Onder die invloed

  • 2

Die week in woorde

As ek ’n meer wetenskaplike brein gehad het, sou ek ’n uitvinder van allerhande volksvreemde apparate wees. My eerste uitvinding, en waarskynlik die een waarvoor ek onthou sal word, sal ’n asemtoestel-toets vir skrywers wees:  die skrywer sal die een punt in sy mond plaas en sy skryfsels daarin voordra of voorlees, en op ’n klein digitale skermpie sal ’n lysie verskyn van al die mees merkbare invloede op die skryfwerk.

Ek dink baie beginner-digters sou geskok wees wanneer hulle gekonfronteer word met die hoë vlakke AG Visser, Hallmark en Lianie May in hul inkstrome. Ander  is bewustelik dronk op Ingrid Jonker of ten minste bietjie tipsy op die Psalms van Dawid. Ek vermoed my eie asemtoets sou verklap dat ek kleintyd ’n obsessie gehad het met Roxette en die lirieke van die karakters in The Lion King. Dis nog elke dag ’n stryd om nie stories en gedigte te spin wat tussen die pole van romanse en rampspoed graviteer soos dit in “Can you feel the love tonight?” (uitgevoer deur Timon en Pumbaa) voorkom nie.

Ek vra gereeld vir mense wat gedigte voorlê vir publikasie watter digters se werk hulle lees. Soms is die antwoord: “Ek wil nie ander mense se gedigte lees nie, want ek wil myself nie laat beïnvloed nie.” Ek het slegte nuus vir die aanvoerders van hierdie drogredenasie: ons staan almal onder die invloed van ander digters, of ons nou wil of nie. As jy weier om kontemporêre gedigte te lees, staan jou werk waarskynlik onder die invloed van kinderrympies wat die kleuterskooljuffrou voorgelees het, die enkele verse wat op skool behandel is, en die popmusiek wat jy in die mall hoor wanneer jy vinnig winkel toe gaan vir brood en eiers.

Niemand skud hulle invloede maklik af nie, maar dis belangrik om te weet wat daardie invloede is en hoe dit in jou skryfwerk neerslag vind. Terwyl ek nog besig is om te werk aan my asemtoestel-toets is dit raadsaam om dalk maar die outydse vergrootglas uit te haal en jou sinne en versreëls en paragrawe en rympatrone fyn te bestudeer. Wie se stem is dit wat eggo tussen die lyne? Wie se idees is dit wat soos ’n skim agter jou eie woorde skuil? 

Dis nie noodwendig lekker om so ’n kritiese instelling te begin ontwikkel nie. Ek onthou ’n toespraak wat Danie Marais tydens die werkswinkel vir Nuwe Stemme 4-digters gemaak het. Hy het Tony Hoagland aangehaal wat sê: “The initiation into knowledge will infect the learner with the virus of self-consciousness.” Maar om nou vir Danie woordeliks aan te haal: “Vir enigiemand wat ernstig oor skryfwerk is, is dié prys egter onontkombaar. Dit is wat jy doen nadat jy jou onskuld verloor het, wat belangrik is.”

Ek stel voor jy maak jou so wyd as moontlik oop vir invloede – werk met die psalms en die popliedjies, maar vul dit asseblief tog aan met seleksies uit die ryke stof wat in boekwinkels en op die internet beskikbaar is. Mash ’n bietjie Marianne Moore by jou Lianie May en lees René Bohnen voor jy jou totaal aan Roxette se invloed oorgee. Jy sal dalk verbaas wees oor hoe vinnig jy jou eie stem begin hoor wanneer jy jou ore blootstel aan die stemme van ander.

Skryf maar versigtig onder die invloed. Tot volgende week.

Op my bedkassie

Die tema is “onlangse Suid-Afrikaanse boeke met geel omslae”.  Ek het my die afgelope weke verlustig in Imraan Coovadia se roman The Institute of Taxi Poetry en Sonja Loots se Sirkusboere. Beide was my kosbare tyd uit en uit werd, en ek beveel dit graag aan!

Poësie in die nuus

Beeld se Jo Prins, die brein agter die destydse Digby-projek, is weer aan die gang met ’n nuwe poësie-projek. Dié maal is dit YouTube-video’s waarin digters gedigte voorlees oor ’n spesifieke stad – on location.

In die eerste video lees Christo van Staden, Jo Prins en Charl-Pierre Naudé gedigte oor Johannesburg voor.

Lees ook sommer in Saterdag se uitgawe van By na watter era in Johannesburg se geskiedenis bekende stadsjapies sou wou terugkeer indien hulle kon terugreis in die tyd.

Poësie-kompetisie

Na aanleiding van Beeld se oulike inisiatief wil LitNet digters uitnooi om ook hulle stad of dorp in ’n gedig te verewig.

Stuur jou gedig aan gedigte@litnet.co.za. Alle inskrywings sal op LitNet gepubliseer word. Ons gunsteling-gedig sal ’n stewige boekpakkie wen. Vir volledige inligting oor die kompetisie, klik hier.

Voorgeskrewe leesstof

Hier is ’n handvol bekende gedigte oor stede.

Carl Sandburg – “Chicago”.

Lorca – “City that does not sleep”.

Pablo Medina – “Cityscape 1”.

Derek Walcott – “In the Village”.

Czelaw Milosz – “And the city stood in its brightness”.

Gregory Pardlo – “Atlantic City Sunday Morning”.

Frank Bidart – “California Plush”.

Carl Dennis – “In Paris”.

Michael Blumenthal – “Suburban”.

 

 

Gedigte op LitNet

Klik hier vir alle nuwe poësie op LitNet.

  • 2

Kommentaar

  • Hier is iets oor Johannesburg sonder enige Engelse invloed van n jong eerstejaar student van 19 jaar. Dit sal nie opgaan in die digkuns anale nie, maar dalk die bewussyn prikkel.

    Blou-grys mondrianagtige silhoëtte

    profiel selfsugtig

    en vergeet materialisties om lief te hê

    Duisende naamloses

    en bewegende gesigsloses

    môres wat van gisters herstel

    uithangborde in versmoorkleure

    oormôres wat halfpad ophou onthou

    en nommers een-een ingeryg in garedraadjies

    (Mardene Marais uit Woordpalet, 1991)

  • Bibi Slippers

    Beste Fanie

    Mardene se gedig bevat pragtige oomblikke.  Ek hou veral van die oormores wat halfpad ophou onthou.

    Dankie dat jy dit gedeel het.

    Groete
    Bibi

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top