Om vredeswil

  • 0

Prent se bron: writersforensicsblog.wordpress.com

Dr Robert Neethling stap oor die drumpel van die Grand Hotel in Oslo. Die gedruis en geskarrel van Karl-Johanstraat en die vrou wat hom in sy gesig gespoeg het, word oombliklik uitgesluit. Hy neem sy hand met die sakdoek wat sy neus en mond bedek het, weg. Sy neusvleuels beweeg liggies. Daar is nog ’n sweempie van die muwwerige gliserienreuk van die vrou oor, maar dis nou hanteerbaar. Soos wanneer hy terugdink aan sy moeder wat kleintyd op ’n snesie spoeg en sy mond skoonvee. Hy kan die aksies verdra as hy die insidente kan herformuleer, die persoon bejammer. Sy moeder het arm en sonder klas grootgeword; die vrou hier buite weet kennelik ook nie van beter nie. Sy is in elk geval, wel, vét.

Hy neem ’n diep asemteug deur sy neus. Die reuk van ’n vyfsterhotel is altyd beter as sy herinnering daarvan: vars gestrykte linne, lemmetjiewater, die geur van ’n nuwe boek.

Hy gaan sit in ’n leunstoel in die voorportaal. Dis beter. Net eers asemskep. Hy glimlag selfvoldaan. Dis vandag 9 Desember. Hy het ’n uur gelede die gasteboek by die Nobelinstituut geteken. Sy naam in groot ronde letters geskryf langs die name van Frédérick Passy, Henry Dunant, Kofi Annan, Martin Luther King Jr, Nelson Mandela, Frederik Willem de Klerk, Moeder Teresa, Aung San Suu Kyi, Barack H. Obama, Ellen Johnson Sirleaf, Leymah Gbowee, Tawakkol Karman. Dis ’n ellelange lys. Alhoewel hy nog nooit van sommige van hulle gehoor het nie, het hy die gevoel gehad dat hulle hom ken.

Die lys van bykans 150 name in die boek voel werklikwaar heel gewoon. Asof hulle almal saam gegradueer het en nou ’n konferensie bywoon. Hy het deur die boek geblaai nadat hy daarin geteken het. Hy het die selfversekerde krulle, draaie en strepe wat die afgelope honderd en wat jare neergepen is, as gul ervaar. Die name vertoon ’n gemoedelikheid, asof hulle wil sê: “Welkom hier in die boek, besonderse mens, jy’s nou ook uitgelese, jy’s een van ons, Robert.”

Die res van die gewoel en drukdoenery voel onwerklik, asof iemand dit aan hom vertel het, of hy dit dalk in die koerant gelees en nie self daaraan deelgeneem het nie.

Vroegmiddag, op die negende Desember in Oslo, bestorm ’n skare mense dr Neethling. Die mense hou plakkate omhoog wat bekrap is met beledigings en swetswoorde. ’n Vrou wat met bitsige oë na hom kyk, trek haar mond op ’n tuit en spoeg hom vol in die gesig. Sy snou hom toe: “Jy’s nie die titel ‘mens’ waardig nie. Monster! Maniak ...!”

Nee, berispe hy homself, nogmaals nee. Hou onmiddellik op. Dink nie daaraan nie. Dis net ’n vet vrou wat niks het om haarself mee besig te hou nie. Jy ken die tipe. Dis die vrouens wat na jou gesondheidsplaas reis. Jou betaal om hulle aanvaarbaar vir die samelewing te maak. Sy’s vet, Robert, sy kan nie helder dink nie. Laat haar gaan.

“As u gereed is, dr Neethling, kan ons nou na die Nobelsuite beweeg. Die sekuriteitsklaring is voltooi.”

“Dankie, Kommissaris.”

Die beamptes drom om hom saam. Die insident het hulle sweerlik laat skrik. Dit sal ’n massiewe verleentheid wees as iets slegs met hom gebeur in Oslo, veral voor die oorhandiging.

Die gebeure hoort eerder op een van die geskilderde panele in die stadsaal. Hy kan hom dit goed voorstel. Hy sou deel wou wees van die legende van Oslo se beskermheilige, St Halward. Hy, dr Robert Neethling, op die oewer van die fjord, ’n groengeklede, beheerste toeskouer. Hy sien hoe die boewe die tou eers om Halward se lyf en dan om ’n meulsteen bind. Die verkragte meisie wat Halward gered het en per skuit na die oorkantste wal van die fjord geneem het, staan digby dr Robert Neethling. Haar benerige en bebloede lyf druk kaal teen syne. Sy arms is om haar gevou; sy prewel: “Kan iemand tog nie die jonge Halward red, soos hy my gered het nie?” Net voor die boewe Halward doodmaak, draai hy sy kop, kyk na dr Neethling en die meisie wat krampagtig aan hom klou. “My broer, kyk na haar … beskerm en voer haar,” is die woordelose opdrag. Drie pyle word in Halward se hart geskiet. Hy val. Hy is nog nie dood nie. Die boewe rol hom en die meulsteen in die fjord in. Hulle lag uitbundig, draai om en kom dreigend nader. Stop as hulle die verbaasde jubelkreet van die meisie hoor. Die heilige Halward se lyk en die meulsteen waaraan hy vasgebind is, dryf na die oppervlak. Die wonderwerk is vir altyd vasgevang in die stadsaal van Oslo.

Heel waarskynlik was Halward vetsugtig. Hy het weliswaar tot die adelstand behoort, en dr Neethling weet met sekerheid dat die rykes, selfs in 1043, die uitgevretenes was. Hoekom die klip sou gedryf het, kan hy nie verklaar nie. Miskien was dit hol.

Dr Neethling bedank die veiligheidswagte wat die Nobelsuite deursoek het. Hy het drie salige, allenige ure voordat hy weer iemand hoef te aanskou. Hy sluit die deur van binne, al weet hy dat die wagte die stel kamers bewaak. Voor die balkon en die vensters is daar koeëlbestande versperrings. Dit is oorspronklik aangebring vir oudpresident Obama. Niemand kan nou naby hom kom nie.

Hy stap deur die ingangsportaal, waar die vorige Nobelwenners goedig vir hom grinnik – ag maar dis wonderlik om jou te sien, gesels bietjie met ons, vertel ons wat jy gedoen het om vrede te bewerkstellig – en dan stap hy deur die sitkamer in die rigting van die balkon. Gelukkig is die suite klankdig. Sal hy loer, wonder hy? Besluit dan daarteen en stap doelgerig na die badkamer.

Hy stort onmiddellik, die water so warm as moontlik. Met growwe, gegeurde sout skuur hy die smalende woorde en die uittartende oë van die blonde vrou met die vol lyf van hom af. Die arme ding kan dit in elk geval nie verhelp nie. Dan tap hy ’n diep bad, gooi ’n hele bottel vredesolie in. Hy sal hom nie aan haar of haar trawante steur nie. Hy sal toelaat dat die vettigheid van sy sukses hom salf. Die Noorweegse polisie sal toesien dat die insident nie herhaal word nie.

Dis die dag voor sy Nobeltoekenning! Niks kan meer verkeerd loop nie. Die sekretaris het die protokol deeglik met hom bespreek. Na die repetisie by die stadsaal voel hy gereed vir môre se seremonies. Hy sal die Nobelraad volg deur die houtdeur waarop die toneel van ’n ridder wat die slang van onmin onthoof, uitgekerf is.

Hy sal voor die Koning en Koningin buig en dan op die stoel vir die vredeslaureaat gaan sit. Die voorsitter sal eers die seremonie met ’n voorlesing uit Alfred Nobel se testament open: “Vir die uitsonderlike en volhoubare daarstelling van broederskap tussen nasies; vir die vermindering en moontlike uitwissing van oorlog; vir vrede.” Die redes vir die toekenning aan hom sal puntsgewys bespreek word. Wanneer sy naam gelees word, sal hy opstaan, die diploma, goue medalje en dokument wat sy prysgeld beskryf, ontvang. Dan sal hy sy lesing lewer voor 2 000 uitgesoekte gaste. Hy kan gerus vanaand, na die mediakonferensie, sy toespraak in die ontvangslokaal vir die vorige wenners lewer, dink hy.

Na sy toespraak sal hy terugkeer na die Grand Hotel waar die skare hom voor sy balkon sal toejuig – heel moontlik hier en daar iemand wat hom eerder sal uitjou, as hy aan vandag se gebeure dink. Om sewe-uur die aand terug na die banket in die banketsaal en dan sal hulle almal sy genialiteit eerstehands ervaar.

Hy voel-voel na die kluis se sleutel in sy broeksak. Gelukkig nog veilig. Hy sal die 250 vredespille net voor die geleentheid uithaal. Dit self oorhandig aan die sekretaris, wat sal toesien dat elke gas net een pil ontvang. Eintlik wou hy dit self op elke gas se tong geplaas het, maar die sekretaris het hom verseker dat hy self sal toesien dat niemand meer as een pil drink nie.

Die enigste keer in die geskiedenis van die Nobeltoekennings dat die banket gekanselleer is, was vir Moeder Theresa wat gevoel het dat die geld eerder op die armes gespandeer kon word. Met die 7 000 Amerikaanse dollar wat op 250 uitgevrete gaste spandeer sou gewees het, het Moeder Theresa op Kersdag vir 2 000 haweloses ’n aansit-ete gegee.

Dr Neethling is verbaas dat die Nobelraad ingestem het dat hy die werking van sy vredespil aan die Koning en sy gaste kan demonstreer. Veral te midde van die polemiek wat sy vredesoplossing veroorsaak het. Ongelukkig is hulle nie ondervoed, uitgeteer of aggressief nie. Dit sou ideaal wees om die aktiviste wat juis nou buite sy venster staan en skree, te gebruik. Hy fantaseer hoe hy op die balkon staan en vir die jillende masse die vredespille gooi.

“Dè, eet, hier is my oplossing. Gebruik dit as julle daaglikse brood.”

Die gevaar bestaan natuurlik dat iemand twee sal drink – en dit kan hy nie nou toelaat nie. Een dosis elke 24 uur vir maksimale effektiwiteit.

Dr Neethling klim gloeiend uit die warm bad. Breek die seël van nog ’n bottel olie. Hy kan dit vandag bekostig om kwistig te wees. Hy droog homself eers af en vryf die olie behaaglik oor sy hele lyf terwyl hy verder fantaseer. Die muskusgeur maak hom jags. Maar dr Neethling is ’n man met selfbeheersing. Hy besef terdeë dat hy nie nou in sy huis op die gesondheidsplaas is waar hy hom aan sy drange kan oorgee nie.

Die ideaal sou wees om eerder in die Domkirke, Oslo se hoofkatedraal, die waansinnige skare een vir een te bedien. ’n Donker afgesonderde kamer behang met wynrooi damask, druppende kerse, “Herz und Mund und Tat und Leben” van Bach, die gretige vlesige monde wat een vir een voor hom oopgedwing word, hy wat goedig glimlag wanneer hy ’n pil op elk se tong plaas.

“Dè, eet, hier is my oplossing. Gebruik dit as jou daaglikse brood.”

As die rustigheid van self- en lotsaanvaarding oor die skare toesak, sal hy homself verskoon. Hy sal die skare wat mekaar begin omhels, verlaat sodra hulle verdwaas begin rondkyk en met omstanders begin klets oor ditjies en datjies. Waar is die heilige dr Robert Neethling? As hy maar net ’n rukkie langer by ons kon bly. Die hoeksteen van die Domkirke, wat die geveg tussen die magte van goed en boos uitbeeld, sal hy liefs ignoreer. Hy sal dan veilig deur die strate van Oslo kan wandel, seker in die wete dat niemand hom weer sal of wil verskree of op hom sal spoeg nie.

Tensy iemand natuurlik ’n dubbeldosis inkry.

Dr Neethling trek die verwarmde japon en pantoffels aan en strek hom uit op die koningsbed. Hy stel sy interne wekker vir ’n uur, maak sy oë toe en raak oombliklik aan die slaap. Hy droom oor, nee, hy onthou, die beginpunt van hierdie sukses.

Anatomieles, sy eerste kadawer. Dit was ’n gebalsemde wit vrou. Sy was uitsonderlik vet. Sy’s vroeg in haar veertigs dood – ’n hartaanval. Alhoewel die professor hulle duidelik laat verstaan het dat hulle respek teenoor die kadawers moet toon, het hy en sy makkers vieslik aangegaan. Vinnig bepaal, soos met al die ander vroulike kadawers, of sy ’n maagd was. Haar himen was nog heel.

“Shame. Vet, ’n maagd en dood! What a life!”

Die professor het hulle tot stilte geroep. Op die skerm het hy gedemonstreer wat hulle moes doen. Robert het gebewe – ’n mengsel van opgewondenheid en vrees. Presies soos dit gevoel het die somersmiddag in standerd nege toe die buurtannie hom in haar kamer ingewink het, om kastig ’n gloeilampie om te ruil.

Hy het sy ringvinger in die gaatjie van die ontleedmes se hef gesit. Hy het diep asemgehaal, vir die dooie vrou geglimlag. Die lanset onder haar keel geposisioneer, die punt ingedruk en toe uitwaarts vanaf die keel tot by die duik waar die sleutelbene ontmoet, gesny en toe weer vanaf die keel áf met die sternum en met ’n boog na die sy by die onderste ribbebeen. Hy het die vel en die onderhuidse vet eenkant toe gerol sodat hulle die manier waarop die spiere aan die bene heg, kon bestudeer. Sy maters het vir die vet gegril, maar was gefassineer deur die spiere, later die organe. Vir hom was dit net mooitjies andersom. Die vet se ongevormdheid het hom aan speelklei laat dink. Hiervan kan ek iets maak, het hy gedink. Vet is tog opgebergde energie. Hier is die potensiaal, die medium. Hy moet net die regte toepassing kry.

Na sy basiese studies en hospitaaljaar het hy onmiddellik in liposuiging gespesialiseer. Sy doktorsgraad het hy behaal deur die ontwikkeling van ’n nuwe, meer beheerbare en minder skadelike prosedure wat bloeding en kneusing uitskakel, omdat dit nie van die kanulebuis of laserstrale gebruik maak nie. Sy uitvinding word die “lipokatpak” gedoop en bevat duisende 0,01 mm-naalde wat vibreer en tot 98 persent van die ondervelse en dieperliggende vet opsuig.

Nie net patenteer hy sy lipokatpak nie, maar hy registreer ook sy smelt-alle-vet-weg-gesondheidskuur. Die “Dik tot dun in drie weke”-gesondheidsplase is ’n treffer in die Weste. Die vettes word maer en hy word ryk. Dis ’n wen-wen-situasie.

Hy word wakker. Dis amper tyd vir die mediakonferensie. Dis tog ’n jammerte dat hy so bekend is; hy sou graag die aand in Oslo se strate wou wandel, ’n nagmark besoek, rustig by die fjord gaan sit. Ag wat, dis nou tot daarnatoe.

Dr Neethling trek ’n grys broek, wit hemp, maroen strikdas en donkergroen baadjie aan, grys sokkies en puntskoene, versorg sy hare, glimlag vir homself in die spieël – jy lyk soos ’n ware heer, Robert. Hy kyk op sy horlosie: sesuur op die kop. Stap na sy aktetas, maak ’n nuwe pakkie vredespille oop. Dis ’n week se voorraad. Met sy duim druk hy die eerste goudgeel oliepil deur die goue foelie van die borrelpak. Dit lê op die palm van sy hand. Hy sit die pil op sy tong, koester dit vir ’n oomblik, maak sy oë toe en sluk. Die pil gly gemaklik af met sy slukderm. Hy stel hom voor dat hy die ligte peristalse ervaar, hy voel hoe die pil deur die pars cardiaca beweeg en in sy maag plons.

Hoe gelukkig is hy darem nie! Tevrede. Die wêreld is ’n goeie plek.

Hy stap na die ingangsportaal. Die oë van die Nobelwenners is almal op hom gedraai. Sterkte, Vriend. Jy sien daar goed uit. Vertel dit vir die wêreld. Ons staan by jou. Die vrouens kyk hom goedkeurend aan. Hy knipoog vir die jong vrou in die Moslemgewaad, Ons praat later, Skattebol … ek bedoel ... “Tawakkol Karman,” sê hy hardop terwyl hy effens nader leun en haar naam op die raam lees. Verbasend, ’n Nobelprys op 32, nogal presies die helfte van sy ouderdom. Sy glimlag terughoudend.

As hy die deur oopmaak, is die sekretaris se hand in die lug, gereed om te klop.

“U tydsberekening is perfek, dr Neethling. Is u gereed? Wil u eers iets ligs eet voor die konferensie?”

“Dankie, Meneer die Sekretaris. Ek’t reeds iets gekry. Ons kan onmiddellik begin.”

Die konferensiesaal is gepak met joernaliste. Hy hoor snarsies Frans, Duits, Engels, Mandaryns, Spaans, Japannees, Zoeloe, Swahili … en dan ’n spul tale wat hy geen kop of stert van kan uitmaak nie. Die dame wat die primêre onderhoud met hom voer, is van die NRK – die Norges Televisjan. Sy’s besonder vriendelik, slank, intelligent. Sy’t ’n deeglike studie van sy navorsing gedoen. Kortom, al die joernaliste skyn hom goedgesind te wees.

“Dr Neethling, vertel ons asseblief hoe die gedagte van die vredespil ontstaan het.”

“Ek was met vakansie in … wag, ek sal eerder die land se naam verswyg. Die situasie daar is haglik. Hongersnood tot op sy uiterste. Kinders word geslaan omdat hulle kos steel en niemand dink dis vreemd nie. Die gevolg is natuurlik ’n hoë misdaadsyfer. As ’n proefneming het ek ’n groep kinders wat deurentyd onder mekaar en met ander baklei, begin voer. Ek het seker gemaak dat hulle die basiese vitamiene en gebalanseerde etes ontvang. Hulle gedrag het onmiddellik verander. Van deurslaggewende belang was die feit dat hulle mekaar aanvaar het en toe begin planne maak het om hulle situasie te verbeter.”

“Sou u sê dat dit ’n wêreldwye probleem is?”

“Wel, laat ek dit so stel. Volgens die Wêreldgesondheidsraad is ’n derde van die wêreld se bevolking ondervoed, ’n derde ly aan hongersnood en ’n derde is goed gevoed. Die derde wat goed gevoed is, leef ook in vrede. Hierdie vrede is natuurlik moontlik omdat die oliekrisis twee jaar gelede opgelos is deur prof Chin van die Universiteit van Taiwan. U onthou seker dat hy die Nobelprys vir wetenskap ontvang het omdat hy brandstof ontwikkel het uit afvalmateriaal – die ‘vullis-tot-brandstof-inisiatief’ wat ons nywerhede en voertuie nog steeds aan die gang hou.”

“Heeltemal reg, dr Neethling, maar wat ek ...”

“Dus het ek die vredespil ontwikkel. Voer die mense wat honger ly, en hulle kan begin dink en sodoende hulle eie …”

“Jammer om u in die rede te val, dr Neethling. Soos u weet, is daar taamlik kritiek op u ‘oplossing’. Eerstens omdat dit ’n simplistiese reaksie op ’n komplekse probleem is; tweedens omdat die woordeskat wat u gebruik, stereotipering en veralgemening veronderstel; en derdens dat dit ’n onmenslike oplossing is. Wat is u gedagtes hieroor?”

“Dis bog. Mense wat die pil gebruik, het opgehou om te baklei. Hongersnood word stelselmatig uitgeskakel. Wat is die alternatief? Dat ons hongeres moet ignoreer?”

“U besef seer sekerlik dat die internasionale gesondheidswet bepaal dat u verplig is om te verklaar waaruit die pil bestaan. Kan u ons asseblief meer daarvan vertel?”

“Op die voubiljet van die pakkie is die besonderhede gespesifiseer, maar ek herhaal dit graag: hoodia, triptofaan, ’n hormoon wat veroorsaak dat serotonien afgeskei word; vitamien A, B12, C, D, E; asook natuurlike olies. Soos u weet, het ek al hieroor verskeie artikels gepubliseer en my navorsing is telkens deur eweknieë geëvalueer.”

“Wat is die uitwerking van die pil, Doktor?”

“Wel, die eerste reaksie van mense is ’n gevoel van tevredenheid.”

“Is die pil veilig, Doktor?”

“Natuurlik, honderd persent veilig – kyk net wat dit aan die konflik in die Midde-Ooste gedoen het.”

“Drink u dit self?”

“Daagliks. Hoe sou ek anders in staat gewees het om die stres van ’n mediakonferensie te hanteer? Veral wanneer die onderhoudvoerder effe moeilik is.”

Daar is ’n ligte gelag uit die gehoor.

“Is daar enige newe-effekte, Doktor?”

“Natuurlik. Alle pille het newe-effekte. In dié geval, ’n gebrek aan eetlus.”

“Is ’n oordosis skadelik?”

Dr Neethling glimlag gelate vir die kamera. Gooi sy hande in die lug.

“Maar, Mevrou, wat moet ek doen om aan u te bewys dat die vredespil werklik vrede veroorsaak? Seer sekerlik sal die Nobelraad tog nie die prys aan my oorhandig as dit skadelik vir mense is nie.”

Dr Neethling hoor hoe iemand uit die gehoor skree:

“Laat hy ’n pil voor ons drink!”

“Sou u dit oorweeg, Doktor? Of is u bang vir die newe-effekte?”

Die onderhoudvoerder haal ’n pakkie uit haar handsak. Dr Robert Neethling voel hoe sy wange warm word. Sou hy sy kamer kon haal voor die uitwerking sigbaar is? Sal hy dit probeer?

“Ek het reeds my dosis in vir die dag, maar as u daarop aandring, sal ek een neem aan die einde van die onderhoud.”

Hy kyk na die res van die joernaliste. Almal knik instemmend.

“Enige vrae van die vloer?”

Hy hoor net die klank van kameras wat kliek.

“Dames en here, dr Neethling het ingestem om ’n vredespil voor die kameras te drink. Dankie, dr Neethling. Dit sal sekerlik die negatiwiteit oor hierdie pil eens en vir altyd uitwis.”

’n Kelner bring ’n bottel Perrier-water na die verhogie waarop hulle sit. Die onderhoudvoerder bied hom ’n glas en die pakkie pille aan. Hy maak dit oop, glimlag vir die gehoor, druk ’n goue pil uit die goue foeliepak. Sit dit op sy tong, neem ’n mondvol van die borreltjieswater, sluk. Hy voel weer die peristalse, die klep wat oopgaan, die plons in sy maag.

“Is u nou tevrede?”

Die onderhoudvoerder glimlag vir hom, kyk direk na die kamera.

“Ons besit nog nie die wysheid van nakennis nie. Al wat ons in hierdie stadium met sekerheid kan sê, is dat die vredespil van dr Robert Neethling duisende aggressiewe en honger mense kalmeer. Dankie, dr Neethling vir u samewerking.”

Toe kom die sarsies vrae.

“Wat bedoel u met ‘natuurlike olies’?”

“Robert Neethling, wat doen jy met die afvalprodukte van jou skoonheidsplase?”

Dr Neethling ignoreer die vrae, staan oombliklik op. Beduie aan die kommissaris dat hy na sy hotelkamer wil gaan. Die veiligheidswagte is om hom. Net voor hulle in die hysbak klim, begin hy dit ruik. Hy konsentreer om dit te ignoreer, kyk na die punte van sy blinkgepoetste leerskoene. Hulle bereik sy kamers net betyds.

Eers wanneer hy die deur agter hom toegemaak en gesluit het, kyk hy op van die vloer af. Druk sy hande oor sy ore om die geskree van sy binneste uit te sluit, dan sy vingers om sy neus om die doodsreuk weg te dwing. Dit help tog nie. Robert sien homself in ’n helderverligte spieël, elke plooi, elke lewervlek, elke verjongingskuur duidelik sigbaar. Hy sien homself. Hy sien homself presies vir wat hy is. Hy ruik homself. Hy proe die galsterigheid van sy spoeg.

Hy stap deur die ingangsportaal, kyk net vir ’n oomblik hoopvol na die foto's van die Nobelpryswenners. Hulle gesigte is van hom weggedraai. Nie een van hulle, selfs nie die jonge, slanke Moslemvrou, kyk sy gebalsemde kadawer in die oë nie.

*

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top