Onbenullige voorouers

  • 6

Fotobron: Unsplash

Onbenullige voorouers

"Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee."  Eksodus 20 vers 12

Verleentheid

Nederlandse Burger,
Franse Du Plessis, Duitse Steyl:
Hoe kón julle
na donker Afrika toe seil?
In die sewentiende eeu
hierheen verhuis?
Sonder sel en TV
so ver reis?

Hoe het julle Germane
wat skaars kon weef
sonder elektrisiteit
yswinters oorleef?
En hoe kon julle in die Steentyd
iets weet van boer
as net handelaars met begrip
na hiërogliewe loer?

Jy Cro-Magnon-mens
worstel met vlam en vonk
leef sewentigduisend jaar
gelede wild, sterf jonk
praat net noemname
steel vuur soos ’n dief
slag ander stamme
bloeddorstig primitief.

Australopithicus Africanus
tweemiljoen jaar terug
snoet prominent
met ’n penregop rug
jag aapagtig rond
terwyl insig jou ontwyk
om meer as die eenvoudigste
werktuig te gebruik.

Dis eintlik jý, oupa Spectrum
wat deur ons staar
my familieportret
van veertigmiljoen jaar
waarop jy in elke bos
met durf en daad
rondspring na kos
klein eekhoringprimaat.

Boommuisouma
tagtigmiljoen jaar terug
vir dinosaurusse met mag
is jy ewig op vlug
as soogdier wy jy
elke dag en nag
aan blare stroop
aan wurms jag.

Verootmoediging

Liewe oerslymouers
aan julle is ek gebind
deur my geboorte
as jongste kind.
Hoe oneerbiedwaardig
dat ek deur my oë
aan mý geskiedenis
as wêreldgeskiedenis glo.

Aanbidding

Sonder julle ewige lewe
se onverstoorde drif
trap vir trap
rusteloos en fiks
was elke plant en dier en mens
ook ék, ongebore
stap vir stap
bewusteloos en niks.

  • 6

Kommentaar

  • Louis du Plessis
    Louis du Plessis

    Jy wil nie raai waar ek oral gaan soek het - soos in die Sterkfonteingrotte naby Krugersdorp - om sommige van my (ons almal se) voorouers te ontdek nie. Baie dankie Morne!

  • Louis du Plessis
    Louis du Plessis

    Ek klink 'n glasie Rietvallei sauvignon blanc op die beredeneerde insigte van uitsonderlike dierkundiges soos Francois Durant, UJ. Waardeer Fer!

  • Louis du Plessis
    Louis du Plessis

    Om my aan my voorouers te herinner, loer ek gereeld na 'n skets van hoe my oupa Spectrum gelyk het: soos 'n eekhoring. So, al besef ons dit nie altyd nie, word elkeen van ons inderdaad weerspieël - "goed vasgevat" - deur ons herkoms. Dankie Lydia. Mooi loop.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top