Om op die verlate perron te dans

  • 0
Die musiekvideo kan deur middel van ’n kunstige versmelting van mediakomponente ’n eie artistieke seggingskrag in Afrikaans bevestig.
Kundiges gesels oor klank, beeld en identiteit na aanleiding van 'n LitNet Akademies-artikel “'Tussen stasies': ’n Aanwending van die stylfiguur van die trein in die Afrikaanse musiekvideo".

Om aan te sluit by die gesprek, net eers ’n paar punte:

  • Ek het “Tussen Treine” geskryf.
  • Ek hou van wat Jack Parow doen, in al sy gedaantes.
  • Martina, daar bestaan twee musiekvideo’s van “Tussen Treine”.
  • Die een is, sover ek onbetroubaar kan onthou, in 1992 gemaak, met my en Lochner de Kock in ou treinwaens by verskillende sylyne en spoorlyne, en ’n werkende stoomlokomotief. Dit is gereeld uitgesaai op SAUK/SABC TV, en nogal gereeld op kykNET ook.
  • Die ander een is in 2012 gemaak, waar ek en Gerhard Steyn saam sing. Weer eens was daar werkende stoomlokomotiewe betrokke, met die twee van ons op spoorlyne en (’skuus) tussen treine. Hy word gereeld op kykNET, en nou op hulle nuwe musiekkanaal, uitgesaai.

Ter inleiding
Ek maak nie self musiekvideo’s nie. Tensy jy baie geld het, maak platemaatskappye die video vir jou, en hulle betaal die vervaardigers. Gewoonlik is die begroting minimaal, so iemand moet ’n plan maak om die video sinvol te laat lyk. Met baie min tyd en geld moet jy iets skep wat lyk asof dit baie geld gekos het, en verskeie nagte se kreatiewe denke verbeeld. En natuurlik moet die mense wat daarna kyk, stomgeslaan word, en dadelik die CD wil gaan koop. As jy gelukkig is, maak jy miskien ’n statement, of skep ’n spesiale stukkie werk wat reguit met mense se siele praat. Of jy kry maar weer die blonde stukkie wat in stadige aksie deur die stadig-wuiwende gras met ’n ranonkel in haar hare na die immer singende held draf en swymelend op ’n doef-doef beat in sy arms duik.

Nou hoekom musiekvideo’s maak?

Die meeste kunstenaars wil seker maar hê mense moet hul musiek hoor en koop. ’n Paar kunstenaars wat ek ken, wil hê mense moet húlle sien, en koop. Platemaatskappye wil hê mense moet koop, punt. Musiekvideo’s moet dan maar seker die lied so aantreklik of sexy of aanloklik as moontlik voorstel vir die “mark” soos bepaal deur wie ook al die geld verskaf.

Vir my is musiekvideo’s nogal ’n opwindende maaksel. Ek sou sê daar bestaan geen reëls nie. Martina stel dit duidelik: jy het woorde, beelde en musiek tot jou beskikking. Daarmee moet jy iets skep wat baie dinge moet vermag. Byvoorbeeld, die sanger moet verhef word tot ’n demigod; die beelde moet die woorde laat spreek en toeganklik maak vir ’n niksvermoedende kyker; ’n mindere lied moet sexy opgedis word, ens. Maar jy kan dit maak nes jy wil. Daar hoef nie ’n begin, middel en einde te wees nie. Daar hoef nie ’n storie te wees nie. Daar hoef nie eers mense te wees nie – jy kan ’n cartoon maak as jy wil. Jy kan ’n blou movie maak (nie vir kykNET nie), of Staal Burger en Die Ruiter in Swart met cross-dressers in die hoofrolle. Daar is geen reëls nie.

Woorde en beelde
Woorde is vir my belangrik. Vir ’n groot groep van die doef-doef-gehoor nie. Sleutelwoorde soos “bokkie”, “baby”, “boude”, “lekker” en “dans” is voldoende. (Dankie, Jack Parow, “vir fokken dans, dans, dans”. Ek wens ek het dit gesê.) Meestal vang die melodie mense se ore eerste. ’n Mooi wysie het nog altyd gewerk. Dan dans die meeste mense en sing ’n sleutel-frase hier en daar saam. Dan eers begin luister ’n geringe groepie na die woorde. Woorde moet hard veg vir hul bestaansreg.

Musiekvideo’s kan help om met hulle beelde die woorde uit te lig. Dit kan ook dodelike woorde interessanter maak. Neem byvoorbeeld die volgende:

Jy’s ’n hartebreker, dis verseker,
hou my in jou hande, lek my oor my tande …

Plaas die heldin met oormatige grimering in ’n sjiffon-tentrok met ’n swymelende held met oormatige grimering in erg noupassende broek aan haar sy in ’n ou Dakota-vliegtuig of in een van Rovos Rail se treinwaens, en skielik kyk mense. Die woorde bly gelukkig vergete. Daar is geen reëls nie.

Daar is baie liedjies oor treine. Die woordbeelde wat die skrywers skep, is soms aangrypend en treffend. Partymaal is die stasie belangriker as die trein, en byna altyd is die persoon op die perron of in die trein die kern waarom alles draai. Hoe jy dit uitbeeld, hang van jou af. Ek dink ou werkende stoomlokomotiewe is van die mooiste dinge op aarde: vreesaanjaend, enorm en oorverdowend. ’n Oormaat yster en bloedige hitte. Daarom sal ek altyd een wil sien in ’n lied oor treine. Maar daar is ook die storie wat die woorde vertel van afskeid, verlate stasietjies, reise, werklik en in die verbeelding, en soms simboliese pelgrimstogte. Die beeld van ’n eensame figuur op ’n verlate perron en ’n vertrekkende trein is sterk, en ek sou dit amper elke keer wou sien. Daar is egter geen reëls nie. Die regisseur en sy verbeelding bepaal hoe die video lyk.

Hier is ’n paar van my gunsteling-woordbeelde deur die jare.

I followed her to the station with a suitcase in my hand,
it’s hard to tell, it’s hard to tell, all your love’s in vain ...
When the train came into the station I looked her in the eye
I felt so sad, so lonesome that I could not help but cry …
When the train left the station it had two lights on behind
the blue light was my baby and the red light was my mind …

                            (Robert Johnson, “Love in vain”)

Daar is seker baie maniere om dit te verbeeld, maar ek sien ’n trein wat vertrek hier, en ’n perron en ’n persoon.

Dan is daar die lied van Steve Goodman wat veral deur Arlo Guthrie bekend gemaak is, “The City of New Orleans”. Vir my een van die mooiste treinliedjies ooit, met van die aangrypendste beelde van trein en passasiers:

Passin’ trains that have no names,
Freight yards full of old black men
and the graveyards of the rusted automobiles ...

Dealin’ card games with the old men in the club car
penny a point ain’t no one keepin’ score
pass the paper bag that holds the bottle
feel the wheels rumblin’ ’neath the floor.

Daar is ’n storie en ’n beeld in elke sin hierso, en die lied draf op die reëlmatige ritme van ’n trein.

Reise is nie altyd veilig nie, en soms is ander beeldmotiewe belangriker as die trein self, soos in Tom Waits se “Downtown Train”:

The downtown trains are full with all of those Brooklyn girls
They try so hard to break out of their little worlds
Well you wave your hand and they scatter like crows
They have nothing that will ever capture your heart
They’re just thorns without the rose, be careful of them in the dark …

Ek sien ’n uitspattige maar donker video met ’n aartsongelukkige sukkelaar-held op ’n lendelam voorstedelike trein, met spatsels bloedrooi lipstiffie oral. Of die fokus kan verskuif na die predatoriese vrouens in visnetkouse en stiletto’s. (Nou nie vir kykNET nie). Weer eens, daar is geen reëls nie.

In Afrikaanse musiek is daar ’n paar treinliedjies: “Die trein na Pretoria” (D Walsh), “Trans Karoo” (Herman Holtzhausen), “Skimme” (Koos du Plessis), “Tussen treine” (Richard van der Westhuizen), en nou “Tussen stasies” (Jack Parow). Ek is seker daar is nog.

“Trans Karoo” was die temalied vir die gelyknamige TV-reeks wat vol treine was, in die dae voor musiekvideo’s. Die twee musiekvideo’s van “Tussen treine” is ook vol treine, en Martina het breedvoerig oor “Tussen stasies” geskryf. Daar is seker ook musiekvideo’s van troepe op pad grens toe op ’n trein in daardie wrede dae, en sekerlik liefdesverhale wat afspeel voor ’n oop treinvenster. Ek sou baie graag ’n musiekvideo wou sien van Koos du Plessis se lied “Skimme”. Ek sien nogal baie video’s waarin treinspore ’n groterige rol speel en selfs per geleentheid treine. Dis ’n sterk stylfiguur wat nog jare by ons gaan bly.

Opsommend
Musiekvideo’s kan help om die woordbeelde uit te dra, maar hoef nie noodwendig nie. ’n Goeie liriek staan in elk geval sterk genoeg op sy eie. Daar is ’n sterk romantiese konnotasie aan treine, veral die ouer treine, en aan stasies en perronne. Dit kan ook dien as ’n metafoor vir reis op verskeie vlakke. Treine kan ’n romantiese atmosfeer skep vir ’n lied wat hoegenaamd niks met treine te doen het nie, of ’n treinlied op ’n besonder effektiewe manier toelig.

Ek het ’n sterk emosionele verbintenis met treine, omdat ek van kleins af baie trein gery het. My vormingsjare het hulle deels afgespeel op perronne, met die hartseer van afskeid en die opwinding van ’n nuwe begin wat mekaar opkeil in my gemoed. As ek ’n trein in ’n musiekvideo sien, ontlok dit dadelik ’n emosionele reaksie by my. Al gaan die lied oor Duitse weeskinders of dansbaan-casanovas. Ek vermoed die brute skoonheid van ’n stoomlokomotief is nog genoeg om ’n soortgelyke reaksie by ander ook te ontlok, selfs al is hulle te jonk om in een te gery het. Die romantiek van die reis sal altyd by ons bly. Maar sal ’n moderne lughawe en ’n moderne trein of straler ooit dieselfde emosionele warmte of nostalgie van ’n ou stasie of lokomotief kan vasvang? Ek dink nie so nie.

Die stylfiguur van die trein loop al ’n lang spoor die hele wêreld deur. Solank daar treine loop (Udo Jurgens, Loose, H Toerien), sal die stylfiguur bly bestaan. Die verskillende aspekte van reis speel ’n belangrike rol in mense se lewens, en die skoonheid van ’n treinspoor en ’n lokomotief sal nog jare verseker dat treine in ons liedjies en musiekvideo’s bly voortbestaan. Oom Frans en tant Sannie Briel het vir ons ’n stewige platform gebou. En ons kan mos maar op ’n verlate perron ook dans?

Keer terug na webseminaar se invalsblad om nog bydraes te lees.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top