Om ’n moesie te vermoor

  • 0

1. Kry ’n garingdraad of ’n dun toutjie. Vlos werk ook.

“Sy wil trou,” sê hy terwyl hy sy sigaret in die bedding tussen die tiemie en die woestynroos dooddruk.

“En jy?” vra ek.

Hy forseer die stompie in die grond in en draai die oorblywende stukkies tabak uit die stompie. Hy boor die res in die klei in. Krap dit toe sodat die tuinier nie die bewysstuk sal sien nie.

“Ek weet nie.” Hy kyk skuldig op. Hy rook mos nie eintlik nie.

“Is jy lief vir haar?”

Hy kyk af na sy skoene. Die vellies waarvan sy nie hou nie. Hy speel met die veters. Die vellies waarmee hy droom om eendag op sy eie grond te loop.

“Ja?”

Ek steek nog ’n sigaret aan. Bied nie vir hom aan nie.

“Wil jy die res van jou lewe saam met haar spandeer?”

Hy pluk-pluk aan die veters met sy regterhand. Sy linkerhand hang verleë oor sy knie. Sy groot vingers sukkel met die knope. Hy wikkel dit los en trek aan die dubbelstrik. Hy ryg die veters stadig uit. Deur die gat, oorkruis. Ryg. Deur die volgende gat. Hy vinger dit los en trek dit met lang, stadige bewegings deur die gaatjies. Skuur en klik dit dan glippend deur.

Ek trek die rook diep in.

Hou dit in en kyk na die riempie wat al langer word.

Die veter ontsnap deur die laaste gaatjie. Ek draai my gesig weg en blaas uit.

Hy trek sy skoene uit. Sokkies ook. Hy stap met sy kaal voete oor die gras. Die skoene gehaak aan sy voor- en middelvinger. Dou en blare klou aan sy voete. In die hoek van die tuin maak hy die groot vullisdrom oop en gooi sy vellies daarin. Hy draai om en hang die veters om sy nek.

2. Vind die moesie wat jou pla en vat dit vas tussen duim en voorvinger. Trek dit styf om die nek te ontbloot.

 “Tre-e-e-e-e-e-e-e-e-k!” bulder hy.

“Maar my donner, Herman, ek kan nie méér trek nie.” Haar hande is rou. Die tou vreet in haar vel in.

“Nog net een grote, Valery. Amper daar!”

Hy klink onnatuurlik kalm, dink Valery terwyl sy op haar tande byt. Hoekom hy nou in dié weer wou uitgaan, weet nugter alleen. Maar hy wou die pomp uit die rivier trek voor die groot waters afkom waarvan Rooi Piet bo in die Poort hulle gewaarsku het voor die lyn uitgesny het.

“Jou moer!” skree sy. Die woede gee haar krag en sy wen nog twee meter.

Die reën swiep teen haar vas met die geweld van haelkorrels. Sy probeer haar gesig wegdraai om beter te sien, maar haar hare hang slierte oor haar gesig. Sy buig vorentoe en vee haar gesig teen haar voorarm om die water en hare uit haar gesig te probeer vee en verloor amper haar balans. Sy gly ’n meter rivier toe.

“Komaan, Val!”

Sy stem word weggewaai deur die wind en die rivier se gedreun. Sy kop verdwyn onder die water. Sy skop weer vas en leun met al haar gewig agteruit.

Sy is tot by haar enkels in die modder. Sy skop ’n klip raak en herwin weer haar posisie.

Sy boor haar hakke in soos sy die toutrekspan altyd sien doen.

“Komaaaaaaaaaaan!” skree sy en trek met al die krag wat sy het en nié het nie.

Sy wen nog ’n paar treë.

Sy hoor hom roep.

Sy kyk nie op nie. Trap net dieper vas en leun. Hy sal flippenwil nie weer vir my sê om gewig te verloor nie, dink sy terwyl sy wens sy was swaarder.

As sy maar net naby die bakkie kan kom, kan sy die tou aan die bakkie vasmaak en dan kan sy hom maklik uittrek.

“Valery?”

Sy stem klink nie meer so sterk nie.

“My flip, hou vas Herman. Hou …” – sy steun en stu met nuwe krag – “… vas! Hou vas, Herman. Jy gaan my. Nie. Weer. Rond. Shunt. Nie.” Met elke woord skop sy haar hakke in en trek.

“Ek gaan jou uitkry!” skree sy.

Sy hoop hy kan haar hoor. Die water dreun soos ’n diesellorrie met die duiwel se voet op die pedaal.

“Ons kan dit maak werk. Ek sal jou uitkry!” Sy leun terug en neem eers ’n paar asemteue. Sy het die tou om haar gewrig gedraai. Dit voel asof die geweld van die water haar arm uit sy potjie gaan ruk. Of haar saam met hom in die rivier gaan intrek.

Sy sien Herman se kop op en af dobber. Dan verdwyn hy.

“Jy gaan dit nie aan my doen nie. Hou. Vas. Hou vaaaaas!” Met elke woord wen sy ’n kwart tree. Sy kan nie meer haar hande voel nie. Sy voel hoe haar regtervoet in die modder begin gly.

“Nee! Nee, jy vat hom nie vandag nie!” skree sy vir die rivier, vir die wind, vir die reën.

“Nie. Van. Dag. Nie!”

Haar voet skop vas teen ’n klip.

Sy sien weer sy kop bo die branders.

“Val?”

“Hou!”

Haar bene bewe van inspanning. Nog net so vyf meter, dan is hy deur. Nog net vyf meter. Sy beur met nuwe moed. Sy weet nie waar sy die krag vandaan kry nie, maar sy sou ’n bakkie kon oplig met die adrenalien wat deur haar pomp.

“Her...maaaaaaan!”

Die tou gee skiet en sy steier agtertoe en val op haar stuitjie. Sy sit regop en kyk na die rivier wat grommend voortstu.

Sy sit met haar bene in ’n driehoek voor haar. Alles is vol modder. Die reën swiep steeds nypend.

Sy kyk af. Die tou hang slap om haar gewrig. Haar hande is vol bloed. Sy is rou.

3. Maak ’n strop of ’n lus. Sit dit om die moesie se nek.

“Druk, meisiekind.” Sy druk die verpleegster se hand dat die vleis wit uitpeul.

“Nie net my hand nie, kind. Druk! Die baby moet uit.”

Op Grey’s Anatomy het dit seer gelyk, maar nie só seer nie.

Dit voel asof alles oopskeur.

Sy skree nie.

“Kom, kindjie. Kom. Nog ’n laaste druk. Daar! Daar, ek sien die koppie. Hier kom hy, hier kom hy. Mooi, meisiekind, dis amper verby.”

Sy voel die verlossing. Sy voel hoe die lewe uit haar vloei.

Sy sien die verpleegster met die bondeltjie in haar hande. Dis vol slymerige ghwelle. Dit huil nie.

Sy huil nie.

Die naelstring is om sy nek.

4. Trek styf. Wag. Tot dit afval.

Daar is ’n groot rooi strik om die klein swart boksie.

“Shemeeze …?”

Mariska sak af op haar knie.

Haar gesig opgedraai asof sy na die maan staar. Haar arms rank uit boontoe met die vrug wat aan die bopunt pryk.

“Shemeeze. Ek is lief vir jou en wil die res van my lewe saam met jou spandeer.”

Sy maak die strik los en lig die boksie se deksel stadig oop.

“Ek … ek … dit …”

“Sal jy, Shemeeze Abrahams, met my trou, asseblief? Ek wil die res van my lewe saam met jou spandeer, elke dag saam met jou begin en elke dag saam met jou afsluit.”

“Mariska, ek … sjoe … dis … unexpected.” Shemeeze se een hand is om haar voorkop gevou asof sy koors het en haar eie temperatuur meet. Die ander hand is op haar heup. Sy wieg van een been na die ander.

Mariska glimlag en kyk liefdevol na Shemeeze se ongemak. Sy het niks minder verwag nie. Sy is so bly dat sy alles ’n geheim kon hou en dat Shemeeze niks vermoed het nie. Die aand het perfek uitgewerk. Die sonsondergang op Tafelberg. Die ete daarna by De Doorgang. Die rit soontoe tussen die wingerde. Die windlose, sterbestrooide aand. Selfs ’n verskietende ster. Die strykkwartet op die stoep onder die prieel. Of eerder, die stryktrio. Die tweede violis het ’n maagvirus en is sedert die voorgereg in die badkamer, so nou is dit seker ’n stryktrio.

“Mariska. My family. Dad. Jy weet tog. Hy sal dit nooit vat nie. Hy sal my uit die huis uitsmyt.”

Mariska druk die boksie weer vorentoe.

Shemeeze vat dit uit Mariska se hand en kyk vir die eerste keer na die inhoud. ’n Sleutelhouer is in die ringgleuf.

“’n Keyring?” lag Shemeeze verlig. “Waar het jy die ding gekry – in ’n lucky packet?”

Sy haal dit uit en pas dit aan haar vinger. Dis heeltemal te groot.

“Moet ek nou ’n keyring dra vir ’n ring? Waar’s die bling?” skerts sy.

Mariska staan op en vat Shemeeze se hande in haar eie. Sy trek haar teen haar vas.

“Jy is reg. Daar kort nog iets.”

Die kontrabasspeler vryf haar oë droog.

Mariska druk haar hand in haar broeksak en soek rond. Sy haal ’n sleutel uit en hou dit tussen duim en wysvinger in die lug.

“Wat is dit? Ek bedoel, ek kan sien dis ’n sleutel?”

“Dis die sleutel vir ons nuwe huis. Wel, dis nie ’n huis nie. Meer van ’n flat, maar dit sal ons plekkie wees,” verduidelik Mariska.

“Mariska, ek kan nie.”

“Jy kan uittrek by jou pa’le. Ons kan nou wees wie ons is. Jy is nie meer ’n kind nie, Shemeeze. Dis jou lewe. Hulle kan nie langer vir jou voorskryf wat jy met jou lewe doen nie.”

Die vioolspeler speel ’n vals noot.  

“Mariska.”

Shemeeze neem die sleutel uit Mariska se hand. Sy haal die sleutelhouer van haar vinger af en sit die sleutel daaraan. Stadig ryg sy die sleutel deur die metaalring. Sy sit dit terug in die boksie en maak dit toe.

“Mariska. Daar is iets wat ek al heelaand vir jou wou sê.”

Sy sit die boksie terug in Mariska se hand en vou haar eie oor dit.

“Ek. Dad.”

Sy kyk op na die sterre.

“Shemeeze?”

Sy kyk uit oor die wingerd. Kyk op in Mariska se oë.

“I can’t do this.”

“Wat bedoel jy?”

“Ek kan nie so aangaan nie.”

“Hoe bedoel jy ‘só’?”

“Ek bedoel. Ek trou volgende naweek.”

“Met wie?!”

“Die seun van my uncle se beste vriend. Hulle bly in Jo’burg.”

“Oh, come on, Shemeeze. Ons bly mos nie meer in die friggin’ Middeleeue nie. Niemand kan jou forseer om te trou nie. Dit werk nie so nie. Jy het regte. Dis ’n vry land!”

“Ek het self besluit.”

Mariska se mond hang oop asof sy in die middel van ’n lagbui gevries het. Sy skud haar kop.

“You’re kidding me!” Sy begin op en af verby Shemeeze stap. “You are kidding me.”

Die violis se strykstok val op die stoep.

“Ek weet nie wat om te sê nie.”

Die tjellis het ophou speel.

“Ná alles wat ons deur is? Ná al die baklei om erkenning te kry? Gaan jy net so opgee? That’s it? Net so?” Mariska stap op en af en vee oor haar gesig.

Die kontrabasspeler se eelt begin bloei.

“Net so? This is it? No fight? Hy kan dit nie doen nie!”

“Mariska, asseblief. Moet dit nie moeiliker maak as wat dit is nie …”

“Maar ek het jou lief!”

“Ek mag nie.”

“Shemeeze, dink mooi hieroor. Asseblief.”

“Ek het. Dis al waaraan ek dink. Ek kan nie meer so leef nie.”

“Hoe leef nie?”

“Ek kan nie as outsider buite my family leef nie.”

“Maar ek het jou lief.”

“Mariska ...”

Shemeeze stap na die violis se musiekstaander. Sy skeur die bladmusiek van die laaste lied uit en vou dit op.

Sy stap terug na Mariska en vat haar gesig tussen haar hande vas. Sy soen haar liggies. Haar lippe huiwer voor sy terugtrek.

“Ek is jammer.”

Sy maak die boksie oop en sit die bladsy by die sleutel, maak dit toe en bind dit vas met die rooi lint.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top