Om die son te sien opkom

  • 0

Foto: Canva

Om die son te sien opkom

Ek neem Helen nie kwalik dat sy nie weet die antwoord is vanselfsprekend wanneer sy vra of ek op die rusbank of in die sonkamer wil slaap nie. “Die sonkamer se vensters kyk oor die see uit en die sonsopkoms is werklik iets besonders,” voeg sy by, asof ek verdere oortuiging kort.

Natuurlik wil ek in die sonkamer slaap om te sien hoe die son oor die see opkom en Simonstad in goue strale baai.

Ek is gebore met ’n genetiese oogtoestand, retinitis pigmentosa, oftewel tonnelvisie, wat veroorsaak dat ek die wêreld om my deur ’n spreekwoordelike toiletrol aanskou. Nietemin, waardeer ek die estetiese en gryp ek elke geleentheid aan om natuurtonele te bewonder.

“Die sonkamer, asseblief,” sê ek met ’n stem vol opwinding.

Ná ’n lang week op kantoor vol vertaal, redigeer en reisblogs skryf, ontspan ons met pizza en wyn voor die televisie. Helen drink Coke ook, alhoewel sy dit darem nie met die wyn meng nie – iets wat in die Kaap definitief as ’n doodsonde beskou word.

Helen se woonstelmaat Louise merk vraestelle by haar kêrel en het gesê sy gaan laataand terug wees. Ja, ons is vasgevang in daai tusseninfase, à la Friends, waar jou studentejare lankal in die truspieëltjie is, maar jy steeds spartel en spook om ’n blyplek op jou eie te kan bekostig.

Getrou aan haar tienerjare, het Helen ’n voorliefde vir rillerflieks. Ek nie. Ek geniet wel ’n speurverhaal elke dan en wan, mits dit ’n behoorlike kopkrapper is.

Ons bereik dus ’n kompromie om ’n aksieriller te kyk waarvan die naam my deurgaans ontgaan. Die fliek is op Helen se skootrekenaar wat sy aan die televisie koppel. In die fliek ondergaan die protagonis ’n hartoorplanting. Die skenker is ’n misdaadslagoffer en gevolglik klop sy nuwe hart elke keer vinniger wanneer die booswig in die omtrek is. Dis die tipe fliek wat foendies as “B-movie-snert” sal beskou. Die gebrek aan kwaliteit pla my nie. Maar omdat ek daaraan gewoond is om saans met my neus in ’n boek te sit, oftewel om ’n luisterboek in my ore aan te skakel, maak die spanning my effens ongemaklik.

Ná die fliek gee ons albei al lang gape. Ons bêre die oorblywende pizza in die oond en die Coke en wyn in die yskas. Helen begin met haar aandroetine en ek verkas na my voorryplek vir môreoggend se vertoning.

Ek kan nie regtig die sterlig soos ander mense waardeer nie – my liewe ogies is ook nagblind. Selfs die straatligte wat deur die groot stoepvensters inskyn, doen nie veel om die ruimte om my te verlig nie. Ek plaas my oornagtassie en handsak onder my bed en sluimer stadig in.

’n Harde kapgeluid ruk my uit die newels. Staal teen staal. Dan is dit stil. Ek spits my ore vir elke naggeluid. Krieke. ’n Motorenjin in die verte. Dis die eerste keer dat ek by Helen oornag en elke huis het mos maar sy geluide. Ek het my seker net verbeel. Dalk het ek ’n nagmerrie gehad wat my laat wakker skrik het ...

Daar is dit weer.

Kap-kap!

Miskien het Helen net iets laat val. Nee, sy slaap mos al. Dis Louise wat huis toe kom en sukkel om die hek in die donker oop te sluit. Ja, dit móét dit wees.

Die veiligheidshek kap hard teen die buitemuur soos dit oopgeruk word. Louise sal dit nie só oopmaak nie, sal sy?

Die voordeur kraak oop. Voetstappe. Tekkies. Die skuurgeluid van seilbroeke. My hart spring in my keel. Iets klink nie pluis nie.

Die voetstappe pyl reguit op die televisie af. Die kragprop word uitgetrek en ek hoor die bekende kraakgeluid soos iemand dit optel. ’n Gefluister. Daar is definitief meer as een persoon.

Dalk wil Louise in haar kamer gaan televisie kyk, poog my gedagtes vir oulaas om my gerus te stel.

Dit help nie ─ my liggaam weet van beter.

De-doef, de-doef, de-doef klop my hart soos die man in die fliek s’n.

Ek lê hier reg oorkant die televisietafeltjie waar hulle doenig is. Sien hulle my? Hulle sal tog. Die straatlig sal my duidelik verlig. Hulle het mos nie mý ogies nie.

Wanneer die voetstappe verder terug in die woonstel beweeg, draai ek op my rug om beter te kan hoor. Die straatlig laat ’n rooi gloed agter my geslote ooglede. Ek is nou vas oortuig dat hulle my gesien het.

Ek lê roerloos. Miskien los hulle my uit as hulle dink ek slaap. Wat anders kan ek tog doen? Is hier iets wat ek as ’n wapen kan gebruik? Die naelvyltjie in my handsak? Nee. Helen se potplante staan orals op die vloer om my en ek het vroeër my toon teen een gestamp. Miskien kan ek hulle met ’n pot gooi. Maar wat as ek mis? Ai, my ogies! Ander mense sou nog die silhoeëtte kon uitmaak en behoorlik kon mik, maar vir my is alles pikswart.

Ag, asseblief, Jesus, help my, is al wat oor en oor deur my gedagtes maal. Asseblief, moenie dat hulle na my toe kom nie!

Beweging êrens. Die bloed bruis in my ore en ek sukkel om vas te stel waar hulle tans is. Kom hulle wéér die kant toe? De-doef-de-doef-de-doef. Hulle móét tog my hartklop kan hoor. Die hele wêreld behoort dit te kan hoor. Ek hou my asem op. O Jesus, hou ons veilig, asseblief!

Dis weer ’n rukkie lank stil. Kriek-kriek. ’n Dakplaat wat kraak. Is hulle weg? Dan weer ’n gewerskaf. Ek vermoed hulle is in die kombuis. Dit beteken wel hulle moes verby Helen se kamer loop. Is haar deur oop of toe? Sou hulle daar ingaan? Ek sidder.

Ek wil haar waarsku, maar kan dit nie waag om my selfoonliggie sigbaar te maak nie. Die sein is ook so swak in die area en my boodskap sal dalk nie betyds deurgaan nie.

Daar is weer beweging; dié keer nader aan my. Die televisie se kraakgeluid wanneer hulle dit vermoedelik by die voordeur optel. Dan is dit stil. Die minute tik verby. Ek wag. Ek luister. Ek haal skaars asem.

Ná wat soos ’n ewigheid se stilte voel, staan ek stadig en geluidloos op. Die hoop in my wil my steeds oortuig dat dit dalk nét ’n nagmerrie was.

Ek skuifel die paar treë tot by die tafeltjie in die sitkamer waarop die televisie staan en lig my hand om seker te maak dis nog daar. Niks.

’n Voordeel van my oogtoestand is dat ek wéét hoe om versigtig en geruisloos in die donker te beweeg. Nie dat ek dit ooit in my eie weergawe van ’n riller wou beproef nie.

Ek sluip in die rigting van die voordeur, verby die rusbank waarop ek tot my grootste dankbaarheid nié geslaap het nie. Wanneer ek in die portaal kom, word ek deur die koue naglig op my wang begroet. Dis grafstil, tog is my hartklop oorverdowend.

Ek raak aan niks nie, draai net om en na regs tot voor Helen se kamer. Haar deur is toe. Ek luister. Niks. ’n Laaste rilling trek deur my, tesame met die gedagte dat hulle dalk nog daar binne by haar kan wees. Ek skud dit af.

Ek klop saggies en roep haar naam. Geen antwoord nie. Ek maak die deur stadig oop en roep effens harder.

“Wat’s ...” kom Helen se slaperige stem.

“Helen, ek dink iemand het ingebreek,” sê ek versigtig om haar nie te laat skrik nie. As hulle nog hier buite rond is, kan ons beslis nie bekostig om hulle met ’n lawaai terug te lok nie.

“Waaat?” vra sy met ’n lang gaap en skakel haar bedlampie aan.

“Helen,” sê ek met meer sekerheid, “iemand het ingebreek; jy moet opstaan!”

Sy spring op. “Is jy seker?”

“Ja! Kom kyk self. Die voordeur staan wawyd oop!”

Helen begin giggel. “Waar ...” Dan lag sy effens histeries.

“Hulle is weg. Kom kyk wat hulle gesteel het. Ons moet die polisie bel,” probeer ek haar na die werklikheid toe terugruk.

By die voordeur giggel sy weer. “Hulle het die woonstelsleutels gevat.” Dit klink of sy uiteindelik die erns van die saak insien. Sy stoot die voordeur toe en die slot klik. Die geluid knaag aan my agterkop, maar ek kan nie my vinger op die rede daarvoor plaas nie.

Soos ons deur die woonstel beweeg, skakel Helen al die ligte aan. In die kombuis tref ’n vrot reuk ons neusgate en Helen merk ’n bloedspoor voor die wasbak. Sy begin voorraadopname doen.

“Ah, hulle het die vleis gevat wat Louise gister ontdooi het ... sowaar die leë bakkie in die wasbak gesit!” Sy trap versigtig om die bloeddruppels en ek huiwer by die deur.

“Die Coke is weg, maar hulle het die wyn gelos,” merk sy verbaas op. “Hulle het ook die ketel gevat ... die half stukkende ketel!”

“En ons pizza?” vra ek.

Sy maak die oond oop. Gisteraand se pizza is nog veilig in hul skuilplek, gereed om as ons ontbyt te dien.

Terug in die portaal moet ons verby Louise se kamer loop om by die sitkamer uit te kom. Helen trek haar asem skerp in. Louise se hele kamer is omgedop. Die kasdeure hang oop, klere lê oor die vloer gestrooi en dit blyk dat hulle haar duvet as ’n sak gebruik het. Ons besluit egter om die kamer net so te los, aangesien ons nie kan vasstel of iets van waarde gesteel is nie.

“Louise het net voor twaalf laat weet dat sy by haar kêrel gaan oorslaap, maar ek het nou eers die WhatsApp gesien,” sê Helen. “Dit gaan haar hart breek!”

In die sitkamer skaterlag Helen skielik. “Hulle het sowaar die televisie gevat ─ dis stokoud! En my skootrekenaar, maar sonder sy kragdraad! Dit werk nie daarsonder nie.” Sy is nou heeltemal buite haarself en ek besef die skok van al die skade is besig om sy tol te eis.

“My karsleutels is ook weg!” roep Helen paniekerig uit terwyl sy deur alles op die koffietafel krap. Dan sug sy van verligting voor die sitkamervenster.

“Ons moet die polisie bel,” sê ek. “Nóú.”

Helen bel. Dit lui net.

Ek kyk vir die eerste keer op my selfoon. Dis rondom vieruur.

Helen bel weer en dié keer antwoord Simonstad se polisie. Sy meld die voorval aan en hulle beloof om ’n patrolliemotor te stuur.

Ons wag.

“Wat as hulle terugkom?” vra ek meteens. “Hulle het tog die woonstelsleutels.”

Helen vind ’n slotmaker in die area wat vier-en-twintig uur diens bied, en bel. Die man sê hy sal binne ’n halfuur by ons kan wees.

“Ons kan seker solank koffie maak?” vra ek en lag dan ook wanneer ek onthou dat die ketel weg is. Ons kook koffiewater in ’n pot op die stoof en maak die pizza warm.

Sowat ’n uur later klop die slotmaker aan die voordeur.

“Shame, sweeties,” sê hy toe hy ons storie hoor. “Ek het verby twee grotes en ’n kleintjie gery op pad hierheen. It seemed like they carried bedding.”

Ek ril.

“But tell me,” sê hy nadat hy die hekslot vervang het, “hoe het hulle by die deur ingekom? The lock isn’t broken.”

“Uh ...” stamel Helen. “Die deur was nie gesluit nie ... Ek en my woonstelmaat los dit altyd oop wanneer een van ons later sou terugkom.”

Terwyl Helen praat, voel dit of my vingerpunte begin doodgaan. Naalde en spelde prikkel regoor my lyf en ek begin sweet. Dis wat my heeltyd gepla het ─ die voordeur! Dis hoe hulle so maklik kon inkom! My ore suis. My gesig voel warm. Wat kan ek doen? Haar blameer? Dis tog nou gedane sake.

Ek haal diep asem en bedaar geleidelik ná ’n paar groot slukke koffie.

Dis ongeveer halfses wanneer die slotmaker ry. Helen bel weer die polisie en verneem dat hulle intussen skofte geruil het en nie van die voorval bewus is nie. Sy herhaal die hele affêre en hulle beloof weer om ’n voertuig te stuur.

“Ek moet Louise seker laat weet ... en my ouers. Shit, wat ’n gemors!” Helen sug swaar en begin die nodige mense in kennis stel.

’n Dowwe skynsel deur die sitkamergordyn trek my aandag. In die afgelope paar uur se warboel het ek skóón van my sonsopkomsskildery vergeet. Ek haas na die sonkamer met die hoop op ’n kleurespel wat die donker gebeure sal uitwis.

Wanneer ek deur die stoepvenster kyk, skitter die somerson reeds ’n entjie bo die see en berge. Ek vee oor my wang en my vingerpunte word nat.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top