Om vry ingeperk te wees

  • 3

Foto ter illustrasie: Canva

Die grendeltydperk, en drie geslagte op een kleinhoewe: Oupa is die oudste op 85 en die kleinkinders is 18. En dan is daar ek en my swaer, iewers in die middel. Ek is ’n weduwee en versorg my bejaarde skoonouers en kinders op ’n kleinhoewe in Bronkhorstspruit.

Met die honderd-en-hoeveelste dag van die inperking kyk ek terug. Tydens die begin van die lockdown was ons skielik in mekaar se ruimte, gekonfronteer met mekaar se comfort zones. Maar dit het nie te veel gepla nie, want op ons plot is daar twee huise. Die hoofhuis is 1400 m², met 12 kamers. Ons het nie te veel afgewyk van ons normale roetine van chaos nie. Kleinhoewe of plot, plotbewoners of maplotters – ons stukkie leefaarde is ’n verlore paradys. Dadelik het Oupa ons vertel van 1918 se Groot Griep, en die geskiedenis het homself herhaal. Niemand mag pers blomme gepluk het en dit in die huis inbring nie; oupa het gesê dat iemand dan sou doodgaan. Ook, ons hang nooit perdehoewe met die uitloop na onder nie, anders "loop jou geluk uit." O, en sit ’n halwe ui met ’n flennielappie op jou bors as jy siek is, dit trek die kwaad uit jou lyf …

Danksy internetplatforms en die sosiale media het ons onmiddellik die jongste ontstellende nuus rondom die wêreldwye pandemie ontvang, dit was nie ’n paar dagreise te perd soos met die 1918-griep nie.  

Elkeen het die aanvanklike harde lockdown op eie houtjie hanteer. Die drie jongmense het musiek geluister, geskilder en perdgery. Ons het daagliks in die kombuis vergader soos tydens properse familievergaderings en besluit wie se beurt dit is om dorp toe te gaan om proviand te koop. En ja, stroopsoet versnaperinge en nuwe gebak het die inkopielyste aansienlik langer gemaak. Mense verwerk globale hartseer verskillend, maar op die ou end is dit ook maar dieselfde. Ons het gebak en -brou en mekaar plegtig beloof dat die Groot Dieet na die lockdown sal begin. Is dit deel van die mens se kollektiewe oorlewingsdrang om soetgoed te eet as troos teen die bittere realiteit van COVID-19, die smulpape van die pandemie?

Een van ons twee middeljariges in die huis het nog volstoom gewerk; alles kantoorwerk in die IT-bedryf, en ons kon ons sterre dank dat ons nog ’n werkende broodwinner had, al was dit letterlik agter ’n skerm. En skielik was die vergaderings in ons voorhuis, dit was Zoom en Windows Teams en my swaer wat roep: "Ag, Lianda, maak tog die sitkamer netjies …" of "julle moet nou nie raas of praat nie." En dan die doekvoetloop en fluister, want Boeta is in ’n meeting.   

Ek het kerse begin brand vir elke mens wat die virus opgedoen het, ook vir die wat verliese gely het. Soos dit ’n goeie Boereboeddhis betaam, het ek geloop en kristalle pak, oral in die huis en wierook laat smeul vir die positiewe vloei van energie. Ek het lang ure gebid en mediteer en was spyt dat die Nan Hua-Boeddhistetempel hier naby ons gesluit was, maar die Lotus, die simbool van wedergeboorte, het met ons gebly.

Ons het ons bure van die afgelope 5 jaar beter leer ken. En toe begin die ruilhandel, byna soos "back to the future". Eers het ons 6 avokadopere vir Buurman se 2 pampoene uit sy tuin geruil ... en ons het soos stokou pioniers met ons ruilhandel gevoel, kompleet met die moderne elektriese heining tussen ons en al.   

Die eerste weke van die lockdown was ons meer bewus van ons omgewing – die plot – as voorheen. Op ’n plot kom die werk nooit klaar nie, alles bly ’n work-in-progress: die boumateriaal en skroot wat oral rondlê, getuig daarvan. Elke plot droom om besigheid te doen, daar is buitegeboue en store. Ons droom is om ’n trouvenue te begin. Met die beboude infrastruktuur, ’n groot tuin en baie ruimte en rustigheid tot ons beskikking, is die droom tasbaar. My dogters droom daarvan om die bruide met woord en daad te bedien met manikure en grimering, om bruidsfoto’s te neem … en as gesin wil ons sorg vir onvergeetlike spyseniering en mengeldrankies. Elke oggend breek die son groot en rooi in die ooptes en herinner die rondlêgoed ons opnuut aan die onvoltooidheid van ons drome.

Ons het eiehandig begin om materiaalmaskers te maak. Op ons WhatsApp-groep was daar snyers, naaldwerksters en verpreiders. Ons het die helderkleurige maskers uitgedeel aan metropolisielede, OK-werkers en ouetehuise – die nood was groot. En dit het die empatievure in my hart verder gestook en ek het die wêreld se humanitêre ikone gemis. Mandela. Moeder Teresa. ’n Groot deel van ons bevolking is so, so kwesbaar. Ek was dankbaar vir die nabyheid van vriende en bure – die ironiese afstand en nabywees van ’n klein gemeenskappie, ons elkeen ingeskakel op mekaar se behoeftes: raad met dieresiektes, sekuriteit, of net die warmte van "hallo". Social distancing kon nie ons virtuele nabyheid van mekaar wegneem nie. 

Saans, as dit nie bewolk was nie, het ons na die sterre gekyk wat al helderder begin skyn het. Dan het Ouma, met die vergeetsiekte, onverwags begin sing – sy het nooit haar musiek vergeet nie. Monopoly is van iewers opgediep; so ook vingerbord en disks en ons het weer, soos dekades gelede, formeel aangesit vir ete. Tradisies. Ons het meer saam buite geloop op die landerye. Die televisienuus het gekrimp tot 10 minute ’n bulletin, met die woorde "Korona" en "COVID-19" wat hipnoties bly herhaal.

Ek het nie die verbod op tabakprodukte en drank vergeet nie. Op sosiale media is resepte vir selfvervaardigde drankies gedeel, maar niemand kon nog ’n tabakplant naboots nie. Gebruikte, gedroogde teesakkies was net ’n puff-bluff. Sal mense na hierdie pandemie nie meer distilleries nodig hê nie? het ek gewonder. Wat sou gebeur as die rokendes uitpluis waar tabaksaad gestoor word? Sou elke roker self begin tabak plant, droog, kerf en sigare en sigarette rol soos die zollendes?    

Ons, op ’n kleinhoewe, is vryer ingeperk as stedelinge. Ons huisarres is ruim. Oupa met sy taai oumanspiere ploeg die saailande en maak voorbrand in die winter; die honde hardloop nog steeds, soveel en waar hulle wil. Die hase, kiewiete en katte ontgeld dit net so gewoon soos altyd, en het geen idee wat die arme dorpshonde deurmaak nie. Die ekosisteme van muskiete, spinnekoppe, naaldekokers en vlinders gaan voort, daar is geen inperking in die natuur nie. En elke plot het sy geheime, sy bywoners (wat vlug of wegkruip vir iets), en sy spoke. En ’n familie van drie geslagte wat ten spyte van soveel geite en generasiegapings, mekaar opnuut liefgekry het. Deur die inperking het ek die seisoene sien kom en gaan, hoe die bome soos ou leer vermurwe. Maar in die somer gaan ons feesvier met pruime, vye, sonwangappelkose, granate, en ons ou appelbome van oor die sestig jaar … en die kluitjiekoppe, muisvoëls en kakelaars gaan saam baljaar.

Op ’n plot is daar geen inperking van drome nie.   

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top