Omvattend en deeglik: ’n lesersindruk van ELP Stals se Die geskiedenis van Die Broederbond

  • 3

Titel: Die Broederbond: Die geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond 1918–1994
Skrywer: ELP Stals
ISBN: 978-1-776260-53-9
Uitgewer: Die Afrikanerbond

Menige mens kan nog ’n storie vertel van die Afrikaner-Broederbond (AB) van ouds, in die jare voordat die “AB” verander het na die “Afrikanerbond”, soos wat dit vandag nog bekend staan. As die dorp se vooraanstaande boere, sakemanne, onderwysers en ander professionele mense se motors almal skielik een aand voor die pastorie geparkeer staan, dan het mense sommer geweet, die broeders hou weer kajuitraad. En vir dié wat niks van die AB weet nie, hulle doen en late was ’n geheim, en die onderwerp van aansienlike spekulasie. Baie mense verwys ook na die Broederbond as ’n “geheime organisasie”, maar ’n beter beskrywing is waarskynlik ’n “organisasie met geheime”. Maar dit is maar net ’n semantiese molshopie. Die eintlike berg van ’n vraag is: is of was die Broederbond ’n bose organisasie? Saam met die verandering van naam, het die Afrikanerbond ook meer inklusief geword ná 1994. Die lidmaatskap is nie meer aan ras gekoppel nie, maar geloof in die christelike God en die rol van Afrikaans is steeds sentraal in dit wat die Afrikanerbond doen. Maar wat is die voorganger, die AB, se nalatenskap in die tydperk onder bespreking? Die tydperk tussen 1918 tot 1994? Vir sommige versinnebeeld die AB die “ou Suid-Afrika” se weergawe van staatskaping. Maar so ’n interpretasie vertel miskien nie naastenby die volle storie nie. Ander kommentators argumenteer dat die AB as ’n kritiese, belangrike dinkskrum gedien het, waar Afrikaners intellektueel ontwikkel het, bymekaar geleer het, en ook die Afrikaners se kultuur en identiteit help bewaar het. Dit is gewis nie aldag so maklik om die kaf van die koring te skei nie.

...
Die gedagte is dan ook dikwels verder dat die AB die eintlike boosheid agter die misdaad van apartheid was. Dit is baie gerieflik om ’n misterieuse en duistere mag agter die skerms te kan blameer. Maar hierdie gedagtes is ietwat verwyder van die realiteite.
...

Die belangrikste is miskien om, soos met baie ander sake, te waak teen ongenuanseerdheid. In hierdie verband is dit goed om daarop te let dat die AB glad nie so uniek is nie. Daar was soortgelyke organisasies wie se sake ook hoogs vertroulik/geheim is, soos die Sons of England, die Vrymesselaars, die Rotariërs en nog verskeie ander. Wat wel uniek was, was die Afrikanernasionalistiese konteks van die AB. Uit daardie konteks is dit ook miskien nogal belangrik om daarop te let dat die AB in Johannesburg ontstaan het. Dit is gebore as ’n kultuurorganisasie wat ook Afrikanereenheid wou bevorder, in ’n tyd toe die Afrikaners se identiteit onderwerp was aan verstedeliking en verengelsing. Die rol van die ekonomie, en Afrikaners se stryd om ekonomiese ontwikkeling en kulturele behoud, staan sentraal in die AB se ontstaan.

Suid-Afrika se voormalige eerste minister, generaal JBM Hertzog (1866–1942), was ’n fel kritikus van die AB en sy toesprake het die AB geskets as ’n organisasie wat die regering geïnfiltreer het, oor elke besluit koukus, en agter die skerms reeds alle besluite geneem het. Mettertyd was daar ook graag deur kritici na die AB verwys as een van ’n onheilige drie-eenheid tesame met die Nasionale Party (NP) en die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Die AB, so is daar gereeld gesê, bevorder hulle lede onregmatiglik en ondemokraties in alle sleutelposisies. En so is die hele samelewing gekaap. Die gedagte is dan ook dikwels verder dat die AB die eintlike boosheid agter die misdaad van apartheid was. Dit is baie gerieflik om ’n misterieuse en duistere mag agter die skerms te kan blameer. Maar hierdie gedagtes is ietwat verwyder van die realiteite.

Dit is opvallend as mens deur Stals se boek lees, om daarop te let hoe lank die AB eintlik maar gesukkel het om ’n eie rol en identiteit uit te kerf. Telkens het die organisasie geworstel met onaktiewe lede, onaktiewe takke, met eindelose debatte oor die rol en die funksie van die AB, asook vrae oor geheimhouding, identiteitskwessies, die verhouding tot ander soortgelyke organisasies, die verhouding tot die politiek, politieke partye, die owerhede en so aan en so meer. Die hoeveelheid tyd en energie wat op sulke en soortgelyke sake spandeer is, is werklik verstommend. Dit is ook duidelik uit Stals se boek dat, alhoewel die AB se lede wel dikwels mekaar se belange op onregverdige maniere bevorder het, dit nooit ’n amptelike beleid van die AB was nie, en nie goedkeuring sou wegdra nie.

...
Kritici sal miskien kan argumenteer dat Stals, ook self ’n bekende Broeder, nie regtig objektief sal kan wees in sy geskiedenis nie. Die studie was immers ook onderneem in opdrag van die AB. ’n Mens sal egter ’n fout maak deur die boek te wil afmaak as ’n groot stuk propaganda.
...

Stals se geskiedenis van die AB is natuurlik nie die eerste boek ooit oor die AB nie. Die bekendste boek oor die AB is waarskynlik die boek The Super-Afrikaners: Inside the Afrikaner Broederbond (Jonathan Ball 1978) deur I Wilkens en H Strydom. Daardie boek is veral bekend omdat dit ’n lys van die lede se name bevat. Dit is ’n boek wat die druk op die AB laat toeneem het, maar dit is wel ook ’n boek wat baie sensasioneel geskryf is. Die boek wat deur AN Pelzer geskryf is oor die geskiedenis van die eerste 50 jaar van die AB, Die Afrikaner-Broederbond: Eerste 50 jaar (Tafelberg 1979), was ’n inisiatief van die AB self, en moes as teenvoeter dien vir kritiek wat aan die opbou was teenoor die AB. Benewens verskeie ander studies oor die AB in afdelings van geskiedenisboeke en akademiese proefskrifte, was daar ook N Smith (1929–2010) se boek oor die AB getiteld Die Afrikaner Broederbond: Belewinge van die binnekant (LAPA 2009). Smith, wat self ook eens ’n lid van die AB was, was besonder krities oor die AB, en het beweer hy is self bevoordeel ten koste van mense wat nie lede van die AB was nie, in sy aanstelling as akademikus by Stellenbosch.

 Die een feit wat hierdie boek anders maak as al die vorige boeke oor die AB, is die feit dat die skrywer toegang gehad het tot al die rekords van die AB. Die resultaat is dat dit loshande die mees omvattende boek ooit oor die AB is. In die boek maak Stals gebruik van die Chicago-verwysingsmetode, soos wat die tipiese gebruik is onder historici, en die oorgrote meerderheid van Stals se verwysings is na ongepubliseerde argivale bronne. Alhoewel die boek reeds in 1998 voltooi is, het dit eers in 2021 toeganklik geword vir die publiek, nadat dit vir dekades slegs as manuskrip beskikbaar was.

...
Hy skram geensins weg van omstrede sake nie, en lewer verskeie vars insigte in die geskiedenis van dié omstrede organisasie.
...

Die skrywer se keurige Afrikaans maak die boek ’n fees om te lees. Die boek dokumenteer die ontstaan en die groei van die AB, en daar word meer lig gewerp op die gespanne verhouding tussen die AB en bekende Afrikanerleiers soos generaal Jan Smuts (1870–1950) en JBM Hertzog. Alhoewel dit die AB se amptelike beleid was om geen partypolitieke verbintenis te hê nie, is die ledetal tipies merendeels oorheers deur Afrikanernasionaliste, wat die skeiding tussen die NP en die AB laat vervaag het. Die AB het egter duidelik geen direkte invloed gehad op die ontwikkeling van die beleid van apartheid nie, maar het sonder twyfel Afrikanernasionalisme bevorder. Die kwessie van Suid-Afrika se rassevraagstuk het ná 1948 so prominent geword dat die debatte binne die AB later amper oorheers is deur die rassevraagstuk. Teen 1980 het dit ál meer duidelik begin word vir baie Afrikaners dat apartheid, veral die sogenaamde Verwoerdiaanse apartheid met die tuislandsisteem, net eenvoudig onwerkbaar is. Tussen die teorie en die praktyk was daar eenvoudig ’n te diepe kloof. Dit is algemeen bekend dat die Afrikaners egter diep verdeeld was oor hervormings aan apartheid, en hierdie verdeeldheid het op dramatiese wyse uitgespeel in wat in die AB bekend sou word as “die Boshoff-sage”, toe die AB se voorsitter, Carel Boshoff (1927–2011), weens onversoenbare verskille op dramatiese wyse bedank het. (Boshoff was nie ten gunste van die 1983-grondwet en die sogenaamde driekamerparlement nie.) Stals beskryf die gebeure rondom Boshoff se bedanking as “een van die mees dramatiese – en ook traumatiese – gebeure in die AB se geskiedenis” (bl. 443). Dit het die AB op koers geplaas om ’n wesenlike rol te speel in die formulering van die NP se beleid van voortgesette hervormings en uiteindelike onderhandelinge wat sou uitloop op die heel eerste demokratiese verkiesing in 1994.

In sy voorwoord tot Stals se magistrale studie van die AB haal die historikus Hermann Giliomee aan uit die outobiografie van Beyers Naudé (1915–2004) My land van hoop (Human & Rousseau 1995). Daarin het Naudé geskryf: “Ek glo dat die AB in sy tyd ’n positiewe bydrae gemaak het; moontlik het die fout gekom toe hy ’n geheime organisasie geword het. Maar wat sy doelstellings betref – om die Afrikaner te help, om sy taal en kultuur te bevorder, om die ou gevoel van minderwaardigheid van die Afrikaner te oorkom – daar het die AB ’n belangrike bydrae gelewer” (bl. 5).  ELP Stals se geskiedenis van die AB is goed gebalanseerd en dit is die belangrikste en omvattendste boek wat nog oor die AB verskyn het. Hy skram geensins weg van omstrede sake nie, en lewer verskeie vars insigte in die geskiedenis van dié omstrede organisasie.

  • 3

Kommentaar

  • As AB-lid vir byna 40 jaar het ek opregte waardering vir Prof. Stals se navorsing en bevestig ek dat dit soverre my kennis, deelname en meelewing alle feite 'n getroue weergawe is. Die AB het deurgaans vir 104 jaar met toewyding en edele bedoelings die Afrikanersaak gedien. Dries Wiese.

  • "Dit is ook duidelik uit Stals se boek dat, alhoewel die AB se lede wel dikwels mekaar se belange op onregverdige maniere bevorder het, dit nooit ’n amptelike beleid van die AB was nie, en nie goedkeuring sou wegdra nie." So skryf Stals blykbaar. "Die AB het deurgaans vir 104 jaar met toewyding en edele bedoelings die Afrikanersaak gedien," aldus Wiese. Nico Smith het se bewerings was meer reguit en geloofwaardig. Hoekom? Omdat duisende Afrikaners, onder kleinburgerlike, selftevrede lede van hierdie selfaangestelde kliek deurgeloop het. Ek gee toe, nie almal was selfbevorderaars en ondergrawers nie, ek ken 'n paar vir wie ek steeds groot respek het, maar "deurgaans edele bedoelings?" Stront van die mees onwelriekende soort. Daarvan kan duisende getuig, onder andere ek self. As jy regtig glo dat die Broederbond sneeuwit en edel was of is, is jy waaragtig die dikvelligste kreatuur wat hierdie land opgelewer het.

  • Ek stem saam met jou uitlatings. Dit is genotuleer dat Verwoerd in 'n toespraak gevra het waarom byvoorbeeld Engelse prokureurs deur Afrikaners aangestel word. Hierdie tipe uitlatings sou sekerlik as "amptelike beleid" vir AB-lede gegeld het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top