by die morele mens seëvier. Geld/hebsug sal byvoorbeeld nie die gemiddelde mens met ’n sin vir moraliteit tot moord dryf nie. Diefstal is dalk ’n ander storie.

Geld kan egter wel van mense wat reeds hebsugtig of sonder gewete is, groter monsters maak as wat hulle reeds is. En geld is dikwels die einddoel van die misdadiger.

Daar is eintlik ’n baie klein verskeidenheid wanneer dit kom by die motiewe vir moord. Passie, woede, jaloesie, magsug is ’n paar, maar ek dink verreweg die meeste moorde het êrens iets te doen met geld.

Oor die volgende aanhaling in die boek sal miljoene Suid-Afrikaners instemmend saam sug: “Ja, ons mag nie onsself verdedig nie, mag nie op ’n man skiet wat jou eiendom wederregtelik betree nie, maar al wat gat en asem het, het die reg om te steel, te kaap, aan te rand, te verkrag en te moor. Ons Westerlinge leef in ’n wêreld waar die misdadiger meer regte het as die slagoffer, waar wetterse rookwette strenger toegepas word as reg en geregtigheid.” Voel jy ook so?

Daar is redes waarom misdadigers regte het en moet hê. In die verlede is mense wat misdade gepleeg het, of wat daarvan verdink was, se regte dikwels ontken. Dikwels nog voor hulle skuldig bewys is. Dit was dikwels ras-, taal- of ekonomies verwant, en nie net in Suid-Afrika nie, in die res van die wêreld ook. Dit was uiteraard nie ’n gesonde situasie nie. Ek voel egter die regte van misdadigers word deesdae oordryf. Êrens moet common sense ook ’n rol speel.

As iemand op regverdige wyse skuldig bevind word daaraan dat hulle ’n ander persoon se lewe geneem of vernietig of bedreig het, behoort hulle dienooreenkomstig hulle straf uit te dien. Ek besef tronke is vol, maar om byvoorbeeld ’n verkragter of kindermolesteerder op parool uit te laat, is heiligskennis.

Een van die vele verdagtes is ’n beeldskone vrou – iemand wie se voorkoms jy nie kan vereenselwig met bose dade nie. Dus glo jy ook ’n moordenaar hoef nie noodwendig soos ’n moordenaar te lyk nie. Kyk hoe het Jeffrey Dahmer gelyk – soos die poskantoorklerk. Die buurman. Die Sondagskoolonderwyser. En party reeksmoordenaars is selfs aantreklik. Moordverdagtes is soms ook besonder aanskoulike mense, soos ook onlangs in ons howe gesien is. Maar tog dink mense meer van mooi mense en dat hulle minder geneig tot misdaad sal wees. Jou kommentaar daarop.

Daar is heelparty studies gedoen oor hoe mense anders reageer op mooi mense as op gewone sterwelinge, asook op onaantreklike mense. Deur die bank reageer mense meer positief op diegene wat binne hulle kultuurverband as mooi beskou word. Mense is glo vriendeliker met mooi mense, bewonder hulle makliker en dies meer.

Hoekom dit so is, weet nugter. Die probleem hiermee is dat boosheid niks met voorkoms te doen het nie. ’n Mooi mens kan, nes minder mooies, sleg of goed of tussenin wees.

Om die waarheid te sê, ek dink mooi mense weet hulle kan met meer wegkom en is van jongs af bewus daarvan. Hulle is dikwels as gevolg hiervan baie meer egosentries as ander. Dit is juis broeiplek vir onheilighede.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top