Petra Müller se jongste digbundel, om die gedagte van geel, is op Woensdag 18 Julie by The Book Lounge in Kaapstad bekendgestel. Daar was ’n groot opkoms om Petra te hoor voorlees uit en gesels oor haar boek, haar eerste bundel sedert Die aandag van jou oë (2002), wat met die Hertzogprys bekroon is.
Die digter is verwelkom deur Riana Barnard, uitgewer by Tafelberg, wat die nuwe bundel beskryf het as “’n boek oor die lewe”, in teenstelling met Die aandag van jou oë, wat as ’n boek oor die dood gesien kan word.
Riana Barnard oorhandig die heldergeel rose aan Petra om die lewe wat in haar bundel besing word te simboliseer.
Petra het weggeval deur die skildery wat op die omslag gebruik is, met die gehoor te deel – in lewende lywe.
Skildery deur Neil Armstrong
Sy het die skildery spesiaal saamgebring omdat dit een van die katalisators was vir haar gedinkery (en daaropvolgende geskrywery) oor geel, en ook omdat die sewe telefoonpale wat daarop uitgebeeld word as belangrike bindingselement in die bundel figureer: die bundel is in sewe afdelings verdeel, waarvan die eerste dan ook “Telefoonpale” heet.
“Dis soos die son gesê het: daar is nie einde nie, aan tyd.”
Petra het die gehoor genooi om saam met haar in die bundel te verwyl, om haar te vergesel op een van haar berugte dwaaltogte ( “... om nie te weet waar jy is nie, is heerlik:/ dit is wat die vaalte van die voetpad aan jou doen ...”), en so het die reis deur haar geel poësiestorie begin, vanaf die plaas van haar kinderjare tot by die Griekse eilande, deur die tuin van Eden tot in die gesin se motor op pad see toe.
Dis ’n lang reis deur ’n lang boek (168 bladsye ver) wat jou soms laat lag en jou soms koue rillings gee. Sy lees gedigte wat indrukke van die son uitstraal en ander oor die “demoniese” huishulp Elsie, ’n gedig oor haar mooi ma wat naaldwerk doen en een oor die ooreenkomste tussen die liefde en die kerkbasaar.
Soos Petra lees, onthou ek hoe sy die gedigte by die Woordfees beskryf het: “Dis liefdesgedigte wat jou nie gaan gerusstel nie.” En dan iets wat sy meer onlangs in ’n onderhoud verklap het: “Alle gedigte is liefdesgedigte.” Ja, dalk. Maar net party is beide lief en géél.
“Liefhê is erger as kerkbasaar.”
Dit was lekker om saam met Petra in haar boek te kon dwaal, om en om en om die gedagte van geel.
“Hierdie boek is een van my dwaaltogte.”
Betree Petra se geelal.
Grys dag? Hier is ’n paar geel goed om jou op te beur.