
Hierdie tipe fietsry, was dit soos wat die US dit ook in hulle mediaplasings beskryf het as “quite a bold move!”
...
Ek moes maar dan uit my eie sak uit my laaste ou sente of selfs my eie toebroodjie met hierdie tipe studente deel, waar ek natuurlik kon, sodat hulle ietsie kon eet.
...
Vroeër vanjaar het ek ’n baie dapper besluit geneem deur die Universiteit Stellenbosch (US) se rektor en visekanselier, Wim de Villiers, met die Cape Town Cycle Tour uit te daag. Elke jaar neem De Villiers en ’n groep Maties, meestal alumni en personeel, aan hierdie kompetisie deel om geld in te win vir studente wat finansieel sukkel aan die US.
Vanwaar die malligheid?
Ek het besluit om aan vanjaar se kompetisie deel te neem met die hoop om ook geld in te samel, veral vir studente wat gebuk gaan onder voedselonsekerheid op kampus. As iemand wat absoluut niks weet van fietsry nie, en veral hierdie tipe fietsry, was dit soos wat die US dit ook in hulle mediaplasings beskryf het as “quite a bold move!”
...
In totaal het ons oor die R100 000 ingesamel vir studente wat finansieel sukkel.
...
As ondervoorsitter van die US se studenteraad (SR) sit ek saam met ander uitvoerende komiteelede van die SR op ’n forum wat maandeliks met die Rektoraat of die US se bestuurspan ontmoet om oor verskeie studentekwessies te praat. Dit was met die afloop van vanjaar se eerste vergadering in Februarie waar ek vir De Villiers gesê het ek wil aan vanjaar se kompetisie deelneem met my oog op twee dinge:
- om ’n beter eindtyd as De Villiers te hê en,
- met die hoop om darem ’n paar sente in te win vir studente wat saans sonder iets te ete gaan slaap.
My kollegas op die SR, lede op die US se bestuurspan, van my vriende en algemene werkers aan die US het dit ietwat snaaks en “onmoontlik” beskryf, siende dat ek nie gereeld fietsry of enigsins iets weet van professionele fietsry nie.
“Basta, wie sê jy moet ’n professionele fietsryer wees of bobaas-kennis hê om aan hierdie goed deel te neem?” was my respons tot dié wat snaakse kommentare gemaak het. Ek moet erken dat sommige mense maar in die algemeen net ’n bietjie bekommerd was omdat talle mense jaarliks hulleself nerfaf val of selfs hulle lewens ongelukkig verloor.
Daar is ’n genuine kreet om hulp vir voedsel op die US
“Ek is bereid om my lewe op die spel te plaas vir ons studente,” was nog een van my response tot hierdie bekommernisse. Volgens my moet ’n mens nie net praat oor menseregte nie, maar ’n mens moet probeer om iets prakties te doen om te bewys jy gee om oor die regte van ander. Walk the talk, soos hulle sê, ek was bereid om die “walk” te trap!
In ’n land waar politici daarvan hou om leë beloftes te maak aan dié wat hulle in regering gebring het, kon ek nie dieselfde doen aan die studentegemeenskap wat my aan bewind gebring het nie. Ek wou hiermee wys dat ek regtig omgee en dat ek regtig die kreet van studente hoor.
Om eerlik te wees, die kreet is real en dit is verskriklik rou om aan te hoor.
In my leierskap op die SR het ek sedert die begin van my termyn die pyn en stories van studente aangehoor wat vir dae en selfs weke honger gaan slaap. Dit was en is steeds vir my baie moeilik om te sê dat die SR nie toegelaat word om van sy begroting vir studente kos te koop nie, al is die nood ook hoe groot. Volgens beleid aan die US word dit nie toegelaat nie.
Ek moes maar dan uit my eie sak uit my laaste ou sente of selfs my eie toebroodjie met hierdie tipe studente deel, waar ek natuurlik kon, sodat hulle ietsie kon eet. Ek dink nie dis okay vir studente om te stres oor waar hulle volgende maaltyd vandaan kom nie, studente is hier om te fokus op hulle studies – nie waar ek vanaand gaan kos kry nie.
Die US het wel ’n maatskaplike werker waar studente kan gaan aanklop vir voedsel, maar die probleem hiermee is die feit dat studente redelik lank moet wag totdat hulle gehelp kan word. Die ander uitdaging is die feit dat die maatskaplike werker se hulpbronne van donasies kom en ook pogings soos dié van De Villiers om geld in te win vir hierdie studente, en om geld op hierdie manier in te win, is soms kleinskaal en ’n onvoorspelbare proses.
Toe begin die “oefening”
Vandaar dus my besluit om saam te trap vir ’n goeie doel! 109 km as ’n onervare fietstrapper. Daarmee saam was ek selfs ook nog fietsloos, weke voor die fietstoer. De Villiers het toe die US se Alumni Kantoor gevra om my met ’n ordentlike fiets te help sodat ek aan hierdie uitdaging kan deelneem. Binne ’n paar weke daag die fiets toe op.

’n Paar strekoefeninge dae voor die reis.
Toe begin die oefening. Wel, ek weet nou nie of ’n mens 5–10 km per dag, letterlik vier dae voor die toer, “oefening” kan noem vir iemand wat nog nooit so iets gedoen het nie, maar nietemin.
Mense, dit was ’n stryd. Die begin stadium van oefen was eintlik heelwat lekker, totdat ek besef het dit is hel soos wat ’n mens die heuwels op vat. Helshoogte!

Helshoogte-pas: Oefeninge hierop was nie so maklik soos wat ek gedink het nie.
Gelukkig het die US se gimnasium dit darem goed gedink om my te help om my liggaam ’n bietjie fiks te kry, met ’n paar spin-klasse wat darem die bene so ’n bietjie voorberei het vir die reis. Ek is die span daar ewig dankbaar vir die rowwe, maar tog lekker uitdagende tyd in die gimnasium.
Die dag van die fietstoer
My afskoptyd was 08:27 en ek was die enigste Matie-fietsryer tussen al die klomp mense met hierdie afskoptyd. Ek was redelik paniekbevange omdat almal rondom my soos serious fietsryers gelyk het. Ek het toe maar my gevreetjie gemaak asof ek weet wat aangaan, en ’n kort 10 sekonde-gebedjie opgesê en my bene sterkte toegewens.

Paniek: Hou toe maar my kop vas net voor die reis begin.
Die fluitjie het geblaas en ons het begin trap. Ná 4 uur en omtrent 40 minute was ek klaar met die reis, met jelliebene en ’n hartklop wat lus was vir nog.
Ek sal dit definitief weer doen, nie net omdat die reis asemrowend was met die mooiste uitsig van Kaapstad nie, maar omdat ek dit gedoen het vir ’n doel. In totaal het ons oor die R100 000 ingesamel vir studente wat finansieel sukkel.

Tutu en Mandela in die agtergrond: Laat my dink aan die tipe mense wat hulle was, mense wat bereid was om te “trap” vir ander se menswaardigheid.
Na die afloop van die reis het ek gedink aan Desmond Tutu en wat hy gesê het oor medemenslikheid: “Do your little bit of good where you are; it’s those little bits of good put together that overwhelm the world.”
- Foto’s verskaf.