
Bridgette Cyster, Shireen Crotz, Genobia Kordom en Chareldine van der Merwe (foto: Jean Oosthuizen)
...........
Almal kan nie gepubliseerde skrywers word nie, maar elke mens het ’n storie om te vertel. Afrikaans bied aan almal die geleentheid om hulle lief en leed met ander te deel. Dit is een van die voertuie wat ’n weg tot sukses kan baan.
............
Almal kan nie gepubliseerde skrywers word nie, maar elke mens het ’n storie om te vertel. Afrikaans bied aan almal die geleentheid om hulle lief en leed met ander te deel. Dit is een van die voertuie wat ’n weg tot sukses kan baan.
Dit was die boodskap tydens vanjaar se Ommietafelgesprek wat deur die Vriende van Afrikaans (VVA) aangebied is. Vriende van Afrikaans is ’n organisasie wat werk vir Afrikaans onder die sambreel van die ATKV.
Dit is in 1994 deur ’n klein groepie Afrikaanssprekendes in Stellenbosch gestig onder leiding van Willem Dempsey en die bekende taalkundige Johan Combrink wat albei vurige kampvegters vir Afrikaans was.
Die Ommietafelgesprek-reeks is een van die Vriende van Afrikaans se projekte om ’n groter liefde en bewuswording te kweek vir Afrikaans, nie net onder Afrikaanssprekendes nie, maar ook by mense wat nie Afrikaans as eerstetaal gebruik nie maar wel as tweede- of derdetaal. Vanjaar se gesprek is aangebied in vennootskap met Afrikaans.com.
Drie bekendes in die joernalistieke, literêre en uitsaaiwêreld is hierdie jaar genooi om hulle stories met die gehoor te deel tydens ’n funksie by die Middelvlei-wynlandgoed buite Stellenbosch. Hulle is Julian Jansen van Rapport, die TV- en radiopersoonlikheid Lyntjie Jaars en Nadine Petrick van LAPA Uitgewers. Die gesprek is gelei deur die motiveringspreker en gemeenskapskoördineerder Rene Arendse, met die tema: “Hoe baan jou taal ’n weg tot sukses?”

Nadine Petrick en René Arendse (foto: Jean Oosthuizen)
Die gesprek is gevoer teen die agtergrond van storievertel as ’n kuns wat realisties sowel as vermaaklik kan wees.
Die joernalis en skrywer Julian Jansen se boodskap was dat niemand wat graag wil skryf, se gees geblus moet word om te skryf nie. Hy het vertel hoe sy loopbaan as onderwyser begin het maar weens krisissituasies heeltemal ’n ander koers ingeslaan het tot waar hy vandag Rapport se senior joernalis is. Jansen het reeds twee boeke op sy kerfstok met ’n derde boek wat binnekort op die rak sal wees. Sy eerste boek Die De Zalze-moorde handel oor die opspraakwekkende familiemoord in ’n luukse landgoed buite Stellenbosch wat die hele land tot stilstand geruk het. Die tweede boek Seuns sonder pa’s handel oor die implikasies van die meer as 60 persent kinders in die land wat nie ’n pa ken nie.

Julian Jansen, Hendrik Theys, Willa Boezak en Ria Olivier (foto: Jean Oosthuizen)
Hy kom uit ’n onderwysfamilie en wou graag self ’n skoolhoof word. Krisisse en ’n teleurstelling in sy onderwysloopbaan het hom egter laat besluit om ’n loopbaanskuif te maak. Tydens sy loopbaan as joernalis word hy dikwels gekonfronteer met die soet en die suur van die lewe en ook die donker kant van die mens se psige.
Jansen moedig mense aan om hulle stories te skryf. “Begin net skryf al is dit nie vir publikasie nie,” sê hy. Sosiale media bied volgens hom ’n kragtige platform waar mense wat nie noodwendig gepubliseerde skrywers sal word nie, ook ’n geleentheid het om hulle stem te laat hoor. “Moenie daardie vlammetjie blus nie. Dit gee ’n geleentheid aan mense wat dit andersins nie sou doen nie, om oop te maak. Vir baie mense is dit ’n manier om hulle hartseer en ervarings met ander te deel.”
Hy sê dit is meesal vroue wat hulle stories oor geslagsgeweld op dié manier met die buitewêreld deel. Dit vorm ’n belangrike deel van die terapie om die trauma te verwerk. Mans is volgens hom nog huiwerig om hulle gevoelens op hierdie manier te deel en besef nie altyd die terapeutiese waarde daarvan nie.

Shireen Crotz, Julian Jansen, René Arendse, Nadine Petrick, Lyntjie Jaars en Chareldine van der Merwe (foto: Jean Oosthuizen)
Nadine Petrick van LAPA Uitgewers het die gehoor herinner dat almal nie gepubliseerde skrywers kan word nie. “Baie mense wil graag skryf of sing, maar het ander talente ontvang,” sê sy. Daar beland elke maand tussen 30 en 90 nuwe manuskripte van kinder- en jeugliteratuur op LAPA se lessenaar waarvan slegs ’n paar uiteindelik die boekwinkels se rakke haal. Dit beteken nie dat al die deure toe is vir mense wat lief is vir die taal of dat hulle nie ander talente het om te ontgin nie.
Daar is verskeie ander loopbane waarin taalliefhebbers hulle liefde vir taal kan uitleef, byvoorbeeld tolke, die reklamebedryf, vertaling en taalpraktisyns, om net ’n paar te noem. Haar raad aan voornemende skrywers is in die eerste plek om hulle mark te leer ken. “Jy kan nie oor misdaad skryf as jy nie bekend is met die werk van goeie misdaadskrywers soos Deon Meyer en ander bekende name nie.”
.............
Daar is verskeie ander loopbane waarin taalliefhebbers hulle liefde vir taal kan uitleef, byvoorbeeld tolke, die reklamebedryf, vertaling en taalpraktisyns, om net ’n paar te noem. Haar raad aan voornemende skrywers is in die eerste plek om hulle mark te leer ken. “Jy kan nie oor misdaad skryf as jy nie bekend is met die werk van goeie misdaadskrywers soos Deon Meyer en ander bekende name nie.”
...............
Haar tweede wenk is om elke dag iets te skryf, selfs al is dit net een sin. “As jy eers een sin geskryf het, word dit dalk twee sinne en as jy twee sinne geskryf het, word dit ’n paragraaf.”
Derdens is dit belangrik vir voornemende skrywers om van die vele slypskole by te woon wat aangebied word, en by goeie leermeesters self te leer wat die moets en moenies is wat ’n skrywer in gedagte moet hou wanneer hy of sy skryf.
Een van die belangrikste punte om na op te let wanneer daar geskryf word, is goeie taal en spelling, sê Nadine. “Wees trots op jou werk wanneer jy dit instuur vir oorweging om gepubliseer te word. Diegene wat dit beoordeel, mag dalk dink die storie kort afronding, maar sal met ’n sagter oog daarna kyk as dit taalkundig sin maak en sonder onnodige spelfoute is.”

Shireen Crotz, René Arendse, Nadine Petrick, Lyntjie Jaars, Ria Olivier en Chareldine van der Merwe (foto: Jean Oosthuizen)
Haar laaste wenk is om te lees, om nogmaals ander skrywers se werke te lees. “Dit is een van die heel beste dinge wat ’n voornemende skrywer kan doen om hom of haar as skrywer te bekwaam.”
Die TV-aanbieder Lyntjie Jaars wat veral bekend geword het vir haar kykNET-program Oppiestoep, het die gehoor met haar unieke Namakwalandse Afrikaans en pittige stories telkens laat skater van die lag.
Sy is trots Suid-Afrikaans en ’n gebore Namakwalander. Sy moes egter ook eers haar voete vind voordat sy besef het haar unieke tongval is een van haar grootste bates. “Daar is altyd gesê ons klink anders en kom van die onderwêreld af.” Sy het dit geglo totdat die sielkundige Quintin Adams wat as ’n shackbouer bekend geword het, haar in 2018 laat besef het haar Afrikaanse dialek is iets unieks wat sy tot haar voordeel kan gebruik.
Sedertdien het Lyntjie ’n huishoudelike naam geword met ’n gawe om stories bymekaar te maak en met die hele land te deel. Sy sê sy sal graag eendag onthou wil word as iemand wat voluit met respek en integriteit geleef het. En trots Afrikaans.

