Vir Paul Roberge en Theo du Plessis, 1982
ons sit op geduldige bergskilpaaie
drink dorstig wyn en klets diep geleerd
oor die literatuur: drie jong akademici
tydens ’n departementele partytjie
in die dieretuin van Bloemfontein
ons praat oor ironie en tragedie
maar ons beskonke klapperdoppe
bly onbewus van die dramatiese stof:
ou Aischulos is destyds dood toe ’n arend
die skilpad soos ’n klip op sy kop laat plof
toe ons onseker opstaan en die toekoms
insteier, steek drie skilpaaie kop en pote
uit en begin aanstap na die vastigheid
van die voerbak in die veilige wete dat
die arende gevange sit in ’n ysterhok
steeds agterdogtig kyk ek op in die lug:
die lewe verander maklik in ’n klug
Lees al die Mondig-gedigte hier:


Kommentaar
Pragtige stukkie nostalgie uit die pen van 'n veelsydige 'klapperdop.'
Ons steier egter steeds die toekoms in maar nou met 'kettings' en om ons skree sirenes terwyl alarms binneshuis gereeld van groen na rooi na verander... Die klug het 'n werklikheid geword.
Dankie, Gustaf. En die Bloemfonteinse Dieretuin is ook tot niet weens gruwelike verwaarlosing.