
Foto: Canva
Om weg te breek
“Ons het Balinees meets modern-kontemporêr gegaan,” sê Chantall terwyl sy vir my haar en Waldo se onlangs-voltooide strandhuis wys. “Soort van the best of both, jy weet? Toskaans is tog so last of last decade.” Haar arms waai soos ’n Vlaamse windmeul terwyl sy rondwys.
“Dit is ...” sê ek.
“Exactly, skat, ek het geweet jy sou daarvan hou. Ek is so bly dat jy die naweek hier by ons kan deurbring.” Sy vee peinsend ’n sonstrepige krul uit haar oë. “Bali,” prewel sy en kyk woordeloos-verruk uit op die see, soekend na woorde, ’n gelate stilte. Haar hande fladder na haar bors. “Ek het myself daar gevind. Dit was só ’n ongelooflik spirituele ervaring. Alles het net in plek geval en sense gemaak. Die Garuda en Mandala tattoo’s sal my altyd daaraan herinner.” Sy wys na haar boarm. Ek kyk haar vraend aan. “Garuda is die Balinese mitiese voëlwese,” sê sy. “Ek dra sedertdien vir Bali in my hart en op my arm. Jy moét Bali heelbo in jou bucket list plaas. Soos jy weet, doen ek en Waldo nie die kerkding nie, maar ons is baie spiritueel. Ons energievelde is in perfekte harmonie. Ons het in Gauteng reeds besluit om ’n wegbreekplek langs die Suid-Kaapse kus te bou. Ons doen nie reeds-geboude huise nie. Mens ervaar te veel van die vorige eienaars se negatiewe energie en vergete bagasie, jy weet? ’n Huis het ’n siel. Hier is ons geseën met ’n perfekte, vooraf-beplande home away from home. Dit is slegs ’n uur se ry van die stad, maar nogtans far from the madding crowd. Maar, let me tell you, om te bou is ón-óngelooflik stresvol. Die argitek was gelukkig hierdie amazing mensch met die mees stunning idees. Hy het ons smake somehow perfek geharmoniseer. En dit wil gedoen wees,” giggel sy. “Mens is boonop ’n klipgooi van die creature comforts.”
“Dit is beslis naby aan ...” sê ek.
“Exactly, my ding,” sê Chantall. “Ek love dit dat ons naby aan winkels, ’n haarsalon en chic restaurants is. Hier is selfs ’n klein mall. Waldo spot dat ek hier ook kan mall crawl en uit mall-withdrawal bly. Hy is uiteraard mal oor die gholfbaan.” Sy giggel guitig. “Raai waar is Meneer tans? Hy is mos big time into networking en sê dit is waar hy sy beste saketransaksies beklink.”
Sy wys in die rigting van die oopplankombuis-, sitkamer- en onthaalarea. “Alles Balinees is very me en ek love die indoor-outdoor-energievloei. As die raamlose glasdeure oopgeskuif is, spoel die interieur letterlik in volkome harmonie uit op die patio en buite-onthaalarea en van daar na die tuin, die swembad en die fynbos. Hierdie sitkamerstel kom ook van Bali. Amazing, nè? Ek kan sommer sien die huis se energie werk ook vir jou, skat. Hier vibe ek.”
“Dit is pragtig en ...” sê ek.
“Ek het geweet jy sou saamstem,” sê Chantall. Sy plaas haar perfek-gemanikuurde hand op my voorarm: “As die feng shui nie werk nie, moet mens liewer verkoop en elders van voor af begin. Alles gaan oor harmonie, energievelde, balans en positiewe vibes. En nou praat ek van die meubels, tuin, letterlik alles.” Haar lang salonwimpers fladder. “Die floating staircase was Waldo se idee. Hy love dit. Dit, die sash windows en porticos met pilare groei nog op my. Hy is mos groot op alles modern, skoon lyne, simmetrie, wye oop spasies en minimalisme, tipies Virgo. Nie dat ek enigsins ’n hoarder is nie, maar Waldie is next level minimalisties. Tog so jammer jy kon nie ons housewarming bywoon nie. Let me tell you, álmal wat iemand is en saak maak, was hier.” Haar stem is nou gedemp: “Ryk Neethling, Bobby, Duane Vermeulen, Hannon en sy vriend, Kurt Darren, Juanita, Steve, Wimpie en Le-Lue, Nàdine, you name them, hulle was almal hier. En om te dink dat heelparty spesiaal moes afvlieg, besigheidsklas uiteraard, maar nogtans. Hulle is celebs, maar nogtans so down to earth. Juanita was stunning in ’n wynrooi Henja Schaap-droom. Sy het veral met Steve gedans. Watch the space,” fluister sy. “Ek ken chemistry as ek dit sien. Die catering is deur hierdie amazing span gedoen. Chinook-salm, Knysna-oesters, Wagyu beef, Karoo leg of lamb, Belgiese truffels, die mees amazing slaaie, devine calamari, en so kan ek aangaan. Fyn kossies. Om nie van die Moët and Chandon Imperial champagne te praat nie. En raai wat nog?” Sy giggel koket: “Hier was ’n hele minibus vol hunky bottomless butlers en super-sexy kelnerinne al die pad van die Kaap! Dit was ’n sprankelaand. Toe sing Juanita en Darren boonop vir ons sy treffer ‘Hemel op Tafelberg’. Ek was in ’n toes, my make-up ’n betraande mess, maar who cares. Die paartie het oorgevloei van die aand tot in die vroeë oggendure. Die meeste gaste het in die gastevleuel oornag. Om verstaanbare redes.”
Chantall haak by my in. Ons stap uit op die patio. “Nou kyk hier, my ding,” sê sy. “Is dit nie amazing nie?” Sy wys na ’n miniatuur- Balinese tempel. Haar lang reënboognaels flits in die son. “Uiteraard moi se baby. ’n Huis is na my mening ’n verlengstuk van mens se lewensfilosofie. Mens moet jou omring met mooi goed en positiewe vibe-mense. My terapeut sê dat ek moet waak dat my aura nie deur negatiwiteit beskadig word nie. Ek omring my dus met positiewe, hoë vibrasie-mense. Jy weet self ek leef voluit en ervaar dinge intens. Ek streef na balans. Ek is ’n aanvoel-en-omgee-mens. Dit maak my meer vulnerable vir negatiwiteit en om uitgebuit te word. Negatiewe vibes skuur af en negatiewe vibe-mense probeer dikwels my omgee-en-help-karaktertrek uitbuit. Ek is so over daardie tipe.” Sy sug diep. “Jy het geen idee hoe emosioneel-dreinerend sommige van my Instagram followers is nie. Ek het boonop ’n paar high maintenance vriendinne. Dit is stresvol. Sommige freak my in fact uit, maar ek cope.” Sy kyk peinsend na die dam waarin veelkleurige koivisse swem. “Ek kan sien jy weet wat ek dink, doll.” ’n Gelate stilte volg. “Kyk na hulle perfekte harmonie. Dié huis en tuin se vibe is egter so goed dat ek nie eens my pilates, yoga, padel of die mall for that matter mis nie. Dit sê nogal iets, nè? Die jacuzzi was Waldo se verrassing-bederfie vir my.” Sy giggel.
Sy lei my na die swembad. “Hou jy van die infinity pool? My vriendin, Antoinette, is die sub-redakteur van House and Leisure.” Ons loop steeds ingehaak. “Sy is mal oor ons plek en wil dit daarin feature, nogal op die voorblad, I’ll have you know. Ek is in só ’n split mind daaroor.” Chantall se gemikroskalpeerde wenkbroue lig toe sy frons.
“Waarom is jy ...” begin ek vra.
“Exactly,” rammel Chantall voort. “Dit sal uiteraard ’n eer wees, maar andersins sal dit so, so ’n ...” Sy soek ademloos na woorde. “Dit sal ’n invasion van ons privaatheid wees, as jy volg wat ek bedoel?” Sy kyk vraend na my.
“Dit is ...” sê ek. “Presies-presies,” sug sy. “Ek het slapelose nagte daaroor. Slaaaa-pe-loos.” Haar hand raak aan haar voorkop. “Ativan help nie meer nie. Ek sal dit ook dringend met my terapeut moet bespreek. My energiebalans is versteur, al moet ek dit nou self erken.”
Haar selfoon piep. Sy haal dit uit haar Louis Vuitton-handsak en loer na die boodskappe. “Oh-êm-geee,” sê sy en rol haar oë. “Ek het flippen vyftien Facebook friend requests, twaalf Messenger-boodskappe en twee-en-dertig notifications. Goodness weet wat op Instagram en TikTok op my wag. Ek trek al amper by vyfduisend Facebook friends.”
Chantall plaas haar slimfoon op die tafel in die buite-onthaalarea. “Kom ons sit hier. Ek sal nou eers dringend damage control moet doen. Ek moet nog boonop vanaand se spysenier bel en vir Isabel gelukwens met haar verjaarsdag. En dan my WhatsApp-boodskappe. Weet jy, my dag was so harmonieus tot nou. En skielik spiral alles out of control.”
Sy wys na die yskas langs die tafel. “Skink asseblief vir ons drankies. Maak myne ’n triple tot G&T.”
“Hierdie dude gaan ek verseker nie as friend aanvaar nie,” sê sy. “’n Sestigjarige elektrisiën van Kraaifontein wat waaragtig my Facebook friend wil wees. Ek meen van duh?”
Ons hoor Waldo se Lamborghini in die motorhuis parkeer.
“Hallo-hallo, julle mooi mense!” roep Waldo gul toe hy in ’n wolk Bulgari by ons aansluit. “Hoe gaan dit met my liefie-lyfie?” Hy gee vir Chantall ’n piksoen op die wang. “Hoe was julle daggie so ver? Reg vir vanaand se paartie? Dinge gaan kook. Jy sal mal wees oor ons vriende, pella. Die meeste woon toevallig ook naby aan ons in die stad. Kwaliteit mense.”
“Mens-mense,” voeg Chantall by.
“Einste,” sê Waldo. “Ons mense. Dit is so lekker dat vele van ons vriende ook hier naby ons strandhuise besit. Never a dull moment.”
“Ons hou dinge vanaand klein en intiem,” sê Chantall. “Net so dertig van ons besties.”
“Tog jammer dat Thandie en Andile dit nie kan bybring nie,” sê Waldo. “Ons het hierdie amazing black diamond-vriende. Hulle is so ’n blessing.”
“Wat kan ek vir ons skink? Die PE-vlug is lankal hier oor,” sê Waldo gemoedelik. “Wat van ’n heerlik, super-verkilde Chenin Blanc voor ons gaste opdaag?” Hy haal drie loodkristalglase uit die kas en skink die wyn. Ons lig en klink die glase. “Op ons vriendskap,” sê Waldo. “Ching-ching! Laat hy val waar hy wil!”
Chantall se selfoon lui. “Dit is Mercia,” fluister sy. “Oomblikkie.” Haar veelkleurige sykimono waai in die sagte seebries. Dit lyk asof sy oor die grasperk sweef in die rigting van die see. “Oh my goodness, vriendin!” roep sy uit. “Ek kon die negatiewe energie in jou Instagram post vanoggend aanvoel. Die universe het gesê iets is nie pluis nie. Dit is so, só ontstellend. Hang on there. Ek is hier vir jou. Ek gaan vir Waldo vra om met Riaan te praat. Konsentreer jy nou net op jou asemhaling, mental health en mediteer. En onthou daardie kristalle. Ons gaan hierdie curved ball uitsort, skat. Love you. En sien jou bietjie later. Mwah-mwah. Toedeloe.”
Chantall sweef terug na haar sitplek. Haar vingers klad-klad met ’n snesie onder haar oë. “Daar smudge my grimering,” sug sy. “Ek het Mercia nog nooit so upset gehoor nie. Sy is stukkend, hees gehuil. Jy gaan nie glo wat gebeur het nie, Waldie. Riaan sê hy kan einde van die jaar nie meer by ons in St Moritz aansluit nie, kastig weens werksverpligtinge. This is really so unfair.” Chantall slaan dikwels oor na Engels, veral as sy oor iets wat haar ontstel, praat. “Waldie, jy moét met Riaan praat. Dalk sommer vanaand nog. Ek meen, hallooo? Hulle is after all ook living the dream soos ons. En nou dit.”
“Ek sal met hom praat as ’n geskikte oomblik hom voordoen, liefie-lyf,” sê Waldo. “Jy weet Riaan was nog nie honderd persent seker nie. En dalk is sy besigheid-issues ligit?”
Chantall vat my aan die arm. “Riaan en Mercia is hierdie amazing power couple. Hulle gaan ook vanaand hier wees. Ons het hulle op ’n bootvaart ontmoet. In fact, onder andere,” val sy haarself in die rede en rol haar oë. “Bobby, Karlien, Kurt, Bok van Blerk en ’n magdom ander sterre het gedurende daardie cruise opgetree. Ons het hulle almal persoonlik ontmoet.” Haar wimpers fladder. “Dit was unbelievable. Ons love hulle musiek en treffers. Die lirieke is ongelooflik diep, kos vir die siel. Jy sal my nou nie glo nie, maar hulle is almal soos in hierdie unbelievably nice down to earth mense.”
“Ek stem,” sê Waldo. “G’n aansit of fake nie.”
“Ek was tot vanoggend in so ’n goeie space en place,” sug ’n betraande Chantall. “En nou hierdie nuus. Verskoon my, ek moet my grimering regkry. En my hare is ’n mess. Wat gaan ek daarmee doen? Gelukkig het ek môreoggend ’n afspraak by die salon. Pierre kan met mens se bolla toor. Hy en sy lover kom ook vanaand. Hulle is openly gay. Al ons vriende is mal vir hulle. Bokkie, sit solank Steve se nuutste treffers op. Ek het nou dringend iets mood-lifting nodig,” sê sy in die wegstap. “Ek sal soos in moét wikkel. Ons gaste kom nou-nou.”
Waldo loer na sy Rolex. “Hoe laat gaan hulle opdaag, Bokkie?”
“So oor ’n uur,” sê Chantall.
“Môreoggend doen ons brunch in die mall en môreaand sushi by die seekosrestaurant,” sê Waldo. “En tussendeur moet ons die wine pairing inpas. So many things to do, so little time.” Hy lag en klop my gemoedelik op my skouer.
Na ongeveer ’n uur begin die gaste opdaag. Almal komplimenteer mekaar oor hoe goed hulle lyk. Die spysenier se span maak seker almal se glase bly vol.
Waldo het sy derde glas Johnny Walker agter die blad en is ekstra-joviaal. “Pella, hier gaan dinge vanaand nog ruk.” Hy suig aan ’n joint. “Jy seker ek kan nie vir jou enetjie rol nie? Indien dit nie jou koppie boeretroos is nie, is daar oorgenoeg wit snuifpoeiertjies in die kombuis om almal as high as kites te maak, so stywe lyne!”
“Heito-potato!” skree Waldo toe die eerste paartjies verbydans. “Aan die brand, sê die predikant met sy lat in die hand!” en hy bulder van die lag. “Op ons vriendskap,” sê hy en klink sy glas Jack Daniels teen myne. Hy skree vir dié wat dans: “Moenie walk nie, maar dans!”
’n Aanvallige blondekop sluit by ons aan. “Pella, ontmoet vir Mercia van St Moritz-skivakansie-faam.”
“Riaan gaan ongelukkig eers later by ons aansluit,” sê sy.
“Intussen sal jy maar met my vervelige geselskap tevrede moet wees,” sê Waldo. “Sjoe, maar jy maak darem ’n paar jeans mooi vol. Of wat praat ek dan nou, pella?” sê-vra hy. Hy knyp Mercia se volronde agterstewe en skree: “Mister DJ, speel my persoonlike gunsteling-song!”
“Luister na die song se awesome woorde,” sê hy. “Ek love dit. Dit is een van die songs wat destyds op die Bokboot gesing is toe ek, Chantall, Mercia en Riaan mekaar ontmoet het.”
Die DJ laat nie op hom wag nie. Oor die luidsprekers pomp ’n liedjie wat dit het oor “baby, baby” en “’n hart wat tjoklits pomp”.
“Wow,” sê Waldo. “Amazing lirieke.”
Dit is klaarblyklik gewild, want die meeste paartjies begin dans.
“Kansie vir ’n dansie?” sê-vra Waldo vir Mercia.
Hulle verdwyn tussen die ander binneboud-skoffelende gaste.
Ek besluit om vir Chantall te soek.
Op die inrit staan skraaploos-luukse BMW- en Porsche-SUV’s, Audi’s, ’n Merc of twee en selfs ’n Bentley Bentayga V8 geparkeer. My nederige Toyota Hilux staan goddank in die garage.
Ek vind ’n betraande Chantall, sigaret in die hand, op die hoofslaapkamer se stoep.
“Is jy okay?” vra ek. “Ek het nie geweet jy rook nie?”
“Moenie vir Waldo sê nie,” sug sy. “Nie dat hy dit nou eintlik sal agterkom nie. Ons deel nie tans ’n slaapkamer of bed nie. Hy sê my insomnia maak hom ook slaaploos.”
Sy haal twee medikasiehouers uit ’n laai. “Verskoon my mini meltdown,” sê sy. “Ek kan die oermoer van alle migraines voel aankom.” Sy sluk drie Stopaynes en ’n Urbanol. “My shrink sal my antidepressant-dosis moet aanpas. Net om die edge weg te vat.”
En dan, skielik opgewek: “Kom mein schatz, kom ons gaan verf die paartie alle variasies van pienk!”
Chantall groet links en regs.
“Waar is Waldo?” vra sy.
Waldo en Mercia sluit kort daarna by ons aan.
Ek besluit om nie vir Chantall te vertel dat ek vir Waldo en Mercia vroeër in ’n gastebadkamer opgemerk het nie.
“Oooooh,” sê Chantall, “kyk daardie a-maaazing sonsondergang, Dit is só Instagrammable.” Sy vra een van die gaste om ’n foto van ons te neem. “Herinner my om die foto ook later op Facebook en TikTok te plaas,” sê sy.
Sy sug. “Mens moet darem jou followers op hoogte hou van jou shenanigans, of hoe?” Sy knipoog skalks. “Ek gaan dit hashtag as ‘Om weg te breek van dit alles’.”


Kommentaar
Wat 'n uitstekende tong-in-die-kies beskrywing van die tipiese trots-arrogante Afrikônse 'couple'tjie! Die kat-in-die-donker knypende Waldo en sy liefie-lyfie-vonkelvroutjie, Chantall! Whaaaaahahaha! Ek herken hulle en giiggel in my mou...
Baie dankie!