Om te kan smul (en daaroor te skryf)

  • 1

’n Paar maande gelede is ek gevra om ’n verhaal oor die stad of dorp waar ek tans woon te skryf. Ek het lank en peinsend in ’n restaurant in een van die hoofstrate van die dorp gesit, na die berge wat die plek soos ’n enklawe beskut, gestaar, en gewonder wat hierdie plek nou eintlik beteken en hoe mens daaroor kan skryf. Terwyl ek dit doen, het ek ’n heerlike stuk peer-en-amandeltert geëet en ’n glas witwyn gedrink wat van ’n plaas in die omgewing afkomstig is.

Stede is moeilike dinge om oor te skryf, het ek gesit en dink. Mens kan onmoontlik daaroor die waarheid vertel. Aangesien mense soveel subjektiewe herinneringe aan ’n bepaalde plek koppel en die plek vir elke persoon hier anders is, en selfs die geskiedenis (noem dit dalk gebeure wat hier plaasgevind het) uit verskillende teenstrydige hoeke beskou kan word, het so ’n skrywe ’n baie spesiale vorm nodig waarin dit gegiet kan word.

As ek dus nou oor die heerlike stuk peer-en-amandeltert en glas witwyn wil skryf of die koeskoesslaai met sonneblompitte, botterskorsie en kruisement wat ek gister geëet het, wil besing en een of ander skakel wil maak met Stellenbosch en sy beroemde eetkultuur, in watter vorm sal ek dit giet?

Byna toevallig het my navorsing my gelei na ’n spesifieke literêre én joernalistieke genre wat beide letterkunde en joernalistiek – feite en fiktiewe tegnieke – kombineer: literêre joernalistiek.

Wat is literêre joernalistiek? Volgens Wikipedia is dit “the art of blending documentary reportage-styl observations with personal experience, perception and anecdotal evidence, in a non-fiction form of literature”.Wat dit in eenvoudiger woorde beteken: die skryf van ’n joernalistieke artikel (met feite daarin, wat handel oor “die waarheid” of “realiteit”), deur literêre tegnieke te gebruik. Inligting word dus in die literêre-joernalistiek-stuk gekommunikeer, maar dit is gegiet in ’n vorm wat dit soos fiksie laat lees.

Hoe gemaak as jy ’n stuk literêre joernalistiek oor byvoorbeeld “Stellenbosch se eetkultuur” wil skryf?

Laat ek die belangrike stappe uiteensit om dit te probeer verduidelik:

  • Jy moet jou onderdompel of verdiep in die onderwerp. Dit beteken dat jy byvoorbeeld navorsing kan gaan doen oor die geskiedenis van kos in Stellenbosch, met mense kan gaan praat in byvoorbeeld die restaurant-bedryf, of ’n boek kan gaan lees oor die restaurante in die omgewing. Jy moet sélf die dorp besoek en sélf daar eet en drink.
  • Jy moet jouself aktief in die onderwerp inskryf. In literêre joernalistiek lê die klem op wie die skryfwerk doen, wie die gewaarwordinge maak. Wat sien hierdie “ek”? Hoe sien hy/sy dit? Waarom sien of beleef hy/sy dit so? Literêre joernalistiek is dus geen “objektiewe verslag” nie. Die skrywer is aktief deel van die vertelling.
  • Gebruik tegnieke wat normaalweg net met fiksie geassosieer word: tonele, karakterisering, simboliek, narratief. Plaas jou stuk dus in ’n bepaalde toneel – byvoorbeeld in die Bukhara-restaurant in Dorpstraat, of op die sypaadjie in Kerkstraat terwyl jy ’n glas wyn by Java drink. Beskryf die kelner wat jou bedien asof hy ’n karakter is. Vertel van die gesprekke waarvan jy flardes om jou kan hoor; die gevoel van die aand; die reuke van die kos; hoe die wyn geskink word. Beskryf jou gespreksgenoot, hoe hy byvoorbeeld wegval aan ‘n sappige T-been, die lekseltjie sous wat aan sy baard kleef.
  • Dit moet alles akkuraat wees, gebaseer op ’n ware gebeurtenis. Of dit moet ’n sintese wees van afsonderlike gebeurtenisse wat saam ’n realiteitsbeeld van ’n plek skep.
  • Daar moet ’n rede wees waarom jy byvoorbeeld oor die spys en drank van Stellenbosch wil skryf. Wil jy kommentaar lewer oor die oordadigheid van Stellenbosch se eetkultuur teenoor die honger daarbuite? Wil jy die kultuur van kos aan ’n tipe snobisme verbind? Waarvoor staan “spys en drank” in Stellenbosch en wat gaan jy, deur oor jou ete in ’n restaurant op die dorp te skryf, oor Stellenbosch kommunikeer? Onthou: geen natuurbeskrywing, kosbeskrywing, beskrywing van ’n gevoel is neutraal nie. As jy kies om oor Stellenbosch se eetkultuur te skryf, moet dit simbolies wees.

Ander voorbeelde van literêre joernalistiek? Rian Malan se boek My Traitor’s Heart, wat sy herinneringe as joernalis in apartheid-Suid-Afrika uiteensit. Hierin bespreek hy prominente hofsake en werklike gebeurtenisse, maar kombineer dit met die geskiedenis van sy eie familie, sy gedagtegang, sy komplekse en meervoudige emosies en sy interaksies met verskillende mense wat soos driedimensionele karakters behandel word. Ook Antjie Krog se Country of my skull en Begging to be Black is voorbeelde.Ander skrywers wat graag met literêre joernalistiek eksperimenteer, is Tom Wolfe, Gay Talese, Joan Didion, Norman Maler en Jane Kramer.

Literêre joernalistiek is ’n genre wat jy moontlik kan gebruik om aan ons nuwe fiksiekompetisie deel te neem. Tot dusver het ek al vyf inskrywings ontvang, die meeste met een of ander verwysing na kos. Lyk my aspirantskrywers verbind plekke maar met die reuke en smake van die kos wat hulle daar kan eet.
Bon appetit en lekker skryf!

Rentia

Lees ons nuwe inskrywings hier.

  • 1

Kommentaar

  • Hallo,

    Die opskrif van hierdie artikel het my oog gevang en ek het ywerig begin lees. Ongelukkig (en dit is niemand anders se skuld as myne nie) het ek geskrik vir die lengte daarvan en halfpad 'uitgeback'. Wens ek kan van hierdie aaklige eienskap ontslae raak.

    Ek besef dan LitNet gaan oor literêre aspekte en ek hou van jou definisie en uiteensetting van die term literêre joernalistiek.

    Vergewe my as ek hierdie forum gebruik om oor iets te vertel wat betrekking het op die artikel, maar in die filmbedryf.

    Ek het 'n klompie jare gelede die geluk gehad om die fliek 'Women and Men: In love there are no rules' te sien. Daar was 'n lang, uitgerekte eetsessie met my gunstelingaktrise, Juliette Binoche en die akteur Scott Glenn. Die toneel was ongelooflik eroties en die spel (uiteraard vanwee die top akteurs) so treffend dat dit verewig by my sal bly.

    As ek tog maar net iets soortgelyks in literêre joernalistiek kan uitbeeld!

     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top