Ommietafel 2017: Die oop-koms van Afrikaans

  • 3

Op Donderdag 17 Augustus 2017 het die Vriende van Afrikaans (VVA) en die Afrikaanse Taalmonument hande gevat om ’n gesprek oor die oop-koms van Afrikaans aan te bied – nie soseer oor die toe-koms nie.

Die gesprek het plaasgevind by die Middelvlei Wynlandgoed in Stellenbosch. Middelvlei se funksielokaal word deur die plaaswerkers selfs bestuur en bedryf.

Johan van Lill, die radioman, het die gesprek gelei.

Johan van Lill

Willa Boezak het afgeskop deur die komvandaan van Afrikaans te vergelyk met die lewe van ’n mens. “Afrikaans was ’n baba daar waar die Khoi en die Nederlanders met mekaar begin praat het,” sê hy. In die tyd toe die Moslem-leermeesters Afrikaans in Arabies begin skryf het, en die Genootskap van Regte Afrikaners gestig is, was die taal waarskynlik mondig: Jonk sterk en reg om ’n eie identiteit aan te neem. Nou is die taal egter volwasse en daar is baie goed wat maak dat dit maar ’n skraal persoon is. Die sprekers moet nou moeite doen om die taal te voed en te koester. “Voer Afrikaans vet!” was Boezak se pleidooi.

Willa Boezak

Fiona van Kerwel het gesê Afrikaans het waarskynlik ’n “toe”-koms gehad in die donker jare van Apartheid, maar deesdae sien sy die mooi raak in die opbouende projekte wat in die naam van die taal gedoen word. Sy self werk vir die US Woordfees se WOW-projek en hier kan sy eerstehands sien hoe Afrikaans oop lê voor ons.

Fiona van Kerwel

Tildie Smit is ’n onderwyser en navorser. Sy het van Churchill Naudé se lirieke aangehaal en gesê dat hy, en ander wat soos hy Afrikaans vernuwe, die taal oopstel aan almal, ook aan die jongmense. Nie net is die taal van rappers en rymkletsers toeganklik nie, dit omarm ook diversiteit.

Tildie Smit

Hendrè Cubitt is nog op skool. Hy voel onnies kan baie doen om die taal oop te maak vir mense soos hy. Wanneer die klas interessant is, neem hy en ander kennis.

Hendrè Cubitt

Die gehoor het daarna allerlei kwessies aangespreek – alles van Afrikaans as universiteitstaal tot grammatika het onder die loep gekom.

Daarna was van Middelvlei se wyne, sosaties en potbrode beskikbaar. Daar is dus heerlik gekuier en geklets ommietafel. In Afrikaans. Dikwels ook oopmond gelag oor wat môre inhou.

Gerrie Lemmer, Amanda de Stadler en Nita Cronjé

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Daar is deesdae by Afrikaanse taalkundiges die neiging om te beweer dat Afrikaans danksy die Khoi-Khoin ontstaan het en selfs dat Afrikaans al lank voor 1652 bestaan het. Daar is die moontlikheid dat hierdie mite mettertyd die volgende vorm kan aanneem: Die Hollander Jan van Riebeeck het sy fort gebou terwyl die vindingryke Khoi-Khoin in Afrikaans aan hom instruksies gegee het oor hoe dit gedoen moet word.

    • Avatar
      Johannes Comestor

      My bostaande kommentaar oor Jan van Riebeeck was as 'n parodie bedoel. Christo van der Rheede se uitlatings (Netwerk24, 23 Augustus) toon dat my vertolking glad nie so vergesog is nie. Wat in die rolprent Krotoa uitgebeeld word, is volgens hom 'n stuk geskiedenis. Die Khoi-Khoin was glo gesofistikeerde mense, 'n ongelooflike inheemse gemeenskap met 'n geordende politieke en maatskaplike bestel. Hulle was formidabele entrepreneurs wat hulle veekuddes blykbaar wetenskaplik bestuur het. Op die koop toe het hulle Afrikaans uitgevind. Die somtotaal is dat die geluk ons getref het om op die skouers van hierdie reuse te staan. Is dit naasteby 'n histories regverdigbare siening of is dit gewoon Van der Rheede se wensdenkery?

  • Avatar
    Wilhelm Fourie

    Ek hou baie van Dr Willa Boezak se vergelyking. Kom ons werk saam om Afrikaans vet te voer!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top