Om uit die dop te klim

  • 0

Ek het Bernard Odendaal se opmerking oor George Weideman se integriteit raakgelees op die ruimte oor die Versindaba,[1] en het ook gewonder. Anders as Joan Hambidge[2] het ek egter nie die moeite gedoen (of die integriteit gehad) om hom daaroor te pols nie.

Die woord integriteit is ’n vreemde, gelade term en het waarskynlik heelwat persoonlike konnotasies. Uit Odendaal se verduideliking[3] blyk dit dan ook dat hy betekenisfasette aan die woord heg wat ek dalk nie noodwendig sou gedoen het nie, maar ek dink sy antwoord is geldig.

My deelname aan dié gesprek gaan nie fokus op die korrespondensie tussen die twee nie; ek dink hulle het mekaar deeglik ingevra en beantwoord. Ek dink wel dat Hambidge korrek was om ’n verduideliking te vra, júis omdat dit so ’n gelade term is. Om iemand se integriteit te bevraagteken, kan skadelik wees.

Ek wil dus graag oor die filosofiese aspekte van die term integriteit gesels.

Ten eerste moet ek ’n vatplek kry, hoe glibberig ook al, op hierdie woord. Odendaal se HAT heg betekenisse aan hierdie lemma wat nie in myne voorkom nie, so kom ons gaan haal die woord uit sy Latynse wortel: integratis beteken "ongeskondenheid", integer is "om onaangetas te wees".

Mý HAT verwys dus na integriteit as iets ongeskonde[4].

Hoe die kuns onder enige omstandighede die skrywer, leser of beskrewe objek of ervaring onaangetas kan laat, gaan my verstand te bowe. Die kuns, wáre kuns, dwing juis die alledaagse uit die integument, vee die watte weg, bevat dit, bevoel dit en sit die objek dan weer, bevingerd, neer. (En as jy nie weet hoe die kuns bevinger nie, moet jy meer van Joan Hambidge werk lees. Sy het die vermoë om die poësie se deelteken lekker heen en weer te klits. Die bietjie wat ek van Odendaal se gedigte gehoor het, klink alte veel of hy ook al dié vingerkuns beoefen het.)

Die organiseerders het aan my ses vrae gestel, en ek verkies om my gesprek aan die hand daarvan te voer.

 
Na aanleiding van die gesprek tussen Hambidge en Odendaal, sou mens kon praat van die integriteit van die teks se taalgebruik? Indien wel, hoe sou jy dit omskryf?

Per definisie nee. Ek weet nie hoe die teks taal ongeskonde kan laat en steeds kuns kan wees nie. Die teks, en veral poësie, moet dan juis ostranenie pleeg. As kunstenaar is dit my plig, het ek altyd gedink, om die taligheid van die taal uit te stal.

Daar is ekstreme. Ek was onlangs by ’n uitvoering van die Suid-Afrikaanse komponis Michael Blake se musiek.[5] Tydens die pouse gesels ek toe met een van die soliste, Frank Mallows. Ek vra hom of dit nie moeilike musiek is nie, en sy antwoord was: “It is not the sort of music that you can go home singing the tune of.”

Blake se eie woorde oor sy musiek is dat hy “materialisties” werk: “Materialists concentrate on the nature of material itself and try to let the material determine the piece.”[6] In een van die werke wat daardie aand gespeel is, het hy byvoorbeeld JS Bach gedekonstrueer om by die komponis se note uit te kom.[7]

Ek het doodmoeg by die konsert opgedaag en het met ’n helder verstand daar uitgestap, al het ek dalk nie eers ’n kwart verstaan van wat gebeur het nie. Blake het my uitgedaag om ánders na musiek te luister. Gans anders. Ons is so gewoond daaraan om grootse werke as agtergrondmusiek tot advertensies te hoor dat ons soms baie gemaklik die musiek hóór ... en nie daarna lúister nie.

Maar, goed, Cole Porter is makliker om te verstaan as William Blake en albei se komposisies is goeie musiek. Blake het Porter ook so opgeklits[8] dat ek nooit sou geweet het dis Porter nie.

Blake sê: Wag ’n bietjie, ek gaan julle uitdaag om musiek nuut te ervaar.

Op dieselfde wyse moet die woordkuns ook mense uitdaag.

Dalk moet ons dus vra: Hoe moet taal lyk in die teks? As ek skryf, probeer ek om my karakters “geloofwaardig” te laat klink. Is dit dus integriteit waarvan ons hier praat? Ek probeer kort sinne skryf, en gebruik lang sinne net as ek regtig iets wil bereik daarmee. Het ek dus integriteit? Ek weet nie of dit hoegenaamd iets doen het met ons ondersoek nie.

Sou die vers se integriteit dus onaangetas wees as daar nie onnodige woorde in voorkom nie? Sou Jaap Steyn se Die grammatika van liefhê,[9] wat die taal opgekap en weer inmekaar geskroef het, se integriteit daarin lê dat elke woord, elke leesteken, presies pas? Dalk.

Tog dink ek egter dat die krag van Steyn se werk juis lê in die manier waarop hy die taal aangetas het. Soos Michael Blake se musiek het Jaap Steyn se poësie mense laat stop, laat herlees en ánders laat dink oor taal, juis omdat Steyn, soos Blake met musiek, elke woord se integriteit bevraagteken het.

Dalk moet ek in hierdie monoloog die teendeel ook stel.

Ek het so twee jaar gelede met Bernard Odendaal se woordkuns kennis gemaak toe ek na sy Afrikaanse berymings van Jacques Brel se liedere gaan luister het [10]. Odendaal en Naomi Morgan het saamgewerk aan dié projek. Ek ken Brel se musiek redelik goed en ek kan werklik sê dat van al die Nederlandse, Afrikaanse en Engelse vertalings wat daar bestaan, daar nie een ander stel berymings is wat die integriteit – die ongeskondenheid dus – van Brel se oorspronklike musikaliteit beter behou nie.

Wanneer Herman van den Berg Odendaal se woorde sing, kom die rouheid van Brel pragtig na vore.[11]

In hierdie geval gebruik ek egter die oorspronklike musikale kwaliteit van die taal as toetssteen. Wat Barnard en Morgan met die Brel-woorde gedoen het, was dus om nuwe tekste te skep, met hulle eie ostranenie, sonder om Brel se toon aan te tas.

 

Sou mens kon praat van verteltegnieke met of sonder integriteit in die prosa?

Ek neem aan dat die prosa dalk meer toegeeflik as die poësie kan wees en die leser daarvan dus kan meevoer, kan verlei, om te dink dat die leeservaring heel en ongeskonde is.

Fiksie ís veronderstel om die leser na ’n ander wêreld te neem. Beam me up, Scotty?

Sou ’n verteltegniek met integriteit dalk die een wees waar die leser heelhuids in die fiksiewêreld kan kom? Ek weet nie.

Die keuse van ’n verteller kan beslis bydra tot die genot van die teks se resepsie. Wanneer ek werkswinkels aanbied oor die skryfkuns, of skrywers begelei, doen ek baie moeite om die korrekte verteller en die korrekte perspektief te help vind vir die stuk. ’n Mens sien dikwels ’n verhaal blom as die verteltegniek eers aangepas is.

Vir sommige verhale werk ’n eerstepersoonverteller byvoorbeeld beter as ’n derdepersoonperspektief, en omgekeerd.

Soos met musiek of poësie is die prosa egter ook veronderstel om die leser op ’n manier ánders te laat dink oor die gegewens wat beskryf word. Dalk is die afstandelikheid in ’n goeie verhaal minder opvallend, maar enige prosateks wat faal daarin om die leser te laat dink, is verdag.

Vreemd genoeg kan ons juis George Weideman se roman Die Onderskepper[12] hier byhaal. Die vertellende instansie weier uiteindelik om die geheim weg te gee in hierdie speurteks – wat nogal frustrerend is, maar wat juis daarom, kuns-matig (let op die koppelteken) werk. Of hierdie teks daarom meer, of minder, integriteit het as een van Deon Meyer se verhale, weet ek werklik nie, maar ek twyfel.

Is daar iets soos integriteit, verstegnies gesproke?
’n Mens sou aanneem dat dit moontlik is om ’n goeie kwatryn, ’n goeie sonnet of in ’n goeie, jambiese metrum te kan skryf. Daar is inderwaarheid voorbeelde hiervan in ons digkuns. Op ’n soortgelyke wyse sou ’n mens ook in die vrye vers kon gaan soek na bindingselemente en sekere stylfigure wat korrek, en met vaardigheid, aangewend is.

Let byvoorbeeld op hoe Bernard Odendaal die rymende ooi-klank gebruik aan die einde van sy gedig “Daeraadslied”, met as onderskrif “Op die wysie van 'More Oompie, more, Tannie'":[13]

Dan, wyl ek skeer,
berym ek als op ‘plooi’:
‘glooi’ tot by ‘tooi’
- maar vee my af aan ‘dooi’!

Gaan lees gerus die hele gedig – dan word dit duidelik waarom hierdie rymwoorde saamhang met die res van die gedig. Anders as in die sotlike rymende koeplette van Afrikaanse popliedjies word rym hier gebruik om ’n boodskap te onderstreep.

Kyk gerus na Daniel Hugo se verse. Hugo is ’n rymer van formaat, maar weens die komplekse aard van sy ritme, sy woordkeuses en sy beeldgebruik kom ’n mens heel dikwels nie agter dat jy met ’n streng rymskema werk nie, tot jy dit weer lees.

Ek het nou reeds my mond uitgespoel oor die groot gros walglike popliedjies wat in Afrikaans verkoop, maar gaan luister ’n slag na goeie lirieke. Talle goeie woordkunstenaars rym as hulle lirieke skryf, en dit geld vir enige taal wat ek goed genoeg ken om die woorde en lirieke in te volg.

’n Mens sou dalk wel van die integriteit van die verstegniek kon praat. As al die elemente saamwerk en sigself aanbied as ’n geheel, ongeskonde nog, om dán bevinger te word deur die leser/luisteraar/kritikus, sou dit dalk moontlik wees om te sê ’n vers het integriteit.

Weer moet ek egter die teendeel stel in my eie alleenspraak. Lees weer die gedeelte wat ek uit Odendaal se gedig geplaas het. Die drie -ooi-woorde wat skitter in hulle afwesigheid, is mooi, rooi en, die heel belangrikste, kooi. As ons in ag neem dat hierdie gedig handel oor die viering van die liefde – seks, in goeie, plein Afrikaans – tussen die “Oompie” en die “Tannie” van die subtitel, dan is kooi tog ’n moet daar ... Hulle doen dit immers in die kooi. Die gedig is ook mooi, die liefde en die hele spel daarrondom is mooi. Neem ons bowendien in ag dat elke beginnerdigter die liefde met ’n rooi Valentynshartjie wil tooi (ahem), dan besef ons Odendaal is besig om nie ’n héél, ongeskonde vers aan te bied nie, maar juis een waarin die stiltes ewe hard praat as die gesproke/geskrewe woord.

Of is sy vers ongeskonde juis omdat hy nie onnodige woorde in het nie? Nee, wil ek sê, so ’n aanname is te vlak. Die woorde rooi, mooi en kooi is júís teenwoordig. Dit is juis hulle nie-daar-wees-nie wat hulle beklemtoon. En nou sit ons met ’n gedig wat ons moet optel, bevat en bevoel om uit te vind waarom sekere woorde op die reserwebank sit en ander nie.

Nog ’n teenargument kom van Elisabeth Eybers. Dié vrou kan sonnette skryf. ’n Mens sou tereg van haar werk kan kritiseer, maar uiteindelik moet ons aanvaar dat sy waarskynlik die doyen van die Afrikaans sonnetkuns is. Wanneer sý dan wel in rymende koeplette werk, moet ons vra waarom.

’n Koeplet van haar (wat weliswaar in ’n abab cdcd efef gg-gedig voorkom), verskaf die antwoord:

Jy het ons gebreek om ons te wys hoe skoon
en onverbiddellik is jou patroon.

Dié gedig heet “Aan die lewe” (uit Die ander dors).[14]

Helaas.

Eybers dig soms hele gedigte in rymende koeplette, vergelyk “Nocturne” (sic, Die vrou en ander verse), “Klein ballade” (Tussenang), “Wandeling” (ibid), “Ontmoeting” (Die helder halfjaar) en “Terugrit” (ibid). Ek wil voorstel dat háár gebruik van die rymende koeplet dikwels dui op ’n oomblik wat nie vasgevang kan word nie, ’n saamwees wat gedoem is, ’n onmoontlikheid, dus.

As Eybers van alle mense dan ’n sonnet in aabb ccdd eeff gg skryf, dan weet ons die reëls is met opset verbreek, die integriteit van die vers is opsetlik geskend. Gaan lees weer haar gedig “Moeder” in Die helder halfjaar. Hier is net vier van die reëls:

En as hy eendag met ’n frons van pyn
jou aankyk het die towerwoord verdwyn
waarmee jou mond sy eerste angs kon troef.
’n Nuwe trots laat sy gelaat verstroef.

Dié van ons wat kinders het, weet hoe waar dié woorde is. Maar waarom ’n sonnet in rymende koeplette? Ek dink die antwoord is juis dat die towerwoord van die digkuns nié al die antwoorde het nie. Vir my is hierdie geskonde, aangetaste sonnet van Eybers beter as ’n paar van haar vroeër werke wat so mooi en korrek met die verstegniek omgaan.

 

Is daar iets soos integriteit in die keuse van ’n tema?

Wie van julle onthou hierdie wonderlike gedig deur Joan Hambidge?[15]

Foto van man wat val

Bo hemel en aarde
Vertikaal
hang hy gekruisig deur ’n fotograaf

die man:

Eers ’n naamlose uitroepteken
op die oordeelsdag
toe hy vlug
van die swael en vuur
weg
weg
na ’n bestaan buite tyd
(en pyn).

Vele vraagtekens volg:
wie was hierdie man?

Die misterie verbreek:
Ons verneem hy was ene Norberto Hernandez
van Puerto Rico. Dit was sy laaste
werksdag as bakker
en skinker van die lewe.

Maar eintlik was hy ’n engel
wat tydens hierdie Armageddon
die ondraaglike breekbaarheid van lewe
oorwin.

Koerante, bloemlesers en skoolboekskrywers het hierdie gedig opgeraap omdat dit so ’n essensiële teks is om ’n dag in ons lewens, wat van toe af nooit weer dieselfde sou wees nie, te verstaan.

Ek kan ’n hele seminaar aanbied oor hierdie gedig, maar ek is besig om ’n vraag te beantwoord oor die keuse van tema.

Ten eerste het Hambidge aktueel gehandel met hierdie gedig. Bravo. Aktualiteit in die kuns is vir my altyd verblydend.

Ten tweede haal Hambidge die tema van die godsdiens hierby aan. En hoe? Let op dat haar tema die Christendom beskryf. Let op hoe fyn sy die Armageddon plaas voor die voete van Dubya Bush, nie voor ’n man met ’n baard wat die Islam aanhang nie. Ook dít is aktueel en verblydend eerlik. Hier is geen goedkoop poging om die skok en afgryse van selfmoordterroriste te beskryf nie, hier word beelde uit die meesternarratief geneem om die kleingeskiedenis mee te verpak.

Let op hoe essensieel Puerto Rico is in hierdie gedig. Die tema van hierdie gedig is veel meer, veel groter as 9/11. Dit is uiteindelik ’n gedig oor ’n eensame man in ’n vreemde land wat vir ryk mense gewerk het en uitgesien het na ’n beter lewe. Dit gaan oor iemand wat tot op die laaste oomblikke van sy lewe die rol van “bakker en skinker” gespeel het.

Uiteindelik handel die gedig oor “die ondraaglike breekbaarheid van lewe”.

Die waarde van Hambidge se gedig lê juis daarin dat dit uitstyg bo die oomblik. Niemand kan haar daarvan beskuldig dat dit bloot ’n saamrygeleentheid op die bandwagon was nie. Oor twee honderd jaar, wanneer die VSA ’n Spaanssprekende, Katolieke land gaan wees, sal die paar studente, geklee in jeans en stywe T-hempies, in Dubai se fakulteit van “Recently deceased languages”, steeds hierdie gedig van Hambidge kan lees en waarde put uit die ryk metafore wat sy gebou het om ’n tragiese oomblik in ons wêreld se geskiedenis.

Ons moet dus versigtig wees om ons temas nie te nou te omskryf nie.

My eie aandrang op aktualiteit word ook goed in die bek geruk deur ’n groter skrywer, Arundhati Roy. Diegene wat Roy se loopbaan gevolg het ná die publikasie van The God of Small Things,[16] sal weet dat sy ’n menseregte-aktivis geword het. En, interessant genoeg, sy het haar fel kritiek ook op die kunste gerig. Sy had, onder andere, versengende kritiek op die film Bandit Queen[17] wat handel oor die ware verhaal van die verkragting van Phoolan Devi deur ’n bende misdadigers, en dié vrou se wraak op die samelewing.

Roy se kritiek handel oor die feit dat die vrou in die eerste plek nog lewe, en in die tweede plek dat die filmmakers klaarblyklik nie toestemming gevra het om die verkragting te herskep op film nie.

Op ’n soortgelyke wyse het sy Suketu Metha se Maximum City[18] verdoem omdat dit tonele bevat van mense wat gemartel word. In haar eie woorde:

When you witness torture you are seeing someone humiliated. In front of you. It is not a neutral act. Certainly you have the permission of the torturer, but you do not have the permission of the tortured.[19]

Is dit werklik so dat ons nooit kan skryf oor geweld op ander nie? Roy het dit tog self in haar debuut gedoen. Of gaan dit oor die hóé? Sou fiksie goed wees, maar semibiografiese werk nie?

Ek is self gekritiseer oor my hantering van die verkragting van ’n jong meisie in “Die blou rok”[20] – deur niemand anders nie as Fanie Olivier, my toenmalige baas, wat gevoel het dis te sensasioneel. (Vandag sal daardie teks waarskynlik deur ons nuwe, drakoniese wet op publikasies verbied kan word.)

Wat sou Arundhati Roy sê oor die wonderlike, maar eksplisiete, Franse film Base Moi?[21] Of oor André P Brink se Kennis van die aand?[22] Wat van Donald Woods se Biko,[23] of Richard Attenborough se Cry Freedom?[24]

Ek is nie seker of ek volledig met Roy saamstem nie, maar dit wil vir my lyk of ’n soeke, hoe futiel ook al, na ’n tema met integriteit dalk lê in manier waarop Joan Hambidge te werk gegaan het toe sy verskeie temas gekombineer het om oor ’n tragiese gebeurtenis verslag te doen.

 

Het die lewe van ’n skrywer iets te make met die integriteit van sy/haar tekste?

Kyk, nou raak ons skunnig. Genoeg hoogdrawende retoriek.

Daar was tydens die Woordfees een redelik onwelvoeglike oomblik op die verhoog, kort na Bernard Odendaal en George Weideman voorgelees het: Jeanne Goosen moes haar, weens ongesteldheid, onttrek en Marlise Joubert het in haar plek drie verse kom voorlees. Toe dít aangekondig is, het Margot Luyt[25] vir Joubert voorgestel as ’n “intieme vriendin van Louis Esterhuisen”.

Nou dít het my warm onder die kraag gelaat. Wat op deeske aarde het hierdie inleiding met die prys van poësie te doen? Ek ken toevallig ander met wie Joubert ook intiem verkeer het – gelukkig is dié nie ook bygesleep nie. Waarom word André Brink nie voorgestel aan gehore as die intieme vriend van elkeen met wie hy al verkeer het nie? Dalk omdat ons dan almal skaam sou wees oor ons eie gebrek aan ervaring? Sou ons, mindere lovers, dan per definisie nie met integriteit oor die liefde kan skryf nie?

Sou skrywers en digters oor die liefde van nou af aan gekategoriseer moet word? Die “minderes”, soos Bernard Odendaal, George Weideman en Cas Vos, wat gedefinieer moet word in terme van hoeveel (amptelike) lewensvennote hulle al gehad het, en Marlise Joubert, Louis Esterhuisen en Joan Hambidge as die "meerderes" omdat hulle al meer gehad het?

Sou sodanige definisies van Kleinboer ’n beter skrywer maak as van my? Of sou die feit dat die man ágter Kleinboer wel getroud is, en wel ’n pragtige, stralende Zoeloevrou het en dus nou aan haar gedefinieer kan word, skielik van hom ’n mindere skrywer maak? Hierdie soort definiëring sou dan beslis van die Nederlander Jef Geeraerts ’n meerdere skrywer oor Afrika maak as wat ek ooit kan wees ... Of was hy ’n windbol wat bloot goeie fiksie kon skryf?[26]

Nee wat. Hierdie soort snert het ons nie nodig in die letterkunde nie. ’n Mens sou hoop Luyt het dié opmerking weens onbeholpenheid gemaak.

Ook kan ek noem dat Marlise Joubert effens geskok gelyk het om só in die gesig gevat te word, maar dat sy toe herstel het en, met integriteit, drie baie mooi verse oor haar grootwordjare voorgelees het waarin sy die draak gesteek het met, en beswaar gemaak het teen, ongevraagde, moralistiese beswadderings. Haar verse het vir Margot Luyt geantwoord. Finish en klaar.[27]

Weer moet ek egter ’n teenvraag stel: Kan die skrywende instansie wel met integriteit oor ander se lewens berig?

Hieroor ’n klein opmerking rondom eie werk. Om verskeie redes doen ek deesdae heelwat werk vir, en navorsing oor, “alternatiewe gesinne” – ’n mooi term wat ’n vriendin gemunt het. Hierdie navorsing het dan ook neerslag gevind in ’n verhaal, “Once threw a party”, wat ek op LitNet en GaySpeak gepubliseer het tydens die dertigjarige herdenking van Elvis Presley se dood.[28]

Coenie Kukkuk skryf toe vir my ’n e-pos:

Ek was gisteraand op 'n funksie en 'n straight vriend van my – ’n  korporatiewe tipe – noem dat hy jou verhaal begin het (nogal op kantoor) en nie kon ophou lees nie ... hy sê sy mond het oop gehang. Toe ek glimlag en sê – ja die skrywer is ook straight – het hy my aangegaap ...

Waarop ek antwoord:

Dis lekker om uitdagend te wees, en om mense aan die dink te sit. Daar is ook altyd die ou vraag: Kan mans oor vroue skryf, gays oor straight, swart oor wit, akademikus oor werker (en vice versa)?

Dit ís ’n vraag. Ek glo ek het my eie vraag, by implikasie, beantwoord en ek sal die leser moet toelaat om oor my integriteit te besin. Maar die leser se integriteit? Dis ’n ander vraag.

 

Bestaan daar iets soos “Lees met integriteit”?

Die vraag is gelukkig al deeglik deur meerdere skrywers beantwoord. En van die beste ondersoeke na dié kwessie is gedoen deur NP van Wyk Louw in sy radiopraatjies “Rondom eie werk” en veral die episode waarin hy praat oor die interpretasie van sy gedig “Grense”.[29]

In dié praatjie verduidelik Louw dat ’n skoolmeisie aan hom geskryf het om ’n meningsverskil oor dié gedig op te los. Aan die een kant het haar sussie se kêrel dit vir die sussie gestuur as ’n liefdesgedig, aan die ander kant sê hulle onnie dis ’n metagedig – een, dus, wat nie oor die liefde nie, maar oor die skryfkuns handel.

Louw se antwoord? Albei is reg. Per implikasie beteken dit dus dat Louw nie die integriteit van die leser wat slegs ten dele verstaan, in twyfel trek nie, maar ook dat hy nie die integriteit van die akademiese leser “hoër” stel as dié van die amateur nie. (Louw maak ook interessante opmerkings oor die skrywende instansie se vermoë, al dan nie, om oor eie werk te besin.)

Daar is in die literatuurteorie al heelwat besin oor die “ideale” leser. In het korte is die ideale leser iemand wat só wyd belese is dat sy álle intertekste, álle beelde en álle ander verwysings in enige teks sal snap. Daar bestaan dus nie so iemand nie.

Oor die resensent se rol as leser is daar ook al baie besin – dis nie iets wat ek hier wil aanraak nie.

 

Om op te som

Ludwig Wittgenstein[30] sou van meet af aan vir ons kan sê hierdie gesprek kan nie ’n oplossing vind nie, want die vermoë van woorde om te beteken en te be?teken is gewoon te onvolmaak.

Tog dink ek niemand sal ooit weer in die Afrikaanse letterkunde die woord integriteit met ware integriteit kan gebruik nie. Ons sal van nou af altyd daaroor moet wonder. En dís ’n wins.

Dankie Bernard, en dankie Joan.

[2] Joan Hambidge, "Vraag aan Bernard Odendaal"

[3] Bernard Odendaal, "Antwoord aan Joan Hambidge"

[4] Myne is oud; dis in 1992 uitgegee deur die destydse Perskor.

[5] South African College of Music Concerts, Recent Music by Michael Blake, Dinsdag 25 September 2007

[6] Die programnotas

[7] Michael Blake, 1999, BWV Fragments

[8] Michael Blake, 1997–99, Nightsongs

[9] JC Steyn, 1975. Die grammatika van liefhê, Tafelberg: Kaapstad

[10] Herman van den Berg sing Brel in Afrikaans, 11 Maart 2006. Na dié vertoning het ’n ou Vlaamse dame opgemerk dat sy die voorreg had om Brel in lewende lywe te sien optree, en dat sy hier, in Stellenbosch, haarself moes knyp, want dit het al gevoel of Brel uit die dood opgestaan het.

[11] Die cd Herman van den Berg sing Brel in Afrikaans is beskikbaar; besoek gerus http://www.hermanvdb.co.za/musiek/musiek.htm.

[12] George Weideman, 1997. Die onderskepper, Queillerie: Kaapstad

[13] Uit: Bernard Odendaal, 2007. Onbedoelde Land, Tafelberg: Kaapstad

[14] Ek verskaf telkens die oorspronklike bundel se titel om konteks te gee aan die gedigte van Eybers wat ek noem, maar die meeste van haar vroeër werk is tans onverkrygbaar. Ek het dus gehou by gedigte wat voorkom in: Elisabeth Eybers, 1990. Versamelde gedigte, Human & Rousseau en Tafelberg: Kaapstad

[15] Die oorspronklike skakel op PoësieNet is: http://www.oulitnet.co.za/poesie/hambidge23.asp.

[16] Arundhati Roy, 1997. The God of Small Things, Flamingo: Londen. Dié teks is in 1997 met die Booker-prys bekroon.

[17] Bandit Queen, 1994. Regisseur: Shekhar Kapur. Seema Biswas speel die hoofrol. Mala Sen, wat ’n boek geskryf het getitel India’s Bandit Queen, word genoem as een van die skrywers van die film, saam met Ranjit Kapoor.

[18] Suketu Metha, 2004, Maximum City. Knopf: New York. Dié teks het in 2005 die Kiriyama-prys gewen en dit was ’n finalis vir die 2005 Pulitzer-prys. Die outeur se amptelike webruimte haal ’n ongenoemde resensent uit The Economist aan wat die teks soos volg beskryf: “With a clear but non-judgmental voice, his is an outstanding tale of the exhilarating city in which he grew up.”

[19] Sien Randeep Ramesh se artikel “Back to the storyboard” in Mail & Guardian Friday, 23–29 Maart 2007, bl 6.

[20] Sien Izak de Vries, 1998. Kom slag ‘n bees, Tafelberg: Kaapstad.

[21] Baise Moi, 2002, Regisseurs en skrywers Virginie Despentes en Coralie. Die film is gebaseer op  Despentes se roman, met dieselfde titel, wat handel oor haar eie ervarings as ’n prostituut. “Coralie” se volle naam is Coralie Trinh Thi. Sy is ’n veteraanaktrise van meer as 60 pornofilms, maar ook iemand wat veel doen om veilige seks te bevorder. Coralie en Despentes het mekaar ontmoet terwyl hulle gewerk het aan ’n advertensie wat veiliger sekspraktyke bevorder. Die storie handel oor twee vroue wat wreed verkrag word (die toneel word eksplisiet getoon) en dan op ’n bloeddorstige moordtog gaan.

[22] André P Brink, 1973. Kennis van die aand, Human & Rouseau: Kaapstad. In dié teks word die hoofkarakter, Josef Malan, in aanhouding gemartel.

[23] Donald Woods, 1979. Biko, Penguin: Londen. Woods het bekend geword toe hy foto’s van Steve Biko se gemartelde lyk aan die wêreldpers gelek het. Genoemde kopie van die boek bevat enkele van dié foto’s.

[24] Cry Freedom, 1987, Regisseur: Richard Attenborough. Denzel Washington vertolk die rol van Steve Biko. Die marteling word genadiglik nie getoon nie, maar die gebroke lyf van die dooie wel.

[25] Luyt was die seremoniemeester. Daar is nie voorgeskrewe tekste aan die seremoniemeesters uitgedeel nie; hulle moes dus situasies hanteer deur op hulle voete te dink.

[26] Sien Jef Geeraerts, 1970. Gangreen 1 Black Venus, Manteau, Marnix Pocket Edition: Brussel Den Haag.

[27] Sien Marlise Joubert, 2007. Passies en passasies, Protea: Pretoria.

[28] Sien “Once threw a party” deur Izak de Vries op NetFiksie.

[29] Hierdie praatjie verskyn in: NP van Wyk Louw, 1986. Versamelde Prosa 1. Tafelberg: Kaapstad; sien bladsy 533.

[30] Die opsomming van Ludwig Wittgenstein se seminale teks Tractatus Logicus Philosophicus is: “Whereof one cannot speak, thereof one must be silent.” Die teks is deesdae aanlyn beskikbaar: http://www.kfs.org/~jonathan/witt/ten.html.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top