Die afgelope tyd was die gemeenskap weer geskok deur die onverstaanbare dood van Annake de Villiers. Gister in die sondagsmart- en sensasie blad kon mens die hartseer en stukkendgeit in Lize Beekman se aangehaalde woorde voel. Ironies genoeg, was dit die onbedoelde waarheid van Coenie de Villiers se gedig “Solo” wat my getref het (“Aan die einde van my dae, sing ek ’n laaste melodie – gestroop en sonder strykers, ontdaan van harmonie. Selfs die ou bekende klawers, van die klavier wat ek ontbeer – daar’s net Een wat na my sal luister, wat my kan hoor – en dis my Heer.” ) Dit het, in my beperkte insig, die emosie van daar waar Annake was en daar waar haar geliefdes nou is, sag vasgevang.
Wanneer hierdie menslike gebeurtenisse plaasvind, is ons mensies baie keer baie voorbereid om ons leke verhoudingskundigheid in te span en dan etenstafel uitsprake te maak. Sogenaamde slimhede soos…. “So baie van hierdie mense is deesdae aan die anderkant” en “sy was seker weer nog ’n depressielyer”… en …“ dis seker hoekom haar man haar gelos het..”ens.
Dit neem die kalmte van ’n Prozac en drie glase wyn en die wysheid van Salomo se onderwyser en meeste van sy vroue om hierdie gemors aan te hoor en nie die weerbarstige uiteraars iets toe te snou soos: “jou arme mens – het jy ooit die tyd om iets van jou eie swakhede te leer voor jy ander s’n so bespreek!”
Gelukkig staak dit nie die gedagtes se woelinge en die neerpen daarvan nie.
Sonder om die gereformeerde gestoei van die deurtrapte, maar onopgeloste, “gay-debat” te open, het ek vandag die behoefte om my stuiwer ook in die pot te gooi. Wanneer een mens vir ander lief raak, ongeag van seksuele voorkeur, kan dit sekerlik nie ’n helsoortreding wees nie?
Ek is ’n man, met liggaamlike en geestesbehoefte aan my vrou en vir niks op deesaarde sal ek dit verruil nie. Daar is egter ook mans wat ek al ontmoet het wat die wonderlikste geselsmaats is. Ouens met wie mens ’n gemaklike vertrouensverhouding kan vestig. Ouens wat in sekere opsigte meer aantreklik en beter versorg is as sommige vroue! Soortgelyks, kan ek baie keer insien dat indien ’n vrou die keuse gehad het tussen ’n ou wat haar net met liefde behandel tot hy sy magspel kan voltooi en oorwin óf, die stimulerende geesgenoot met wie sy die belangrikste van haar lewe kan deel, selfs al is die persoon van haar eie geslag – sou ek die besluit neem wat vir my as mens die gelukkigste kon maak!
In hierdie grystyd van aanpassing by meer as net tegnologiese verandering, is ons elkeen op ’n manier aan die vrees vir die breek van ons mensgemaakte gemaksones uitgelewer. Ongeag van die aard en die omvang daarvan, kan ons met sekerheid weet dat hierdie geesteseise ’n realiteit is. Almal van ons het die breinmondering om dit raak te sien, te ontleed en te bestuur, maar net sekere van ons het egter die vermoë om die vrese sonder sigbare spanning te bowe te kom. Ander van ons sukkel nog om ons mondering te verstaan, “nevermind” die aanspreek en bestuur van die onsekerheid wat hierdie lewenseise meebring. Daarom bid ons, daarom lees ons Bybel en hou-my-op-my-voete boeke, daarom mediteer ons, daarom gaan spreek ons pastorale kenners, daarom sit ons sielsberaders se spreekkamers vol en sluk ons die skedule 5 pilletjies wat die brein-chemie laat werk. Daarom kan koffiehuise en haarkapplekke se deure oop bly.
My hartsgedagte is daar met Lize Beekman, al ken ek haar nie. Dit is ook daar by die kennisse wat moet klaarkom sonder die lewensmaats wat net nie meer kans gesien het nie; maar my koue herinneringsangs is ook met die persone wat die vertrekdaad volvoer het en die feit dat sommige van ons die loop al kon voel en die beeld al kon droom, maar deur diep dankbare genade, vir ons lewensmaats gespaar kon bly.
Soms moet ons weier om met ’n “ongewapende” persoon in ’n sinvolle gesprek betrokke te raak.
Hennie Fritz

